Om op ver paaie te loop
Costa André Georghiou in gesprek met Johann Lodewyk Marais oor sy jongste digbundel Diorama
* * *
All the arguments to prove man’s superiority cannot shatter
this hard fact: in suffering the animals are our equals.
Peter Singer, Australiese filosoof
Costa André Georghiou het op 18 Augustus 2010 met Johann Lodewyk Marais in Pretoria gesels. Georghiou en Marais het dieselfde jaar aan die Sekondêre Skool Harrismith gematrikuleer en albei aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Georghiou het daarna vir die Departement van Buitelandse Sake gewerk en as diplomaat Suid-Afrika in Hongkong, Griekeland, Suid-Korea en by die Verenigde Nasies in New York verteenwoordig. Tans is hy ‘n dosent in internasionale politiek aan die Universiteit van Johannesburg. UNISA ken in September 2010 ‘n doktorsgraad in internasionale politiek aan hom toe vir sy proefskrif oor die Amerikaanse politieke wetenskaplike Samuel P. Huntington. Georghiou is ook ‘n bekende klavier- en orrelspeler en werk tans aan sy eerste digbundel.
Georghiou: Johann, dit is vir my ‘n voorreg om hierdie vrae aan jou te stel na aanleiding van die publikasie van jou sewende en jongste digbundel, Diorama (2010). Ons het albei ver paaie geloop oor hierdie “dioramiese” aardbol en het nou meer vrae as ooit tevore.
Baie van jou gedigte herinner ‘n mens nogal aan die werk van ‘n bioloog of ekoloog. Dit kom weer eens in Diorama na vore. Vanwaar jou groot liefde vir die natuur?
Marais: Hoewel ek in Johannesburg gebore is, het ek my eerste twaalf jaar op ‘n plaas in die distrik Harrismith deurgebring waar my ouers geboer het. Wanneer ek oor myself praat, moet ek gewoonlik met hierdie woorde begin! Daarna het ek op Harrismith skoolgegaan waar ‘n mens min of meer altyd Platberg uit die hoek van jou oog kan sien, terwyl die Drakensberge natuurlik nie ver daarvandaan is nie. Hierdie landelike wêreld het nie noodwendig van almal natuurliefhebbers gemaak nie. Is Rocco de Villiers byvoorbeeld ‘n natuurliefhebber? Ek is van vroeg af aan die wisselende seisoene, die strawwe winters, die oostewind van Natal af en die ryk fauna en flora blootgestel. Ek het baie herinneringe aan relatief gelukkige kinderjare.
Nadat ons op die dorp gaan woon het, het my belangstelling in die natuur voortgeduur. In standerd nege het ek ongelukkig nie biologie as vak gekies nie, wat ek gou daarna bitter berou het. Dit het as ‘t ware my kanse om dier- of veeartsenykunde te gaan studeer die nekslag toegedien. ‘n Keer het ek oorweeg om ‘n veldwagter te word, maar van die plan afgesien nadat ‘n vriend, Bernhard Fourie, volgehou het ‘n mens moet eers ‘n polisieman word voor jy by natuurbewaring kan “inkom”. Hy is ‘n neef van Arnold Schreiber, een van die Nasionale Krugerwildtuin se legendariese veldwagters. Ek het nie vir vier jaar in die polisie kans gesien nie.
Gelukkig het ek van jongs af heelwat oor die natuur en mense in die natuur gelees. Aanvanklik was dit die werk van skrywers soos Eugène N. Marais, P.J. Schoeman, Sangiro, Jan J. van der Post en Evert F. Potgieter, maar na my universiteitsjare ook buitelandse skrywers soos Konrad Lorenz, Richard E. Leakey, Jane Goodall, Diane Fossey, Biruté M.F. Galdikas, Cynthia Moss, Anne Rasa, Joyce Poole, Frans de Waal en Iain Douglas-Hamilton. My proefskrif oor Marais se wetenskaplike prosa het binne hierdie belangstellingsfeer beslag gekry.
Vandag het ek talle veldgidse, ‘n verkyker, teleskoop en twee mikroskope waarmee ek die wonder van die natuur probeer bestudeer. Dit is daarom seker te verstane dat ek gevoelig sal wees vir die baatsugtige wyse waarop die mens met die natuur omgaan en hoedat ons vervreem en verwyder geraak het van die omgewing waarin ons leef. In die gesprek wat in Suid-Afrika oor die ewolusie gevoer word, is dit opvallend hoedat dikwels aan die mens ‘n unieke posisie totaal verhewe bo alle ander lewende wesens op aarde toegeken word. Ja, as mens is ek “weinig minder as ‘n goddelike wese” (Psalm 8:6), maar ook trots daarop om een van die primate te wees.
Georghiou: Soos die titel aandui, volg jou nuwe bundel ‘n meer holistiese benadering. Daar is ook baie elemente van “selfbepeinsing”. Dis amper vir my asof jy in jou latere gedigte, en veral nou in Diorama, ‘n meer postmodernistiese benadering begin volg. Jou vroeëre gedigte het oor diere, plante, artefakte en plekke gehandel – dus meer sintuiglik. Ek sien al hoe meer verwysings na spesifieke persone (kyk afdeling VI) en na jouself, na die “ek” (kyk byvoorbeeld “RIV”); dus ‘n selfbewuswording in jou gedigte. Jou kommentaar?

Marais: As ‘n kind van my tyd is daar sekerlik elemente van die postmodernisme in my werk. Wat die selfbewuswording betref, glo ek wel dat ek reeds in Palimpses (1987) my daarmee besig gehou het. Ek beskou my bestaan in ‘n toenemend wyer verband. Aanvanklik was die plaas in die distrik Harrismith die middelpunt van my bestaan, maar ek het geleidelik meer met Suid-Afrika en Afrika kennis gemaak. Ek is ‘n mens van Afrika en moet daarvan rekenskap gee. Die mense na wie ek in my werk verwys is meestal besondere mense oor wie ek gelees het of wat ek die voorreg gehad het om te ontmoet. Waar my mede-Tagtigers veral oor mense in die vermaaklikheidswêreld geskryf het (Johann de Lange het weliswaar uitstekende gedigte oor diere in sy oeuvre), het ek my tot François le Vaillant, Charles Darwin, Phillip V. Tobias, Joy en George Adamson, Richard E. Leakey, Jane Goodall en ‘n klompie ander gewend. In my laai is nuwe gedigte oor Nelson Mandela, die vermoorde Keniase politikus Tom Mboya, Mahatma Gandhi en nog enkele ander. Ek sou wou glo dat ek nie digterlik stagneer nie!
Georghiou: Dink jy daar is toenemend ‘n vervreemding tussen die mens en sy beskouing van hom-/haarself en hoe hy/sy deel uitmaak van die natuur/omgewing?
Marais: Ongetwyfeld. Sedert die Industriële Rewolusie staan die mens grootliks ongevoelig teenoor die natuur. Filosowe soos Martin Heidegger, Hans Jonas, Marthinus Versfeld, J.H. van den Berg, Murray Bookchin, James Lovelock en Peter Singer het op die negatiewe gevolge van hierdie vervreemding gewys. Die mens is ‘n hoogs arrogante spesie wat sy eie oorlewing en welvaart ten koste van ander lewe op aarde wil voortsit. Ons dade teenoor die omgewing skrei ten hemele.
Georghiou: Dit is asof jy in jou gedigte bykans deurentyd jou besorgdheid oor die aftakeling van die natuurlike omgewing aan jou lesers wil uitwys; ‘n soort profetiese blik op wat met die aarde gaan gebeur. Diegene wat jou gedigte lees, is dalk reeds “oorreed”. Maar gaan dit enigsins ‘n impak hê op die menigtes daarbuite wat nie vir die omgewing “omgee” nie.
Marais: Ek is nie heeltemal so seker dat al my lesers al bekeer is nie. Daarvoor is te veel van ons (en dit sluit my dalk ook in) aandadig aan die verkwisting van die aarde se natuurlike hulpbronne. Die bewusmakingsproses het nog ‘n hele pad om te loop. Ideaal gesproke behoort meer oor kwessies geskryf te word wat nie in my poësie aandag kry nie. Jou vraag impliseer waarskynlik ook of die poësie as genre by “die menigtes” sal kan uitkom. Die poësie is weliswaar ‘n betreklik esoteriese genre, maar dit het die vermoë om stadig maar seker na die breë publiek deur te werk. ‘n Enkele gedig in ‘n skoolbloemlesing kan ‘n ontvanklike leser se verbeelding prikkel. Daardie soort ontvanklikes het die potensiaal om ‘n verskil in die gemeenskap te maak (en hulle hoef nie digters of letterkundiges te word nie!).
Georghiou: Die mens se kultuur kom dikwels in opstand teen die natuur. Dink maar aan die slag van diere vir godsdienstige seremonies. Is die behoud van die mens se kultuur nie net so belangrik soos die behoud van die natuur nie?
Marais: Kultuur is belangrik en dit is ons taak om dit te bewaar. Kultuur bly egter nie staties nie en met verloop van tyd raak ons ontslae van sekere gebruike wat eens groot waarde vir ons gehad het. ‘n Masaiman hoef in Kenia en Tanzanië nie meer ‘n leeu dood te maak om sy manlikheid te bewys nie, terwyl die Kataloniërs besluit het om ‘n verbod op stiergevegte te plaas. Ongelukkig word sekere kulturele gebruike nog voortgesit en ons betaal ‘n duur prys daarvoor. Dink maar aan Oosterlinge se opvatting dat renosterhoring ‘n seksstimuleermiddel is, en die eet van walvisvleis in Japan ten koste van die voortbestaan van sekere walvisspesies in die Suidelike Oseane en bosvleis (soos verskillende soorte ape) in tropiese Afrika. Ja wat, ons kan maar van sekere gebruike afstand doen. Godsdienstige seremonies as sodanig het egter waarskynlik ‘n veel kleiner invloed op die uitwissing van spesies as ander praktyke.
Georghiou: Adrian Mitchell skryf: “Most people ignore most poetry / because most poetry ignores most people.” Wat dan is vir jou die nut van die poësie?
Marais: Hierdie vraag word waarskynlik die beste in my gedigte self beantwoord. Daar waar die leser my poetika in en tussen die reëls kan lees. Maar goed, om poësie te skryf het vir my betekenis as deel van ‘n leerproses (byvoorbeeld oor die gedrag van diere), historiese verslagdoening (byvoorbeeld oor my familiegeskiedenis), bewusmaking (byvoorbeeld oor die wonder van lewe om my) en ‘n geheime kode (byvoorbeeld oor die liefde) om na mense na aan my uit te stuur. Dit is ook ‘n medium wat besondere dissipline, strukturering en toewyding verg. ‘n Mens is maar te bly indien daar lesers is wat iets van waarde in die gedigte vind. Ek was nog altyd ontroer oor hoe my Harrismithse lesers of mense wat saam met my navorsing in die Laeveld gedoen het op my gedigte reageer. Kortom, die poësie is ‘n belangrike faset van kultuur. Groot digters soos Federico Garcίa Lorca, T.S. Eliot, Martinus Nijhoff, Pablo Neruda en N.P. van Wyk Louw is spilfigure in hulle onderskeie kulture en oefen groot invloed uit.
Georghiou: Daar is talle Bybelse verwysings in jou gedigte, byvoorbeeld na ‘n “Hemelse Vader” (byvoorbeeld in Aves, 2002) en “God het gesien dat alles goed is” (“Kleinstreepswael” in Diorama). Tog verwys jy gereeld na ewolusioniste soos Charles Darwin (in Aves), Phillip V. Tobias en Richard E. Leakey (albei in Diorama); asook na Sterkfontein waar belangrike opgrawings oor die oorsprong van die mens gedoen is. Veral “Jane Goodall” in Diorama dui op hierdie tweeledigheid. Hoe vereenselwig jy hierdie twee uitgangspunte?
Marais: Gegewe dat my Bybelse verwysings werklik betekenis het en my werk ook ‘n Darwinistiese inslag het, kan dit inderdaad lyk asof hier van ‘n “tweeledigheid” sprake is. Richard Dawkins en ons eie George Claassen sal waarskynlik van mening wees dat dit vanuit ‘n natuurwetenskaplike oogpunt onhoudbaar is. Laat dit maar so wees.
In my poësie is weliswaar van vroeg af ‘n bemoeienis met die Christelike godsdiens aanwesig, terwyl selfs in my bundels oor die omgewing ‘n hand vol gedigte voorkom waarin ek my met die Christelike godsdiens vereenselwig en bepaalde persoonlike keuses in hierdie verband gemaak het. Gaan kyk maar wat staan in “Die besoek” (in By die dinge, 1989). Ek het in ‘n Christelike huis grootgeword en ek streef nog altyd hierdie waardes na. Maar hoe nou gemaak met die invloedryke Darwinisme wat (gewoonlik?) geen plek aan God gee as die skepper van hemel en aarde en ‘n bemoeier met die mens nie?
Verlede jaar het ek vir Tydskrif vir Geesteswetenskappe (jaargang 49, nommer 4, Desember 2009) ‘n artikel oor onder meer die Darwinisme in T.T. Cloete se poësie geskryf. Dit het my oor die jare heen opgeval dat die leser toenemend met dieselfde “tweeledigheid” in Cloete se werk gekonfronteer word. Ek wou klarigheid hieroor kry. Die artikel was ‘n poging om te sien hoe hierdie digter met sowel ‘n Bybelse as natuurwetenskaplike belesenheid skryf en hoe hy as Christen (soms “omstrede”) wetenskaplike kennis benut.
Dit is ‘n uitdaging om denkend met sowel wetenskaplike kennis as God se rol rekening te hou. As sosiaalwetenskaplike by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het ek self ervaar hoedat hierdie kennis nie onfeilbaar is nie en hoedat ons krities na die waarheid moet bly soek. In ‘n volgende bundel kan my posisie in hierdie verband dalk duideliker word.
Georghiou: Ek sien “Bosvark” het ‘n verwysing na André P. Brink. Dit laat my terugdink aan ons ontmoeting met hom op 28 Oktober 1974 op Harrismith. Dis asof dié ontmoeting (en later ons bywoning van Breyten Breytenbach se verhoor) ons op skool as “outsiders” geëtiketteer het. Jou kommentaar?
Marais: Brink was in die Oos-Vrystaat om by te wees toe die rolprent Somer gemaak is. Hy het die draaiboek na aanleiding van C.M. van den Heever se (uitstekende!) novelle met dieselfde titel geskryf. Ná die verfilming het hy en sy gesin een aand in die Holiday Inn op Harrismith tuis gegaan. Daar het oom Polly du Plessis, wat getroud was met jou musiekonderwyseres, hom toevallig ontmoet en na julle huis toe genooi. Jy het gebel en gesê daar is “iemand wat my graag wil sien” (sic). Ek was totaal oorbluf toe ek Brink in julle sitkamer aantref, al was ek half gewoond daaraan om interessante en bekende mense by julle “huis van die vier winde” te ontmoet.
Brink se besoek het helaas ‘n nadraai gehad. Ek het kort daarna ‘n besoek van ‘n lid van die Buro vir Staatsveiligheid ontvang. Hy het kom uitvis oor Brink se besoek en my opstel, “Vensters”, waarin ek onder meer geskryf het oor Ahmed Timol wat by John Vorster-plein van die tiende verdieping af itgespring het. Hy wou weet of daar dalk iemand is wat my beïnvloed. Bid jou aan! Ek is ook gewaarsku dat ek voortaan dopgehou sou word, wat wel gebeur het. Ná Brink se besoek het ek geweet selfs ‘n dorp soos Harrismith is vol informante.
Brink se besoek en my opstelle het my inderdaad as ‘n “outsider” geëtiketteer. Dit het ook my belangstelling in die letterkunde verder geprikkel en my laat besluit om in hierdie rigting te gaan studeer. Vandag is ek wel dankbaar ek en jy kon reeds in standerd nege kritiese stemme laat opgaan oor die soort diskriminerende samelewing waarin ons ons bevind het. Dalk het ek nie genoeg van my kant af gedoen om die stryd teen apartheid te stry nie, maar tydens my laaste twee skooljare was my posisie duidelik en ek was bereid om op my standpunt te staan. Ek en jy was, na my wete, die eerstes wat reeds op skool op Harrismith die oortuiging gehad het om dit te doen.
Georghiou: Na aanleiding van “Kameelperd” (oor plaasbesetting in Zimbabwe), “muti shop” in “Gifbol” en gedigte soos “Plaasaanval” en “Grondsake” wonder ek of die politieke probleme van Afrika ooit vir ware kontinentale besorgdheid oor die aftakeling van die omgewing sal kan plek maak. Voer ons nie maar ‘n verlore stryd in dié opsig nie, soos om ‘n “kolletjie gifblaar” (in “Gifblaar”) te probeer toespan?
Marais: Mense is in Afrika net so wreed teenoor diere as wat hulle teenoor mense is. Die konflik in onder meer Angola, Mosambiek en Zimbabwe het ewe veel tragiese gevolge vir die omgewing as vir die mense van dié lande gehad. Die AK47 en die R1 het ook miljoene diere doodgemaak. Gelukkig is daar in Afrika ook mense wat hard werk om ‘n besorgdheid oor die aftakeling van die omgewing te kweek. Iemand soos die Nobelpryswenner vir Vrede, Wangari Maathai (wie se woorde ek as motto voor in Diorama gebruik), het in Kenia met haar Green Belt Movement miljoene bome geplant en is daar wyd bekend. Ook talle ander individue en organisasies leer die mens om in harmonie met sy omgewing te leef. Vanselfsprekend behoort die kunste ‘n groter rol te speel om mense bewus te maak van hoe belangrik die omgewing is. Ons het met die Afrikaanse letterkunde baie gedoen om van apartheid ontslae te raak, maar ons protesteer nog nie hard genoeg oor wat besig is om met die omgewing te gebeur nie.
Georghiou: Ten slotte, Johann: Volgens Jeremy Reed (in sy essay “The angel of poetry”) “we demand more of the poem than a social conscience”. Dink jy jou gedigte voldoen aan hierdie vereiste?
Marais: Daaroor sal my lesers moet besluit, maar ek hoop tog wel so. Ek sal graag wil hê dat ek vanuit ‘n beskeie perspektief bygedra het tot bewuswording van die implikasies van ons teenwoordigheid op hierdie tragiese dog wonderlike kontinent. Ek beskou myself as ‘n bevoorregte en geseënde mens om enkele aantekeninge hier aan die suidpunt van Afrika te kon maak.
***
Die groot geweerkenner, Lucas Potgieter, skryf in die skets, “Sy ander kant”, in die bundel Fonteintjies langs my geweerpad (1976) insiggewend oor G.A. Watermeyer, “die mens, die jagter en die liefhebber van pragtige gewere” (p. 135).
(1)Ja, Daniel, ek het veralgemeen. Die saak het nuanses. Ek is egter steeds van mening dat my mede-Tagtigers dikwels oor skrywers, skilders, vermaaklikheidskunstenaars en ander openbare figure geskryf het. Dit is goed so. Ek het geen probleem daarmee nie.
In die betrokke gedeelte van die onderhoud het ek dit nie uitsluitlik oor die “groen” gedagte gehad nie. Francois le Vaillant en Charles Darwin was/is nie “groen” nie.
(2) Dis interessant dat C. Louis Leipoldt en G.A. Watermeyer nou skielik “groen” is. Ek dink nie hulle was nie. Die gesprek oor die omgewing, wat veral sedert die 1960’s wereldwyd gevoer word, het bepaalde intellektuele en ideologiese inhoude. (Terloops, Stephan Bouwer het ‘n keer ‘n omgewingsonvriendelike resensie oor een van my omgewingbloemlesings geskryf.)
(3) Ek het nie ‘n “bee in the bonnet” oor die “groen ding” en veral oor my eie bydrae nie. Soos die ander Tagtiger, Koos Prinsloo (ten opsigte van die sogenaamde grensliteratuur), verkies ek om nie gestereotipeer te word nie.
Ja, veral Watermeyer met “Ballade van die bloedorstige jagter”. Saam met “Tram-ode” van Uys Krige was dit my gunstelinggedig op skool.
Daniel, net soos jy het ek ‘n probleem met hierdie stelling van Johann Lodewyk Marais. Ek vermoed darem dat hy dit tong-in-die-kies bedoel het. Die hele groen-kwessie is tog ‘n baie ou ding in ons digkuns. Dink maar aan Leipoldt, Van den Heever en Watermeyer.
Gerhard,
Hennie Aucamp word soms die “vader van die Tagtigers” genoem. (Soos wat Uys Krige bekend staan as die “vader van die Sestigers”.) Dankie vir die belangrike byvoeging van Stephan Bouwer en Hennie Aucamp (vir sover hy dan wel deur Johann Lodewyk as “mede-Tagtiger” beskou word).
Net so, Daniel. Maar ons moet ook nie vergeet van Stephan Bouwer nie. Hy was by uitstek die digter van die vermaaklikheidswêreld. En Hennie Aucamp? Is hy ‘n tagtiger?
“Waar my mede-Tagtigers veral oor mense in die vermaaklikheidswêreld geskryf het (Johann de Lange het weliswaar uitstekende gedigte oor diere in sy oeuvre)…”
Dit is nogal ‘n kwaai veralgemening dié, Johann Lodewyk. Dit geld sekerlik nie vir die poësie van Lucas Malan, Etienne van Heerden, Peter Snyders, André Letoit, Louis Esterhuizen en ander nie. Eintlik is dit maar net Joan Hambidge en T.T. Cloete wat oor vermaaklikheidsmense geskryf het, en dan maak dit ook nie eens die meerderheid van hulle gedigte uit nie. Dit is waar dat die groen gedagte maar stadig posvat by ons digters – maar weer wil ek vir Lucas Malan uitsonder. Net soos Johann de Lange het hy lieflike gedigte oor diere (en plante) geskryf.
Dankie, Joan. Inderdaad ‘n knap bundel. So ook die resensie.
‘n Resensie van my het gister op die boekeblad van Die Burger verskyn. Dis ‘n knap bundel. Joan
Sedert sy debuut, Die somer is ’n dag oud, wat bekroon is met die Ingrid Jonker-prys, het die digter Johann Lodewyk Marais omgewingspoësie begin ontgin en ’n bundel ter viering van Marais se “Winternag” gepubliseer, naamlik Honderd jaar later.
Hy skryf gereeld oor die figuur Eugène Marais, veral op die Versindaba-webruimte. Hy het ’n doktorale proefskrif oor Marais se wetenskaplike en natuurprosa voltooi.
(Terloops, op die publisiteitspamflet word na “Wintersnag” verwys). Daar was ook ’n reisboek oor Mosambiek en versamelbundel oor ekologiese gedigte: Ons klein en silwerige planeet (saam met Ad Zuiderent).
Die jongste bundel heet Diorama en is ’n voortsetting van die bundel Aves wat oor voëls gehandel het.
Die outydse voorblad is deur Thomas Baines (Herd of buffalo, opposite Garden Island, Victoria Falls, 1862).
“Diorama” dan in die sin van die skaalmodel van ’n landskap of historiese momente. Die digter nooi dan ook die leser in die programgedig uit: “Ek wil in my gedig ’n wildtuin skep // en jou uitnooi om ’n besoek te kom bring”.
En wat ’n uitnodiging is dit nie! Die leser beleef ’n springhaas, maar terselfdertyd word dit ’n meditasie oor die skryf van ’n gedig. In die vers oor ’n “Streepmuis” word die onmoontlikheid van die proses vergelyk met die vang van ’n streepmuis en die bladsyverwysings na die boek waarin jy moet blaai, dui op die intertekstuele proses van sowel die skryf as die lees van ’n gedig. (In “Rooiduiker” byt die gedig in die stof!)
Soos dit ’n goeie digter betaam, is die gebruik van ou patrone nie aan hom onbekend nie, soos in die voortreflike, “Gevlekte hiëna”, ’n soort villanelle, met sy herhaling van twee reëls en die gebruik van twee rymklanke. Heel vlot beweeg hy dan na die kwatryn met “Luiperd”.
Later is daar ’n handvol haikoes. Marais se digterlike handtekening is om met die gestroopte vers te eksperimenteer en “Wildehond” bewys hoe goed hy dit kan doen. Die “fyn besonderhede” van die optekening is opvallend en die digter maak opwindende poësie oor wilde diere en plante.
Daar is toespelings op bekende gedigte en ’n grappie oor die “Okapi” wat bloot as “Aha!” aangegee word. Met die konkrete voorstelling word ook geeksperimenteer in “Rietduiker” waar die uitgespreide vlerke oor die bladspieël staan.
Marais het in sy debuut, Die somer is ’n dag oud, aangrypende verse oor sy jeug geskryf.
In hierdie bundel keer hy terug na die landskap van sy jeug: Nou is daar plaasmoorde en aanvalle. Die tuin van Eden is aangetas. Só beskou word die dioroma dan verteenwoordigend van sy digkuns én persoonlike ontwikkeling. Die beeldgedigte is suiwer: ’n Mens kry ’n portret van ’n bekende soos Jan Smuts, Richard E. Leakey, Jane Goodall en andere. Dit word egter nie dordroë navorsingsgedigte nie, maar verse wat ontroer en tref. Tobias maak ook ’n draai hier en selfs Saartje Baartman is verikoniseer.
Daar is uitstekende verse in die bundel, soos “Die brein” en “Springhaas”.
Die gesprek met Van Wyk Louw, soos die debuuttitel en die bundel oor die omgewingsgedigte suggereer, word in die gedig “Ex unguine leonem” voltrek. Daar is gestaltes en diere in hierdie voortreflike, netjies afgewerkte bundel.
Die spel tussen verhulling en onthulling word deurgaans goed hanteer.
PROTEA BOEKHUIS, PRETORIA. (SAGTEBAND, 88 BLADSYE.)
Joan Hambidge is ’n professor in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.
Onderwerpe: