Priesters van Zimbabwe vra ; “Sing vir ons asseblief ‘Die Stem’.
In 2001 besoek ek as deel van ‘n span van Suid Afrika se Faith and Light-beweging die Franse dorpie Lourdes waarheen verstandelik gestremdes van oor die hele wêreld gebring is vir ‘n Paas-retreat. Nou wonder julle seker hoekom ek daaroor skryf. Want sien ek het in die hotelkamer op die swart gegote balkonnetjie met sy wit gehekelde duiwe gesit en grens want ek was seker amper die enigste Afrikaanse persoon tussen duisende ander van oral oor die wêreld selfs van Thailand die nuwe Russiese state en die ko-ordineerder van Afrika het ons kom besoek en gevra watter tale is daar alles in Suid Afrika , natuurlik het ek ingetjip voor almal, Afrikaans, dis amper soos Vlaams waarop Gilain Duchenne baie verras gereageer het. “Nou ja dan moet jy mos in jou taal op die Maandag byeenkoms in die Basilika kom sê” Jesus het opgestaan, maar doen dit met vreugde.” Die dag het aangebreek en Jacinta Swarts kom vra my inderhaas of ek nie iets het wat lyk na ‘n volkskostuum nie. Ek krap tussen my klere rond en kom op ‘n leopardskin erg kort rokkie af meer ‘n bloes wat met dik tights gedra word. Jacinta gee dit een kyk, ja dit sal maar moet doen, ek weet nie wat die biskoppe en aartsbiskoppe en what have you gaan dink nie en iemand in ons geselskap tjip in ” maar ons volkskostuum is ‘n t-shirt shorts en ‘n paar tekkies “.
Die dag breek aan en ek en Jacinta lei ons span verby die duisende mense na die middel altaar waar Kerkmanne van enige denominasie of geloof wat jy aan kan dink sit. Ek loop in my leopardskin rokkie met boots en ‘n klein zoeloedrommetjie om my nek en plaas ons geskenke uit Afrika neer. Kalbasse en boerpampoene en koringare. Maar voor die verrigtinge moes ek eers my stukkie saam met die ander “tale” oefen. Ek is nogal laaste na die Duitser. Die oefenmeester kom die ry af en toe vra hy “Waarin gaan jy praat ? en toe wonder ek hoe sal hierdie Katolieke Fransman tog nou weet van my taal “Afrikaans sê ek toe maar”. “Afrikaaaaans ” roep hy uit en trek behaaglik aan die woord asof dit ‘n duur sigaar is en gooi sy arms soos met ‘n “haleluja” op in die lug. Ek staan verstom en gaap die man aan want die vreugde op sy gesig was eg.
O my gatta, dink ek, wat gaan nou hier aan. Die man weet van Afrikaans en is baie duidelik mal daaroor. In elke geval dit blyk toe daar is glo heelwat Franse wat weet van die taal en dit waardeer. Dis toe ek na die verrigtinge terug loop hotel toe al grensend van aandoening. En toe ek by die portaal aankom was daar ‘n informele partytjie aan die gang met Zimbabwe se priesters en lede van die Noord Engeland groep ook by. Father William vra my en Jacinta toe “Asseblief sing vir ons die Die Stem ? “O, julle bedoel seker Nkosi sikellele i Afrika ?”
“Nee, ” koor hulle tegelyk ” ons wil Die Stem hoor in Afrikaans asseblief dis so mooi.” Net daar besef ek, ek onthou nie al die woorde nie maar tussen my en Jacinta sit ons toe maar die Die Stem aanmekaar tot die vreugde van die twee priesters. By die huis vertel ek vir Patrick de la Roche van die Victory Park groep die storie. “Kom laat ek jou nou ook iets van Afrikaans vertel ” sê Patrick ‘n Franse -Kanadees wat in Krugersdorp grootgeword het.” Ons was by ‘n internasionale saamtrek in die Dominikaanse Eilande toe die Skandinawiese ko-ordineerder na my toe kom en vir my vra watter taal is outentiek aan julle land? Patrick sê toe nee hy moet dit maar in Khosa hou of Engels maar hy ken nie Khosa nie. Toe word daardie man glo kwaad met so ‘n middernagtelike son in sy oë en toe sê hy “Nee wat praat jy nou julle outentieke taal is Afrikaans en sal jy nou asseblief vir my Faith and Light in Afrikaans skryf ” en daarom loop hy met die t-hempie met Geloof en Lig op gedruk waaroor ek hom gepols het want daar is nie sulke groepe nie. Dit maak mens warm as jy sulke staaltjies hoor. Het een van julle al sulke ondervindings oorsee gehad oor julle taal Afrikaans? Skryf ook ons wil ook daarvan hoor. Hierby is my gedig oor die “fioretti ” van die Franse Pirenieë. Fioretti is Italiaans vir ‘n klein boeket van bergblommetjies. Maar dit beteken ook ” ‘n boeket van klein stories” en ‘n gedig is mos maar ‘n klein storie.
Fioretti van die Franse Pirenieë.
” fioretti is Italiaans vir ‘n boeket van klein berg of veldblommetjies. Dit beteken ook ‘n boeket van ‘klein stories’.”
Ook ek was betower soos Breyten deur die
nederige vreugde van ‘n bossie bergblomme
wat sy klein stories van die berge vir my vertel
die geel en pers bergblomme gepluk
soos soeweniers
van die intense pers
droom van die berg
en die geel miniatuuraffodil
‘n soewenier van die aandlug
‘n soet amber waskoek gemeng
uit warm perdemis en die geur van bergblomme
en die reuk van skaapvelle wat nog
soos ou vuil sneeu oor die heinings hang
die bergblomme is kettings van klein lanterns
wat ons na die ou grafte van pelgrims lei
hier waar die berge nog rou
oor sy gevalle pelgrims
met watervalle van gesmelte sneeu
wat hier nog huil in die kranse
met die stilte slegs geklief
deur die roukrete van voëls
en die skaduwees van takke wat roerloos
hang soos swart mantillas bo klowe
waarin die wit klippe lê soos uitgebrande sterre
maar saans in die berge en skeure hang
blink watervalle van gesmelte sneeu
in die aandson
soos goue engellere
en lenteharte bons weer
lig en hoog aan groen latte
soos voëlneste oor kranse
waar die rou krete van ‘n bergarend
die blou bors van die lug skeur
tot ‘n rou stilte daaruit bloei
en bo riviere wat skuimend afkom
van die gesmelte sneeu
raak ‘n pelgrimsgraf
hier en daar los van ‘n hoë krans
of rots en donder vreugdevol
na onder saam in die gemaal
hier waar ou askete kom huppel het
in die groen gras
met hul longe ou paashase bevry
van die dogma van ou gebede
soos gestyfde servette
en klaterend teen die kranse
gooi die water ook die eggo
van die wilde heuningkleur perde
wat saans terug gallop na die berge
met hul goue maanhare vlammend
in die skemer soos die swaarde
van ou kruisvaarders
en ons pluk die fioretti
‘n boeket van geliefdes se oë
of die “klein stories” van ons gedagtes
en gevoelens en gewaarwordinge
waar die hart ‘n voetpad vind
op hierdie bergpaadjies elkeen
‘n Via Dolorosa
verby die spokerige wit populierwoud
die siele van ‘n kolonie melaatses
eenkant teen die rivier wat
vir ons waai met hul hande toegebind
en die groen gras en vrolike fioretti
wat die wit wintergeraamtes van die klippe
en pieke toegroei
bo pers lappies wingerde silwer omsoom
met wit berke vol swart merke
soos die lyste van oorloggesneuweldes
en die hart wat al meer en meer
homself onttrek en ‘n pelgrimshut word
hier waar mens uitgebleik in die stilte
van son en berg en warm wind
net weer ‘n stomme siel word
wat homself weer vind
op die Via Lucis,
die Weg van die Lig
met die gelyktrek of sporing van
hart en siel en verstand
die siel wat vooruit huppel
ewige blou lug
en die hart ‘n stukkie bergdroom
gespieël in die glashelder opgewonde
bergstroom van die verstand
tot die pienk en wit vrugtebome
op stelte vrolik in hul feeskostuums
tussen die lederhosen van houthuisies
loop deur die bergdorpie
van die hart
of soos pienk brood in wyn gedoop
ter viering van die Pase
die Wederopstanding van die Vlees
en onder in die vallei
‘n kudde skape wat soos goue ruspes terugkeer
want die Paasengel is ‘n skaapwagter
met die wit paaslaam van die maan
gedra in die pers gordel van die Skemer
wat sy nuutgevonde vreugde deel
vir die verlore lam met die wit magrietjies
wat baldadig breek deur die lang spriete
soos die helder swartpers ogies
van pasgebore lammers
hier met die vars bergwater
wat die klip van die siel
weer glad en rond slyt
en die wind in die aandlig
tog voor ‘n paar druppels gaan lê
en saggies vir mens fluister
“hoor die droewe paaslied
van die lentereëns is hier
in die dertig sikkels silwer
van ‘n populier “