Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
9 August 200910 August 2009

Al is die maan ‘n misverstand

Al is die maan 'n misverstand. Danie Marais
Al is die maan 'n misverstand. Danie Marais

Al is die maan ‘n misverstand

. Deur Danie Marais. Tafelberg-uitgewers. 

– Bernard Odendaal –

 

Danie Marais se digdebuut uit 2006 het hom drie literêre pryse in die sak gebring. Ook die leserspubliek het van in die buitenste ruimte gehou, soos goeie verkoopsyfers getuig.

By die skryf van hierdie resensie was ook reeds die helfte van die oplaag van sy tweede bundel, Al is die maan ‘n misverstand, wat maar enkele maand gelede verskyn het, deur lesers opgeraap.

Marais se debuut het ‘n roerende relaas behels oor sy jarelange verblyf in Duitsland, wat gepaard gegaan het met ‘n verbrokkelende liefdesverhouding. Uit daardie “buitenste ruimte” van vervreemding en bedruktheid het hy teruggekom Suid-Afrika toe. En na Afrikaans toe.

Al is die maan ‘n misverstand hervat as ‘t ware waar die eerste bundel geëindig het. Dit blyk al uit die openingsgedig, waarin die woorde “die buitenste ruimte” die debuuttitel eggo.

Weer staan konflikterende gevoelens van ontheemdheid en vereenselwiging voorop. Dié keer betref dit egter die botsende emosies wat (Suid-) Afrikaners ervaar te midde van die dikwels bevreemdende ontwikkelinge alhier.

Marais kies vir ‘n toekoms híér, al beleef hy ook hóéveel wat ontmoedigend is. Een van die kerngedigte in die bundel het die sprekende titel: “Maar die grootste hiervan was die hoop” (‘n aanhaling uit ‘n gedig van Gert Vlok Nel).

Die wesenlike irrasionaliteit van so ‘n keuse word gesuggereer deur sowel die bundeltitel as die strekking van die bundelgeheel. Soos die eerste van die bundelmotto’s aangee: “Under every no / Lay a passion for yes that had never been broken” (Wallace Stevens).

Ten spyte van ‘n kwellende bewustheid van die haglikhede van menslike ondernemings en van die bestaan, bly die digter dus oorwegend idealisties. Die belangrikste temakomplekse in die bundel stoot almal hierdie wederwilligheid op die voorgrond.

Daar was die skipbreuk van vorige liefdesverhoudings. Nógtans vind die digter vreugde in ‘n nuwe huweliksverhouding. Hy ly onder ‘n sterk verganklikheidsbesef, en daar is kennisse en familie wat sterf of selfmoord pleeg; dikwels voel hy depressief, en staan hy as ‘t ware ontredderd voor soveel nood in die land. Desnieteenstaande neem hy en sy nuwe vrou die stap om ‘n huis te koop, met ‘n gesin te begin.

Ook bring die verskrikkende en verdrukkende van die nuwe Suid-Afrika die digter uiteindelik nié daarvan af om opbouend betrokke te bly by die plaaslike kwessies nie. In teenstelling met talle kennisse, waaronder ‘n suster en ‘n neef van hom, wat weens die misdaadgeweld, korrupsie en omgekeerde rassediskriminasie liefs ‘n heenkome in die buiteland gaan soek, bly hy agter om onder andere onderwys te gee aan ‘n private laerskool naby Mamelodi. Sy oë en sy hart kry hy nié weggedraai van die noodlydendes se lot nie. Vergelyk in laasgenoemde verband treffende gedigte soos “Die nag toe ek ons geword het” en “Daar lê ‘n ou vrou in die reën”.

En die oorblyfsels van die “ou Suid-Afrika” se rassisme en chauvinisme word fel gesatiriseer (“kamers”).

Selfs Marais se digterskap word geteken as ‘n onderneming in-weerwil-van. Al word Afrikaans bedreig, en al het die skryf van poësie (bowendien in ‘n klein taal soos Afrikaans) weinig klaarblyklike impak en nut, máák hy tyd om gedigte te skryf (“Saterdagmiddag – ‘n epiese fragment”).

Trouens, die skryf van poësie word selfs as ‘n dwingende behoefte en noodsaaklikheid beskou, juis vanweë die haglikhede wat ons bestaan kenmerk. Soos Wallace Stevens se “[round] jar in Tennessee”, of soos ‘n singende voëltjie “op ‘n koppie in die klipwoestyn”, maak dit die wildernis minder “wild” (“Groot-Karoo en voëltjie-klein”).

Té hooggestemd oor die krag van die digterskap raak Marais darem nie. Die laaste strofe in die bundel lui byvoorbeeld: “Die digter is net ‘n vetgesmeerde sonde. / Nie ‘n siener nie. / En die ek is ‘n dwaalkoeël / wat wegloei in die niet.”

Marais se digkuns is ‘n goeie voorbeeld van wat al as “praatpoësie” bestempel is. Dit is kenmerkend “losser” van bou, opvallend in spreektaal geskryf, en die inlag daarvan is dikwels sketsagtig of verhalend. Die (tradisionele) onderskeide tussen prosa en poësie vervaag dus in sulke gedigte.

Vindingryke en treffende beelding vorm egter die ruggraat van Marais se digstyl, en die verse in Al is die maan ‘n misverstand munt telkens hierin uit. Daarby kom ‘n strewe na unieke, meermaals patoswekkende segging, byvoorbeeld deur hiperboliserende wendinge. Nie alte selde nie verneem die leser in hierdie bundel byvoorbeeld van dinge (waaronder mense en gedigte) wat “brand”. 

Inderdaad kry Marais dit reg om baie van sy gedigte op hierdie wyse indrukwekkend te laat vlamvat – skep hy “petrolpsalms” (“Met een asem”). Maar hy ontkom helaas ook nie aan die gevare wat dié soort vers inhou nie: somtydse spanningsarme prosa-agtigheid, sodat sulke verse by ‘n tweede lees alreeds iets van hul fut verloor; ‘n sentimentaliteit wat plek-plek deurslaan vanweë die hiperboliserende neiging.

Die boeiende en aantreklike kante van Marais se verse oorskadu egter die genoemde tekortkominge. Dis ‘n toeganklike, aktuele en meermaals aangrypende bundel wat sy klaarblyklike vroeë gewildheid verdien.

 

  • Resensie deur Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

******

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Bernard Odendaal. Uit die palm van die land
Die panorama in my truspieël →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d