Ek beoog om in die komende weke ’n klompie gedigontledings hier te publiseer. Omdat alle interpretasie per definisie subjektief is, hoop ek dat Versindaba-bloglesers sal reageer op my interpretasies en hulle eie sienings sal gee.
Ek gaan, veral aanvanklik, gedigte kies wat, minstens tot ’n paar jaar gelede, voorgeskrewe materiaal op skool was. Sodoende kan in hierdie blog op die Versindaba-webblad dalk ’n klein naslaanrak oor Afrikaanse gedigte opgebou word, bowendien (hopelik) met verskeie sienings of interpretasies van bepaalde gedigte.
Mag ’n mens hoop dat ook leerders en studente hulle opinies sal instuur?
Eers wil ek egter in die eerste paar aflewerings aspekte van my benaderingswyse tot die lees van gedigte uiteensit.
In die proses gaan ek ’n bietjie dieper delf in die argument wat ek so ’n rukkie gelede in hierdie ruimte gevoer het oor die meerdimensionele wyse waarop poësie kodes benut – kodes wat vir die ingeligte leser dan eintlik ook as interpretasiereëls (kan) dien.
Daarvoor moet ek ’n paar stukke teoretiese gereedskap gaan haal. In hierdie eerste aflewering skryf ek iets (voorlopigs, moet ek beklemtoon) oor die estetiese ervaring.
In ’n artikel wat al 20 jaar oud is (The Times Higher Education Supplement van 17 Januarie 1989) beskryf Peter Abbs die estetiese ervaring as ‘n “mode of intelligence” of ‘n “mode of human response and interpretation”. In sy vermoë tot deduksie of logiese afleiding gaan die menslike verstand konsepsueel te werk, dit wil sê analiserend (oftewel ont-ledend), abstraherend en kategoriserend. Volgens Abbs werk die verstand in sy vermoë tot estesie daarenteen eerder persepsueel: allereers sintuiglik, maar terselfdertyd ook gevoelsmatig of intuïtief; daarby onmiddellik integrerend of sintetiserend.
Die etimologie van die woord ondersteun dié beskouings in verband met die estetiese. Volgens die Oxford English Dictionary is aesthetic afgelei van ‘n Griekse woord wat “through the senses” beteken, en kan dit soos volg gedefinieer word: “[O]f or pertaining to aestheta, things perceptible by the senses, things material (as opposed to things thinkable or immaterial), also ‘perceptive, sharp in the senses'”. Hieruit lei Abbs dan af dat die estetiese die mees basiese wyse van menslike respons, asook die mees primordiale modus van menslike intelligensie is.
Beskouinge soos die van Abbs moet saamgelees word met bevindings aangaande menslike kognisie, naamlik dat dit gebaseer is op ons “liggaamlik-deurleefde interaksie met dinge” (soos wyle Harry Müller dit in al in 1994 in ’n artikel in die tydskrif Stilet gestel het), met name essensieel in terme van ruimtelike en/of ontologiese oriënterings: dinge is bo/onder, voor/agter, binne/buite ons, ensovoorts. In die bewussyn word sulke onmiddellike ervarings en interaksies met dinge vasgelê in beeldskemata of “primordiale ikoniese skemas, dinamiese aksie-diagramme of matryse” (weer Harry Müller), wat direk en dikwels analogies is aan die oorspronklike ervarings. Daarom dat Danesi (in die tydskrif Semiotica, 1990) skryf dat die deurlopendheid van byvoorbeeld visuele en ander sensoriese metafore in aldagtaal “argues loudly in favour of the contention that thinking takes place in the realm of the senses”. Sonder sodanige sensoriese, prerefleksiewe kennis sou “taalgebruik al die kenmerke van ‘n sinvolle handeling verloor” (Harry Müller).
Dit lyk dus of dit iets nogal primitiefs is wat die kunstenaar in ons aanvuur: ’n drang wat hier diep in die liggaam setel, ’n intuïsie of smaak vir wat verrassend saamhoort, ’n voor-intellektuele skerp-sinnigheid (skerpheid van aanvoeling sowel as van sintuiglikheid). Om ’n uitspraak van Maurice de Vlaminck in sy boek On Painting (soos vertaald aangehaal in Die groot Afrikaanse aanhalingsboek) effens aan te pas: “Goeie kuns is soos goeie kos maak: dit kan geproe word, maar nie verduidelik word nie.”
Bronnelys
Abbs, P. 1989. Tactful approach to life. The Times Higher Education Supplement, 17 Jan. (p. 17)
Danesi, M. 1990. Thinking is seeing: Visual metaphors and the nature of abstract thought. Semiotica, 80(3&4). (p. 221-237)
Müller, H.C.T. 1994. Edeler bloeiwyse: taalgebruik as natuurlike artefaktualiteit. Stilet, 6(2), September. (p. 29-54)
Muller, Piet; Claassen, George; Van Tonder, Morkel (samest.). 1986 (eerste uitgawe). Die groot Afrikaanse aanhalingsboek. Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau.
(The) Oxford English Dictionary. 1989. Tweede uitgawe. Volume 1.