Breyten Breytenbach het onlangs die Max Jacob-Prys gekry vir die Franse weergawe, Outre Voix, van sy jongste Afrikaanse bundel Oorblyfsel. Die volgende verbatim onderhoud wat Charl-Pierre Naudé met Breyten gevoer het, bestaan uit politieke sowel as literêre antwoorde, en is ook op Rapport se webwerf te lees. ‘n Verkorte aangepaste weergawe van hierdie onderhoud word hier geplaas.
Môresê, Breyten!
Goeienaand, Charl-Pierre.
Geluk met die Max Jacob-Prys aan die Franse weergawe Outre Voix van jou jongste bundel Oorblyfsel.
Dankie.
Elke prys het sy beduidendheid. Met dié een is jy in geselskap van onder meer skrywers wat skryf vanuit kwesbare kulture. Beteken dít die siening van Afrikaans as onderdrukkerstaal in die buitewêreld het verander?
Ek het ‘n paar toekennings gekry wat name dra wat vir my tel: die Jan Campert (Campert was digter en Nederlandse versetstryder), in Italië die Malaparte en die Pier Paolo Passolini, in Suid-Afrika die Allan Paton, en in Frankryk die Max Jacob. Hierdie figure was gemarginaliseerd en kon as verstekelinge beweeg in ‘n area van suiwer betrokkenheid deur skryfwerk. “Afrikaans-as-gewas-van-Apartheid” (soos in “elke-Arabier-is-‘n-terroris”) het wel nog ‘n houvas. Maar die siening begin verander.
Die “Nazi-taal” Duits was tog ook die taal van Paul Celan?
Natuurlik! As ‘n taal gemeet moet word aan die mate waartoe dit vir rassisme aangewend was, is daar geen staanplek vir Engels, Frans, Russies, Chinees nie. Afrikaans was eweneens ‘n taal van verset. Het Bettie du Toit en Bram Fischer en Adam Small en P.J. Philander en Jan Rabie en Van Zyl Slabbert en Beyers Naudé hul nie van Afrikaans bedien nie? Met Alex la Guma kon ek slegs Afrikaans praat.
Daar blyk ‘n sinergie tussen Max Jacob en jouself. Dié Joods-Franse skrywer was digter én prosaïs én skilder, en ‘n skakel tussen die simbolisme en surrealisme. Die simbolisme, wat so loer in jou eie werk, word nog maar karig in Suid-Afrika verstaan. “Close reading” is belangrik maar verwys te nougeset na wat “teenwoordig” is in die teks. Die simbolisme betrek ‘n vryswewende verbeelding en verwys juis na wat “nie teenwoordig” is in die teks nie.
Ek hou van hierdie benadering. Ek probeer om ‘n wye verwysingsveld te skep wat déél in assosiasies op collage-agtige wyse, en dit wat nié “teenwoordig” is nie (maar wel teenswoordig). Die simbolisties-surrealistiese tydvak was gekenmerk deur ‘n skeppende saambestaan van die private droomwêreld én die politieke werklikheid én betrokkenheid daarby. Jacob was dandy, flaneur, mistikus, eksperimentalis. Soos Jean Cocteau het hy “betekenis” gesoek in die rituele van beweging, nie in bourgeois konvensies nie.
Jacob was ‘n baanbreker van die prosagedig. Op jou aanbeveling is Katastrofes as poësie in jou versamelbundel Ysterkoei-blues ingesluit, terwyl dit jare lank as prosa gelees is. Eien ons poësie te veel na uiterlike vorm?
Absoluut. Hierdie gewaande afbakening tussen poësie en poësa – of sogenaamde prosaverse – is gebaseer op ‘n dom fundamentalistiese debat. Waar sou mens Samuel Beckett se “fizzles” inpas, of Rimbaud se Une Saison En Enfer? ‘n Gedig is ‘n geval van “as jy hom teëkom sal jy hom herken”, aan ‘n genoegsame eienskap van stilte en spanning, dat die lyne spanlyne is. Dit beteken nie dat mens bestaande konvensies ontken nie. Maar om teen die prikkels (die vorm) te werk is om die grense van betekenis te toets.
Is Outre Voix ‘n streng vertaling, en het jy dit self gedoen?
Dis ‘n “oorsetting” uit die Afrikaans, deur Georges Lory.
Dit lyk of die prys sekularisering aanmoedig. Dink jy die begrip “demokrasie” word by ons fundamentalisties benader?
Vir die ANC is “demokrasie” ‘n sjibbolet, ten nouste verwar met een-party meerderheidsregering. En die staat as “geprivatiseerde” lobolakoei word gemelk totdat sy huil van armoede. Die ANC is nié draer van “moderniteit” (werklik sekulêre waardes, afwenteling van mag, uitwissing van ekonomiese onregverdighede) nie. En hierin is dit fundamentalisties: alleenbesit van mag, straffeloosheid en patronisering. Vraag is: Met hierdie kreeftegangkennis, sou ek hulle steeds ondersteun het teen apartheid? Beslis!
Jy bevorder die idee van ‘n vrye Afrikaanse universiteit. Dis al aangetoon dat die Universiteit Stellenbosch se rede waarom hy Afrikaans afskaal, naamlik om meer bruin en swart studente te lok, vals is.
US word merendeels ‘n wit, Engelstalige universiteit. Kom ek gooi ‘n klip in die bosch – US gee nie ‘n trippens om vir bruin of swart studente nie. Dis belangrik dat moontlikhede gebied moet word aan ‘n geslag wat nie die voorregte van ‘n Emma Malema het nie. Maar om te slaag móét so ‘n inisiatief gedryf word deur die burgerlike samelewing met steun van die privaatsektor.
Daar is ‘n growwe mistasting by taalbeplanners: dat die indiwiduele sprekers ‘n taal dra. Alle streng denke oor taal, van Wittgenstein tot Derrida tot later, beklemtoon taal as ‘n kollektiewe kragveld waarin die sistemiese, hoewel vryswewende, integriteit van die taal die bepalende faktor is. Die indiwidu se deelname volg op hierdie integriteit en gaan dit nié vooraf nie.
Ek is dit hart en mond met jou eens. Daadwerklike erkenning aan diversiteit is progressief en in teenstelling met die reaksionêre verstokking van ‘n hegemoon van “oorwinnaars” waar almal één kaktaal praat. Vergeleke met die res van die wêreld, is Msanzi is agter die klip.
Taalbeplanning gee min erkenning aan die prestasies van Afrikaans. Daar word uitsluitlik gekyk na “getal moedertaalsprekers”. Maar selfs hierin vergelyk Afrikaans (6,3 miljoen) én plaaslike eweknieë nie sleg nie met beroemde kultuurtale: Noorweegs (4,7 miljoen), Deens (5 miljoen), Eslands (1,1 miljoen), Hebreeus (5 miljoen).
Moet mens lag of huil oor die closet colonials? Het hulle al gehoor hoe klap en knik ‘n Namakwalander se tong van kies tot koningskos? En oor die getalle-argument: Jy ken die uitdrukking (ek versag) – eat sjous, a thousand flies can’t be wrong!
Jakes Gerwel laat blyk in Beeld dat Afrikaanse intellektuele teen apartheid deesdae “regs” voorkom. Hierin sien ek ‘n miskenning van die uiteenlopendheid van oortuigings wat apartheid beëindig het. Dis tog ‘n mite dat die ANC SA alleen bevry het?
“Regs” (djy wiet mos) staan in vir “rassiste”. Wil jy nou kom sê die Sowjet-Unie hier op die laaste, of die Chinese Volksrepubliek tans, was of is “links”? En die ANC het g’n vir SA “bevry” nie. Hulle het dit óórgeneem. Ek hoop een van hulle het FW se lighter as aandenking gekry.
Daar word vergeet apartheid was ‘n struktureel gewelddadige program (die ANC hou daarvan om dit voor te stel as ‘n burgeroorlog) wat die swart bourgeoisie landuit gedryf het en die armes arm gehou het. Nou word die wit bourgeoisie landuit gedryf in ‘n program wat eweneens gewelddadig is (nie in gelyke mate nie!) en die groot gros armes is armer.
Apartheid was ‘n volksmisdaad gepleeg deur mense wat geweet het wat hulle doen. Dis druk van binne – van die civics, vakbonde, kerke, wat die strukturele geweld daagliks aan die bas gevoel het – wat dit verander het. Die tragedie is dat die buitelandse vleuel van die ANC met die oorname slimmer as tien Manuels was. As toegif is die wittes ontslaan en hulle kinders noodgedwonge landuit. En die werklike ramp is die groeiende ellende veroorsaak deur die Gucci-comrades.
Herman Giliomee skryf hoe Afrikaanse sakeleiers en die filosoof Willie Esterhuyse in 2000 Pres. Thabo Mbeki “gewaarsku het teen ondermynende neigings soos minderheidsregte”. Is dit nie tyd vir ‘n “waarheidskommissie” oor fasiele en selfsugtige begrippe wat pseudo-bevryding meegebring het nie?
Jy terg my nou. Jy behoort te weet van die hoë agting wat ek koester vir die wittes wat met die oë klam van ‘n nuutgevonde patriotisme aan die baas se voete sit, wat vergeet het dat hulle gister vir die Nattes gewerk het of hul geld uit die Afrikaners gemaak het. Natuurlik het ons ‘n diepgaande “waarheidskommissie” nodig. En net so het dit nodig geword om ‘n bestekopname te maak van wat gewerk het en wat nié. Soos ook elders in Afrika sal ons nuwe modelle wat meer ruimte bied moet beding.
Jy glo in minderheidsruimtes. Pres. Zuma se poligamie is ‘n minderheidsgebruik …
Werklik minderheidsgebruik? Wat van Steve Hofmeyr? (Grappie.) Poligamie is diskriminasie teen vroue. Hoekom dan nie veelmannery wettig nie?