Wanneer ek ’n gunsteling Afrikaanse digbundel moet kies, gaan dit vir my meer oor sentimentele waarde as verdienste. Dit is nou die een wat ek sal gryp as die huis afbrand, eerder as die een waarmee ek op ’n eiland wil uitspoel.
Soos ek reeds iewers genoem het, het ek my eerste digbundel gekry as Kersgeskenk aan die einde van graad een. Dit was ’n roomkleurige hardeband bundel en as ek reg onthou was dit net getitel Gedigte – ’n versamelbundel van Elisabeth Eybers, met gedigte waarskynlik tot en met Kruis of Munt (1973) of Einder (1977). Op daardie stadium was ek skaars sewe jaar oud en my ma het voorin iets geskryf soos dat ek dit dalk nog nie sal verstaan nie, maar dat dit van die beste gedigte in Afrikaans is. Natuurlik onthou ek daaruit “Maria”, “Wes-Transvaal”, “Die eerste nag” en veral “Bome”. Iewers in my studentejare het my ma die bundel geleen en toe uitgeleen. Aan wie, kon sy later nie meer onthou nie en so is ek my geliefde bundel kwyt. Ek hoop maar dat dit aan iemand nog vreugde verskaf.
Met my drie-en-twintigste verjaarsdag kry ek weer ’n bundel – Versamelde Gedigte van Elisabeth Eybers. Voorin skryf my ma: Aan my liefste Blom. Om op te maak.
’n Ander sentimentele geliefde is D.J. Opperman se Junior Verseboek, wat ek aan die einde van graad twee as boekprys kry. Voorin is ’n plakker op Laerskool Melkrivier se briefhoof: Vir beste prestasie in Gr ii. Om een of ander onverklaarbare rede het ek met ’n dik groen pen daarin gedigte afgemerk en ook die name van die digters onderstreep (en genommer, tot by nr. 60!). Jy kan sê wat jy wil oor vernuwing, party gedigte bly maar mooi, al kom dit uit ’n ver verlede en ’n sentimentele geheue – “Mabalêl” van Eugène Marais, Totius se “Repos ailleurs”, “Die strandjutwolf” van Van Wyk Louw, “Klara Majola” en “Sproeireën” van Opperman.
Maar miskien is daar plek vir nuwe gunstelinge. Dis lanklaas dat iemand my ’n digbundel present gegee het…