
Prof. Lina Spies se afskeidbrief aan haar alma mater, die Universiteit van Stellenbosch, en haar betrokkendheid by die US Universiteitsraad, is gister in LitNet se Seminaarkamer geplaas. “In diens van twee moeders” is inderdaad ‘n ontroerende besinning oor haar jarelange betrokkenheid by die universiteit.
Nietemin, die gedeelte wat my oog gevang het, is waar sy skryf oor die poësie en die rol daarvan in ‘n veeltalige samelewing; ‘n beskouing wat sy koppel aan TS Eliot se lesing, “The social function of poetry“, wat hy in 1943 voor die Brits-Noorweegse Instituut gelewer het. Haar kommentaar en aanbod is so aangrypend, dat ek graag vanoggend se Nuuswekker met enkele aanhalings daaraan afstaan:
“Hy (Eliot) spreek die oortuiging uit dat elke volk sy eie poësie behoort te hê, nie net vir diegene wat van poësie hou nie, maar omdat dit ‘n verskil maak aan die samelewing in sy geheel, waarby hy diegene insluit wat geen plesier het aan poësie nie en selfs nie die name van hulle eie digters ken nie. Wat hy presies bedoel met hierdie stelling, werk hy uit in ‘n skerpsinnige, logiese betoog [… ] Dit is volkome begryplik, sê Eliot, as ‘n mens in ag neem dat poësie primêr uitdrukking gee aan emosies wat individueel en persoonlik is, terwyl gedagtes eie is aan gemeenskaplike denke.”
En dan – “Waarom vra die literêre impuls om uitdrukking in die moedertaal en nie in die amptelike taal waarmee die digter/skrywer vertroud is deur onderwys en die openbare gesag van dié taal nie? Eliot se antwoord lui: ‘It is easier to think in a foreign language than it is to feel in it. Therefore no art is more stubbornly national than poetry. A people may have its language taken away from it, suppressed, and another language compelled upon the schools; but unless you teach that people to feel in a new language, you have not eradicated the old one, and it will reappear in poetry, which is the vehicle of feeling.’ As ‘n taalgemeenskap nie meer digters en skrywers voortbring nie, waarsku Eliot, ‘their language will deteriorate, their culture will deteriorate and perhaps become absorbed in a stronger one’. Die feit dat daar steeds baie in Afrikaans gepubliseer word, is tans nog gerusstellend, maar dit kan ‘n valse gerusstelling word. Kwantiteit het nog nooit literêre kwaliteit gewaarborg nie en die dikte van die nuwe Groot verseboek (2008) en die voorlesings van gedigte tydens kunstefeeste kan ‘n rookskerm word vir die kwaliteit van wat as poësie aangebied word.”
Gewis ‘n uiters belangrike kommentaar wat deeglik ter harte geneem behoort te word. Terloops, dit is ook ‘n standpunt wat aansluiting vind by Charl-Pierre Naudé se mees onlangse blog-inskrywing.
Prof. Spies sluit haar brief af met die volgende treffende aanhaling uit die Eiliot-lesing (On poetry and poets, 1969: Faber & Faber): “Poetry is a constant reminder of all the things that can only be said in one language, and are untranslatable. The spiritual communication between people and people cannot be carried on without the individuals who take the trouble to learn at least one foreign language as one can learn any language but one’s own, and who consequently are able, to a greater or less degree, to feel in another language as well as in their own.”
***
Goeie nuus vanoggend is dat ons kan bekend maak dat daar binne enkele dae ‘n nuwe toevoeging tot die webblad gaan wees. Ons webmeester is naamlik besig om ‘n blogruimte voor te berei vir ‘n aantal Nederlandse en Vlaamse digters om ‘n kollektiewe blog met die naam Wisselkaarten te bedryf. Ons is van mening dat dié inisiatief grootliks sal bydra tot sinvolle gesprek en wisselwerking tussen die Afrikaanse poësie en die digkuns van die Lae Lande; iets wat hopelik tot voordeel en verryking van beide sal wees. Die name van die digters wat hieraan gaan deelneem, sal binnekort bekend gemaak word.
***
Nuwe plasings op die webblad vanoggend is Bernard Odendaal se omvattende bespreking van oogensiklopedie, Gilbert Gibson se bundel wat in November verlede jaar verskyn het. En hemel, watter kragtoer is dít nie! Net soos Charl-Pierre Naudé se vertalings van twee gedigte deur César Vallejo en een van Raymond Carver wat gister in die vertaalkamers geplaas is.
Hê pret met alles en onthou om prof. Lina Spies se volledige brief op LitNet te lees.
Mooi bly.
LE