Andries Bezuidenhout. Draalgedig vir sestien September

ʼn Draalgedig op sestien September. Met verwysing na “Andries se besinning” in Huis van die dowe. Met bedremmelde gelukwense en verskonings aan Breyten Breytenbach.

EN ONPA PA BLY DOOD

Is hiérdie dan my besinning?
Elkeen kry slegs een kans
om jou in die oë te kyk.
Medusa, Hades, donker engel,
figuur met mantel en sens,
stuurman van die pont by Styx? Nee.
Sulke beelde word gesmee
om die onkenbare te tem, tasbaar
in tempel, katedraal of plein te giet.

Drie keer is jy skrams verby,
het ek probeer om iets
van jou asem te ruik,
jy vir wie skaapgorrels borrel
as beangstes deurposte salf.
Ja, drie mislukte pogings
om jou oogkleur na te speur.
Skugter jy, wat slegs verbykom,
my tart, terg, tempteer.

O, daar was die keer padlangs
toe ek moes aftrek, probeer help.
Hul koppe gekombers.
Op pad van die Kaap terug
Walvisbaai toe. Tussen
Keetmanshopeloos en Mariental
raak ʼn man aan die slaap.
Hy skrik. Hy pluk. Stuurwiel.
Modder suig. Kar kantel. Onderstebo.
Kyk jou in die oë.

Twee dood, man en vrou,
die een wat jy oorsien,
die ouma, smeek vir sigaret.
Toe ek aankom was jy reeds weg,
jou werk gedoen.
Ek was nog nooit ʼn roker nie,
kon nie help nie.
Maar dít kon ek van jou agterkom.
Jy’s banaal soos ʼn ouvroumond
wat soos ʼn baba s’n oop plooi
om te soog aan nikotien.

Ek wou jou in die oë kyk,
maar jy is vlak langs verby.
Sluitstuk knars, metaal op metaal.
Bevele, maag teen die teer,
loop teen my agterkop,
stem stram gespan:
“The keys, the keys!”
“You already have them.”
“Your cellphone!”
“I don’t have one.”
“Run!”

Ek hardloop.
Die skoot. Die koeël.
Wanneer kom die koeël?
Ek wou kyk in jou oë.
Was jy genadig, of elders aan diens?
Tóg, een ding kon ek aan jou geur
bespeur. Jy’s vulgêr, beslis,
soos die vreesreuk van pis.

Daar was die keer met Pa,
my pa – hospitaal ʼn sandput
met jou gunsteling speelgoed.
Ek kon jou van nader bestudeer.
Jy was nie haastig nie.
Rustig jou spel gespeel.
Verskillend markeer meters die pas,
ʼn mirsmars, ʼn wals,
hartklop op monitor, ʼn golf.
Gety kom in. Gety trek terug.
Kom in. Trek terug.

Ek wou jou in die oë kyk,
maar hulle was my een voor
met ʼn bedwelmde naald
en het jy my nie eens ʼn roggel
of kug gegee nie. Ek moes
jou werk verwyder van sy lyf
op monitors bestudeer, ondersoek.
Sien hoe golwe afplat,
polse opgee, oorgee.

Ek wou jou in die oë kyk,
kon net hoor hoe jy koggel
toe hulle die pype uittrek, hom uitstal,
gesig uitgerys, fokken blom en Bybel
op sy dooie lyf. Moes ook dít
dan aflei uit jou asem:
bedompig soos ʼn begrafnisblom.

Ek weet, ek weet –
jy’s in longe, my blaas, die blomme.
My kans sal kom.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •