Andries Bezuidenhout. ‘n Eerste werksgeleentheid in Keiskammahoek

Wat kan ʼn mens van die staat verwag? Sekerlik om iets soos die digkuns uit te bou – in al die landstale. Ook om onderwys vir almal te verbeter.

Soms kom ek egter onder die indruk van hoe bitter min mense in nood van die staat verwag, of kan verwag.

ʼn Ruk gelede het ek ʼn aantal “groen” projekte saam met kollegas in die Oos-Kaap gaan besoek – meestal naby ʼn dorpie genaamd Keiskammahoek. Die projek wat my die meeste gefassineer het, is die regering se werk-vir-waterprogram. Mense uit huishoudings sonder enige looninkomste word deur die staat in diens geneem om uitheemse plante te verwyder – spesifiek in areas waar water vir riviere en damme opgevang word.

In die foto hier bo kan ʼn mens sien hoe een van die heuwels lyk waar swartwattelbosse nog groei. Teen die helling kom die span aan, aan die einde van die werksdag. In die foto hier onder is drie van my kollegas – Sepetla Molapo, Karl von Holdt en Crispen Chinguno – met een van die heuwels wat deur die span skoongemaak is in die agtergrond. Inheemse gras en bome, soos geelhoutbome, kan weer groei.

Die een ding wat my opgeval het van die werk-vir-waterspanne, is die feit dat dit tog op ʼn manier weer mense se menswaardigheid herstel. Die plaaslike werkloosheidsyfer draai rondom 80%. Vir baie van hierdie mense is dit ʼn eerste werksgeleentheid. Alhoewel hulle as kontrakteurs deur die staat aangestel word – m.a.w. nie permanent nie – word werksomstandighede deeglik gereguleer. Mense moet behoorlike klere en handskoene dra, elke span het ʼn noodhulptas en kry opleiding in noodhulp.

Daar is baie probleme met die program. Iets wat na regte ʼn deel van die staat se normale funksies moet wees, word as ʼn projek beskryf wat armoede moet verlig. Hoekom kan hierdie mense nie permanent in diens geneem word nie? Hulle mag slegs vir twee jaar deel van die program wees. Dan moet hulle, soos ʼn neoliberale staat van elke burger verwag, ʼn entrepreneur word en self werk skep.

Hoe absurd!

Aan die ander kant, daar is dele van die land – ver van Johannesburg – waar die staat vir die eerste keer in die geskiedenis gevestig word as ʼn entiteit wat op ʼn onvolmaakte manier poog om menswaardigheid te bevorder. ʼn Mens moet iewers begin.

Ek het ʼn paar weke gelede iets daaroor geskryf in my rubriek in Rapport, wat met ʼn dawerende stilte begroet is. Lees dit hier.

Mense wat by Aardklop aanklop kan gerus Vrydag ʼn draai maak by die Spore op die maan-konsert, ʼn projek wat omgewingsbewustheid deur musiek probeer bevorder.

SKOTTELGOED VERF

Middernag. Vroeër vanaand was die Uur van die Aarde
toe almal hul ligte sou uitdoof vir die planeet wat swik.
Gordyne oopgetrek, buite het die stad skerp geskyn,
het sirenes gejuig, alarms protesteer, skote geklap,
het honde hardnekkig aanhou blaf en na voetgangers gehap.

Nou staan ek reg met esel en palet, my kwas gereed
om te protesteer. ʼn Muurklok tik, die yskas dreun
en sidder tot stilte. My verset verdrein tot ʼn taai pappery.
In my oomblik van inspirasie beplak ek die doek
met ʼn skakering grys, soos ʼn wasbak vol skottelgoed.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •