Andries Bezuidenhout. Die oggend na die fees

Sjoe. Dis nog altyd die ding met Stellenbosch. Wit mure en die son – die volgende oggend. Dis seker om mense te straf wat die wyn drink wat daar in kelders en balies lê. My swakplek is daardie plaaslike weergawe van sjampanje wat ons darem nou al vir ‘n eeu of wat sonder Franse supervisie vervaardig. Die klassieke Kaapse metode, Kaapse vonkel. Ten minste het my hande nou ophou bewe. Vrydagaand het ʼn bietjie laat Saterdagoggend geëindig. Vyfuur by my gastehuis afgelaai. Wel, niemand het gesê die Versindaba is maklik nie.

Ek het nie nou tyd en energie vir ʼn uitvoerige verslag nie. Dankie aan Willem de Vries, wat reeds die moeite gedoen het. My effe lang Vrydagaand het ook gemaak dat ek ʼn deel van Saterdag misgeloop het – tot my spyt.

Dalk ʼn vinnige opmerking oor Vrydagaand se program – die kollokwium (uitgespreek soos mense dit op (nie “in” nie, hoor!) Stellenbosch uitspreek – “koo… loo… kwie… uhm”) . Ek dink die diverse benaderings tot Ginsberg se oorspronklike rant was uitstekend; van Daniel Hugo se bondige intervensie tot van die wyer draaie wat deur die land se wonderlike, aaklige uithoeke gegooi is.

Die opdrag om iets te skryf het ʼn hele ruk gelede al gekom, in ʼn tyd wat die hangover post-World Cup erg ingeskop het. Skeel oë, bene wat onder iets veel erger as jet lag swik. En die land se naakte werklikheid wat heeltemal te helder vir die sterkste polariod donkerbril skyn. Kry ʼn mens nog polariod donkerbrille? Die tribunaal, die wetgewing om kritiese monde te snoer.

Dit sal interessant wees om te sien wat die geleentheid se nadraai is. Die feit dat Marlene van Niekerk gedink het die intervensie is belangrik, is reeds veelseggend. Die feit dat soveel digters reageer het op die uitnodiging, is ook. Daar word egter reeds planne gemaak om die briewe te publiseer, maar ook om dit uit te brei na ander tale toe. Dis belangrik dat dit gedoen word.

Ek wonder of die samelewing waaraan die briewe geskryf is gaan terugskryf. Om een of ander rede twyfel ek.

Vir eers, uit my klein hoekie net die volgende: Die skryf van die gedig het my gehelp om ʼn bietjie skerper die helder lig in te staar, al is die hoofpyn nie heeltemal weg nie. Ek dink ek kan beter sien waarheen om te loop.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •