Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
11 May 201019 May 2011

Onderhoud. Diggesprek: Alfred Schaffer en Ronel Foster gesels oor die digkuns

Ronel Foster stel die vrae en Alfred Schaffer antwoord.

Ronel Foster
Ronel Foster
Alfred Schaffer
Alfred Schaffer

RF: Die titel van jou bekroonde bundel Kooi (2008) beteken onder meer “hok vir diere”, soos ‘n voëlkoutjie. Die klassieke temas van liefde, siekte en dood het op verskillende maniere met inperking te doen. Sou jy jouself as digter ook as ingeperkte beskou en waarom?

AS: Inperking beteken seleksie. Jy dwing jouself om te selekteer en dit wat relevant is, te behou. Nie een skrywer kan sonder dié inperking nie. Ek sou byvoorbeeld nie oor die dood van my ouers of my sussie kon geskryf het sonder dié inperking nie – dit sou behaagsieke, tranerige gedigte gewees het. Inperking was die dammetjie, sodat die water nie oor my heengespoel het nie.

RF: Kooi bestaan uit 32 rymlose sonnette (wat op papier soos hokkies lyk) en 15 prosaverse. Waarom het jy hierdie digvorme gebruik?

AS: Kooi is gefinaliseer voordat ek deur ‘n geestelik moeilike tyd gegaan het. Miskien was die poësie wel die oorsaak van die ellende – skryf is mos ‘n vorm van geestelike geweld. Die vormkeuses was heeltemal intuïtief, maar agteraf sou ek kon sê ek het die afwisseling tussen die houvas van die sonnette en die vrye stroom van assosiasie nodig gehad. Daar is iets skisofrenies omtrent die hele opset.

RF: Jou fassinerende gedigte met hul interessante gedagtespronge stel besonderse uit­dagings aan die leser, ook die Nederlandse leser. Dink jy nie digters moet verstaanbaarder skryf nie?

AS: Daar is geen voorskrifte in poësie nie, behalwe jou eie. Jy mag die leser maar uitdaag, ook op psigologiese of filosofiese vlak, solank jy vir die leser respek toon. En dit moet uit jou hart uit kom. Digters moet veral kan ontdek, in beeld, in betekenis moontlikhede. ‘n Poësie sonder digters soos Lucebert, Stevens, Breytenbach, Celan of Eliot is ‘n armer poësie. Terloops, my gedigte is nie so ingewikkeld nie, dit vra dalk net ‘n ander soort leeshouding. Kooi voel wel soos ‘n afsluiting. My skaamte is verby, die selfkennis groter, so my gedigte sal anders wees, as ek ooit weer van skryf sou gaan hou.

RF: Jy het bykans ‘n dekade lank in Kaapstad gewoon en gewerk. Het jou Suid-Afrikaanse verblyf jou digterskap enigsins beïnvloed?

AS: Ek het baie makliker geskryf toe ek in Kaapstad gebly het. Die ontheemding, die ongebondenheid en die dringendheid van die daaglikse lewe in Suid-Afrika was ‘n groot dryfkrag. Ek is baie nuuskierig oor hoe dit sal wees as ons oor ‘n rukkie weer in Kaapstad gaan woon – zal de poëzie weer tot me komen?

 

***

Alfred Schaffer stel die vrae en Ronel Foster antwoord.

Alfred Schaffer
Alfred Schaffer
Ronel Foster antwoord
Ronel Foster

AS: Hoekom dink jy is daar in Nederland baie meer romansiers as digters met ‘n uitheemse agtergrond (byvoorbeeld Marokko, Suriname en die Antille) wat in die Nederlandse taal skryf? Hoe is dit in Suid-Afrika?

RF: In ‘n artikel in Over Grenzen bespreek ek die poësie van migrante of verplaastes in Nederlands en Afrikaans. Vanweë die koloniale geskiedenis van Nederland en België en die werwing van gasarbeiders is daar heelwat skrywers met ‘n “uitheemse agtergrond”. Dat hulle romansiers is, eerder as digters, hang waarskynlik met publikasiemoontlikhede saam – wêreldwyd verskyn meer romans as digbundels. Wat die Afrikaanse migranteliteratuur betref, is die posisie omgekeerd: jongmense wat in byvoorbeeld Londen gaan werk, skryf veral poësie, meestal op die internet. Danie Marais se In die buitenste ruimte (2006) is die eerste expat-bundel.

AS: Onlangs was Ronelda Kamfer in Nederland – sy het ‘n baie groot indruk gemaak. Dink jy die besoek van digters uit die Lae Lande aan Suid-Afrika het enige impak?

RF: Optredes van digters soos Mustafa Stitou en Dirk van Bastelaere by geleenthede soos die Woordfees is altyd opwindend en het beslis ‘n impak  – in klein kring. Waar jong Afrikaanse digters dikwels aansluiting vind by Amerikaanse digters, soos die Beats, kan kennisname van die Nederlandse en Vlaamse poësie ‘n venster op die Europese letterkunde open.

AS: Dink jy daar is ‘n mark vir ‘n bloemlesing met van die belangrikste digterstemme uit die Lae Lande, dalk vertaal in Afrikaans, amper soos Gerrit Komrij se destydse bloem­lesing?

RF: Daar verskyn jaarliks soveel digbundels in die Lae Lande, dat ‘n keur van onlangse gedigte welkom sal wees (miskien in vertaling). Ad Zuiderent en Johann Lodewyk Marais se Ons klein en silwerige Planeet lewer bewys van die waarde van só ‘n bundel. Die samestellers van Over Grenzen werk tans aan ‘n antologie, Grenzeloos, met Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse gedigte van die 20ste eeu.

AS: Jy en Marais was die samestellers van Nuwe Stemme 4, ‘n bloemlesing wat steeds bewys daar is hope talent in Afrikaans. Hoe dink jy oor die toekoms vir Afrikaanse digters wat nou debuteer en in hul eie taal dig?

RF: Daar is heelwat entoesiastiese en talentvolle aspirant-digters wat hoofsaaklik vertelverse skryf oor ‘n groot verskeidenheid onderwerpe en temas. ‘n Handvol sterk verse regverdig egter nie ‘n solo-bundel nie. Wat ek wel sou wou sien, is dat daar meer bruin en swart Afrikaanse digters na vore kom, sodat hul ervaringe en geskiedenisse oopgeskryf en bekend gestel kan word.

 

(c) Die Burger, 7 Mei 2010. Besoek Die Burger se Boekeblok vir die nuutste resensies e.a. boeke-inligting.

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Ronel Foster e.a. Over grenzen / Oor grense
Alfred Schaffer. Shadows on the wall →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d