Desmond Painter. Droedel-ie-doe!

(Stellenbosch, 7 Mei 2010)

 

Hoe dun is ons dae. Jy kan hier net so min

by die tyd bedel as wat jy na die dood kan vra

in ‘n gedig. Jy kan aanhou soek, ja, aanhou op hoop

of jou verloor in háár arms – om die winste

van die wêreld weer te vind as sonlig

deur die oggend stroop. Maar ‘n digter

dag is jou nie beskore

nie.

 

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Desmond Painter. Droedel-ie-doe!”

  1. max rebo :

    Liewe Desmond, ek hou van die manier wat die woord ‘haar’ reg in die middel van jou gedig staan.Dit is soos `n spil waarom die ander woorde draai of `n maalkolk waarin die spreker sy gedagtes(sy soektog) kan verloor.Die betekenis en tipografie wat so mooi saamkom ondersteun jou vers se struktuur.Daar is ook ander verse van jou waar die vrou sentraal staan bv.’Nog `n kleindorpse lament’ op jou blog van 11/3/10 toe jou droedels nog doodles was.Die vrou word vir my die dorp van daardie gedig.Jou struktuur daar; uitstekend! Jy kan droedeleer of droedelslaan nes jy wil, maar jy het reeds `n paar sterk gedigte op jou blogs,jy kan netso wel maar dig.

  2. Desmond :

    max rebo, dankie vir die positiewe en kreatiewe kommentaar. Gaan lees bietjie wat Charl-Pierre Naude en Chretien Breukers elders op die webblad oor “po”esiekritiek” skryf: ek dink jy toon dalk net iets van die kreatiewe en ontsluitende kritiese styl wat hulle in gedagte het! (Met ander woorde, jou kommentaar ontsluit die gedig op verrassende maniere, suggereer onverwagse lyne van betekenis, maak die gedig meer as wat dit sonder jou kommentaar is — eerder as om die gedig, soos te dikwels in die kritiek gebeur, soos ‘n skoolmeester kantoor toe te roep, dit onder vier o”e te spreek, en dit dan boonop te betig oor dit nie heeltemal voldoen het aan die oorgelewerde en onverganklike wette van Die Afrikaanse Po”esie nie. In hoofletters. En op kliptablette.)

  3. max rebo :

    Baie dankie vir jou kompliment, gaaf van jou.Ek probeer altyd om `n bietjie van myself te vind in die gedig wat ek lees.As ek `n konneksie kan maak gaan die deur vir my oop en kan ek die res van die huis/vertrek ook binnegaan.As ek `n argitektuur studie sou wou doen sou die wette en kliptablette moontlik kon help, ek sou eerder in die gedig wou kuier.Die kritici kan mens `n wel aanwysings gee, maar die leser moet self die paaitjie loop of hy nou dieselfde adres bereik of nie is vir my nie te geldig nie, net so lank hy darem iets van die reis kan geniet.Ek dink die onus rus altyd op die leser om sy eie diepgang te ontsluit.Oor die subjektiewe lees van gedigte sal ek se^:word on that!Oor die skryf en studie van gedigte kan ek egter geen kommentaar lewer nie.

  4. Fantastiese gedig! Uitstekend vir weer en weer lees.

  •