
Gister het Rutger Kopland (pseudoniem vir Rutger Hendrik van den Hoofdakker), een van die reuse in wêrelddigkuns, sy 75ste verjaarsdag gevier. Kopland het in 1966 gedebuteer met Onder het vee. Daarna het nog vyftien digbundels gevolg, waarvan Toen ik dit zag (2008: Van Oorschot, Amsterdam) die mees onlangse is. In sy loopbaan het hy vele pryse verower, waaronder die VSB Poësieprys (1988) en die PC Hooft-prys (1988). Kopland, wat hom as psigiater bekwaam het, het hom deur die jare heen gevestig as een van Nederland se mees geliefde digters. Die onveranderlike in die mens se doen en late kan as sentrale motief van Kopland se digwerk beskou word. In vers na vers verset hy hom teen dit wat verbygaan, met die besef dat die mens telkens daarheen terugkeer langs ánder weë. Hierdie teenstrydigheid het hy self treffend saamgevat in ‘n aanhaling op Poetry International se webblad: “Everyone finds a lost paradise in my poetry, a longing for it. I don’t long for the past, I long for experience (…) and experience is new, now.” Net so het hy by geleentheid die teenstelling tussen die nostalgiese toon van sy verse en die nie-nostalgiese betekenis daarvan, beskryf as “memories of the unknown”, ’n uitspraak wat uiteindelik as titel vir Kopland se vertaalde gedigte in Engels gebruik sou word. (Lees gerus die inligtingstuk hier.)
Hieronder volg ’n vers uit die pen van hierdie meester, plus ‘n vertaling daarvan deur Daniel Hugo.
Dan is dit vir my besonder aangenaam om ’n nuwe toevoeging tot ons digkuns te verwelkom, naamlik Jelleke Wierenga met haar debuutbundel, “Bloot mens” wat pas by Protea Boekhuis verskyn het. By die eerste deurlees is dit veral die emotiewe lading van die verse en die besonderse gebruik van ironie wat ’n mens met ’n voorhamerslag tref. Ek vermoed dat ’n vergelyking met Jeanne Goosen se “Elders aan diens” en Ronelda S. Kamfer se “Noudat slapende honde” nie onvanpas is nie. (Maak seker dat jy ook die onderhoud lees wat met Jelleke gevoer is en hier op die webblad geplaas is.)
Lekker lees aan alles wat nuut is op die webblad.
LE
Oude vrouw met geiten
Zij komt terug, met een mand vol gras komt ze
op mij af tussen uitbundige bermen
om haar heen huppelen geiten
het is avond, in haar rug zijn de weiden nog
wit van de zomerse dag, zij is oud en klein
maar haar schaduw danst ver voor haar uit
zij is swart, om haar kousen, haar jurk,
haar hoedje, ligt een dun laagje licht
van de zon, het silhouet van het meisje
ja ze komt terug met zomers gras voor de geiten
© Rutger Kopland (uit: Verzamelde gedichten, Uitgeverij G.A. van Oorschot, Amsterdam.)
Ou vrou met bokke
Sy kom terug, met ‘n mandjie vol gras kom sy
op my af in die plesierige paadjie,
huppelende bokke om haar heen
dit is aand, agter haar is die weivelde nog
wit van die somerse dag, sy is oud en klein
maar haar skadu dans ver voor haar uit
sy dra swart, om haar kouse, haar rok,
haar hoedjie lê die son se dun
lagie lig, die silhoeët van die meisie
ja, sy kom terug met somerse gras vir die bokke
(Vertaling: Daniel Hugo)