woud van nege en negentig vlerke. Deur Carina Stander. Tafelberg. R 140.

Hierdie tweede digbundel van Carina Stander is duidelik ’n woordkind uit dieselfde gesin as haar debuut, die vloedbos sal weer vlieg, van 3 jaar gelede.
Die “woud” van die titel eggo die “vloedbos” van die debuut, net soos “vlerke” die “vlieg”-gegewe van voorheen. Dis kennelik belangrike motiewe in haar werk dié, waardeur die belewing van die intieme saambestaan van die geestelike (die kreatiewe verbeelding en die droom, maar ook die religieuse belewing) en die ruie aards-sintuiglike aangedui word. Trouens, daar is iets surrealisties in Stander se bemoeiing met die nie-rasionele, minder bewustelike kante van die werklikheid.
“[N]ege en negentig” sinjaleer weer (soos die “vloedbos” van die debuut) die oorvloed van wat met verwondering, genot en dankbaarheid beleef word – maar wat (nog) nie volkome kan wees in die hiermaalse nie (net “nege en negentig” in plaas van ’n ronde honderd).
Soos van die debuutwerk, is die bandskildery (en ook die sketse op die binneblaaie) van woud van nege en negentig vlerke deur Stander self. Drie vere – blykens die Versindaba-onderhoud wat Marlise Joubert met Stander gevoer het, ’n sinspeling op die Bybelse Drie-Eenheidsbegrip – hang aan ’n geraamteagtige boom op die voorbladillustrasie. Weer ’n suggestie van die reddende, vervullende teenwoordigheid van die geestelike dimensie in die aardse.
Trouens, ek sou die natuurbelewing by Stander as religieus-misties van aard wou bestempel.
Soos in die vloedbos sal weer vlieg word, wat die ruimtelike situering en die beelding betref, weer byna uitsluitlik uit die natuur en die landelike geput. Veral welige, paradyslike omgewings soos Hawaii, die Amasone en (sub-) tropiese dele van Afrika, met hulle vulkane, oerbosse, riviere, mere en seë, figureer opvallend. Waar menslike beskawing wel uitgebeeld word, betref dit in hoofsaak landelike, tradisionele leefwyses waar mens en natuur in elk geval in noue kontak saambestaan.
Dit alles weerspieël ’n paradysverlange as leitmotiv by Stander, en wat klaarblyklik ontspring aan haar jeugervarings op ’n plaas in die Waterberg-kontrei. In die afdeling “Wildernis” word daardie wêreld weer besoek, daadwerklik (soos ek uit ’n gedig soos “stofslierte in die laatlig” aflei), maar ook via herinneringe. Hier het sy “die bos se groen dors [geërf]”, oftewel die “die wildheid” van haar pa (haar natuurliefde en ‘groen bewussyn’); maar ook “die woorde van ’n ma” (taal- en literatuurgevoeligheid).
“Vlam onder die water”, die eerste afdeling (opgedra aan “die God van hemel en aarde”), verwoord die ervaring van die paradoksale, wonderbaarlike, maar ook betroubare en beskuttende goddelike teenwoordigheid in die aardse. Nie net word die troostende behoedheid van die “ek” of die mens beleef nie, maar ook van die dikwels bedreigde natuur. Daarom dat die (ongeïdentifiseerde) digtersfiguur in die openingsgedig kan voel dat hy/sy – in ’n formulering wat op betekenisvolle wyse die nuwetestamentiese gebeure van Christus se intog in Jerusalem en sy wandeling op die water in die gedagte roep – “op die rug van ’n donkie in die see […] swem”. Dié gedig sluit soos volg:
om veerlig te dryf
verse te skryf
die son ’n engelkop
vanaf ’n eselrug aanskou
om die heelal en hemel só dop te hou:
laat my reise voortaan eenvoudig wees[.]
Vertrouende religieuse oorgawe dus, in welke gevaarsituasie ook al:
skaars ’n armlengte onder jou voet
vloei riviere van vuur
rooi soos Bloed
rooi soos Bloed[.]
(“vulkaanklip”, p. 13)
Herhaaldelik duik engele in hierdie gedigte op (ook “Vlerkman” genoem – wat ’n verdere betekenisnuanse van die vlerk/vlieg-motief in Stander se werk belig), of laat God Hom betuig: “Ek is die groot Ek Is” (“Vloed”, p. 16-17).
Die eweneens paradoksale titel van die tweede afdeling, “vasteland, wankelland”, is ’n aanduiding van die uiteenlopende belewings op Hawaii, in Suid-Amerika en in Afrika wat daarin vertolk word: die idilliese sowel as die gevaarvolle in die natuur; droogte en vernieling, maar ook nuwe groei; (die kulturele restante van) slawerny sowel as politieke bevryding; Afrikaners se vereenselwiging met Afrika sowel as hul hedendaagse vervreemding daarvan; Afrikane (veral vroue) se swaarkry en ellende, maar ook hul deernisvolle sorgsaamheid; verwondering oor en genot aan die natuur, maar ook die mens se roekelose ontginning daarvan. In verband met laasgenoemde moet die digter dan self voel: “skuldig moet ek skryf en dig”, aangesien dit geskied op papier wat van afgekapte bome berei is (“papierplantasie”, p. 49).
Een van die aangrypendste gedigte in hierdie afdeling is “Lima” (p. 41-42), waarin die dogtertjie wat wawiele op die stippellyn te midde van die gevaarlike verkeer maak om “munte traanblink in haar hand” te kan verdien, uitgebou word tot ’n vergestalting van triomfantelike lewensdrif wat, helaas, meestal geblus raak in die terneerdrukkende armoedsomstandighede van ’n stad soos Lima.
Hierna volg “Wildernis”, die derde afdeling, geskryf “vir die Bergfonteiners” (die voormalige bewoners van Stander se grootwordwêreld). Dat dié herbesoek ’n nagaan van die oorspronge van die eie belangstellings behels, het ek reeds aangetoon. Ook hierdie belewenisse word deur paradoksaliteit gekenmerk, maar wat dan telkens binne die oorkoepelende religieuse beskutheid tuisgebring word.
So ook in “Sondoop”, die vierde afdeling. Intense natuurbelewings, spesifiek in Suider-Afrikaanse verband, en wat mitiese en mistiek-religieuse dimensies aanneem, kontrasteer met ontgogeling, ontmaagding, politieke vervreemding, afsterwing. Eggo’s van Ingrid Jonker en C. Louis Leipoldt se werk klink doelbewus op – op funksionele wyse juis in gedigte waar van kunstige vaste vorme (die rondeau en die Franse ballade) gebruik gemaak word.
Terloops, Stander beoefen in ’n paar gevalle in hierdie bundel sulke vaste vorme met sukses, hoewel sy kennelik (ook luidens die genoemde onderhoud wat met haar gevoer is) voorkeur gee aan die vrye vers. Slegs in een geval, in die eerste triolet van die tweedelige “Lobola” (p. 36), het iets opgeduik (die gebruik van “waard” pleks van “werd” omwille die rym) wat na my gevoel van vormlike dwang spreek.
Die laaste twee afdelings, “palm-pas” en “die nege-maande-moeras”, fokus op die huweliksgeluk en die eerste swangerskap binne daardie geborge, religie-deurstraalde verband. Orals in die bundel, maar veral in hierdie twee afdelings oorheers landskappe en natuuromgewings wat van (oor-)lewingskrag en vrugbaarheid spreek, en wat die paradyslikheid van die belewing benadruk. Vergelyk die aanvangsstrofe van “Middelwater”, wat in die subtitel “’n Amasone-villanelle” genoem word:
Adem. Eden. Aden. Skrýf die woord in ewige potlood
op middelwater waar die eiers wieg in ’n papierdun plant.
Hier is gerugte van geboorte en lewe ná die dood.
Die intens-herhalende aard van die villanelle as geykte vorm word effektief benut om die voortsettingsgedagte vormlik te steun.
Meer as een keer word die huwelikspaar in hierdie afdelings op byna Bybelse wyse as “man en mannin” geïdentifiseer, wat by die paradysgegewe aansluit.
Pragtige klankgebruik en beelding kenmerk woud van nege en negentig vlerke, spesifiek ook laasgenoemde twee afdelings – en op funksionele wyse. Die gevaar dat die bepaalde, ekstase-getinte lewensingesteldheid kan aanleiding gee tot inhoudelike en stilistiese oordaad, word myns insiens grootliks deur Stander vermy. Slegs die herhaalde, selfs opvallende gebruik van intensiverende of nuanserende samestellingsvorme, dikwels in verband met kleure (te wyte aan die kunsskilderkyk van Stander as opgeleide visuele kunstenaar?), het my plek-plek wou hinder, het gesog wou aandoen. Ek haal ’n paar voorbeelde aan: “rypsagte buik”, “gebrande-oranje somers”, “tongpienk bloeisels”, “warmloop”, “siekblou see”, “natgerilde woud”, “natwarm harte”, “malreën”, “nektartaai voete”, “toerank-vlegsels”.
En miskien nader Stander met hierdie tweede bundel, as opvallende voortsetting van haar debuut, die grense van afslytende ontginning van die bepaalde tematiek, bejeën soos dit is vanuit die bepaalde ekstaties-verwonderde, mistiek-religieuse lewensingesteldheid.
Talle besonder aantreklike gedigte deurspek egter die bundel. Dis bowendien steeds ’n verfrissend “wilde” perspektief wat Stander bied, met ’n helder oog vir die wonderlikhede van die “wildernis” en die grootsheid van die skepping – ’n optimistiese lewensbeskouing wat egter nie so naïef is om die verskrikkinge en droewighede van die wêreld mis te kyk nie, en wat sodoende oortuigend aandoen.
Bernard Odendaal