Ek het nie besef, toe dit begin gebeur het, dat ek tot die digkuns verlei word nie… As ek het, het ek dalk beter weerstand gebied!
Maar nee, ek was jonk, ek was weerloos, en ek het nie van beter geweet nie.
Dit het alles met musiek begin – eers (in chronologies orde) Anton Goosen, David Kramer, en Bruce Springsteen; en toe, deur hulle toedoen, Bob Dylan, Jim Morrison, Leonard Cohen en ‘n rits ander troebadoere – en al te gou het dit gelei tot gesteelde uurtjies in die dorpsbiblioteek, ‘n stadig groeiende persoonlike versameling digbundels, en, natuurlik, die skryf van selfbewuste gediggies op bladsye wat ek versigtig uit my skool-skryfboeke geskeur het…
Oor hierdie klas vergrype het ek natuurlik aanvanklik maar by die skool en op rugbytoere geswyg – ‘n mens kon spog dat jy U2 se nogals poëtiese The Joshua Tree besit het, maar nie juis dat jy Ernst van Heerden se Amulet teen die vuur op uitverkoping by die CNA aangeskaf het nie… ongeag hoe bitter gelukkig daardie aanwins jou ook al gemaak het!
Toe ek David Kramer, Anton Goosen en daarna Bruce Springsteen ontdek het (tydens my laaste jaar of twee op laerskool), was dit van meet af aan die lirieke, wat hierdie kunstenaars met blote Afrikaanse en Engelse woorde kon vermag, wat hulle vir my onderskei het van die popgroepe wat ek aanvanklik saam met die kudde na geluister het: Wham!, Duran Duran, Modern Talking, A-ha – ja-ja, wat kan ek sê, ek is ‘n kind van die 1980s!
Maar dat dit poësie was wat hierdie kunstenaars gepleeg het – dít het ek glad nie besef nie. Ek was ‘n niksvermoedende slagoffer! Popmusiek was toe wél gevaarlik, soos hulle op skool soms gewaarsku het, maar vir geheel en al ander redes: dit was ‘n soort Trojaanse Perd wat die poësie losgelaat het in my binnekamer; wat my verbeelding aangetas het en woorde vreemd gaan staan en maak het!
Dus, al ek het dit nie geweet nie, dit was ‘n klomp folksangers en rock ‘n rollers wat my verlei het tot die digkuns, nog lank voordat ek besef het gedigte, soos hokkie, klavierlesse en die debatsvereniging, is nie net vir bleeksiele nie. (Wel, ek moet bieg, ek is nou nog nie seker oor die debatsvereniging nie.)
Die saadjie was dus geplant, en al wat dit gekos het om dit te laat ontkiem, was daardie onafwendbare, onthutsende eerste ontmoeting met Breyten Breytenbach in Opperman se geel (as ek reg onthou) Verseboek in Standerd 6.
Ja, my storie begin ook, soos so baie Afrikaanse lesers van ‘n sekere ouderdom s’n, by BB en ‘n bietjie Krog; trouens, die eerste digbundels wat ek ooit vir myself gekoop het, was Breytenbach se Katastrofes (ja, dit is ‘n digbundel!) en Die huis van die dowe.
En tog was dit nie Breytenbach wat my die spreekwoordelike doodskoot gegee het nie. Dit was ‘n ander, miskien minder vanselfsprekende Afrikaanse digter wat seker gemaak het dat my aanvanklike belangstelling in die digkuns nie beperk sou bly tot ‘n tydelike kultus van persoonlikheid nie, maar sou lei tot ‘n langdurige belangstelling en liefde: die reeds genoemde Ernst van Heerden.
Ek weet nie meer presies hoe dit gebeur het nie, maar ek het ‘n versameling van sy eerste ses bundels in een band, Die kleur van donkerte, in die hande gekry en obsessief begin gelees. Ek weet nie presies wat die aantrekkingskrag was nie, maar Die kleur van donkerte het my as 14-jarige heeltemal onkant betrap. Skielik was ek nie net gefassineerd deur ‘n digter nie, maar deur gedigte en die skryfproses self. Skielik het ek besef woorde kan sing; en dat ek hulle dalk ook kan laat sing.
‘n Jaar of twee later het ek Amulet teen die vuur (ja, op uitverkoping) in die hande gekry… Ek het daardie bundel seker meer as enige ander bundel gelees, en probeer om daardie uitgesponne, filosofiese vrye vers-gedigte na te doen. Met min sukses, ongelukkig!
Ek lees nie juis meer die gedigte in Kleur van donkerte nie. Baie van hulle neig na die sentimentele, is dalk ietwat selfbewus verestetiseerd, of vertoon gewoon swak teen die beste verse wat Opperman, Van Wyk Louw, Eybers en ander op daardie stadium geproduseer het. Van Heerden het sy blywende bydrae (en dit is nie ‘n geringe bydrae nie) tot die Afrikaanse poësie, myns insiens, met sy latere bundels gelewer – rofweg, die bundels vanaf Tyd van verhuising.
Hoe ook al, Ernst van Heerden is steeds disproporsioneel verteenwoordig op my boekrak; sy digbundels en ook sy outobiografiese werke en reisverhale, was ‘n konstante teenwoordigheid gedurende my skooljare. En of ek dit nou lees of nie, Die kleur van donkerte, met sy nou reeds gebleikte blou omslag, staan trots tussen al die ander bundels wat ek sedertdien gekoop en gelees het.
Dit herinner my aan ‘n vroeë verleiding.