Halleluja-blues vir Mzansi
Suid-Afrika,
jy probeer te hard.
Waarom nie terugstaan
dat almal op grond kan loop wat nie jy is nie
of kamstig aan jou behoort?
Waar op dees aarde
kom jy aan jouself? Skei uit, man.
Ons het opgehou om jou raak te sien.
Jy vra te veel.
Jy dink iemand praat met jou.
Jy is in die pad.
Gedurig is daar mense wat in jou vasloop.
Maar dis jy wat moet bes gee, dis jy, dis jy.
Jy is ‘n hangkas vol pruike uit ‘n nare droom.
En jy noem jouself ‘n samekoms?
Vaderland!
Jy is ‘n rinkelende, toeterende, murmererende
side-show
op ‘n Saterdagagtermiddag.
Weliswaar, ekstaties.
Maar dis wanneer ek slaap;
waarom sal ek myself laat tsjap met jóú?
Maar laat ek jou bedank.
Dis jy wat my die suiwerste, onverdunste, hoogste,
nee, swewendste, mees suurstof-ontdane ervaring
van my lewe besorg het:
Uitputting.
Waar de fok is jou diepte?
Sit gerus ‘n duiklong se prop in jou mond
as jy volgende keer praat,
dan sal iemand jou dalk eendag verstaan.
Jy is ‘n nar, man,
tienduisend narre.
Jy is die varke van Gadara
(gepraat van meerderheidsregering).
Jy is niks meer as ‘n pampoenspook
maar sonder wete
van pampoenspoke se oorsprong.
Dus, minder as jouself.
Dit sê iets van jou rigting.
Mzansi,
jy dink iemand praat met jou.
Dis tyd vir ophou komplimente kry,
nie waar? (Verskoon laasgenoemde woord
wat so sleg by jou pas.)
Iémand word daarvoor
onder die tafel betaal.
Hoor hier,
jy dink iemand praat met jou.
Maar dis nie ek nie.
Jy’s g’n eers ‘n Playstation-weergawe
van patria nie.
Ek hoop die krag sny uit.
Jy, jý: Sny uit!
Dan het ons minstens
dit wat ons is:
swart Afrika.
(En noem my nou net eenmaal, éémaal
rassisties, as jy kan.)
Jy dink iemand praat met jou,
Mzansi?
Suster?
Hoor iemand
die veraf gesug van die vertrapte eiertjies?
En die vlieërs
aan toutjies, hul hoopvolle kleure,
waarmee ons land gehardloop het op haar kleintydse verjaardag?
Dit het nooit teruggekom aarde toe nie.
Die handpalmgrootte vlammetjies wat ons
in die optogte
in die vleesblakers van ons hande vasgehou het,
rue teen die verlede in gedraai,
koesterend, koesterend teen die wind?
‘n Soort heilige Mis was dit;
suisend natgereën nou in albei hande,
soos gestorwe troetelmuisies.
Soos katoë
wat in die donker beweeg,
word ons liggies uitgedoof.
Mzansi,
die probleem lê by jou sonbrille.
By jou kak styl.
Mens sou sweer jy raak wit,
suster.
Die vyand is sonbrille.
Die vyand sien swart.
Smelt dit alles in ‘n vuur!
Laat dit alles krampagtig, sissend inmekaartrek
soos rigor mortis onder ‘n giftige rookkroontjie,
van pragtige, sieklike silwer,
en stol dan die produk in Bovril-botteltjies
vir die vinnige afsmeer op jou eersgeboortereg,
op jou recycled, nouveau-riche reklame-demokrasie,
‘n geliegde ideaal gepuur uit eie reste,
tot skaamte van die voorvaders
wat selfs onder apartheid regte vleis geken het –
jou afgeleide, verbrande, verkwanselde, bedorwe toekomsdis
van niks!
Mzansi,
jy dink ek praat met jou.
Maar jy bestaan nie.
Ek kan jou nie bereik nie.
Jy het al ons treinwaens
aan China verkoop.
Ek hoor jy wag op transformasie.
Maar reeds beplan jy om Ovidius te verban.
Dink jy nie jou probleem
is dalk kosmeties nie?
Is jy eensaam?
Ek gaan dit nooit weer sê nie:
Ek mis jou.
Mzansi,
Dis so pynlik
maar ek mis myself.
[© Charl-Pierre Naudé. Voorlesing by die US Kollokwium in die SASOL Kunsmuseum, Stellenbosch, op 17 September 2010]