Berta Smit (1926 – 1997): Miskende Sestiger, miskende digter?
deur Amanda Botha
Berta Smit word onthou vir haar vier romans – Die vrou en die bees (1964), Een plus een (1967), Die man met die kitaar (1971) en veral Juffrou Sophia vlug vorentoe (1993). En veral vir haar kundigheid as uitgewer/redakteur by Tafelberg Uitgewers in die sewentiger en tagtigerjare. Haar betrokkenheid by skrywers soos Anna M Louw, Henriëtte Grové, Audrey Blignault, MER en Elsa Joubert, om enkeles uit te sonder, het haar vroeg reeds onderskei as knap teksleser en begeleier.
Dat sy in die geheim ook gedigte geskryf het, het eers bekend geword na haar dood in 1997 toe haar nagelate dokumente deur haar suster, Regina Smit, nagegaan is. Die enigste wat dalk van haar gedigte kon gesien het, hoewel daar geen werklike bewys daarvoor is nie, was Ingrid Jonker, ʼn intieme vriendin van Berta. Die afleiding kan bloot gemaak word omdat daar in die korrespondensie tussen Berta en Ingrid dikwels oor die digkuns gepraat is.
Die gedigte wat in getikte vorm bestaan met enkele pen korreksies wat sy aangebring het, was in ʼn lêer onder briewe wat sy bewaar het. Sommige daarvan is met ʼn blou deurslag papier getik vir dubbele kopieë. Geen aanduiding is gevind wat enige opdrag inhou oor wat met hierdie nagelate ongepubliseerde werk gedoen moes word nie. Dit is ook nie duidelik waarom sy dit nie self vir publikasie aangebied het nie – nie eens in tydskrifvorm nie.
In Maart 2004 het ek Regina Smit by ʼn huldigingsgeleentheid vir die skrywer Audrey Blignault tydens die Woordfees op Stellenbosch ontmoet. Sy het my genooi om na haar woonstel in die Strand te kom om na die nagelate werk van Berta te kom kyk. Ek het Berta Smit wel geken, meestal deur kontak wat ek met haar gehad by boekgeleenthede.
Na ons ʼn rukkie gesels het, het Regina die lêer met die gedigte aan my gegee om na goeddunke daarmee te handel. In die lêer was nog ʼn enkele brief van Ingrid Jonker met ʼn gedig aan Berta, asook ʼn foto van die twee saam.
In gesprekke met vriende wat Berta goed geken het, onder meer met Audrey Blignault, was daar niemand wat ooit enige kennis gedra het dat Berta poësie geskryf het nie. Die afleiding wat ek gemaak het, was dat sy bedoel het dat dit in elk geval nie tydens haar lewe vir publikasie aangebied moes word nie. Die gesprek wat ek met Hennie Aucamp gehad het – hy en Berta was goed bevriend – het dit ook bevestig dat nie een van haar naby vriende ooit van haar gedigte gehoor het nie en tewens uiters verbaas was dat sy wel so ʼn groot aantal gedigte nagelaat het.
Hoewel die kopiereg aan Regina Smit behoort, het ek haar verlof om wel op ʼn geleë tyd aandag te gee aan die bekendstelling van hierdie aspek van Berta se skrywerskap.
Ek het reeds laat in 2004 al die gedigte oorgetik om dit as lêer op my rekenaar te stoor. In een stadium het ek gesprekke gevoer met Snowy Kruger om moontlik te kyk na ʼn program wat vir ʼn feesgeleentheid aangebied kan word rondom die gedigte en haar vriendskap met Ingrid Jonker. Dit het nie van die grond gekom nie en die gedigte het bly lê.
In November verlede jaar – na die Versindaba – was ek met besoek aan die digters, Louis Esterhuyse en Marlise Joubert, waar die nagelate verse van Berta weer ter sprake gekom het. Hulle het onderneem om daarna te kyk en terugvoering aan my te gee. Só is besluit om die webwerf van Versindaba te gebruik om Berta Smit, as digter, bekend te stel. Al die gedigte is in die sestiger en sewentigerjare geskryf en moet in hierdie tydgleuf gesien word.
In ʼn onlangse gesprek met Hennie Aucamp het ons weer bestek opgeneem oor Berta Smit, as skrywer – en nou ook as digter. Hennie het sterk gestaan by sy mening dat Berta “die miskende Sestiger” is en dat dit nie korrek is om bloot te verwys dat sy in haar eerste drie romans elemente van die Sestigers gebruik het nie, maar dat sy inderdaad self deel van die vernuwing is wat deur die Sestigers ingelui is. Die traagheid om haar (ten onregte) so te erken, is volgens Hennie, waarskynlik oor die religieuse inhoud van haar werk.
Nou dat haar gedigte veertig jaar nadat sy dit geskryf het – en dertien jaar na haar dood – vir die eerste keer bekend gestel word, sou dit dalk wees dat hier ook sprake kon wees van ʼn verdere miskenning of dalk ʼn vorm van selfmiskenning?

DIE NAGELATE GEDIGTE VAN BERTA SMIT
Aandgesang
Ek het vier mensies om ‘n lamp
van die ewigheid hoor sing:
“Aan U, o God” —– maar kan dié lied
deur die gedreun van bome dring?
‘n Silwer vliegtuig is getref
en’t in vlamme neergestort –
Maar die lied sing van ‘n helder lig
wat nooit gedoof sal word.
O skugter kleine lied vanuit
‘n vergete saligheid,
Hoe het jy deur die soekligte
gedwaal tot hierdie tyd?
***
Vertwyfeling
Dit is my vrees
dat na die kort bestek van dié klein uur
daar voor my dwase voete net
‘n donker niks sal wees.
O wat kan ek neem uit hierdie uur
wat – na die rose dood is – nog
deur al die jare heen kan duur?
Wat kan my teen die vrees behoed?
U woorde is vir my ‘n lamp
op elke pad,
‘n wit lig vir my voet.
By lamplig ook het ek gelees:
Ek is die goeie herder en
Ek is die Vader van die wees.
Maar die blare het skielik geritsel
en bewend grond toe gedraai
en ‘n rukwind deur die venster
het die kerse doodgewaai.
***
Eva
Die lig val blinkend oor die blare
van hierdie helder, slanke boom –
‘n God wat op die aandwind wandel,
Sy stille stem – was dit ‘n droom?
O, hierdie is die werklikheid:
die ryk vleis van die malse vrug,
die warm bloed in jou en my.
Maar toe jou bloed my liggaam raak,
die vrugte swel,
het ons die dun
draad met die hemel afgesny.
***
Lied van die Verdwaasdes
Daar was ‘n tyd toe daar ‘n God
in hierdie strate was,
maar ons het ‘n spies in sy sy gesteek
en nael Hom aan ‘n kruishout vas.
En hulle wat ons minnaars was,
hoe het hul ons verlaat!
Van al die liefde hou ons slegs
die koue as van haat.
Die hoë poorte lê verwoes
wat inlei na ons fees
en oor die helder ligte lê
die swart klad van ons vrees.
Hoe kon ons weet dat hierdie stad
wat so vol mense was,
sal eenmaal in die nag verbrand
tot koue, grysblou as?
Hoe kon ons weet dat koue angs
ons trotse wil sou breek?
Dat Hy wat eens verlate was,
Sy pyn op ons sou wreek?
O vreemdeling wat met die pad
verby die swart stad gaan,
bly staan en sien ons hoë muur
gebroke teen die sterre staan.
Toe Adam vlug uit die Paradys
het die water teruggetrek
en ver deur die nag geklaag
‘n Vuur het hoog oor die muur gebrand
Die wind het die warm as
wild getrooi oor die donker sand
en Christus het gesterf.
***
Skemervaart
Oor die water swenk een meeu en skree
teen die wolke voor die maan
Die see roep sag
en skuifel teen die rotse wat
So roerloos in die skemer staan
Die nag word stil
Die wind het langsaam-aan bedaar
En ons het ons seile oopgesprei
om die skemer tegemoet te vaar.
***
Brandende Stad
Die Engel het gespreek
en in die môre het sy wraak
hoog teen die lug gebrand.
Verskrik oor al sy leë dade
het ek gevlug
tot aan dié silwer waterkant
Ek het gekniel en in die water
my sondehande wit gewas
Toe het dit stil geword
‘n Voël het deur die lug gedrywe
en oor die water neergestryk
En ek het teruggekyk –
Die stede was verteer tot as.
***
Jeremia 2:13
Êrens
diep in die donker lê daar
‘n gebroke katedraal
‘n mat hang teen die ruite
en die stem van die nagvoël sidder
deur die verlate saal.
En buite is dit nag.
Maar die pelgrim sing deur die donker
van God en sy hoëpriester
en die seën wat hul wag.
Op die leë paaie soek hul
Om die regte weg te vind
Maar die voël lag skril deur die donker
die voël vlieg swart teen die sterre
en dryf weg op die wind.
***
Verlore See
Hulle staan
hoog teen die koue rotste
met die aand teen hul gesig
en deur die nagwind hoor hul
die stem van die groot oop see
Hulle slaap
maar selfs in hul trae drome
kan hul die branders hoor
‘n Vrou lig haar kop en luister
Die water roep maar die mense
het die weg reeds lank verloor.
***
Karoo
I
Ons dwaal oor die droë bodem
van ‘n verlate see
Net ‘n voë vlieg op uit die bosse
Hy klap met sy vlerke en skree.
Die voël is grys soos die bosse
wat sterf oor die droë land.
En ek soek
Maar die son brand geel in my oë
en die wind,
die wind kruip aan oor die bosse
en veeg teen my warm hand.
II
Die wind hang geel teen die berge
En hurk in die besembos
In die bruin stof om die doringboom
lê die spore van die bokke
wat trek na ‘n droë meer
Hulle swerf
met die wind teen hul hygende ribbes
En om hul donker skaduwees
van aasvoëls wat wag.
***
Die Eensame
Hoog bo die deinsige aarde
het hy in die sonlig gestaan,
Hy het afgekyk na die vlakte
waar die grys profete gaan.
Maar nou,
nou dat hy dwaal oor die aarde
is dit net grys sand wat hy sien.
Die spore van die profete
wat trek na die Heilige Land
het toegewaai in die skemer
onder die dooie sand.
Hoog teen die verwaaide paaie
gaan die eensame deur die wind
En die moeë ommantelde pelgrim
gaan langsaan by hom verby
Hy roep
Maar die wind skeur sy stem aan flarde
en die pelgrim gaan sonder woorde
geboë by hom verby.
Die wind sleep oor die heuwels
en deur die lug drywe die klag
van ongebore kinders
wat ween om hierdie nag.
(Die weergawe in Die Ruiter van 20 Junie 1947 is effens anders)
***
Bewolkte Lug
Die dag word grys en die stemme
Sterf langsamerhand weg uit die straat
Langs wit verlate paaie
staan die denne teen die lug
Die wind groei aan
en ek wag op die eerste druppels
van die reën teen my gesig.
***
1946
Ons dwaal deur die ruïnes
van Rome en Byzantium
en om ons sterf die vuur.
Hier is geen woord meer oor nie
slegs ou, verbleikte letters
teen ‘n verweerde muur.
Die hoë koelgroen tempel
is verbrand tot puin en as
ek kan geen stem meer hoor nie
as slegs die leë eggo’s
van stemme wat reeds was.
Ons self het die vlamme aangesteek
wat oor die mure brand
en nou moet ons vlug voor die donker gloed
wat deur die geskeurde vensters breek.
En waar is die glorie en drome?
Dis begrawe in die tempel
onder dooie as en roet.
***
Lied van die Siel
In die helder nanag kon ek
die stem van die branders hoor
die nag dryf uit oor die water
in suiwerheid saamgesnoer.
Ek haas deur die silwer skemer
oor die duine klamwit sand
en om my wentel winde
wat aanwaai oor die land
Maar die groot grys voël het sy vlerke
teen die nagwind oopgesprei
en sy lied hang donker tussen
die groot oop see en my.
Ver agter die wind in die water
en sy roep kan ek dofweg hoor
Maar die groot voël dryf om my skouers
en sy lied is in my oor.
Oor die donker duine gaan ek
terug waar die rooi lig brand
En agter my klaag die golwe
en breek teen ‘n leë strand.
***
Lied van die Blindes
Skaduwees gryp na die voete
van hulle wat dwaal deur ‘n dooie stad
hulle dwaal en hul soek op ‘n blinde pad.
hulle dwaal en soek na ‘n god
dwaal en soek
maar met die Drie Wit Ligte dryf hul die spot
“O wie sal ons sê waar om te soek
wie sal ons sê?
Ons weet van die brood en die wyn
en die Heilige Boek
maar die viole sal sing en die rooi lig sal brand
en die naakte dans moet begin”
In die winter swel die lemoene
en hul ronding is koel in jou hand
maar die aarde gryp na hul voete
en hul oë is blind,
blind van die rooi stof en die wind
wat waai oor die dooie land
“O wie sal ons red van hierdie dors?
wie sal ons kry uit hierdie stof
om ons te lei
na die waters van die rus?”
Ek is die Goeie Herder
Ek is
“Maar die viole sal weer klae en sing
die rooi lig sal ons liggaam skroei
die rooi lig sal ons oë brand
en opvlam in ons leë bors”
Die viole sal weer klae en sing
sing en klae en sing
die wind waai uit die Weste
die dans begin
die dans en die wind en die warm lig
maar die nag o die nag
die nag
wat buite op elkeen wag
***
Ween nie
Ween nie
omdat die klanke wegsterf nie,
Die stilte is so lawend sag;
Ween nie
omdat die vlamme geblus word nie,
Teer is die dieptes van die nag.
(Augustus 1944)
***
Soldate
En miskien as alles weer stil is:
Die gedreun van vlerke deur die lug
En die geskreeu van ‘n bom,
Sal mense saggies van ons praat
In die dorpe waar ons van kom.
Miskien sal hulle saans gesels
In die kaggelvuur se gloed,
Van ons pynverwronge monde,
En ons hande rooi van bloed.
Maar ons,
ons sal niks meer weet nie
van die pyn en die smart
en die bloed,
Want om ons sal daar rus wees;
Die dood is baie soet.
***
Ekstase
Die dag het helder opgevlam,
‘n wilde vuur van goud in my;
Ek het die sonlig teen my bors gedruk asof
die gloed vir ewig in my siel sou bly.
Maar nou het hierdie koue skemer
sy weemoed oor die land kom hang;
Die son het vérweg doodgegaan,
Die nag word stil –
En van die vuur wat in my was,
bly net die pyn nog – en die as.
(Die weergawe in Die Ruiter van 20 Junie 1947 verskil van die oorspronklik getikte kopie)
***
Bewolkte Lug
Die dag word grys en die stemme
Sterf langsaamaan weg uit die straat.
Langs wit, verlate paaie
staan die denne teen die lug,
Die wind groei aan
en ek wag op die eerste druppels
van die reën teen my gesig.
***
Voor die Spieël
Hoe koud is hierdie helder glas
waarin ek staan in silwer lig
Die stilte is ‘n kamer rondom my
As ek my hande tot my reik,
ontmoet ek glas –
en elke mens moet eensaam bly.
(Die Huisgenoot – 20 Februarie 1948}
***
Waarskuwing
By hierdie tuin waar rose bloei,
gaan haastiglik verby,
jou liefde is vergeefs, want deur die dag
sal iemand kom om een vir een
die rose af te sny.
(Die Huisgenoot – 20 Februarie 1948}
***
Telefoongesprek
Sal ek die rooi lied van die son,
die helder rose en
ekstase van my jonge bloed
in woorde vas kan vang?
Kan dit ons bind –
die swart huis, koud
en sonder lewe wat
net aan ‘n dun draad hang?
(Die Huisgenoot – 20 Februarie 1948}
***
Gebed
Op hierdie ligte herfsdag sprei
U mild u goedheid uit oor my.
‘n Duif sak uit die sonlig neer
en sing, word stil en sing dan weer.
Die blomme in u lig gedoop,
vou langsaamaan hul blare oop …
God, dat u lig my kon genees
Om voor U weer ‘n kind te wees.
***
Dood van ‘n Vriend
In die maanlig kon ek nie onderskei
die lyne tussen jou en my.
Ek kon slegs in jou warm hand
die bloed voel wat in my ook brand
Maar jy moes sterf en oor jou graf
gooi die sering en blare af.
En watter deel het ek aan jou?
O, wat in my bly na die dood
die lewe nog behou?
***
Gemaskerde Bal
Jou oë dra ‘n masker, maar
nie dit nie, want
ek voel jou hand, ‘n warm gloed
wat oor my liggaam brand.
Die saksofoon sing: Dit, net dit!
Die palms in die halflig staan,
‘n soet oase, waar dié dors
se dor gloed dood moet gaan.
Ons bloed sal hier die sterre raak
en brand en juig en blindlings stort,
Maar God, waarom die koue skrik
as twaalfuur slaan en jou gesig
ontmasker sal moet word?
***
Aandgodsdiens
Ek het vier mensies om ‘n lamp
van die Ewigheid hoor sing:
O Goedheid Gods … maar kan dié lied
deur die gedreun van bome dring?
‘n Silwer vliegtuig is getref
En in vlamme neergestort,
Maar die lied sing van ‘n veil’ge hut
waar die mens beskadu word.
O skugter kleine lied vanuit
‘n vergete saligheid,
hoe het jy deur die soekligte
gedwaal tot hierdie tyd?
***
Verskietende Ster
En as die ster verskiet het, sal
net skadus agterbly?
Of sal dit deur die donker stort,
‘n vlammestreep, wat êrens teen
‘n donker, vreemde horison
die wagvuur van ‘n koning word?
***
(c) Regina Smit
Geplaas deur: Amanda Botha
28 April 2010