Desmond Painter. Die ongeliefde Jean-Paul Sarte

Jean-Paul Sartre

Jean-Paul Sartre

Dit is darem fassinerend hoe intellektuele en skrywers uit die openbare oog kan verdwyn; of, wanneer hulle daar bly, stelselmatig verander word in figure van minagting. So asof hulle nagedagtenis moet boet vir die roem en bewondering wat ons voorheen aan hulle verleen het!

Jean-Paul Sartre is so ‘n figuur. Op sy dag was hy seker die mees beroemde filosoof op aarde, en boonop die eerste en enigste skrywer wat nog ooit die Nobelprys vir Letterkunde van die hand gewys het. Maar is daar iemand wat hom nog lees? Of hom selfs ernstig opneem as skrywer en denker?

Dit blyk asof Sartre die karikatuur geword het van die selfbelangrike, obskure en boheemse Paryse intellektueel; van die tipiese kampusradikaal met sy idealistiese, soms sentimentele en dikwels opportunistiese politieke oortuigings en kwasi-intervensies. Filosofies het hy die absolute teenpool, en selfs die teiken, geword vir feitlik elke intellektuele beweging in Frankryk sedert die strukturalisme van Levi-Strauss. Van regs is hy sedert die 1970’s aangeval as ‘n hardvogtige, siniese ondersteuner van die Stalinisme en ander vorme van totalitarisme en ‘n slagoffer van oordrewe Euro-selfhaat oor kolonialisme. Van links is hy aangeval as beide inkonsekwent in sy marxisme en naïef in sy geloof in menslike vryheid en agentskap.

En as ‘n skrywer van letterkundige werke? In twee artikels oor Camus wat laasjaar in die BY verskyn het maak André P. Brink geen geheim van sy minagting van Sartre nie. Hy noem hom ‘n “blinkboetie” wat neergesien het op Camus se arm herkoms en afgunstig was op sy sukses; ‘n “vername heer” wat “te papbroekig was om self ’n negatiewe resensie te skryf [oor ‘n boek van Camus] en liewer ’n snuiter van ’n student gevra het om Camus namens hom te beswadder.” Brink gaan so ver as om Sartre as ‘n “skeeloog-dwerg” te beskryf, nou nie juis die soort taalgebruik wat spreek van sensitiwiteit oor liggaamlike gebreke nie…

Daar is baie sulke voorbeelde. Minagting, irrasionele woede, agtelose afwysing: Sartre moet in sy graf wens hy kon eerder maar net van vergeet word! In werklikheid is Sartre darem ‘n veel meer komplekse figuur as wat sulke maklike, soms hete verdoeming suggereer. Sartre was ongetwyfeld een van die eerste Westerse filosowe wat ernstig aandag gegee het aan rassisme en kolonialisme — as maatskaplike en politieke kwessies maar ook as inherent aan die Westerse filosofiese tradisie. (In hierdie verband word sy vaderskap van die sg. postkoloniale teorie dikwels ten onregte onderbeklemtoon.) Hy het hom bemoei met die komplekse, dikwels teenstrydige prosesse van dekolonisasie, terwyl denkers soos Derrida en selfs Foucault amper geen aandag daaraan in hulle werk gegee het nie. So kan ‘n mens aangaan; jy hoef nie ‘n eksistensialis te wees of Sartre se vele foute te oorsien om te besef dat hierdie denker en skrywer ‘n beduidende rol gespeel het in die desentrering van ‘n alte Eurosentriese politieke en filosofiese tradisie. 

Octavio Paz het ‘n kritisiese maar waarderende essay oor Sartre opgeneem in sy On Poets and Others, waarin hy onder meer die volgende skryf: “I believe he was not a good traveler: he had too many opinions. His real journeys he took around himself, shut up in his room. Sartre’s candor, his frankness and rectitude, impressed me as much as the solidity of his convictions. These two qualities were not at odds: his agility was that of the heavyweight boxer. He lacked grace but made up for it with a hearty, direct style. This lack of affectation was itself an affectation and could go beyond frankness to bluntness. Nonetheless, he welcomed the stranger cordially, and one guessed he was harsher with himself than with others. He was chubby and a little slow in movement; a round, unfinished face: more than a face, a ground plan of a face. The thick lenses of his spectacles made his person seem more remote. But one only had to hear him to forget his face. It’s odd: though Sartre has written subtle pages on the meaning of the look and the act of looking, the effect of his conversation was quite the opposite; he annulled the power of sight.”

Paz het Sartre persoonlik geken. Hulle het ernstige verskille gehad oor die filosofie, die letterkunde en die politiek, maar Paz se skets van Sartre is nogtans ruimhartiger en mensliker as Brink se minagtende en geniepsige verwysing na Sartre as ‘n “skeeloog dwerg”. Besluit maar self wie jy in hierdie verband bereid is om te glo, Brink of Octavio Paz… 

Indien jy belangstel om ‘n goeie herwaardering van Sartre se politieke denke te lees, spesifiek in die konteks van dekolonisering en die postkoloniale situasie, kan ek Paige Arthur se onlangse boek, Unfinished Projects: Decolonization and the Philosophy of Jean-Paul Sartre (Verso, 2010) van harte aanbeveel. Behalwe dat dit Sartre en ander Franse filosowe se werk polities kontekstualiseer, is dit ook ‘n goeie inleiding tot Sartre se belangrikste politieke geskrifte — onder andere sy veelbesproke inleiding tot Frantz Fanon se Black Skin, White Masks. Ek het baie lanklaas aan Sartre aandag gegee, maar hierdie was regtig ‘n openbarende boek.

Maar sou ek een van Sartre se romans of toneelstukke weer lees?        

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Desmond Painter. Die ongeliefde Jean-Paul Sarte”

  1. Wysneus :

    The wretch, concentred all in self,
    Living, shall forfeit fair reknown,
    And doubly dying, shall go down
    To the vile dust, from whence he sprung,
    Unwept, unhonoured and unsung.

  2. Joan Hambidge :

    Sartre het fenomenale werk gelewer: Being and nothingness (L’Être et le néant : Essai d’ontologie phénoménologique) en ‘n skitterende studie wat ek in my studentejare gelees het oor Jean Genet (Saint Genet) wat in 1952 verskyn het. ‘n Mens moet altyd ‘n filosoof in sy/haar konteks lees en evalueer.
    En net vir hierdie twee insigryke werke, sal ek Sartre altyd bly waardeer. Persoonlike opmerkings oor sy skeelheid, is so irrelevant as verwysings na ortodontiese probleme of gewig.

  3. Desmond :

    Joan, ek stem natuurlik saam. Dit het darem net te maklik geword om hom te beledig! Paige Arthur se boek, waarna ek verwys, is regtig die moeite werd. Dit bekyk eintlik die hele na-oorlogse Franse intellektuele omgewing in die lig van die proses van dekolonisasie en die diskreditering van die kommunisme na Stalin se vergrype bekend geword het. Dit laat ‘n mens opnuut weer kyk na Sartre as ‘n politieke denker, en ‘n vreeslose openbare intellektueel.

    Benewens Being and Nothingness en Saint Genet is daar ook die korter werke, soos Sketch for a Theory of Emotions en The Imaginary, wat steeds die moeite werd is om na te kyk.

    Dankie vir jou kommentaar!

  4. Jaco Barnard-Naudé :

    Sartre se Being and Nothingness is ingegee deur Heidegger se Being and Time. Sartre het laasgenoemde gelees terwyl hy in die tronk was en dit is hoe Being and Nothingness begin het. Jy kan die een nie sonder die ander lees nie en saam dokumenteer die twee werke die denkbewegings van die eksistensialisme. Heidegger en Sartre was mense wat foute gemaak het, dit beteken nie hulle werk is waardeloos en behoort geïgnoreer te word nie.

  5. Joan Hambidge :

    En ja Sartre se werk as
    skrywer moet ook vermeld word: Huis-clos (Geen uitgang). En sy bekende stelling: Die hel is ander mense. (L’enfer c’est les autres)

  6. Desmond Painter :

    Jaco, dankie. In Paige Arthur se boek spandeer sy ‘n hoofstuk aan die diskreditering, sedert die 1970’s veral, van Sartre in die Franse intellektuele lewe. Sommige daarvan was as gevolg van werklike gebreke in Sartre se werk, maar daar was ook “sosiologiese” redes: op ‘n stadium was hy so ‘n oorheersende figuur dat akademiese kapitaal net verwerf kon word deur hom amper volledig af te skiet.

    Maar daar was ook politieke redes, en dikwels konserwatiewe politieke redes. Arthur wys hoe selfs goeie boeke oor Sartre net aandag gee aan sy kommentaar op die USSR, en sy uitgebreide werk oor dekolonisasie en later immigrasie en xenofobie in Frankryk ignoreer. Die interpretasie van Sartre is gekleur deur ‘n soort Koue-Oorlog diskoers, en “totalitarisme” het die retoriese manier geword waarmee nie net sy verdediging van die USSR nie, maar sy betrokkenheid by dekolonisasie, gelykgstel en gediskrediteer is. Sartre was op ‘n manier die slagoffer van ‘n groeiende “Afropessimisme”, ingegee deur die postkoloniale verval van Afrikastate, en vererger in die konteks van postkoloniale immigrasie na Europa.

    Arthur wys uit hoe Sartre in die vroee 1970’s dinge aangespreek het wat vandag nog met mening in die EU gedebateer word: minderheidsregte, multikulturalisme, rassisme. Op hierdie manier heraktiveer sy Sartre se denke, of aspekte daarvan, binne die konteks van ‘n bespreking van postkolonialiteit — en Europa is natuurlik ook nou postkoloniaal. y is nie onkrities nie, maar sy maak dit duidelik dat Sartre nog veel bied.

    Brink se bewondering van Camus (wat ek deel, terloops) maak hom nie net oorkrities op Sartre nie, maar ook blind vir die tekortkominge van Camus se eie idees oor Algeri”e. Sartre is toevallig in sy debat met Camus (oor dekolonisering en geweld) geondersteun deur heelwat ander, onder andere die ewewigtige en briljante Merleau-Ponty.

    Ten slotte, ek het Simone de Beauvoir se outobiografie (twee of drie dele) as student gelees en baie geniet; ook ‘n boek oor Sartre, met gesprekke tussen die twee: Adieux Sartre.

    Dankie vir jou bydrae en insigte.

  7. Desmond Painter :

    O ja, Jaco: ek stem saam oor Heidegger ook. Hy kan natuurlik beslis nie geignoreer word nie, want deur hom vloei nie net Sartre se eksistenialisme nie, maar ook Lacan, Derrida, Foucault, ens. ens. Die hele 20ste-eeude filosofie, eintlik tog. Ek het in ‘n biografie oor Lacan eenkeer ‘n baie amusante beskrywing gelees van Heidegger en sy vrou se besoek aan die Lacans in Parys…

  8. Desmond Painter :

    Joan, ook sy outobiografiese werk, The Words.

    Paige Arthur se boek eindig met ‘n verwysing na ‘n essay wat Derrida geskryf het oor Sartre by geleentheid van die 50ste verjaardag van Les Tempes Modernes. Daarin verduidelik Derrida weereens hoe belangrik dit was vir sy generasie om hulle rug op Sartre te keer. Hy skryf ook dat ons nou afskeid neem van Sartre, sodat ons (tipies Derridiaans!) oor 50 jaar steeds en weer afskeid kan neem van Sartre.

  9. Joan Hambidge :

    Ek ken Les mots. Vir my is Sartre en De Beauvoir twee belangrike (myl)pale in die Westerse denke. Om hulle te probeer verminder, is sotlik.
    Camus is in eie reg goed, maar wat Sartre en Simone de Beauvoir vermag het, kan nooit ontken word nie.

  10. Joan Hambidge :

    Ook Walging – La Nausée – verdien vermelding. Desmond, jy het hier ‘n baie relevante gesprek geopen. Die Ekistensialisme van Sartre (en Absurdisme van Camus) is belangrike strominge om die Modernisme te begryp.
    ‘n Mens kan nooit die tradisie of geskiedenis ontken nie. Dis waarteen jy reageer en skryf.
    Ek waardeer jou blogs geweldig.

  11. Charl-Pierre Naude :

    Baie dankie vir hierdie skrywe, Desmond. Ek moet sê Brink se verwysings na Sartre in daardie artikel het vir my opportunisties en onnodig oorgekom. Maklik om anti-Sartre te wees noudat die tydsgees so simplisties teen hom gedraai het.

    Daardie boek opstelle van Paz kan ek saam met jou onderskryf. aar is niks wat kan instaan vir goeie beskrywing en karakterherskepping. Paz op sy beste doen dit.

    Hierdie was ‘n skitterende blog.

  12. Dankie, julle is baie vriendelik! Ook baie bly ek is die oorsaak daarvan dat Joan en Charl-Pierre oor iets saamstem!!! 🙂 (Jammer, ek’s moedswillig…)

    Ek sien toevallig in ‘n onlangse publikasie dat Robert Young, een van die groot name in die postkoloniale teorie, deesdae veel meer positief oor Sartre se bydrae tot daardie denktradisie en modus van ‘critique’ is as voorheen. Deels, dink ek, omdat Sartre se essays oor kolonialisme onlangs weer in Engels uitgegee is, en hy dit in ‘n nuwe konteks herlees het.

    Ek het ook afgekom op ‘n artikel oor Sartre se soms problematiese en teenstrydige oordele oor die digkuns: ek skryf later ‘n blog daaroor; eers moet ek vir ‘n paar dae Durban toe gaan vir ‘n kongres… Sonskyn en bietjie warmte!

  13. Breyten Breytenbach :

    Lyk mos vir my ek het die vorige (in vergelyking met gister se gesprek na aanleiding van die Nobel) deeglik deurtrapte gesprek oor Camus en Sartre gemis. En dat ek toe ewe kordaat ingespring het met gemeenplasighede toe die onderonsie lankal geskik was. Jammer, Desmond. Jammer ook dat ek op onbesonne manier gaan meedoen het aan ‘n verspotmaking van Sartre deur te verwys na sy strabisme. Asof dit saak sou maak. Het Kierkegaard dan nie ‘n boggel gehad nie? En Borges was blind… en Oom Martin het nie van die lekkerste geruik nie… Mens onthou die vertederende spektakel van Sartre wat Maoïstiese vlugskrifte op straat staan en uitdeel voor ‘n fabriek in ‘n Paryse voorstad tydens die 1968 opstand. Wat dwars in die krop steek is die ideologiese arrogansie van die opgehemelde Paryse ‘openbare intellektueel’ wat dan as ‘denkmeester’ sy diktaat afdwing. (Dit was Bourdieu se lewensgrief en begeerte om soos Sartre erkenning as haan op die mishoop van alleswetendheid te bekom.) Ook op dié gebied het die vervlakking en die verbruikerskultuur van ons tye hulle merk gelaat. Die groot opvolger van Satre (ook vadermoordenaar) is… Bernard Henri Levy…

  •