My blou bundeltjie van Fanie Olivier se lieflike debuutbundel Gom uit die sipres is met plastiek oorgetrek. Buite-om is die prysomslag: ‘n manuskrip van hierdie bundel is bekroon met die Reina Prinsen Geerligs-prys in 1971 en binne-in is daar ‘n foto van die digter wat ek uitgesny het van ‘n jong, laggende Stefaans Olivier. My naam in blou in ‘n ronde vetskrif met die datum: 1975. My eerstejaar aan die US. Die prys: R3, 50.
Die waarde van hierdie bundel: duursaam – prysloos.
Daar is min bundels wat so met my gepraat het as hierdie debuut van Olivier. Dat so ‘n jong mens ‘n stem kon hê, het my aangegryp. Boonop het ek gevoel dat hy alles presies verwoord soos wat ek as ‘n jong mens gevoel het. En die surrealistiese gedig “vroeë mis” (10) het ek uit my kop uit geken. Daardie eekhorinkies wat die verakkerde tone wegdra, het dae lank by my gespook. En die spel met Totius kon ek via my blou Groot Verseboek-uitgawe ook opspoor, lank voordat intertekstualiteit ‘n mode-woord was. Veral die gevoel dat hierdie digter nie bang was om sosiale ongerymdhede aan te spreek nie, het my ook aangespreek. Sy trefseker verwoording van jeugdige melancholie en nostalgie het my verder bekoor. Soos ook die gedig “jeugliefde” (34) waar die spreker bely:
maar ek sal bewend oor ons stil geheim die fraai
blou petrea tot blink helikopters draai.
In my bundeltjie is daar regmerkies en aantekeninge in die kantlyn met ‘n potlood. “Hebban olla vogala” (30) kan ek steeds opsê:
lief lief
ek tree die ringmuur wit-wit
af; staan by die hek
en sien die duiwe parend
op die gewel sit:
het alle voëls hul nessies reeds begin lief lief
behalwe jy en ek?
En die gedig “eerste aand” (25) bly maar ‘n klein klassiek in Afrikaans, net soos “kyk god ek bou vir jou ‘n katedraal”(24) ‘n gedig wat my nooit verloor het nie, al het ek later in daardie einste 1975 my geloof verloor, begin dobbel met die Eksistensialisme, die NG-Kerk verlaat het weens hul diskriminasie teen mense soos ek. Genadiglik toe ek later, via die Boeddhisme, weer kon terugkeer na die spirituele, het hierdie gedig voor my opgedoem:
kyk god ek bou vir jou ‘n katedraal
met my gebarste oë en vingertoringpunte
wat 18 duim kan oorhel in die wind.
kyk god ek gaan vir jou my visnet haal
om mense mee te vang en met die taal
te huisves in die baiewoningskerk.
(…)
En die digter blokkie met sy raket se snare ‘n klein dorpstoneel.
Die liriese aard en binnespraak het my altyd bygebly:
bring die doek en bring die kis
ons kyk die hele lewe mis (15)
Daar is maar een Stefaans Olivier en met sy suiwer debuut het hy die jongmensellendes vir my verklank. Die hel is nie ander mense nie. Die hel is ‘n plek sonder digters soos Olivier.
Joan Hambidge
As ek reg onthou is daar ‘n baie mooi stuk oor Gilliland in Ernst van Heerden se ewe mooi Ligtende Trein.
Ek is self ‘n Barnard Gilliland-bewonderaar. Ek onthou weer iets soos “orals waar ek my voet sit is water”, of soiets. Van Wyk Louw het hom ook as ‘n belofte beskou.
Is dit nou nie verfrissend dat een digter ‘n ander soveel lof toeswaai nie? Paais en vree in die tempels van die hogere digkuns, gespel met of sonder die omklink.
Hoe ook al, dit het my herinner aan ‘n ander debuutbundel waarop ek graag ‘n kransie sal wil lê: Veelhoek van Barnard Gilliland. Dit het verskyn geruime tyd voor Breytenbach se Ysterkoei ons so laat sweet het.
Vir my was hy die begin van Sestig.
Hy het ondigterlike gegewe (as daar so iets is) tot gedigte omskep. Hy het my met nuwe oë laat kyk na die mense en veral die gesaghebbers rondom my en die worsteling van elke jongmens met skyn en werklikheid verwoord:
My jeug ook was ‘n leuen,
‘n gladde blinkgeslypte leuen, ge-olie en snelglippend deur my dae.
Ek weet dat alles ongenadig lieg…
en wat daarop volg.
Of hy soos Brink later, deur Hart Crane beïnvloed is, sal ek nie weet nie:
Dan vlag die koerant oop en wapper
oor ons eeu ‘n oomblik in die wind
deur die busvenster.
Sy haikoes onthou ek vandag nog uit my kop.
Die dae spyker my hart aan ‘n deurkosyn,
en saans hang ‘n roesrooi Afrikaner
wolkloos aan sy stingel.
Onthou hierdie debuutbundel uit ‘n ander bestel en dink aan ‘n talentvolle lewe wat kortgeknip is in hierdie jubeljaar.