Ek is ‘n kunstenaar. Al was dit vir my al baie keer moeilik gewees om dit te kan erken as mense vir my vra, “so wat doen jy nou eintlik?” Ek skryf goed en ek dink liedjies uit en ek sien die wêreld in prentjies, maar ek is bang vir etikette. Alles anders wat ek doen is net omdat ek moet eet.
Ek het onlangs my eerste solo album voltooi en al laat Afrikaners dit so maklik lyk om ‘n CD te maak, en dit seker is as jy net jou track kan kies en dan in die studio ingaan en jou vocals neersit en dan jou cd het, sal enige ou wat dit al van scratch af gedoen het jou verseker dat dit nie so maklik soos dit is nie.
Obviously moet mens heel eerste materiaal skryf om te kan opneem. Dan is dit ‘n lang uitmergelende proses van guide tracks en click tracks en instrumente en tussendeur nog die kunswerk vir die omslag en al sulke dinge wat gelyk moet reg wees.
Vier jaar het verloop sedert my vorige cd, alhoewel dit onder my band, Radio Suid Afrika, se naam uitgekom het, het ek amper alles geskryf en kon dit ook maar net sowel my eerste solo cd gewees het. Daar was dus vier jaar van leef en pyn en skryf en toe na vier jaar was gister d-dag vir my. Alles het gister bymekaar gekom en ek gaan dit vanoggend by die drukkers aflaai sodat dit betyds reg sal wees vir my eerste bekendstelling die 4de Junie by Steak&Ale in Centurion, Pretoria.
Ek het gisteraand die master copy van my album in my kar gelaai en net gery, baie ver en lank gery en luister. Dit was ‘n baie vreemde mengelmoes van emosies wat oor my gespoel het toe ek in my kop begin terug gaan na wie ek was toe ek al hierdie goed geskryf het, want in baie gevalle was ek baie stukkend en op plekke waarheen ek nooit in my kop weer wil terug gaan nie.
Ek het myself al telke male belowe dat ek nie net gerieflikheidshalwe vanweë die feit dat ek ‘n “kunstenaar” is ooit sal harder pyn (of ten minste vir die wêreld wys dat ek doen nie) en dat ek nie my depressie aan die grootklok sal hang of daarmee spog asof dit ‘n nuwe speeding is nie.
Ek het later die aand my meisie gaan oplaai en in stilte die ses en dertig minute of so afgelê terwyl sy sprakeloos was. Toe ons stop en ek haar vra wat sy dink het sy gesê dat dit haar hartseer gemaak het. Ek het heeltemal verstaan wat sy bedoel en dit nie eers nodig geag om haar te vertel van die tou wat al om my nek was of van die keer toe ek ietwat aangeklam in Potchefstroom na ‘n kuier na vriende se huis toe geloop het en deur 3 mans met messe aangeval en aangehou is vir my beursie en foon nie. Ek het ook maar niks genoem van mense (en veral meisies) wat gekom en gegaan het en elkeen hulle merk gelaat het, meer sleg as goed. Van vriende wat my bedrieg en gedrop het en van die feit dat die wêreld eintlik vir my ‘n baie lelike plek is nie.
Ek het maar net stilweg gehoop dat dinge soos alles wat ek hierbo genoem het vir altyd agter my is en dat sy so bietjie beter sal verstaan waar ek vandaan kom nadat sy geluister het.
Toe het ek tot die slotsom gekom dat ek (noem my maar ‘n sadis) baie gelukkig sal wees as my nuwe album mense hartseer maak.
Baie geluk Niel! Dis ‘n hengse prestasie.
Ek kan nie wag om my ore daarop te kry nie.