‘n Pleidooi vir die kuns op Oerol (12-06-10)
Aflewering 2
Oerol is ‘n Nederlandse ekwivalent van kunstefeeste soos die KKNK en Aardklop in Suid-Afrika. Dit vind elke somer gedurende Junie plaas. Tien dae lank trek die teaterwêreld na Terschelling. Dit is een van die Wadden-eilanden. Die uitsonderlike natuur word betrek in landskapskuns, beeldende kuns, installasies, musiek en straatteater. Verlede jaar het Stellenboscher Strijdom van der Merwe se landskapskuns op die strand van Terschelling gepryk.
Met die onlangse landwye verkiesings is bevestig wat alle kunstenaars al vir ‘n ruk lank gevrees het gaan gebeur. Vanweë intensiewe besparingsmaatreëls vanaf die owerheid se kant, kom kuns en kultuur in Nederland onder druk te staan. Dit is die eerste sektor waarop besnoei sal moet word. In die verlede (en nou nog) word baie kuns ondersteun deur subsidies vanaf al die plaaslike stadsrade, die verskillende provinsiale rade tot op die groter, landswye rade en stigtings. Nou moet daar gespaar word.
Daarom het die artistieke direkteur van Oerol, Joop Mulder, besluit dat dit “noodsaaklik is om te veg vir kuns en kultuur.” Volgens hom is die krag van Oerol as een van die grootste teater- en musiekfeeste van Nederland sterker as die kragte uit Den Haag. Om dit te ondersteun is ‘n waarskuwing aan die regering gerig in die vorm van ‘n manifes: die Manifes van Terschelling. Die publiek kan op die webwerf van Kunsten ’92 hierdie manifes onderteken.
Daarby het Ramsey Nasr sy poëtiese pleidooi gelewer aan ‘n lid van die Tweede Kamer. Die musiek van Kiteman het die woorde van Nasr begelei in sy gedig: Uit nutteloze noodzaak. Volgens Mulder is Nasr uitgenodig om die gesprek oor kuns nie te laat gaan oor geld nie, maar oor die waarde van kuns en kultuur, want “kuns maak ‘n wesentlike onderdeel uit van ons beskawing”.
Selfs die openingstuk op Oerol het die onafhanklike stem van die kunstenaar beklemtoon. Dit was De Meester en Margarita van die Russiese skrywer Michail Boelgakov, opgevoer op die strand van Terschelling.
Nasr en Kiteman het die jonger geslag kunstenaars op Oerol verteenwoordig. Die voorsitter van die Tweede Kamer, Gerdi Verbeet, het na Nasr se gedig verwys as ‘n “stewige gedig”. Sy hoop dat dit aanleiding sal gee tot ‘n stewige aanpak en positiewe beslissings ten gunste van kuns in Nederland. Hieronder volg die gedig van Rasmey Nasr:
Uit nuttelose noodsaak
laat ons eerlik wees
as dier het ons totaal misluk
ek sien my nog daar staan
op ‘n savanne sonder wegkomkans
in die volle lig van die wild
‘n mond vol tande
baie modern, baie selfbewus
vandag
regeer ons wireless
in ‘n land gebou onder water
met menseregte, koffiemasjiene
en die natuur in mooi diererieme
voel ek nog steeds dieselfde angs
niks het verander
wyds en eindeloos gaap die grasveld
welkom in my kop
dit is ‘n boks vol swart gate
alles wat mens uitdink
suig daarin vas: zeppelins, vakansies
selfveragting, wit fosfor, dildo’s, anorexia
sjokoladevla, dwangneuroses, shalali shalala
of die pret met ‘n gemartelde perd
ook dit wat niemand wil uitdink nie
is daarin: sommerso, vir besit
ek dra my kop as ‘n stremming
swellend, kolkend, heeltyd swellend
altyd hoogwater, nooit weer laagwater nie
geen vyand het vir my oorgebly nie
leeu, griep, pes, slang
selfs die dood slaap aan ‘n leiband
maar diep binne-in
my grabbelsak
daar het ek nog één gekry
splinternuut, self uitgedink
skarrel ‘n vyand
op die bodem van my vrye tyd
sinloos in die rondte
ek noem hom: Ewigheid
suiwer die geleentheid
om daaroor na te dink
het volstaan om hom te skep
gevange soos ‘n rot sit ek
in my stokperdjie, dag en nag
en ek is bang
ek was van plan om ‘n pryslied te skryf
oor die belang van kuns
die groot nut daarvan
maar my bladsy het indrukwekkend stil gebly
en alle muse het gewyk
die waarheid is
dit is nutteloos
kuns is maar ‘n byproduk
mens het dit nie nodig vir
eet, seks en asemhaal nie
maar een ding kán kuns
veg waar ek vlug
my red van die ewigheid
en met één giftige tand
al is dit vir ‘n kort oomblik
dié verlammende gat verlam
by ‘n vyand sonder handvatsel
help net die nuttelose
dan help dit om te kerwe in ‘n been
om bokke te teken in ‘n grot
dan help Die Nagwag
en om te sing by ‘n dooie
uit nuttelose noodsaak
het kuns die mens geskep
en as ek verstyf op my savanne
bedreig deur vrye tyd
as ek myself vervloek
oor hierdie uitsig sonder einde
as my kop breek van die lig
dan huil ek nie, dan skreeu ek nie
ek hang myself nie op nie
maar vat ‘n pen
en skryf hierdie gedig vir u
(Bostaande gedig het verskyn op p.7 in die NRC-Handelsblad van 12/13 Mei 2010.
Die oorspronklike Nederlandse gedig kan op Ramsey Nasr se amptelike webblad gelees word.)
© Carina van der Walt