Die sesde Versindaba word op 17 en 18 September vir die eerste keer onder die vlerk van die US Woordfees op Stellenbosch aangebied. Dié jaarlikse gebeurtenis op die Afrikaanse poësiekalender is in 2005 deur die Stellenbosse digters Louis Esterhuizen en Marlise Joubert op die been gebring.
Poësie-liefhebbers kan uitsien na interessante aanbiedinge en hulle verlustig in die teenwoordigheid van opwindende digterstemme in Afrikaans. Die internasionaal gevierde Marlene van Niekerk bied op 17 September ʼn kollokwium getiteld “Brief aan Suid-Afrika” aan namens die US se Departement Afrikaans en Nederlands. Sy het digters soos Loftus Marais, Marius Crous, Diana Ferrus, Louis Esterhuizen, Melt Myburgh en Petra Müller genooi om ʼn variasie, herdigting of vertaling van ʼn Allen Ginsberg-gedig te skryf en aan te bied as ʼn brief aan Suid-Afrika. Breyten Breytenbach het reeds ʼn gedig gestuur wat deur Antoinette Kellermann voorgelees sal word. Toegang tot die kollokwium, wat op 17 September om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum plaasvind, is gratis.
ʼn Digtersgala by die Lanzerac Hotel se Kelder beloof om groot aandag te trek. By dié spoggeleentheid, aangebied deur Politika-Uitgewers en mev. Caro Wiese, sal voorste digters soos Marlene van Niekerk, Tom Gouws, Johann Lodewyk Marais, Joan Hambidge en Louis Esterhuizen optree. Hulde word gebring aan veteraandigter M.M. Walters, wat vanjaar sy 80ste lewensjaar vier. Gesoute stemkunstenaars Johann Nell en Elsabé Daneel dra verse voor van Breyten Breytenbach, Fanie Olivier, Lina Spies, Kobus Lombard en Hans Pienaar. Lize Beekman sorg vir musiek en die Protea-prys vir Poësie word die aand oorhandig.
Die Dana Mouton-gedenklesing word vanjaar vir die vyfde keer aangebied deur Joan Hambidge, bekroonde digter en professor in Kreatiewe Skryfwerk aan die UK. Die titel: “Die digteres as Lorelei: Ingrid Jonker se tweede lewe in enkele verse van Johann de Lange.”
Jong Afrikaanse gesigte gaan opval by die Versindaba se dagprogram wat Saterdag die 18de in die historiese Ou Hoofgebou aangebied word. Die US Woordfees se WOW-projek open woordwêrelde vir sowat 250 laerskoolleerders met twee werkswinkels wat aangebied word. Die WOW Woelige Werkswinkels leer laerskoolkinders om gedigte te skryf, dit voor te dra en lirieke daarvan te maak. Graad 1 tot 5-leerders word by ʼn Verf en Vers-werkswinkel touwys gemaak in tegnieke om kunswerke met woorde en verf te skep. Hulle leer boonop om self goedkoop verf te maak vir hul eie vingertekeninge. Dié werkswinkels word aangebied met die ondersteuning van die ATKV.
ʼn Interessante groep jeugdigters uit Scottsville, ʼn woonbuurt naby Kraaifontein, tree by Versindaba op. Met die jarelange onderskraging van Thérèse Hulme het ʼn aantal tieners met aangrypende verse vorendag gekom wat gepubliseer is in die bundel Piemp. Hulle vertel hul inspirerende verhaal aan Fiona van Kerwel van die US Woordfees se Woorde Open Wêrelde-projek.
By die Lanzerac se Kelder wys studentedigters uit die Wes-Kaap hul slag met Verras!, ʼn loslit geleentheid waar gedigte voorgelees word. Lize Beekman deel ʼn podium met jong, opkomende sterre: André Trantraal, Fourie Botha, Pieter Odendaal, Lee-Ann Stone, Pieter Botha, Karen Kuhn, Pieter du Toit en Aniel Botha. Lede van die publiek is ook welkom om hul verse van dié podium te laat hoor.
Kraakvars! is ʼn program waarin digters wat die afgelope jaar gedebuteer het, hul stemme laat hoor. Ronel de Goede stel vir Melt Myburgh (Oewerbestaan) en Martina Klopper (Nadoodse ondersoek) voor saam met die volgende Nuwe Stemme 4-debutante: Willem Jansen, Pieter Hugo, Bibi Slippers, Marius Swart, Lewies Botha, Annie Klopper en Jannie Malan. Niël Rademan en Rika Vermeulen wys by dié geleentheid hoe heerlik gedigte neerslag kan vind in kabaret en musiek.
Antjie Krog se teenwoordigheid beloof om, soos altyd in die verlede, ʼn hoogtepunt te wees. Sy tree op saam met Koos Oosthuysen, wie se vertaling van Afrikaanse, Engelse en Nederlandse gedigte in Xhosa, onlangs as Twintig verse in vertaling gepubliseer is. Dié twee het gehore al dikwels rasend gehad met hul meeslepende voorlesings in Xhosa en Afrikaans.
ʼn Samestelling van Uys Krige se briewe, Briewe van Uys Krige uit Frankryk en Spanje, word die Saterdagoggend om 09:00 in die Ou Hoofgebou bekend gestel. Uitgewer Petrovna Metelerkamp gesels met Peet van Aardt, oud-student van prof. John Kannemeyer, oor die briewe van een van die kleurrykste en bemindste karakters wat die Afrikaanse poësie ooit geken het. Nic de Jager sal van Krige se briewe en gedigte voorlees.
Die ontslape digter Wilhelm Knobel sou vanjaar 75 geword het. Sy broer, Deon, en dr. Marius Crous van die NMMU, bring hulde aan die digter met ʼn oorsig van sy werk en sy lewe. By dié geleentheid in die Ou Hoofgebou op die Matie-kampus sal Wilhelm Knobel se dokumente en manuskripte amptelik aan die J.S. Gericke-biblioteek se Dokumentesentrum oorhandig word.
Amanda Botha tree later die dag in gesprek met prof. Wium van Zyl van die UWK en Etienne Bloemhof van NB-Uitgewers. In dié boeiende gesprek gesels Botha, verantwoordelik vir die nagelate werk van Sheila Cussons en I.L. de Villiers, met haar gespreksgenote oor die besluite waarvoor ʼn letterkundige kurator te staan kom met veral ongepubliseerde en onvoltooide werk van ontslape digters.
Protea Boekhuis publiseer vanjaar weer ʼn bundel waarin van die deelnemers se werk opgeneem is – Versindaba 2010. Dié publikasie is binnekort beskikbaar by alle goeie boekhandelaars.
Die volledige Versindaba-program kan reeds op LitNet en www.versindaba.co.za gelees word. Besprekings open op 1 September by Computicket: skakel dan 083 915 8000 of besoek www.computicket.co.za. Kaartjiepryse wissel tussen R30 en R50 en ʼn dagkaartjie wat toegang bied tot alle aanbiedings is beskikbaar teen R120.
2010 se Versindaba word moontlik gemaak deur die ondersteuning van mnr. Jannie Mouton, Naspers, Politika-Uitgewers, Protea Boekhuis, Fonds Neerlandistiek, die US en sy Departement Afrikaans en Nederlands, die ATKV, Lourensford, Lanzerac, Distell en die wynmaker, Teddy Hall.
Uitgereik deur die US Woordfees.