PRYSLIED VAN DIE TROMME
Ja, Suid-Afrika, ja!
Ja vir die oopsteek van wonde en swere,
ja vir die afkrap van rowe,
ja vir die uitdruk van die vrot.
Ja, dit het pynlik en morsig geword
om te offer wat jy vra,
dierb’re Suid-Afrika.
Maar hoor jy, o droewe land,
hoe jou boervolk nog brom
van die Kaap tot in Orania
en baklei oor `n wa
om hulle deur hul heilige driwwe te dra.
Ja, ons hoor hulle kla:
“Dis verby met die groen doringboom,
met Sarie, en die hele fokken F.A.K.!”
O wee, roep die laastes van die stoeres:
die fondamente van ons monumente sak,
die wiele die knak en die osse
is verdomp nie meer danig gedwee!
Maar skep moed, landgenote,
want iewers krap oom Bossie
onrustig in sy stokkiesbaard as hy wonder:
het sy span in die Bosveld
die ding van Base en Klase
nog altyd verkeerd verstaan?
Luister goed, Suid-Afrika,
hoe hiënas snags in die rante skater
oor `n land wat tjank oor taal
en plaas en ras en alles wat was.
O, die paniek! O, tumult!
Hoe deel ons so `n verdwaalde land?
Wie leer ons in vrede woon
onder hierdie bloue hemel,
hoe verstaan ons mekaar se geroep
oor die ver verlate vlaktes;
hoe gemaak met ons plekke en name,
en watter jong indoenas
gaan sê wie bly, en wie verkas?
Ja, geliefde grond, hoe loop jou pad?
Waar in die suidersterre staan `n plan;
wie gooi die dolos, wie vra die waterslang
vir raad met die voorvaderspel?
Gee die kranse vir almal `n antwoord,
of staan daar uit die diepte
van ons eens eksklusiewe see
`n kolos van wysheid op?
Maar, Suid-Afrika, wees wakker:
jou sieners sien gesigte;
in hul drome draf ons jonges
ligvoets oor `n duisend heuwels;
oumense hoor stemme
en `n magtige dreun van gerugte
rol aan oor die velde:
want kyk, uit die chaos van die eeue
sal aan hierdie afgeleë brok
`n paradys verrys, `n nuwe moerland
wat opstaan uit die rooistof
as die stank van bloedriviere
wyk uit die geheue van ons aarde.
Eers dan, my land, sal jy die glorie ken
van `n veilige vesting,
`n kraal vir jou vele volke;
want die luiperd skik sy kolle
na `n nuwe patroon, en sy naels krap
teen die bas van die nooiensboom.
Luister dan, Suid-Afrika, ja luister
na die boodskap van die tromme
wat aanswel uit die nag:
die leeu en lam lê aanstons saam
as jou kinders die laaste assegaai begrawe
en verruil vir beitels wat klip laat klink.
Wanneer jy, geknelde land, jou nuut verbeel,
sal die dreunsang van komende geslagte
aanrol deur die klowe;
die karos van ubuntu sal sprei
oor hierdie verskeurde bodem
en jou dongas sal vrug dra.
Kyk, die vure van versoening brand hoog
en die winde nooi die volkere uit tot die dans.
Op dié dag maak die groot, groot Gees
die wieg van sy mensdom glansend heel.
God seën jou, Suid-Afrika!
[© Zandra Bezuidenhout. Voorlesing by die US Kollokwium in die SASOL Kunsmuseum, Stellenbosch, op 17 September 2010]