Joan Hambidge. Sokker

Vir weke luister ons al na die aankondiging. “Feel it, it is here”. Eers met ʼn geknoopte Afrikaanse tong en toe later ʼn gladder tong wat die dae aftel.

Uiteindelik.

Soos ʼn bruilof. Die afwagting, die beplanning, die vrese, die uitsien. Ek en ʼn vriend kyk met ʼn toegetrekte keel na die aangrypende openingseremonie. En vir dae daarna is ons sokker-entoesiaste.

Van die subtiele reëls leer hy my gou. Dit is wat onkant beteken. Dis wat die skeidsregter hier bedoel. Daar is die hoekskop so. En ja, ons  is besete van vreugde oor Bafana Bafana se eerste doel.

Deur die jare het sokker deel geword van my bestaan. In vreemde hotelkamers, in vreemde lande laatnag, alleen, was sokker ʼn vertroosting. Dit was soos dood in die familie toe Engeland verslaan is deur Portugal ʼn paar jaar gelede en die hele reis lank kon jy die Engelse se argwaan aanvoel. Die vlae wat halfmas hang, by wyse van spreke. In Plymouth ʼn Portugese restaurant met wapperende vlae wat die oorwinning uitbasuin.

Jacques Derrida
Jacques Derrida

Jacques Derrida was op sy ʼn dag ʼn sokkerspeler. Umberto Eco hou nie van sokker nie, want dit het hom as kind uitgesluit van ʼn bepaalde orde.

By Incredible Connection ʼn paar maande gelede speel ek en die een instrukteur sokker op die playstation en die kind is  in  my meegesleur, hoewel my span (wat eg lyk) die loef afgesteek word.

Daar is een studie oor sokker wat die moeite werd is om te lees. Desmond Morris se The soccer tribe (Jonathan Cape, 1981). Hierin word die mitologie róndom sokker vir die leser uitgespeel.

Soos dat ʼn sokkerveld se grootte nét by benadering dieselfde is. Hierom het die tuisspan altyd ʼn voorsprong bó hul besoekers (33).  Die bekende ikone of tekens word eweneens verduidelik: die einde van die wedstryd is die twee gekruiste arms na bo. Was dit nie wonderlik hoe Bafana Bafana se dansie na ʼn doel geskiet is, inspeel op al hierdie tekens nie? Semiotici van die wêreld kyk weer!

Diego Maradona, effens swaarder, moedig sy span nou aan. Wanneer ons na hom kyk, verteenwoordig hy ʼn simbool.

Nie net van die groot sokkerspeler (soos Pelé) nie, maar iemand wie se lewe in die teken van ʼn “professional foul” gestaan het (61).

Morris sien die spel as ʼn ritueel. Ofskoon dit op die oppervlakte mag lyk na ʼn oorlog (hy gebruik die woord “battle”), is daar volgens hom nie ʼn poging om mekaar werklik te vernietig nie. Dit gebeur net op ʼn simboliese vlak wanneer daardie bal in die doelhok geskiet gaan word (15)!

Die geskiedenis word terug gevoer na die ou Romeine en ander bloedsporte soos bulgevegte en Pamplona dui op ons versugting na rituele.

Derrida het as ʼn jong kind vir ʼn jaar weggebly van skool, net sokker gespeel en filosofie gelees. Sien ons hier ʼn verband tussen sokker en filosofie? Hoe jy tog jou opponent moet uitoorlê en steeds by die reëls van die spel hou? Sou ons die grammé en différance nou anders beoordeel?

Desmond Morris het sy PhD aan Oxford behaal en sy ander beroemde boek is The naked ape (1967).

Die sokker-ritueel is vir ons in Suid-Afrika van uiterse belang. Skielik is wit mense wat vantevore nie in sokker belang gestel het nie, deel van die spel en vind daar ʼn versoening plaas. Nou onlangs op die Oliver Tambo bedien ʼn swart kelner my. Op sy kop is twee blou horinkies Hy is ʼn blou bul-ondersteuner, verseker hy my.

Hoe wonderlik, dink ek.

Blaas jou Vuvuzela vir ons span.

Morris wys ook op al die bygelowe wat sokker deur die jare vergesel het.

Sokker is ʼn macho-spel ja, maar persoonlik vind ek dit ongelooflik sierlik.

En ʼn belangrike ritueel.

David Beckham. Foto:Antonio Calanni
David Beckham. Foto:Antonio Calanni

Onthou David Beckham is al ʼn kunsobjek. In die Tate is daar ʼn video geneem van hom waar hy vir 24-uur slaap en die huidige poet laureate Carol Ann Duffy het ʼn vermaaklike en slim gedig geskryf oor ons moderne Achilles na ʼn besering:

 

Achilles

Myth’s river – where his mother
dipped him, fished him, a
slippery golden boy flowed on,
his name on its lips.

Without him, it was prophesied,
they would not take Troy.

Women hid him, concealed him
in girls’ sarongs; days of
sweetmeats, spices, silver songs …

But when Odysseus came, with an
athlete’s build, a sword and a shield,
he followed him to the battlefield,
the crowd’s roar,

And it was sport, not war,
his charmed foot on the ball …

But then his heel, his heel, his heel …

 

http://www.nowpublic.com/sports/david-beckham-poem-achilles-carol-ann-duffy-poet-laureate

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Joan Hambidge. Sokker”

  1. Desmond :

    Toe Algerie so goed teen Engeland gespeel het, het ek nogal aan Derrida en Camus gedink… albei oorspronklik van daardie land, albei het bande met sokker. Merleau-Ponty skryf ook oor sokker iewers, dink ek, wanneer hy dit dit oor die beliggaamde subjek het. Maar interessant genoeg was Pierre Bourdieu klaarblyklik meer ‘n rugby-aanhanger, en het hy dit ook gespeel.

    Oor Maradonna: ‘n paar jaar gelede was hy oorgewig, verslaaf en na aan dood, maar toe het sy vriend en aanhanger Fidel Castro hom Kuba toe gevlieg en die beste mediese sorg aangebied. Vandag is hy die ‘hit’ van Sokker Wereldbeker 2010, en sy span speel wonderlik. En dan kla mense oor Kubaanse dokters!!!

  2. Pieter Wolmarans :

    Joan & Desmond, ek praat onder korreksie, maar indien ek dit nie mis het nie, het Camus selfs twee wedstryde vir Algerië gespeel as doelwagter?

  3. Desmond Painter :

    Hallo Pieter, ek weet Camus was ‘n doelwagter, en hy het beslis vir die Universiteit van Algerie opgedraf. Ek weet egter nie of hy ook vir die nasionale span gespeel het nie. Hy het die volgende oor sokker geskryf: “All I know most surely about morality and obligations, I owe to football”.

  •