Peace goes into the making of a poem as flour goes into the making of a bread – Pablo Neruda
Laasnaweek kuier ons in die wildtuin – personeeldorp, en hou braaivleis in die veld-veld onder die sterre sonder wagter of heining toe die gasvrou aankondig dat sy gou roosterkoek gaan maak. Ek bekyk die skotteltjie met die meel daarnaas by flou lanternlig asof ek ten minste verwag dat daar binnekort ‘n verbygaande komeet in die enamelbodem gaan weerkaats. “Kan ek help?”: vra ek toe ek besef ek staar. Skoon geïriteerd met hoe mateloos ek deur kosmaak of deeg knie of goeters inlê in ou mayonnaisbottels, beïndruk word. Nee wat, dis nie nodig nie, en haar glimlag herinner aan ‘n snowflake advertensie met ‘n groot sjokoladekoek en ‘n mooi ma met ‘n ag-dis-niks-skat-uitdrukking op haar gesig. Ek meng net meel, water en gis en die bolletjies rys sommer tjoef-tjaf as mens dit langs die vuur neersit.
Ek verstom my aan die metamorfose, die bolletjie-word, die iets-uit-niks of amper niks en verbeel my dat die maan heilsaam-heerlik deur die bome rys soos Krog se koringmeelbrood-maan in ‘n skoolgedig. Die daaropvolgende week, tydens ‘n daaglikse inkopietog by Spar (‘n onvermoë om prakties en vooruit te dink of lysies te maak), koop ek vir die eerste keer ‘n Idees-tydskrif (al kan ek nie brei, découpage doen of my Ouma se stoel indink as ‘n ontwerpersstuk nie). Dis die “10 van die beste broodresepte” wat my opnuut laat droom van konfyt kook soos 6 maande gelede na my honeymoon in Frankryk, toe ek daad by woord gevoeg het en 6 konfytbottels gaan koop het wat intussen in blompotte en pennehouers verander het. Die aand voor ek aan die slaap raak en vir oulaas wonder of ek die veiligheidshek gesluit het, koester ek die romantiese beeld van my man wat terug na ons huisboot fiets deur Trévoux se herfsstrate met deurmekaar hare, ‘n stoppelbaard en ‘n oondwarm baquette in sy rugsak. My behoefte om ‘n brood te bak is so dringend soos om genoeg te dinge te vind wat my vriendin gelukkig maak sodat sy nie meer prozac hoef te drink nie.
Ek onthou onwillekeurig hoe ons vier kinders met handgemaakte uitrustings – vier variasies van dieselfde lap, gedeps het om die deeg van my ma se vingers te lek as sy beskuit bak. Ook dat ek eenmaal pepperment tipsy tert gehelp maak het vir haar verjaarsdagvriendinne vir tee, en per ongeluk vergeet het om gelatien in te gooi. Om een of ander rede wou my ma daarna eerder hê dat ek by haar in die kombuis sit en gesels as goeters roer of bygooi. Soms sou sy my stories kortknip sodat ek kon help witsous maak – ‘n senutergende affêre: gelyktydig roer en melk-ingooi en die vrees vir klonte! Ek was nog nooit goed met dinge gelyk doen nie, ten spyte van die veralgemening dat vroue veronderstel is om te kan multi-task.
Maar meel herinner ook aan ‘n halwe Sasko-brood in die saamflanshuisie van mense wie se baba in ‘n doekemmer verdrink het, terwyl voorstedelike Bloemfontein ruik na soetworteltjies wat aanbrand en verwelkte seringbloeisels. Ek probeer empaties luister: moenie arms vou nie, leun vooroor, knik, maar my oë bly dwaal na die klam kol op die growwe sementvloer. “Mammie, Mammie”, pluk die kleurlingdogtertjie met die blink ogies en wilde hare en maer armpies soos ‘n township-nimfie aan haar ma se mou. “Kan ek vir die anties ‘n rympie opse?” “Onse Juffrou het ons hierdie week ‘n nuwe ene geleer van ‘n akkedissie. Toe Mammie?” Sy’t nog haar skoolrokkie aan en tol ‘n paar keer in die rondte sodat die rokkie bol bo haar kniekoppies staan. “Nee Koekoes, die tannies is nou amper oppad, hulle het nie nou tyd vir versies nie.” Die vrou sit ver, soos ‘n foto uit die ou tyd op die koningsblou sitkamerstel wat te hoog en te wyd sit – amper Dali-agtig. Ek kan aan niks dink om te sê nie. “Kan ek nie vir julle ‘n teetjie of iets maak nie, spring ek op van die blou bank. “Het jou dogtertjie al iets te ete gehad van vanmiddag af?” “Is julle honger?” “Dit sal vriendelik wees van u. Koekoes gaan wys vir die tannie waar als is.”
Die kombuisie is die plat kant van ‘n vuurhoutjiedosie as die leeukant die huisie is. Daar’s ‘n geroeste tweeplaatstofie vir dik pienk worse kook. Een vir Pa en een vir Koekoes en haar ma. Dit ruik na afval en maak dik skuim in die pot. Daar’s ‘n halwe witbrood en ‘n broodmes met versplinterde hef. Nie een van die vier koppies het ‘n oor nie. Die teesakkies is laasweek s’n. Soos Elisa van die Bybel destyds meel gebruik het om ‘n bredie te ontgif, raak ‘n halwe sasko brood die laaste elastoplast in die pakkie, wat ek anyway plak, by gebrek aan enige iets anders en al is die wond gans te groot. Ek voel naar, maar die dogtertjie blyk onbewus te wees van die stank en speel hop-scotch langs ‘n ry leë bottels op die vloer. “Waar bêre julle die melk Koekoes?” “Ons drink nie melk nie Antie, se sy slim en belangrik.” “Hoeveel brood moet ek sny?” “Pappie eet 4 broodjies, Mammie eet 3 broodjies en ekke eet een broodjie.” Wat eet julle saam met die broodjies vra ek nadat ek die reeks Steers speserybotteltjies teen die muur oopgemaak het en besef het dat dit net vir die mooi is. Sy lag vir my simpel vraag. “Ons eet tee en broodjies en wors!”
Die vrou aan die oorkant eet in stilte en ek vroetel met my beffie wat sê University of the Free State Trauma Unit. Koekoes is klaar geëet en skop aanhoudend met haar been teen die bank totdat sy skielik opgewonde opspring om haar nuutste insig te deel: “Mammie, die baba gaan mos nie vanaand haar broodjie eet nie – dan kan ek mos haar se broodjie eet!”, en sy dans ‘n dansie. “Handjies klap, koekies bak, bring die meel, nie te veel, klits die eiers gou-gou, lekker eet ons nou-nou.” Ongelooflik wat meel kan word dink ek. ‘n Tweede snytjie brood vir ‘n hongerige graad tweetjie wat nie verstaan dat haar sussie vir altyd weg is nie. En met die maan, ‘n gefrommelde tissue in die donker, word ‘n halwe witbrood woorde, wat ek glad wrap in my kop vir later se byroer of invou in ‘n splinternuwe skryfsel. Too fresh to flop.
Dis Vrydagmiddag en ek ‘surf bietjie’ op die NET..Versindaba..Francilie Hoek en ek kry weer lekker lag oor die graad 1 Terminator-seuntjie met die bril waaroor jy skryf..dis n lekker uit die maag uit lag!
Jy kry dit reg om die doodgewone te koppel aan ‘n gebeurtenis uit jou eie ervaring. Die onverwagse spreek tot my
Die wonder van meel beindruk my ook altyd – asof (sommige) mense daarmee kan toor. My ervaring is dat die kok meel en eiers meng en, wanneer ek wegkyk, saggies in die mengsel influister wat van dit verwag word – en dan – die magiese waar die generiese meel-en-eier mengsel transformeer na pannekoek of roosterkoek afhangend van die geheime ooreenkoms (dis of dit, of meel beskik oor die vermoë om te weet wat ons verlang?). En so is die lewe.
Dankie, Francilié.
Wow…!!!
Pragtig! Jou gedigte gee vorm en diepte aan woorde en frases sodat dit oomblikke beskryf asof mens die dinge wat jy noem kan sien en ervaar..