Hiermee ’n volgende aflewering in die reeks gedigontledings, bedoel vir onderrig op hoërskoolvlak.
*****
(“die geheue ’n kou vol voëltjies”) – Plato
partykeer (maar gelukkig byna elke dag) laterig in die middag
net voordat dit aand word (die donkerte val geruisloos en snel)
is daar ’n voëltjie iewers hier buite en bo onder die afdak
wat die katloop op hoogte van die selvensters
waar die bewaarders snags met flitsligte en gewere patrolleer
moet beskerm,
is daar ’n voëltjie met ’n skoon deurdringende geluid –
ek hou my asem vas uit vrees dat ’n argelose wag
of die holknars van ’n staaldeur wat sluit
die besoeker sal verwilder,
want met al die ore en die holtes van my liggaam en verlange
wil ek glo dat dit jy is, wil ek jou my naam hoor roep,
in die stilte bly knoop ek ’n dialoog, roep nog één keer
dan is dit ’n teken, dan is dit nuus.
geveerde, kleintjie, jy met die ruime noot van buite,
ek het jou nog nooit gesien nie – is jy rooi? is jy grys?
of het jy werklik háár donker oë, haar skouers, die lippe
om haar mond, die warm plekkies agter haar ore?
ek sal my stilte in die hoek sit en knoop
sodat jy mag praat, enigiets, enigiets.
gisteraand, tydens die nagskof, het een van die wagte
(so jonk, nog ’n seun met ’n pet en die eerste sukkelsnor)
hier van bo deur die tralies my vertel
dat die owerhede beoog om die afdak tóé te maak
voor volgende winter, teen die koue.
en die ore en ruimtes van my liggaam het leeg geword,
want dán is die graf verseël,
en ek soek diep in my na jou stem:
Breyten Breytenbach, Voetskrif, 1976
Soos die aantekeninge by die gedig in die bloemlesing Versreise (Vermaak et al, 2001:135) verduidelik, is dié gedig geskryf toe Breytenbach in eensame aanhouding was. Hy is tronk toe gestuur omdat hy aan terroristiese bedrywighede skuldig bevind is. Sy verset teen die destydse regering se apartheidsbeleid het onder meer gespruit uit die feit dat hy met ’n Viëtnamese vrou, Hoang Lien (of Yolande), getroud was, ’n huwelik wat beskou is as ’n oortreding van die Ontugwet. Weens haar afkoms wou die apartheidsregering voorts nie ’n visum aan haar toestaan om Suid-Afrika te besoek nie.
Die gedig kan dus, na die voorbeeld van Van Vuuren (1999:279), as “tronkpoësie” getipeer word. Volgens haar is Breytenbach die hoofeksponent van sulke poësie in Afrikaans, maar verskil syne van die poësie van ander gevangenes deurdat die politieke betrokkenheid daarin nie op die voorgrond staan nie, maar wel die tema van “die konstante outsiderfiguur”. As resultaat hiervan skryf hy eerder “surrealistiese en neo-romantiese poësie” in die vyf bundels wat tydens sy gevangenskap (1975-1982) ontstaan het, naamlik Voetskrif (1976), Eklips (1983), (‘YK’) (1983), Buffalo Bill (1984) en Lewendood (1985).
“(‘die geheue ’n kou vol voëltjies’) – Plato” het in die eerste afdeling van Breytenbach se eerste tronkbundel verskyn, ’n afdeling waarin “naas liefdesverse en besinnings oor die aard van die woord en die digterskap veral gedigte oor die gevangenis, die situasie van die ek en die karige indrukke van die buitewêreld” opgeneem is; “’n (b)eduidende aantal verse handel oor die afwesige geliefde wat nogtans ’n belangrike kontak met die buitewêreld is” (Kannemeyer, 1983:485-486).
Breytenbach se uitbeelding van sy situasie in die tronksel in hierdie gedig roep, soos die gedigtitel, die beeld wat die antieke Griekse filosoof Plato van die menslike lewe en kennis gegee het in gedagte.
Soos onder meer Störig (1972:151-154) verduidelik, het Plato naamlik ’n onderskeid getref tussen die ewige Ryk van die Ideë (van die Grieks eidos of idea, oorspronklik “beeld, gestalte” – dus: vorme, soorte, algemene state van Syn) en die hiermaalse wêreld van die sintuie, waar die algemene Ideë uiting vind in partikuliere verskynsels, maar wat net afskaduwings is van die volstrekte, metafisiese werklikhede van die Ideë. Die afsonderlike dinge vergaan, maar as hulle ewige voorbeelde is die Ideë onverganklik.
Plato het die onderskeid probeer verklaar deur middel van sy beroemde grotvoorstelling. Mense, geslaan in boeie soos in ’n gevangenis, verkeer in die hiermaalse lewe in ’n soort onderaardse, grotagtige verblyf, wat ’n lang toegangsweg na die lig het, maar waarheen mense nie hul hoofde kan draai nie. Die lig straal af van ’n vuur bokant en ver agter hulle. Tussen die vuur en gevangenes, en bokant die gevangenes langs, loop ’n paadjie, met ’n muurtjie daarvoor. Agter die muurtjie dra mense allerlei voorwerpe, wat bo die muurtjie uitsteek. Sommige van die draers praat, ander swyg.
Wat die mense dus van mekaar en van die voorwerpe (verteenwoordigend van die aardse dinge) te wete kom, is soos die skadu’s wat op die rotswand teenoor hulle gewerp word en waarvan hulle sekere dinge uit die monde van die sprekende draers te hore kry. Hulle glo dat daardie afskaduwings en daardie beskrywings die dinge self is.
Die ewige werklikheid van die dinge, hulle Ideë, bestaan egter in die volle lig, en is té verblindend en té pynlik vir die mens om in hierdie lewe te aanskou.
Plato het egter verder gegaan en drie funksies van die menslike siel onderskei: denke, wil en begeerte. Die denke het sy setel in die hoof, die gevoel in die bors, die begeerte in die onderlyf. Alleen die denke, die gees, vorm die onsterflike bestanddeel van die siel. Die onsterflike siel het nie begin of einde nie en is wat wese betref één met die sogenaamde wêreldsiel. Dit is die deel van die mens waardeur hy deel het aan die Ideëryk. Al ons kennis is wederherinnering uit die oorspronklike wêreldsielstaat en uit die vroeëre beliggaminge (die reïnkarnasies) van die siel.
Daarom dat Plato die liggaam as die graf van die siel beskryf het. Die hiermaalse lewe is ’n gevangenis of ’n graf wat die metafisiese wêreld ontoeganklik maak.
Plato skryf voorts: “Omdat die siel onsterflik is en baie kere gebore, en omdat dit alle dinge wat hier en in die onderwêreld is, gesien het, is daar niks wat dit nie ervaar het nie. Dit is daarom nie verwonderlik dat dit in staat is om sig die deug en al die ander dinge te herinner, wat dit tog vroeër reeds geweet het nie. Want gesien die feit dat die gehele natuur onderling verwant is en die siel alles meegemaak het, is daar niks wat verhinder dat iemand wat maar aan ’n kleinigheid herinner word – iets wat by mense as leer bekend staan – al die vorige kennis uit homself vind nie, mits hy moedig is en onverpoosd in sy soeke. Want soeke en leer is geheel en al herinnering.”
Vrae
a) Toon aan watter elemente uit Plato se bogenoemde grotvoorstelling in Breytenbach sy gedig gebruik is, soms in aangepaste vorm.
Daar is eerstens die grot- of gevangenissituasie. By Breytenbach is dit egter ’n letterlike tronk wat ter sprake is, hoewel ook die bestaan van eensame opsluiting parallel gestel word aan Plato se siening dat die beperkinge van die hiermaalse lewe in die liggaam soos ’n gevangenis of ’n graf is. Vergelyk die tweede laaste versreël van die gedig, waarin die toegeboude sel bestempel word as ’n verseëlde graf.
Tweedens herinner die hoë selvensters en die loopgang (“katloop”) met sy afdakbedekking daarvoor aan die vuur ver en bokant die gevangenes in Plato se grot, asook aan die bemuurde paadjie bokant hulle waarlangs die draers van die voorwerpe beweeg het.
In Plato se voorstelling is daar derdens sommige van die draers wat praat. In Breytenbach se gedig word hulle enersyds vervang met die “voëltjie […] met ’n skoon deurdringende geluid”; andersyds met die jong wag wat later met die “ek” in gesprek tree om (onwetend) die slegte nuus aangaande die toebou van die loopgang mee te deel.
In die vierde plek word die vae afskaduwings van die onsigbare draers en voorwerpe teen die grotwand in Plato se uitbeelding, geëggo in die onsigbaarheid van die voëltjie (“ek het jou nog nooit gesien nie – is jy rooi? is jy grys?”) as teken van die afwesige, slegs herinnerde geliefde. Trouens, soos die gevangenes in Plato se allegorie die skadubeelde met die werklike voorwerpe vereenselwig, vereenselwig die spreker in die tweede strofe eintlik die voëltjie met die geliefde. As hy byvoorbeeld hier sê: “ek sal my stilte in die hoek sit en knoop/ sodat jy mag praat, enigiets, enigiets”, kan dit sowel die voëltjie as die geliefde wees wat hy aanspreek.
b) Hoe vind Plato se siening dat ’n “kleinigheid” aan inligting ’n hele vrag aan opgedane kennis in die ewige mensesiel kan oproep, neerslag in Breytenbach se gedig? Betrek ook die gedigtitel hierby. Lewer kommentaar op die gebruik van die hakies in die gedigtitel.
Die voëltjie funksioneer soortgelyk aan die “kleinigheid” van inligting waardeur, volgens Plato se siening, ’n hele drag aan opgedane ervaring en kennis in die ewige mensesiel opgeroep word. In die geval van Breytenbach se gedig is dit herinneringe (“nuus”) aan die erg vermiste geliefde wat opgeroep word: “háár donker oë, haar skouers, die lippe/ om haar mond, die warm plekkies agter haar ore”. Die roep van ’n enkele klein voëltjie (“’n teken” – reël 14) aktiveer die “kou vol voëltjies” van die geheue, soos die gedigtitel dit wil hê. Die hakies in die gedigtitel (tesame met die aanhalingstekens) is nie net ’n veraanskouliking (verikonisering) van die “kou” waarin die voëltjies hulle luidens die titel bevind nie, maar dalk ook van die “ek” se kop, waarin die herinneringe bevat is wat deur die voëltjie se geroep ontketen word.
c) Waarom is die nuus wat die jong wag die gevangene meedeel, so verpletterend?
Die toebou van die loopgang sal die toegang wat die voëltjie tot die afdak van die loopgang gehad het, verhinder. Dit sal beteken dat die gevangene nie meer die voëltjie (“teken” van sy geliefde) se geroep sal verneem nie, en dat sy eensame opsluiting dus nog erger sal word.
d) Toon aan hoe die volgende kenmerkende belewenisse van gevangenes in Breytenbach se gedig weerspieël word:
· ’n Hiperbewustheid van tyd en tydverloop.
· Opgeskerpte sintuiglike waarnemings.
· Verlangens na geliefdes.
· ’n Behoefte aan eie identiteitsbevestiging.
· Gevoelens van wanhoop.
Die hiperbewustheid van tyd en tydsverloop spreek duidelik uit die eerste twee versreëls van die gedig.
Die opgeskerpte sintuiglike waarnemings is af te lees uit frases soos “skoon deurdringende geluid”, “holknars van ’n staaldeur” en “al die ore en holtes van my liggaam” – trouens, ook uit die presiesheid waarmee die tyd wanneer die voëltjie hoorbaar word, asook die posisie van die loopgang, beskryf word.
Die verlangens word duidelik uitgedruk in reëls 11-12 en 17-18.
Die behoefte aan eie identiteitsbevestiging spreek uit die gevangene se begeerte om die geliefde sy naam te hoor roep (reëls 12-13), uit die dringendheid waarmee hy wil hê dat sy “enigiets, enigiets” moet sê (reël 20) en na haar stem soek (reël 28).
Die hoop om tog iets vanaf die geliefde te verneem (“want met al die ore en die holtes van my liggaam en verlange/ wil ek glo dat dit jy is” – reëls 11-12), wat in die eerste twee strofes uitgedruk word, verander in wanhoopsgevoelens in die slotstrofe, treffend uitgedruk deur die voortsetting van die beeld uit reëls 11 en 26: “en die ore en ruimtes van my liggaam het leeg geword”.
e) Na aanleiding van watter twee bekende segswyses is die kontaminasie “e)k hou my asem vas” waarskynlik gevorm?
“Ek hou my asem op” en “ek hou my hart vas”.
f) Wys op hoe die toenemende wanhoop op kommunikasie met die geliefde in die slotgedeeltes van strofes 1, 2 en 4 uitgedruk word.
In die eerste strofe maak die spreker nog gewag van ’n “dialoog” wat hy “in die stilte […] bly knoop”. Gewoonlik sal ’n mens sê dat jy ’n dialoog of gesprek aanknoop. Deur “knoop” te gebruik, wil Breytenbach die dilemma van die spreker (die feit dat hy in ’n knoop verkeer) uitdruk weens die feit dat hy geen werklike kommunikasie met die geliefde kan bewerkstellig nie.
In die slot van strofe 2 word die isolasie van die spreker sterker uitgedruk: Hy sit “in die hoek” en kan slegs “my stilte […] knoop”. In die slotstrofe, as die spreker verneem het dat hy waarskynlik heeltemaal van die buitewêreld afgesny gaan word, besef hy dat hy net nog “diep in my na jou stem” soek. Die dubbelpunt waarop die gedig eindig, gevolg deur die afwesigheid van wat ’n mens normaalweg as uitbreiding op hierdie leesteken verwag, veraanskoulik die leegte én die stilte wat oorbly op sy hoop om iets van die geliefde te verneem.
Bernard Odendaal, Universiteit van die Vrystaat
Bronnelys
Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, deel 2. Pretoria, Kaapstad & Johannesburg: Academica.
Störig, Hans Joachim. 1972. Geschiedenis van de filosofie, deel 1. Twaalfde, gewijzigde en bijgewerkte druk. Utrect & Antwerpen: Uitgeverij Het Spectrum.
Van Vuuren, Helize. 1999. Perspektief op die moderne Afrikaanse poësie (1960-1997). In Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.
Vermaak, Adinda et al. 2001. Versreise. Kaapstad: Tafelberg.