Al die pad Potch toe dink ek aan Maandag. Ek is genooi om die vertoning van ‘n dokumenter getiteld: ‘Mugabe and the white african’ as ‘n gas van Afriforum in die IMAX by Menlyn te gaan kyk.
Ek is skrikkerig vir inklusiwiteit, ek is nie seker waar ek myself in die breëer spektra van Afrikaner-wees bevind of wil bevind nie.
Ons kom in Potch aan en bly in ‘n vreeslike gawe gastehuis naby die kampus, ons pak gou af, drink ‘n koffie en vind ons weg na die River Café. Ons is daar vir ‘n aand van poetry en musiek. Ek, Kabous Verwoed, Andries Bezuidenhout en Wyn Roux.
Ek is altyd bang vir optree. Ek is altyd bang dat daar nie mense kom nie of dat die mense wat wel kom teleurgesteld huis toe gaan.
Ons kom in die middel van die Bulls game by ‘n taamlike vol River Café aan. Ek neem dadelik aan dat die mense daar is vir die rugby totdat ek by nadere ondersoek vasstel dat daar nie ‘n TV is nie.
Ons doen ‘n sound check en ‘n meisie van Jip wat my gebel het om ‘n onderhoud te doen kom stel haarself aan my voor. Sy weet baie van my en toe ek haar vra waar sy aan al hierdie goed kom, toe sê sy dat sy my ge-google het. Yeah!
Die show is ongelooflik. Die tweede poetry en musiek show van die jaar, die tweede vol venue. Ek begin met ‘n set van songs en poems en ‘n quote van Freud: “Everywhere I go, it seems that a poet have been there before me”…
Na my is Wyn Roux aan die woord en daarna Kabous. Roof begin sy set met ‘n cover van Kerkorrel se ‘Hillbrow’ en volg dit op met sy eie ‘Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry’.
Die aand is ‘n reuse sukses en ons sal sonder twyfel terug gaan.
Ons gaan ook kort voor lank Bloemfontein, Hartbeespoort en terug Pretoria toe, want die eerste twee shows van hierdie jaar het my vermoedens bevestig.
Ek was nog nooit in Hillbrow nie. Ook nie in Harare nie. Dit is Maandag aand en ek kyk na die ou man op die skerm wie se vingers almal gebreek is en wie se oë beide toegeslaan is, net omdat hy die grond waarvoor hy vir jare gewerk het graag wou behou. Skielik besef ek dit kon my pa wees wat vir my terugstaar en ek is oombliklik dankbaar vir verstedeliking. Niks van hierdie goed is ‘n waarborg nie. Nêrens nie.
Ek maak seker my deur is gesluit toe ek huis toe ry en dink aan liefde en die grense wat ons bereid is om baie keer in die naam daarvan af te breek. Ek is lief vir Suid-Afrika, ook vir my pa en ma en meisie soos wat ek seker is ek eendag vir my kinders sal wees.
Toe ek die meisie by die tolhek totsiens wuif wonder ek skielik hoekom dit in hierdie lewe ‘n kwessie geword het van waarvoor jy die liefste is. Dat jy op ‘n punt moet kies tussen jou grond of jou lewe.
Jou geluk, of jou liefde.
(Niel van Deventer)
Niel, ek ken jou nog net van wat ek (van ‘n baie betroubare bron!) gehoor het! Wat jy hier geskryf het tref diep en is mooi. Dankie…
Ek is bevooreg om vir Niel Van Deventer te ken.. Hy is ‘n ongelooflike intelligente en insiggewende mens.. Ek het baie respek vir hom en luister as hy praat.. sy gedagtes is meeste van ons se gedagtes.. hy is ONS stem…Dankie Niel!!