Andries Bezuidenhout. Waarna ek vanoggend geluister het

Ek en Irma moes vanoggend karre omruil. Sy wil iets met die dieseltrok oplaai. Dit beteken ek het vir ʼn verandering musiek om na te luister in die verkeer. Irma luister nou al vir weke na my nuwe kopie van die Mattheuspassie (ʼn opname van Karajan se Weense weergawe uit 1950), maar om een of ander rede voel ek nie opgewasse vir Bach nie. Met die kitaar in die een hand (vir band practice vanaand) loop ek gou verby die CD rak en gryp met die ander hand die eerste en beste CD waarvoor ek lus is. Druk dit onder die arm in.

Louis Botha-laan sukkel maar. Ek vat ʼn kortpad deur Yeoville, mik vir Hillbrow en Berea, dan deur Braamfontein tot by die kantoor.

Ek luister oor en oor na “Picasso se song”, die eerste snit op die album, Koos Kombuis se Equilibrium. Hy het dele van die liriek uit gedigte gehaal wat Annelize Olivier van Pretoria vir hom gestuur het, dele bygevoeg, asook “ietsie geleen by Breyten”, soos hy op die CD se omslag skryf.

Ongelukkig is die liriek nie daar nie. Ek is mal oor die klavier en kontrabas in die opname. Soms kan ʼn mens Koos ook hoor asemhaal, baie soos die musikante in die opname van die Mattheuspassie. Dit laat die opname werklik voel. Laat ek dele van “Picasso se song” probeer onthou:

My hart is in ʼn speaker box, gebêre in wit Wellington,
hy’s gewoond aan AC/DC speel, maar die metafoor is Breyten s’n.
Namakwaland kweek drome na elke jaar se reën
en Joburg lyk soos Rome, net sonder hart of been.

Picasso sou kon lekker bly in Hartenbos se hand
en Shakespeare sou kon poetry skryf op Mosselbaai se sagte sand.

In ons land van steel en bedel soek jy telkens na jou rus,
op die trein van toek(?) na vrede, of die Melville party bus,
want wense kos net tiekies op die plekke langs die pad –
dit hang af wie jou wens kies, dis belangrik wie hom vat.

In jou flat in Hillbrow saans sit ons op jou balcony
en ons sing van hoe ons dans, maar weet ons dat ons kan nie.
My hart is in ʼn speaker box, gebêre in wit Wellington,
hy’s gewoond aan AC/DC speel, maar die memories is ons s’n.

Hierdie is goeie musiek om mee werk toe te ry. Deur Yeoville, Hillbrow en Braamfontein. Ek dink steeds Equilibrium is een van Koos Kombuis se beste CD’s, deels weens die uitstekende, onkonvensionele verwerkings.

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Waarna ek vanoggend geluister het”

  1. Desmond :

    Stem saam! Wat asemhaling betref: ek het laasjaar my proefskrif klaar geskryf en dikwels laatnag terwyl ek werk geluister na ‘n opname van Chopin se Nocturnes deur Maurizio Pollini. Op etlike plekke kan jy Pollini hard en duidelik hoor asemhaal en blaas. Dit het my aanvanklik gesteur, maar later het dit vir my deel van die musiek geword. Veral met oorfone aan skep ‘n vreemde intimiteit, en verleen dit die musiek ‘n ‘visceral’ kwaliteit. (Ek begeer daardie Bach-opname van jou… Ek luister nou na ‘n opname van Beethoven se Missa Solemnis, ook ‘n tydlose en verhewe werk.)

  2. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, die klankkwaliteit van daai opname (Mattheuspassie) is regtig swak, maar op ‘n vreemde manier voel jy of jy daar is, net na die Oorlog. Net dit is genoeg om my te ontroer. Hulle het die opname op band in een of ander laaikas by die Oostenrykse radiodiens ontdek. Oor die liriek hier bo is dit blykbaar “die trein van Toek na Vrede”, m.a.w. twee plekke. Koos s^e ook die “ons s’n” aan die einde kan “onsin” wees. Vreemd hoe ‘n liriek waarna jy slegs kan luister moontlikhede vir betekenis ooplaat.

  3. Annelize Potgieter (Nee Olivier) :

    Ek het hierdie gedig geskryf toe ek maar 16 jaar oud was, wat ‘n verassing was dit toe koos my kontak en vra of hy dit kan gebruik as lirieke. Ek is intussen getroud en is nou 26 met ‘n tweeling, die lewe verander so, maar – tog as ek die woorde weer lees word daar stukkies van my oopgekrap en onthou ek weereens daardie kind wat ek was.. dankie vir die goeie woorde!

  4. Marlise :

    Desmond, ek eenkeer, etlike jare gelede al, geluister na ‘n impromptu opname [weet gladnie waar en wanneer nie]van ene Keith Jarrett wat ongelooflik mooi vir my was – hy is ‘n jazz pianis, dink ek? Ek onthou goed dat hy tussenin gesug/gekreun het & dit was juis so aangrypend. Ken jy Jarrett se werk ook goed?

  5. Desmond Painter :

    Hallo Marlise, ek ken Keith Jarrett maar besit geen van sy opnames nie. Jarrett is interessant, want hy neem beide jazz en klassieke musiek op — en is in beide ewe tuis. Sy opname van Shostakovich se Preludes & Fugues is byvoorbeeld baie beroemd, en word dikwels in dieselfde asem as die van Vladimer Ashkenazy en Tatiana Nikolayeva genoem. Onlangs het ek van ‘n Mozart opname/opvoering deur hom gehoor. As ek reg onthou het hy vroeer saam met Miles Davis opgetree.

  6. Leon Retief :

    Marlise, daai “jare gelede” was by ons, ek het vir jou en Louis sy Koln-konsert gespeel.

  7. Marlise :

    Dis reg Leon! Dankie dat jy my geheue bietjie verfris het. Na ‘n soektog hier kon ek ook my CD opspoor van sy wonderlike Köln-konsert. Die opname is in 1975 gedoen. Hier is ‘n stukkie biografiese besonderhede: “In the mid 1970s, he record a series of live solo piano concerts. They include Solo Concerts, the mammoth Sun Bear Concerts, and the hugely successful Köln Concert, which sold over a million copies. In these concerts, he would sit down without any idea of what he would play, and start improvising entire long songs. Sometimes, two songs would make up an entire concert. On the Köln Concert, he wasn’t feeling well that day, and in addition, the correct piano did not show up, so he had to do with one that was poorly tuned. The top end was shot and the bass lacked resonance, so he had to make due being restricted to the middle keys and improvising the four songs on the record from the middle keys. The result is very, VERY beautiful music. If you like piano, you have to check it out.” [by : http://airjudden.tripod.com/jazz/keithjarrett.html%5D

  •