Een hart. Deur Johannes Prins. Lapa Uitgewers. ISBN 978-0-7993-4509-4.

Johannes Prins, kwekeling van Stellenbosch en bekroonde joernalis by die Johannesburgse dagblad Beeld, het in 2001 as digter op die voorgrond getree met ‘n elftal gedigte in Tafelberg-uitgewers se Nuwe stemme 2. Met een hart is hy die sewende van die debutante in daardie bloemlesing wat met ‘n solobundel vorendag kom.
Dit bevat skaars 40 gedigte, maar lewer ‘n boeiende en meermaals ontroerende leeservaring op.
Die bundeltitel is ewe bedrieglik in sy bondige eenvoud. In die eerste plek roep dit die belangrike liefdesgegewe in die bundel op.
‘n Hele paar liefdesgedigte is gemik op die verhouding met ‘n vriendin en latere huweliksmaat, soos dit gekenmerk word deur hartstogte én (aanvanklike) onsekerhede en spanninge. Vergelyk:
pas
‘n begrafnisdiens van ‘n vriend van ‘n vriend
van jou in worcester lok ons uit die paarl
met dreunende sonbesies pak ons die tog deur
du toitskloof aan – hitte walm van die teer op
en jy sit en sweet in jou swart rok
wil jy ons ook nou dood hê vra jy soos ek die draaie
van die pas sny – agter skuif jou vriend met ‘n blink gesig rond
in die kerk kraak houtbanke terwyl die sin van ‘n motorongeluk
oorweeg word – die skielike-heengaan-trooswoorde
van ‘n jong dominee hang in die lug
deur loodwerkvensters vermeng die son kleure op die vloer,
‘n druppel loop agter jou oor in jou nek af
tussen die laaste gesang en die amen herinner ek my dat dit
‘n sekslose somerdag sal wees – een waar jy die aand stil sal rook
en later na ‘n glas wyn jou onderlyf teen my kom vasdruk[.]
Later, wanneer die nuus van ‘n eerste swangerskap vreugdevol ontvang is, verdwyn die spanninge en verloop ‘n motorrit byvoorbeeld op liefderik-speelse wyse:
soveel tale
“yo veo un letrero” sê jy op die langpad
agter die spaanse les in die cd-speler aan
“ja ek sien ook ‘n padteken en ek weet ons
moet seker hier afdraai of hoe?”
“sí señor,” sê jy met ‘n breë glimlag en pomp
my in die ribbes – ons draai af na paternoster
“ek verstaan nie die geslag-ding in dié taal nie,” sê ek.
hoekom is ‘n motor manlik en vragmotor vroulik?
“miskien omdat ‘n mens meer in ‘n vragmotor kan laai
en motors gewoonlik groter ego’s onder die enjinkap het?”
“en in chinees” dink ek hardop oor die drumpel by ons huis,
“is die karakter vir vrede ‘n kombinasie van ‘dak’ en ‘vrou'”[.]
Liefdevolheid, hoewel nie ongekompliseerd nie, kleur ook die spreker se verhouding met die Boland en die Karoo. Die treffende “juwelier” suggereer die deernis waarmee die spreker sowel die gesinslewe as die Karoo betrag:
wanneer die aandvoël
nes maak
en die plaaslyne
in kode
die komende
onweer verklap,
sug die huis ‘n warm sug
die gang verlang
na karookinders met amandeloë
wat vroeër die dag
luidkeels stille nag op
blokfluite geblaas het
en nou droom
van jakkalsvoëls
en reën
en wanneer twee
polisiemanne uit die bloute
opdaag om jou
goudregister na te gaan – een
druk selfs sy hande
in die suur – sê jy:
“elke ons is hier meneer,
elke kind is hier.”
‘n “Bolandse” gedig soos die volgende roep bekende terugkeer-na-die-vader-toe-verse van W.E.G. Louw en Breyten Breytenbach in herinnering:
Ek sal doodgaan
ek sal doodgaan
inkonk
so met die hand
op my bors
ek sal nie wellington
toe gaan nie –
ken niemand daar
met ‘n bordienghuis nie
ek sal een oggend
my arm oplig
om te skeer
en in die spieël sien
die oog
is verby
die bloed sal in my slape klop
die hart sal skuurloop
soos ‘n huurder –
‘n laataand-lister
voor die nag
se nag
ek sal doodgaan
stellenbosch toe
in dorpstraat óp dros
jonkershoek in
waar sneeubedekte pieke
met kranse die blou
uit die hemel hengel[.]
Hiermee word ‘n volgende belangrike tematiese veld aangeraak wat ook al deur die bundeltitel geaktiveer word: siekte en sterflikheid. Blykens gedigte soos “hart”, “basiskamp” en “diefstal” is die digter se familie aan vaderskant hartsiektelyers, terwyl sy moeder weens kanker gesterf het. Hy vrees dat ‘n soortgelyke lot hom sal tref, wat gevoelens van selftwyfel en weerloosheid aanwakker (“trapmeultoets”,”toewens”, “basiskamp”, “malaria”, ensovoorts).
Die ouderdom 33 word meer as een maal te berde gebring (“nasedit”, “drie-en-dertig”), telkens in verband met dood of doodsvrese. Christus se sterfouderdom word sodoende gekonnoteer.
Kaartspel blyk volgens die gedig “brugrubriek” egter die primêre vindplek van die bundeltitelkeuse te wees.
soos ek kan onthou was dit ‘n baie helder,
nugter oggend – geen voorbodes
of swanger afwagtings
met my by-die-deur-uitstap het hy
dié dag se roepery begin – dit was duidelik
en ondubbelsinnig: een hart
[…]
Assosiasies van waagspel, onsekerheid, onbeslistheid, huiwering, teenstrydigheid, tussenstandigheid en kwesbaarheid word derhalwe óók deur die bundeltitel geaktiveer – en sodanige lewensgevoel word, tot naby die einde van die bundel toe wanneer die geluk van die eie gesinsverband oorheers, die dominante in die bundel. Die digter se nering as joernalis hou met hierdie lewensgevoel verband. Daardeur word hy genoop tot ‘onpartydigheid’ en groter ‘objektiwiteit’, selfs tot ‘n sekere onthegtheid. Daar is ‘n diepe besef van die voorlopigheid en relatiwiteit van oortuigings en stande van sake , juis ook in die lig van die misdadighede en geweld wat die Suid-Afrikaanse aktualiteit deurspek.
‘n [N]uusredakteur
bid nie
want god is net nog
‘n storie[;]
en:
‘n nuusredakteur
bid nie
want god is net nog
‘n leser
– só begin en eindig die gedig “nuusredakteur”, ietwat sinies opgedra aan die fundamenteel Christelik-religieuse digter T.T. Cloete.
En die twee buitenste strofes van “glo” lui:
soms
maar net soms
wens ek
[…]
ek kan glo
dat alles nie tot niks
kom nie[.]
Die woord “nomade” word meer as een keer in die bundel gebruik in verband met die spreker en sy geliefde, terwyl half-gepakte en -uitgepakte kartondose herhaaldelik vermeld word om hulle tussenstandige posisies te beklemtoon. Enkele verwysings na die Boeddha-figuur bring ‘ontheemdheid’ as bestaanservaring – voordat uiteindelike ‘verligting’ en rus gevind word – verder ter sprake.
Myns insiens moet die hoofsaaklike vryer versvormgewing in die bundel met sodanige belewing van onbeslistheid en voorlopigheid in verband gesien word. Dit wissel van (oënskynlik) minimale digterlike ordening (met die kroegtoneeltekening in “koedoe-steaks in nieu-bethesda”, wat funksioneel in dié verband uitstaan) tot wel tog sterker graderings van tipografiese reëlmatigheid (soos uit van die hierbo aangehaalde verse behoort te blyk).
Relativering en onvoldongenheid word in ‘n sekere sin ook vooropgestel deur die opvallende benutting van omvangryke parenteses in ‘n aantal gedigte (“jy”, “malaria (ii)”, “glo” en “melkweg”). Ek het reeds die begin- en slotstrofes van “jy” aangehaal. Die drie binnestrofes daarvan lui:
(dat ek só
soos jy
skoorsoekend en kwaad
en verward kan bid
en verwyt
en vra
hoekom dit
en hoekom dat
om deur daai boek
te blaai
en ‘n vers te soek
vir krag
en verstaan
en hoop –
it softens the blow
nogal weet jy
om hande te vat
en die seën te vra
en te weet
dit kom van elders
van bo
dankbaar te wees
want iewers hou iemand
‘n oog)[.]
Laastens wil ek die titel een hart ook sien as indikasie dat al bovermelde, uiteenlopende ervarings en sienings in één gemoed setel.
Vandaar die bundelordening sónder bundelafdelings (maar waarin ‘n min of meer chronologiese lewensverloop merkbaar is). Reekse gedigte oor bepaalde temas volg mekaar ongeskei op; trouens, soms oorvleuel ‘reekse’ kennelik in bepaalde gedigte. Ter versterking van die vervlegtheidsindruk van die verwoorde belewings duik motiewe soos die liefde, lewensdreiging en onbepaaldheid telkens op verskillende plekke in die bundel op.
Die Taoïstiese jinjang-simbool aan die begin van die bundel is ‘n teken dat dit om die harmoniëring van polêre manifestasies gaan.
Voorts: Dat twee puik poësiebeskoulike verse juis die begin- en slotposisies in die bundel inneem, is tekenend van die strewe om sodanige integrasie van uiteenlopenhede ook poëtiese vergestalting te laat vind.
Die slotgedig, met sy treffende ironieë en sterk sentrale beeld, lui:
man diesel
hoe kom ‘n vers
na jou toe
vra jy op vrouedag in hendrik potgieter
ek skud my kop
en sê nee ek weet werklik nie
want dis soms vreemd
die hele ding
ons sou byvoorbeeld
op pad makro toe
wees om te gaan wyn koop
en dan klim daar
sommerso
‘n vers by ‘n man diesel
se deur uit
en tuur ver in sy blou overallbroek
na die metrocop wat hom pas
afgetrek het
en verstel onder sy maag
aan sy belt se kopergespe
vee met swart naels
en ‘n hand so groot
soos my oupa s’n
oor sy sweterige
voorkop
en skielik knip hy sy pierpont-knipmes toe
en ‘n kind kyk grootmond op na ‘n appelskil langer as hyself[.]
Juis die treffendheid van die man-in-blou-overallbroek-beeld in dié slotgedig laat ‘n mens besef dat ongewone of vindingryke beelding nié een van die opvallende kwaliteite van een hart is nie (waar dit byvoorbeeld die hartklop van die poëtiese effekte in Danie Marais se twee bundels uit onlangse jare is). Trouens, in gedigte soos “brugrubriek” en “Jasus klim uit die water (i) & (ii)”, waar daar hard gewerk word in die rigting van uitgebreide simbolisering of allegorisering, voel ek ‘n mate van onnoodwendigheid en geforseerdheid aan.
Maar in die geheel gesien, hoef Prins nie die kritiese toets te vrees waarop hy in die openingsgedig, “verse”, skimp nie:
[…]
dit rym
nie sê die man,
skryf jy nou maar
net wat jy wil
meneer
my verse is uitgelewer[.]
[E]en hart is ‘n sterk debuut. Dat ek ryklik daaruit in hierdie resensie aangehaal het, behoort my plesier by die lees daarvan te bewys.
Dit verdien ook ‘n pluimpie vir Lapa, wat maar eers in onlangse jare tot die uitgee van poësie oorgegaan het. Met bundels soos dié, ook met byvoorbeeld Ilse van Staden se Fluisterklip en Johan Myburg se aangrypende Kamermusiek in die afgelope jaar of twee, bewys Lapa sy ernstige intensies op klinkklare wyse.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
As ouer broeder is ek inderdaad baie subjektief, maar ek glo jou resensie is in die kol.