Bloot mens. Jelleke Wierenga. Pretoria: Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-311-9. Prys: R130.
Met Bloot mens is Jelleke Wierenga, as ek reg getel het, al die sesde van die sestien digdebutante in nuwe stemme 2 (2001) wat met ’n eie solobundel vorendag kom.
Dis ’n gekwelde mens, geneig tot die uiterstes van lewensdrif en depressiwiteit, wat uit die prentjie tree by die lees van dié bundel. Pers en pienk is waarskynlik nie verniet die twee kleure wat die meeste opduik in die bundel nie; ook die swierige kledy van die vrou op die bandfoto (geneem deur Jurgen Doom) word deur hierdie kleure gestempel.
Vroulike sensualiteit, tot die swoele toe, en sentimentele gevoeligheid, maar ook pyn en kwesbaarheid, word so vooropgestel.
Die “sy” in die gedig “Argetipies” word byvoorbeeld, in ’n passasie wat plek-plek aan Cloete se uitbeelding van iemand soos Marilyn Monroe herinner, soos volg geteken:
Kaalvel koningin sy
in die tuin en beleef
hoe purper in pienk
pas en palm ooplyf:
die minnares-hedonis
Onverweer leef sy
teen die lang arm wat al vinniger
deur die sirkel swaai;
die bolip soet gekrul,
die wange weerloos:
sy[.]
’n Onvrede met die persoonlike verlede spreek uit die bundel. Dis ’n verlede gekenmerk deur onvervullende verhoudings, ook vanweë eie aandadigheid deur die subjek, soos veral uitgedruk in sekere van die gedigte in die afdeling “Galery van gewese geliefdes”. Daarby kom die besef dat die eie potensiaal nog grootliks onverwerklik is. Teen die einde van die bundel, in die gedig “Rekenskap”, bely die “ek” dat sy “’n lieg gelewe” het, “suutjies en saggies en bietjies”. As sy “eerlik” moet sê (in funksioneel verkapte taal), was sy tot dusver eintlik
[…] net pot
pot
potensiaal
gemorste mat
mat
materiaal.
Soos die titel van die gedig direk voorafgaande aan “Rekenskap” lui, is sy, wat al ouer as vyftig is, eintlik steeds net “op pad” – bowendien, luidens die gedig “Trip” in dieselfde bundelafdeling, onderweg “na wie weet watter onbewoonde / plan”. (Die ruimtevaartbeeld wat “Trip” oorheers, maak dit duidelik dat “plan” ook as “planeet” gelees moet word.)
Die leser kan dus skaars anders as om geraak te voel as Wierenga in “op pad” skryf:
[…]
en die lintwurm strek
so lank en so swart
daar’s rooi oë in die nag
en ek stop vir koffie by die Shell
een suiker asseblief
en ek is weer op pad
en ek draai die venster af
en al die sterre waai
en die maan dreunsing
op pad[.]
Die onvrede by die “ek” betref egter ook die burgerlike en/of verkommersialiseerde bestaanswyse van vandag (veral uitgedruk in afdeling 5, “Gespook”), asmede die sosiaal-politieke omstandighede in Suid-Afrika (afdeling 4, “Aan- en uitklag”).
Dié onvredes verskaf die nodige reliëf aan die hoë lewenseise wat die “ek” aan haarself stel. “Vraatsug” is ’n woord wat in die gedig “Geboortedag: 1 Mei 2007” val om dié lewensdrif te kwalifiseer. 1 Mei 2007 was klaarblyklik die dag waarop sy bevry is van ’n versmorende verhouding oor “dekades” heen wat haar “dood en gewoon” laat voel het. Nou wens sy vir haarself:
Waag.
Waar.
Wonders.
Daarby poësie, waarsonder sy “glad nie lewe [lus] nie”.
Teen hierdie tyd is die verskillende betekenisnuanses van die bundeltitel al duidelik. Dit gaan om ’n blootgestelde, verwondbare mens (nou ook deur middel van die selfopenbarende digbundel!), maar wat ook inténs mens wil wees. Trouens: bloot méns. Vergelyk die stilisties verkapte, derhalwe gestroopte (maar terselfdertyd sensuele) gedig “Kantwerk” uit die selftekenende afdeling “Profiel”:
Tuinwerk.
In blou kantbroekie.
Son op die land.
En lyf.
Buurman.
Op soldertrap.
Sien.
Wat jy sien.
Hier.
Is ek.
Kant.
En kaal.
’n Ander treffend gestroopte vers in Bloot mens is “10 September 2007” (oor die dood van ’n suster); miskien ook die slotgedig, “Waarneming”.
Sulke gedigte is egter in die minderheid. In die meeste gevalle word ’n seggingsvernuf eerder uitgestal: enersyds as ’n maskerade teen die eie weerloosheidsgevoel, andersyds as neerslag van die belyde lewens- en uitingsdrang. Daarby kom ’n opvallendmaking van aanhalings, intertekstuele verwysings en toespelings as “bewuste” literêrheid.
Soms, in gedigte soos “vir BB”, “Epos sonder helde of heldinne” en “Dit kan nie wees”, word dit hoofsaaklik boeiend of funksioneel gedoen (byvoorbeeld met betrekking tot bewussynsontwrigtheid). Meestal lei dit egter tot oordaad, tot onbeheersdheid wat selfs banaliserend kan aandoen.
In laasgenoemde verband staan die alliterasiedrif in soveel gedigte uit. “Profiel”, “Argetipies”, “Hoe gaan dit nog met jou adiposity?”, “Klaaglied van die kleintjies” en “Dislojale verset” het die twyfelagtige eer dat hulle as “uitstekende” voorbeelde hiervan genoem kan word.
Daar is waarskynlik iets uitdagends, iets aandringend poëties in die wyse waarop Wierenga vreemd- en opvallendmakende middele benut soos die volgende: woordfunksiewisselings (byvoorbeeld die reeds aangehaalde “[k]aalvel koningin sy”) en omgekeerde woordordenings, neologismes en gesogte samestellings (“bottel-bekkend”, “dwarreldaal”, “goorgrond”, ensovoorts, ensovoorts), ellipse, ontkoppelings (“sonder lei of draad”), woord- en klankspel (“poësie … ha-ha, gee ons eerder poesie”!), Loslitafrikaans en woordkontaminasies (“wondernis”), uitbuiting van spreekwoorde en geykte segswyses, herhalingseffekte soos parallelismes, anafore en repetisies, asook retoriese vrae en enumerasies (dikwels in polisindetiese opstapeling van konstruksies met “en”).
Met betrekking tot die satiriserende, sosiaal- en religieus-kritiese verse in afdelings 3, 4 en 5 sou ’n mens nog ’n saak kon uitmaak dat dit ’n speels-ondermynende werking het.
Maar dié stylopvallendhede verteenwoordig ook ’n soort digterlike naaklopery, waardeur die poësie ernstig aan subtiliteit inboet. Dit word helaas alte geforseerd, te “maklik”. Ter illlustrasie enkele passasies uit “Huis ontuis”:
[…]
Dis bedoel om my & jou
– hallusineer / droom ek –
te wakker na bewus:
no pain, my dear,
no gain:
en dis die kotsbare waarheid.
[…]
jy pomp seks sy slaaf werk ek god geld hy penis Porsche
[…]
ek sel my siel jy spin die Web hy kuber seks sy Second Life
[…]
Meermale is die eindproduk banalisering, soos gesê. (Die herhaalde verwysings na en toespelings op Breyten Breytenbach in die bundel verlei my om van Breyten-vir-die-volkse-smaak te praat.)
Let maar op hoe die oppervlakkige vernufspel die morele onthutsing en aanklag in ’n geval soos die volgende ontkrag:
Die situasie
Sito-sito die situasie
op die snelweg
’n transito-oorloggie
og toggie
konsternasie op die stasie
want die fluitjie willie blasie
en die gewere is in die menasie
of geleen deur die nasie
maar alle panic op ’n knoppie
die amagents ken die wet
van etiket
en vra polite:
“Your money or your life!”
umshini wam bam bam
“Thank you, man!
And greetings to your wife!’
Clichés opgestapel saam met oorwerkte truuks.
’n Mens kry die indruk dat Wierenga ten alle koste poësie wíl maak (en publiseer). ’n Bietjie soos die blitsbesoek-minnaar in “Epos sonder helde of heldinne” wat aandring: “ek WIL jou NOU ek wil jou GOU”.
Dis jammer, want die klompie knapper gedigte in Bloot mens kom derhalwe te staan in die skadu van oorwoekerende woorduitwasse.
Ek kan nie glo wat hier gebeur nie. Dat ‘n gerekende kritikus onder soveel domastrante opmerkings deur die “algemene publiek” (lees: gepeupel) moet deurloop, gaan my verstand te bowe.
Douwleen, hoeveel “gewone lesers” koop ‘n digbundel? As net 500 bundels gedruk word (soos gewoonlik die geval is, en met ‘n debuut soos Wierenga s’n miskien selfs net 300), en minstens 300 daarvan word deur letterkundestudente, akademici en ander intellektuele aangeskaf, is daar miskien 100 mense sonder opleiding wat dit lees. Die ander 100 word gewoonlik verpulp of teen spotgoedkoop verkoop aan mense wat dit nie lees nie.
Ek is geen kenner van digkuns nie, maar ek staan dikwels verstom oor die krag wat in woorde en spesifiek gedigte opgesluit lê. Persoonlik het ek Jelleke se digbundel geweldig geniet. Die kritiek in mnr Odendaal se resensie kan ek nie bevraagteken of ondersteun nie omdat ek nie die nodige kennis en/of vaardigheid daarvoor het nie. Daar sal altyd kundige resensente en gewone lesers wees. Vir wie skryf ‘n digter – vir die resensent of die gewone leser wat die bundel koop met die verwagting om dit te geniet? Seer sekerlik vir albei? Daar bestaan seker ook nie iets soos ‘n goue middeweg in digkuns nie – dus – hoe gemaak om almal tevrede te probeer stel? Dis ‘n opregte vraag hierdie, en een wat Jelleke haarself seker ook afvra.
Jelleke, jy is nou deur ‘n vuurproef. Haal daaruit wat jy kan en kyk vorentoe. Oor jou talent bestaan daar tog geen twyfel nie. Hou asseblief aan dig. Met elke vers wat jy skryf, ontgin en slyp jy net meer aan jou potensiaal.
Douwleen