
Volgens Kim Rosen, ‘n prominente blogger op Huffington Post, neem Metrofobie tans pandemiese afmetings aan in die VSA. Die mees onrusbarende aspek van dié stelling is egter dat dit – op enkele uitsonderings na – ‘n wêreldwye verskynsel is. So ook in Suid-Afrika. En ja, dit is ‘n pandemie met meer verwoestende gevolge as enige van die ander peste wat ons welsyn in die onlangse verlede bedreig het, want metrofobie het naamlik te make met ‘n irrasionele vrees vir poësie.
In haar blog-inskrywing lewer sy kommentaar op hoe algemeen geldend en spontaan die beoefening en waardering vir poësie in die klassieke kulture was; ‘n ingesteldheid wat vandag nog net in enkele lande aangetref word: Ierland, Hongarye en veral lande in die Midde-Ooste, insluitend israel. Sy vertel byvoorbeeld van ‘n Arabiese TV-program The Million’s Poet, wat op die patroon van America’s Idol geskoei is en weekliks sowat 70 miljoen kykers lok … Hoër as die kykersgetalle vir sport en nuus.
“In these cultures,” skryf sy, “reciting poetry is not relegated to the poets, or to the alabaster halls of academia. People who never dreamed of being poets, and some who cannot read or write, recite their favorite poems at the slightest provocation. Poems are recited at parties, at the family dinner table, on the street. My students from Wales and Ireland describe how the poems of Dylan Thomas or William Butler Yeats are exchanged into the night at almost any local pub.”
Nou ja, toe. Ons het selwers darem heelwat voorbeelde van kroeggedigte, het ons nie? En daar is darem ook heelwat voorbeelde van waar die digkuns buite die bladsye van ‘n boek om by die breë publiek uitkom, soos verlede jaar se uiters suksesvolle “Oopmond” tydens Aardklop weereens bewys het. Ek twyfel hoegenaamd nie daaraan dat die behoefte aan poësie weldeeglik in ons gemeenskappe bestaan nie …
Hulle weet dit nog net nie.
Vir jou leesplesier plaas ek vanoggend Ronnie Belcher se gedig “Poësie aand” hier onder. Hy het dit in 1998 tydens ‘n Bekgeveg in die Dorpstraat Teaterkafee op Stellenbosch geskryf.
***
Maar gelukkig wil dit voorkom asof daar nou nie juis gevalle van “metrofobie” op hierdie webblad bestaan nie. So voer Yves T’Sjoen sy reeks “Lees maar er staat meer dan de tekst” verder met ‘n aflewering oor Willy Roggeman en jazz (nogeens musiek!), Bernard Odendaal plaas die volgende bespreking van ‘n voorgeskrewe gedig en Philip de Vos onthou hoe sy eerste skryfwerk tot stand gekom het. En dan moet jy beslis nie Andries Bezuidenhout se inskrywing oor ID du Plessis en die politieke rol wat hy as Kommisaris van Kleurlingsake in die 1950s gespeel het, mis nie. Dit sluit nogals netjies aan by Charl-Pierre Naudé se stuk oor ander Afrikaanse wêrelde wat enkele dae gelede geplaas is …
Ten slotte – twee gedigte van Eugenio Montale in die skitterende vertaling deur Rosa Nepgen is gisteraand in die vertaalkamers geplaas. En dan – veral diegene wat belang het by die debat oor praat- of anekdotiese verse – moet beslis kennis neem van die Roemeense digter, Angela Marinescu, se besonder interessante verse.
Lekker lees en hou tog die struikrowers uit jou pad vandag.
Mooi bly.
LE
Poësie-aand
Sal ek vanaand in Dorpstraat se kafee
my siel ontbloot for everyone to see?
Hier tussen die geskinder en gepraat
my siel ophang soos aan ‘n doringdraad?
Met ander se geroggel en gerook
my sielsgeheim met nikotien bestook?
Hier tussen al die waaiers en die fans
myself beskinder saam met also-rans?
Nee, eerder lieg en skurwe rympies maak
oor snaakse goed wat ander siele raak
soos ghoffels wat kafoefel op ‘n trein
and other dear souls crying in the rain.
Maar smokkel met my siel se brood-en-jêm
voor al dié vreemde wesens? Not-a-dêm!
(c) Ronnie Belcher (uit: Van heidebos en klip, Suider-Kollege, 2000)