Digstring: Bernard Odendaal. Die kind is steeds nie dood nie

Die kind is steeds nie dood nie

            Met apologie aan Ingrid Jonker

 

Die kind is steeds nie dood nie

en slaan haar moeder teen die bors

waar sy Afrika skreeu in die stank

van vullis en riool in die strate

in die roesemoes van mass rallies

die kind skreeu onhoorbaar

die kind het tering en verveling en diarree

 

Die kind begin klippe gooi na sy vader

wat dreunsing op imbizos van partye

en Afrika skreeu    wat the people skreeu

wyl hy korrup en onkapabel is

by die werk

die kind skreeu onverhoord

want hy is honger en dakloos

 

Die kind is steeds nie dood nie

nòg by Upington nòg by Tembisa

nòg by Theunissen in die Vrystaat

of oral in die land

waar haar kleuterlyfie lê

deurboor van vigsige penisse

neergegooi in die sloot

die doodstil kind skreeu ten hemele

 

Die kind doodkry is min

nie met uitkomslose onderwys

wat haar ewig agterstel nie

nie met wederregstellende optrede

wat hom niks laat bereik nie

nie met die saai ideologie van gelykstelling

wat alles enig inhibeer nie

al moet die kind die kontinent verlaat

wil die kind lééf

 

Die swygsame kind is die skaduwee van die burokrate

wat te lui is om beleide uit te voer

wat onderspandeer op welsyn, mediese en ander dienste

die kind is teenwoordig by alle vergaderings en afsprake

waar eers die eie sak gevul word

die kind loer deur die getraliede vensters van huise

en in die stugge oë van grootmense

om te kyk of daar ooit weer sorgloos in die son te speel is

by Nyanga

in ‘n straat op Wepener

of daar iewers veilig oor ‘n strand

of in die veld te wandel is

 

Die kind wat man of vrou moet word in Afrika

soek liewer elders kennis

om tot reus te groei wat sê:

Nou is Afrika mýne

nou gaan ék aan Afrika behoort

 

Sonder ‘n voorgeslag

 

 

(c) Bernard Odendaal (Uit: Onbedoelde land, Tafelberg, 2007)

 

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Bernard? Hoe het dit ontstaan?

Ek het “Die kind is steeds nie dood nie” in Maart-April 2006 geskryf. Dit was omtrent ‘n jaar nadat ek ‘n kwartaal lank klas gegee het aan die Katholieke Universiteit Leuven in Vlaandere. Die byna vanselfsprekende orde en veiligheid wat ek in die Laaglande beleef het, moes my afgestomptheid vir die hoë misdaadsyfer en die geweld in Suid-Afrika laat wegraak het. By my terugkeer is ek dus geruk deur wat ek daagliks hier oor die nuus gehoor, in die koerante gelees en self ervaar het. Ook deur hoe gewoond ons as Suid-Afrikaners daaraan raak. Ons gaan hier as ‘t ware doodnormaal ons gang in dikwels dodelike, eintlik deurgaans abnormale omstandighede.

Wat anders is daar ook te doen?

Die donker en weerlig van die vreeslikhede die agtergrond waarteen ons ons magtelose lewensrolletjies vertolk, om dit fatalisties te stel. Blaai ek deur my kladwerkboek van daardie tyd,  bemerk ek hoe ek oor dié dinge gebroei het.

In Leuven het ek fluks kon begin werk aan die eerste Afrikaanse vertalings van Jacques Brel-chansons wat ek, per e-poskorrespondensie, saam met my Universiteit van die Vrystaat-kollega, Naòmi Morgan, aangepak het. Terug by die huis, sit ons ywerig die vertaalwerk voort. Maar tussen kladweergawes van liedere soos “Nuwe liefde” (Le prochain amour) en “Die liefies” (Les biches) – waarvan die titels nou vir my ironiese ondertone aanneem – begin koerantknipsels oor geweldsmisdade verskyn. Byvoorbeeld oor ‘n sesjarige meisietjie, Elmonia Ashley Maku, wat buite Jacobsdal in die Modderrivier verdrink is deur die desperate, swanger, weggegooide, wrekende minnares (19 jaar oud) van haar pa. Of oor die pasgebore, verkragte baba wat in ‘n watersloot buite Hennenman deur ‘n verbyganger gevind is – waarskynlik ‘n slagoffer van die mite dat omgang met ‘n maagd ‘n mens reinig van Vigs. Of oor die Tukkiestudent wie se kar in die nag buite Witbank onklaar geraak het. Dadelik bel sy haar pa, en hy sê sluit toe die kar en wag net daar, ek laat die polisie op Witbank dadelik weet – maar húlle is onwillig om te help. Die pa jaag self en praat kort-kort per selfoon met sy bang kind. Minute voordat hy by haar kan kom, breek twee verbygangers egter by die kar in … met voorspelbare gevolge vir haar.

Dan duik daar die gedig “Pa se groente” tussen die liedvertalings op. Die rasseverhoudinge op die plaas waarop ek grootgeword het, wat opgewel het.

Nie lank daarna nie, die eerste weergawes van die gedig “‘n Kersdag se ware verhaal”: sterflikheid, ouerliefde, geloof-in-weerwil-van. Gevolg deur aantekeninge en knipsels wat uiteindelik op “Verslaggewersnotas” sou uitloop, ‘n gedig oor die verkluimdood van ‘n agtjarige, bruin dorpskind met die (in die konteks van óns land) ironie- en betekenisswangere naam Immanuel Afrikaner. Hy het onaangekondig by sy bokwagter-oupa op die Kalahariplaas waarvoor hy so lief was, gaan kuier, en toe dié nie tuis was nie, na hom gaan soek in die genadelose wydtes van daardie wêreld…

Dan is daar ‘n eerste poging om meer direk my ontsteltenis te verwoord oor die skeefloop van die nuwe Suid-Afrika ná skaars ‘n dekade. Met Leipoldt se “Vrede-aand” as interteks, wou ek iets ironies-parodiërend daarstel – maar die poging het sommer in die eerste strofe al begin rammel en wankel, belaai soos dit was met uitgediende ideologiese erfgoed en retoriek (én eie bombasme!):

 

Al tien jaar, man, het ons demokrasie!

Hoe is geskree en -dans, die strate vol!

Die “wonderwerk” had al wat leef op hol.

Skink dus ‘n dik dop chardonnay – en: Tjôrts!

Ons het op vryevolk-wees tyd gemors – 

die REG tel koppe, is die massa s’n:

demo-krasie! Laat waai dus; waarom in

jou dop gekruip? Nou kruip maar, want dis waar:

Die Boer is dood – killed the farmer, swaer!

Lig, lig jou glas! Die son skyn deur die wyn

– en hou op sê dit smaak net soos asyn.

Kom loer hier deur die diefwering met my

en kyk hoe gons die nuwe maatskappy.

Daar klap ‘n skoot, daar word “Your purse!” geskril.

Dit laat die aandelemakelaars maar kil.

Wat is ‘n lyk nou teen ‘n lekker wins?

Wat rooftogte teen die beleggingskuns?

Wat wet en orde teen ‘n four-by-four?

Ons volkie, eens so fier, is sonder gô,

en kan getrein word soos ‘n jong bob’jaan

wat, as hy steeks is, jy weer mak kan slaan.

Sê tjôrts, sê tjôrts – lós die melankolie:

Al tien jaar, man, het ons demokrasie!

 

Nee, dis glad nie wát en hóé ek dit wou sê nie. Hoop op die toekoms wat verrinneweer word, versinnebeeld deur die mishandelde, misgunde kinders – dís eerder waaraan ek wou uitdrukking gee. Dalk nóg ‘n nuwe “Nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie”?

Maar toe begin Ingrid Jonker se “Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga” by my spook…

Kon jy die gedig vinnig tot sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes ontwikkel?

Ek skryf nie maklik en gou nie. Maar hoewel (gedeeltes van) “Die kind is steeds nie dood nie” óók ‘n paar herskrywings beleef het, het dit, gemeet aan hoe gedigte gewoonlik by my ontstaan, redelik gou tot sy finale vorm gevorder.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die flinke vordering met dié gedig is grootliks te wyte aan die feit dat ek toevoegend én ironiserend kon borduur op ‘n bestaande verspatroon. Sowel die vorm as die temabasis was “gegee”. Die uitdaging was om nié die geldige strekking van die welbekende oorspronklike te ondermyn nie, maar ‘n transponering na ‘n nuwe konteks te bewerkstellig (plekname word bygehaal om misdaadvoorvalle aan te dui uit die tyd van die skryf daarvan, soos ek in Volksblad daarvan te lese gekry het) waardeur ewe wrange kommentaar op sosiale misstande gelewer kon word. Sónder om in die bombasme van die hierbo aangehaalde ‘herskrywing’ van “Vrede-aand” te verval. Ek wou ook iets van die uiteindelike hoopvolheid-bý-die-aanklag van die Jonker-gedig behou – al is dit met ‘n groter skeut wrangheid daarby. Ook in Jonker se gedig reis die reuskind “deur die hele wêreld”, maar hy/sy is banneling om ander redes as in “Die kind is steeds nie dood nie”.

Het jy “Die kind is steeds nie dood nie” gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en/of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Toe die manuskrip van Onbedoelde land al so ver ontwikkel was dat ek dit in 2006 aan Tafelberg gestuur het vir keuring, was “Die kind is steeds nie dood nie” nie daarin opgeneem nie. Ek het die gedig egter aan Jaap (J.C.) Steyn en Izak (I.L.) de Villiers gegee om te lees, en hulle het gevoel dis “strong stuff” (Izak). Henning Snyman was die (werklik voortreflike!) keurder vir Tafelberg, en hy het tereg gevoel die afdeling “Huisskoonmaak” kan sterker gemaak word. By afronding van die bundel het ek toe “Die kind is steeds nie dood nie” bygevoeg, en ook die plaasmoordgedig “Hoeka soiets van daardie aard” en die reliëf verskaffende “Uitnodiging: ODENDAAL FAMILIE FEES” bygeskryf.  

Izak de Villiers se dood is ook in hierdie verband vir my ‘n gevoelige verlies (soos vir ‘n paar ander digters, vermoed ek).

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Hoewel die antwoord op hierdie vraag al grootliks uit voorafgaande opmerkings behoort te blyk, moet ek, jammer genoeg, byvoeg dat die aktualiteit en relevansie van die aanklagte in die gedig intussen net groter geword het.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Oor Afrika se grootste enkele probleem: Maghebbers wat “korrup en onkapabel” is. Maar miskien veral oor die versugting na ‘n hoopvolle toekoms hier.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gelei het?

Soos aangedui: die daaglikse nuus in Suid-Afrika.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Ek dink nie eintlik so nie. Maar ek het al gewens oud-president Mandela kon vandag “Die kind is steeds nie dood nie” in die parlement voordra, soos hy voorheen met Jonker se gedig gedoen het. Ek sal glad nie omgee as my naam as skrywer daarvan nie eers genoem word nie. Dit gaan nie oor my nie. Die intertekstualiteit wat byvoorbeeld deur parodiëring bewerkstellig word, werk in elk geval iets bowe-persoonliks in die hand.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dis betogender. “Gesog“, uit dieselfde afdeling in Onbedoelde land, het ‘n verwante toonaard. Sterk opinie-uitings laat my ongemaklik voel; maak selfs sterk gevoelens van weerstand in my wakker. (Self-)versekerde mense kom vir my gewoonlik ietwat gek voor.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ek weet nie of iemand wat nié intiem bekend is met die Suid-Afrikaanse werklikhede van gister en vandag nie, waardering vir “Die kind is steeds nie dood nie” kan hê nie. Die gedig is voorts nogal afhanklik van die Afrikaanse literêre eggo’s wat daarin weerklink vir sy impak: Jonker se gedig en ander voortskrywings daarop, Leipoldt se “‘n Nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie“.  

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek moet bely dat ek self nie soveel van die gedig gehou het nie. Té ‘ge-opinieerd’.  Maar die vooraflesers van Onbedoelde land het gevoel dit versterk die bundelstrekking.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Die gedig het uiteenlopende reaksies in resensies oor Onbedoelde land ontlok. Vanaf dat dit onvloeiend en onnatuurlik is, “bedink en uitgewerk”, tot by bestempelings as ‘n “indrukwekkende uitbreiding” op die oorspronklike, as iets wat “Van Wyk Louw se dictum dat daar uit die ‘gevormde literatuur’ nooit weer poësie te make is nie, [oortuigend weerspreek]”. Daar was selfs die verwyt dat die “besonder swartgallige blik op die Afrikakultuur” wat daarin gebied word,  dit “beslis nie die soort gedig [maak] waarmee ‘n mens nuwe swart lesers vir Afrikaans sal kan werf nie”.

André P. Brink het die gedig in die 2008-uitgawe van Groot Verseboek opgeneem. Ek lei daaruit af dat hy daarvan gehou het, hoewel ek ook weet dat hy soms voorkeur gegee het aan gedigte wat “gesprekke” voer met bekende voorgangers in die Afrikaanse tradisie.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Dit was ‘n ontnugterende ervaring om nou weer deur my oudste kladwerkboeke te blaai. Ek haal maar ‘n gedig van toentertyd aan wat met die minste woorde werk – dan is die beskaming die minste.

 

Duiwe-ode aan ‘n Sondagmiddag op die plaas

 

Koer-koer-doek, koer-koer-doek,

koer-koer-doek, koer-koer-doek …

 

Koer-doek-doek. Koer-doek-doek.

Koer-doek-doek, koer-doek-doek.

 

Koer-doek, koer-doek, koer-doek;

roekoer, roekoer, roekoer …

 

Koer-koer-doek …

 

[Ek was jare later heel verras om Jan Hanlo se “De mus” (Die mossie) raak te lees:

Tjielp tjielp – tjielp tjielp tjielp

tjielp tjielp tjielp – tjielp tjielp

tjielp tjielp tjielp tjielp tjielp tjielp

tjielp tjielp tjielp

 

Tjielp

            etc. ]

 

Bernard Odendaal

Bernard Odendaal

Bernard Odendaal is op 15 Desember 1955 gebore en word as een van vyf broers op die hoewe Harmonie in die Waterbron-gebied buite Bloemfontein groot.Ná studie aan die Universiteit van die Vrystaat gee hy Duits en Afrikaans by skole in en om Bloemfontein. Sedert 1990 is hy dosent in Afrikaans en Nederlands aan sy alma mater, waar hy tans ‘n medeprofessor is. Hy skryf gereeld poësieresensies, vakkundige kongresreferate en tydskrifartikels. Sedert 2000 tree hy op as subredakteur van die tydskrif Stilet, lyfblad van die Afrikaanse Letterkundevereniging.

Gedurende die afgelope twee jaar het hy in samewerking met Naòmi Morgan van die Departement Frans aan die Vrystaatse Universiteit ‘n paar dosyn van Jacques Brel se beroemde chansons in Afrikaans vertaal. Naas die publikasie van sy gedigte in literêre tydskrifte is ‘n tiental van sy verse opgeneem in nuwe stemme 2 (2001). Sy debuutbundel, Onbedoelde land, verskyn in September 2007 by Tafelberg.

 

  

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Digstring: Bernard Odendaal. Die kind is steeds nie dood nie”

  1. Riet :

    Dankie vir hierdie digstring Bernard & om so in werkskamer van jou digkuns in te loer. Oor elke vers kan die digter seker ‘n interessante historiese insig gee. Maar op die ou end staan die vers alleen, nie waar nie? Ek sien uit na nog vele digstringe op hierdie web! Dalk is daar eendag genoeg dat ‘n uitgewer so boek sal uitgee.

  •