My kop vol musiek. Ou, ou, ou musiek – uit my jeug. Daardie kasset wat André Letoit destyds met ʼn geleende kitaar by Shifty Records gaan opneem het.
Ek is ʼn Afrikaner in die stad
Ek dra my masker soos ʼn kat
Deur donker stegies en geboue
Vat vyf, by broer vat vat
Wat laat my aan Letoit en “Boer in Beton” dink? Op die kampus is daar plakkate met Paul Kruger se gesig op, deur die jeugafdeling van een van die politieke groeperinge opgehang. Hulle maak ʼn betoog vir “Christelike waardes”, “Afrikaans” en “hoë standaarde”.
En iewers in my onderbewussyn
Sien ek nog die Karooson skyn
Hoor ek die grensdrade se gesing
Voer ek die kabouters in my tuin
Ek haal nou die dag ʼn ou atlas van die rak af. Daarin is Suid-Afrika nog nie ʼn Unie nie. Botswana is nog ʼn protektoraat genaamd “Bechuanaland” en Namibië heet “German South West Africa”.
Ek rook ingevoerde fags
Ek lees Engelsprekende mags
Ek gaan nooit kerk toe
Want dis ʼn drag
Want ek’s boer in beton
Soos Oom Paul op ou Kerkplein
Niemand weet van my pyn
Want ek is goed vermom
Ek is ʼn boer in beton
Op die boekrak, naby die atlas, is daar ʼn ou digbundel van Van den Heever. Dis met krammetjies aanmekaargeslaan. Die krammetjies roes. Ek hou van die titelblad, die drukwerk en ontwerp is amper nog Art Nouveau.
Iewers in my klink die stem
Van Strydom, Verwoerd en die knipmeslem
Van die patriotisme wat nog flits
Al maak ek Sondae vuur met Blits
Dit was eens by ʼn boekwinkel in Pietermaritzburg beskikbaar, met ʼn plakkertjie van die boekwinkel op die titelblad.
Elke voorvader ʼn pionier
En ek weet ek hoort nie hier
Ek sit in laatnag kroeë rond
Maar ek ken nie meer die reuk van grond
ʼn Paar bladsye verder is daardie gedig oor die beeld van Oom Paul. Die beeld het destyds nog by die stasie gestaan, nie op Kerkplein nie. Ek hou van die Vernederlandste Afrikaanse spelling wat nog gebruik is.
Daar is iewers nog velde wat roep
Daar is iewers nog ʼn Boerestoep
Die Groot Trek oor die oop savanna
Die blink loop van ʼn sanna
Praat vandag met my studente oor Pretoria se eerste nywerhede. In 1881 het Alois Nellmapius toestemming van die ZAR se volksraad gekry om ʼn brouery op te rig. Hy het ʼn konsessie gekry om vir 15 jaar brandewyn te stook. In 1886 het die goudvelde van Johannesburg nuwe markte verskaf en het Nellmapius sy konsessie aan Sammy Marks verkoop. Die mynbase het die verskaffing van drank aan mynwerkers aangemoedig, want hulle wou nie hê hulle moes hul lone spaar nie.
Daar is ʼn ketel wat nog kook
Daar is ʼn kampvuur wat nog rook
Daar is vroue wat nog ween
En uitlanders wat brande stook
Die voorstad Irene is na Nellmapius se dogter vernoem. Al wat van die stokery oorbly is die naam “Eerste Fabrieke”, ʼn stasie in Mamelodi.
En ek net so vreemd soos jy
In hierdie stad van fuifery
Hier tussen die wolkekrabbers
Waar speedcops spied en karre ry
Ek wonder hoeveel van die aanhangers van hierdie politieke party se jeugvleuel weet iets oor wie Paul Kruger was. Wat sou hulle antwoord, as jy in ʼn opname aan hulle vra: “Wat bewonder jy die meeste van Paul Kruger?”
Moontlike antwoord: “Uhm… Hy was mos ʼn geleerde man?” Duidelik iemand in wie se naam ʼn mens op hoë akademiese standaarde kan aandring.
My handpalms is wit soos jy
Ek bedel troos waar ek kan
In hierdie land van blik en glas
Is ek ʼn mens in sak en as
Ek hou nie van die weergawe van “Boer in Beton” wat Koos Kombuis op die CD Elke boemelaar se droom sing nie. Dis dalk maar omdat ek die Ver van die ou Kalahari eerste gehoor het. Die kasset gekoop by die kunsfees in Grahamstad in 1990. Call me old fashioned.
Maar ek’s ʼn boer in beton…