Ek skryf nou al presies twee ure aan hierdie blog. Dit was al persoonlik en onpersoonlik, abstrak en pragmaties. Ek het die resep vir my gedig verklaar:
Tyd
Spasie
Aleenwees
‘n Idee, die gedagte van ‘n idee, iets wat my opgeval het en wat ek wou onthou, en gedink het iemand anders ook sou wou onthou.
Ek het die wit blaai met die wit sand van die see vergelyk, waarop ek desnoods my merk moet maak.
Ek veronderstel, ek gaan sit en skryf. Dit kom aan die einde. Ek loop en dink. Hoe meer ek loop, soos Henry Miller destyds, hoe meer dink ek.
Hoe meer ek net sit, hoe minder skryf ek. Ek het ook meer tyd om dinge uit te vee en oor te begin, soos hier.
Daarom eindig ek hierdie blog so: die see van my gedagtes spoel in my gedigte uit op die wit strand van ‘n blaai.


Dankie Ivan vir jou pragtige kommentaar en verwysing na die gedig van D.J. Opperman. Dit is ‘n groot kompliment om te verneem my blog resoneer met die werk van een van die groot kanonne in Afrikaans. Dankie ook vir die aanhaal van die gedig. Ek ken dit nie, maar was bly om dit vandag te kon lees.
Versbloggroete
Lize
Welkom, Lize. Op ‘n manier laat jou inskrywing my dink aan DJ Opperman se beroemde gedig “Oud-digter” … Ken jy dit?
Die panne is nie opgedroog. Die spoor
van die grootwild het ek ‘n rukkie net verloor
en leef intussen van die enkel reël
wat springend ritsel om die oog en oor.
Daar bly die bose vuurtjie wat ek mos kan stook
en vlae reën lok as die gifpot kook.
Maar uit die pot spring net ‘n dwarrelwind
en daagliks word ek doller van wildedagga rook.
Doller … dan sterker as die jongeres gespier,
sien ek wat hulle nie kan sien: die koel rivier,
die gemsbok en reënvoël … opgeefselend
oor my Kalahari’s wit papier.