Die grootste oomblik vir my op my huidige Europese besoek was om saam met Breyten Breytenbach en Gert Vlok Nel in die Nederlandse stad Hengelo op die verhoog te verskyn ter herdenking van die sewentigste verjaardag van Breyten later vanjaar.
Hieroor gaan ek nie skryf nie, Rapport se Boekebylae gaan twee groot artikels oor hierdie heugelike gebeurtenis eersdaags dra. Hou die Augustus- en September-weergawes van die Boekebylae dop.
Vanaf Vrydag 19 Junie tot Maandag 22 Junie het die jaarlikse Internationales Literaturfestival Bremen, ook bekend as Poetry On The Road, plaasgevind.
Dit was ryke ervaring om saam met digters soos Michael Kruger, Hans Magnus Enzensberger en die wonderlike prosagedigskrywer, Michael Augustin, op ’n verhoog te kan verskyn. Al drie hierdie digters is van Duitsland. Enzensberger is ’n legende, en die grand old man van die Duitse digkuns. Hy tree lankal nie meer op die verhoog op nie, maar het vanjaar, uit die bloute, ingestem om by Poetry On The Road voor te lees. Hy is ’n lang man met ’n seunsgesig, selfs nog op tagtig, en met ’n skugter uitstraling ondanks die kragtige, baie “manlike“ aard van sy reëls.
Ek volg nie eintlik Duits nie, wel so ’n bietjie, so ek moes maar raap en skraap wat ek kon wat betref Engelse vertalings op die internet en andersins. Hier en daar het ek my maar aan die stroom klanke oorgegee, soos ’n witwaterwipplankryer.
Daar Ramsy Nasr, die Nederlandse Dichter des Vaderlands, wat my geweldig beïndruk het met sy begeesterde lewerings. Nasr staan effens vooroor gebuk terwyl hy lees, asof hy probeer byhou by sy woorde, agter hulle aanhardloop, agter die ’n stortvloed van beeld en klank aan wat sputterend en wapperend vooruit beur, met die arme digter op sleeptou, agterna.
Op een stadium het hy vir my gelyk soos ’n marionette wat aan onsigbare toutjies genadeloos deur sy woorde rondgepluk word, sy ledemate soos papiere wat in ’n vuur brand.
Baie van die anderstalige digters, soos Nasr en Nora Iuga wat in Roemeens skryf, het hul werk in Duitse vertaling voorgelees. In Nasr se geval het hy darem ’n paar Nederlandse weergawes naas die Duits gelees, so ek was nie heeltemal verlore in my stoel nie.
In my eie geval het ek in Afrikaans voorgelees, gedigte uit my bundel In die geheim van die dag en ’n paar nuwes, met agter my op ’n skerm die Duitse vertalings deur Ulrike Draesner geprojekteer.
Nasr is gedeeltelik van Palestynse agtergrond en die Palestynse lewe en kultuur – ook die oënskynlike sistematiese volksmoord van daardie nasie – speel ’n rol in sy werk en dinkwêreld. Hy is akteur van beroep en sy gedigte put ryklik hieruit.
Poetry On The Road, waaroor die digter Danie Marais ook ’n vers geskryf het, is ’n top fees in Europa. Dis ‘n vooreg om daar te kon voorlees. Die saal was elke aand volgepak.
Die hoogtepunt van die fees vir my was die verskyning van Ernesto Cardenal op die laaste aand van die fees, die vuriglik anti-kapitalistiese priester-digter van Nicaragua. Sy vroeër verse het ’n blywende indruk op wêreldpoësie gelaat, en dis veel meer as bloot aktivistiese gedigte. Sy onlangse gedigte toon ’n insinking. Ondanks die heldeverering vir die man – Bremen is ’n stad wat histories met linkse politieke simpatieë verbind word – was daar fluisterings van „tyd om af te tree“ en „liewers nooit as te laat“.
Maar Cardenal is 85 jaar oud! Die konsert was ’n uur en half lank, nee, langer! Daarna het hy nog energie genoeg gehad om ’n wyntjie of wat te gaan geniet. Klaarblyklik ’n man wat gewoond is aan „die gemeente“ sowel as die Nagmaal. Ek het hom dopgehou, hoe hy die druif proe-proe, asof dit ’n soort heilige water is. Wat dit natuurlik is.
Maar ja, die Duitse gehoor was nie bang om kritiek te lewer nie, selfs op ’n ikoon as dit moes. Cardenal het met sy eie band opgetree, meestal Suid-Amerikaanse uitgewekens veral uit Chile afkomstig. Baie Chilene het hul ná die staatsgreep van Pinochet in 1973 in Bremen kom vestig.
’n Groot deel van die belangstelling vir Cardenal het te doen met sy oënskynlik teenstrydige lewe. Sy lewensdilemma val in dieselfde kader van enigma as dié van Breyten Breytenbach of Majakofski of Lorca, maar natuurlik om heel ander redes as hierdie uiteenlopende digters.
Cardenal is ’n Katolieke priester wat verruklike uitinge kon maak oor sy liefde vir die mensdom. Hy straal daardie liefde uit. Dis voelbaar. Maar hy was ook op sy dag guerrillavegter wat die wapen opgeneem het vir die sosialistiese Sandinistas en die bewind van Nicaragua help omverwerp het. Hy is later ontnugter en het hom van die Sandinista-bewind gedistansieer.
Die voormalige Pous, die een uit Pole, het Cardenal op ’n keer in die openbaar geroskam, met laasgenoemde op sy knieë voor hom oor die priester se steun vir Bevrydingsteologie. Die gebeurtenis is op film vasgelê.
Cardenal is een van die wêreldwye ikone van die Bevrydingsteologie. Sowel as van die sosialisme.
Hy het in Spaans voorgelees, daarna sou ’n Duitse vertaling deur iemand anders gelees word, en dan sou die orkes lostrek, om die beurt.
Dit was ’n uiters memorabele gebeurtenis om mee te maak, veral vir iemand uit Suid-Afrika. Ek het die aand bygewoon met my ou skoolvriend Uwe Hummel, vandag ’n teoloog in Wuppertal, in sy geboorteland Duitsland. Uwe en sy vrou, pas getroud, en ook teoloog, kon in die tagtigerjare nie terugkeer na Suid-Afrika waar Uwe sy grootwordjare geslyt het en waar hy op universiteit ’n anti-apartheid aktivis was. Hy het Duitsland toe gegaan op ouderdom 22 om sy M-graad te doen. En tot onlangs het ek hom meer as 25 jaar gelede laas gesien. Sy vrou is Fillipyns, en onder apartheid het dit beteken “nie-blank“.
Dit was vir my opvallend hoe nuuskierig die ou man (Ernesto Cardinal) is! Hy het van tyd tot tyd homself in sy stoel opgepluk om oor die voetligte van die verhoog te kan loer (die ouderdom het hom maar kort gelaat), die oë op skrefies, na die mense in die voorste rye. Hy het ons een vir een gefynkam. Hy het so bietjie soos my knorrige ou houtwerk-onderwyser gelyk. Ek sou nie sommer van hom verskil, as ek kon verhelp, oor die aard van die sonde nie …
Wié is hulle? Wáár kom hulle vandaan? Waarheen gaan hulle? Hierdie was van die vrae leesbaar op die ou bebaarde gesig.
En miskien was dit van so teen die voetligte inkyk, ek weet nie. Miskien omdat dit laat geword het. Maar ondanks ’n sekere onwrikbaarheid was daar soms trane in sy oë.