Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
29 September 201016 May 2011

Bibi Slippers. Suid-Afrika

Suid-Afrika

 

Suid-Afrika, ek is op die highway.  Waar is jy?

Suid-Afrika, 123 kilometer per uur en ‘n onbetaalde parkeerkaartjie,

onder die voetbrug wei ‘n trop bokke.

Suid-Afrika waarvoor is teer ‘n metafoor?

Vlieg in jou moer met jou stukkende flikkerlig!

Ek is sagmoedig met intense road rage – jy het ook jou teenstellings.

Ek skryf agter die stuurwiel, ek weet dis gevaarlik.

Suid-Afrika waarheen gaan hierdie teerpad?

Waarom waai die wind weer wes?

Hoeveel van jou honde word roadkill, hoeveel voëls verlustig hulle?

Suid-Afrika waarom weier die kraaie om kommentaar te lewer?

Suid-Afrika wanneer scramble ons weer kwartel-eiers vir die kinders van Khayelitsha?

Ek is moeg gejaag en padgegee.

Ek wil ook my hoop in die stof langs die pad rondskop soos die kinders wat sokker speel, dis meer werd daar, mens kan speel vir tyd.

Suid-Afrika, jy dink ek weet nie wat aangaan nie en partymaal is jy reg.

Jou berge weet meer as wat hulle voorgee.

Hou links, steek regs verby.

Daar moet ‘n manier wees om jou volle verstand terug te kry.

Wat as ek ‘n hond doodry, wat as ‘n kind voor my kar inloop?

Baie van jou honde is beter af as wat meeste van jou kinders ooit sal wees.

Ek probeer verbyry.

Ek is jammer maar ek dink ek gaan opgooi.

Suid-Afrika, kyk my mooi skoene.

Suid-Afrika, van hier af lyk die lughawe-liggies soos sarkastiese exit signs,

waar daar ‘n wil is and all that jazz, net nie verder as die fly-over nie.

Ek ken nie my regeerders se name nie, dis seker alles my skuld.

Suid-Afrika jou gode kom in allerlei kleure.

Suid-Afrika party se reuse penisse is oor hul skouers gedrapeer,

ander glimlag soet maar niemand word gespaar nie.

Ons snuif almal clichés.

‘n Verminkte rusbank spoeg sy spons uit.

Volwasse mans pis langs die pad,

en ek word weer kwaad vir die bure se kat

wat teen ons voordeur kom pee het.

Is dit normaal om skuldig te voel oor ek ‘n voordeur het en ‘n agterdeur?

Ek wil soms ook langs die pad pis net om ‘n punt te maak

maar ek mik nie so goed nie en

ek is jammer vir my skoene.

Suid-Afrika ek is jou seker dit verskuldig na alles wat jy…

nee, niks nie.

 

Lees my heupe:

Jou asem ruik na moordwalvis en

almal byt op hul gebalde vuiste.

Net die volstruise wil nog liefde maak.

Die pad loop tussen hulle kampe deur, hulle tree hul verlange in

meters uit.

Moet mens hulle jammer kry omdat hulle nie kan vlieg nie?

Dis hulle eie skuld: onwilligheid om te verander

of dalk eerder te gewillig gewees, ek sou nie kon sê nie.

Hulle vere steek in elk geval ‘n preek af, die strak

swart- en witgeit daarvan.

My gesindheid is grys in die truspieëltjie, ek is nog steeds naar.

Versigtig vir sinkgate, Suid-Afrika.

Die township is ‘n bont kwilt van plastiek en bourommel en sinkplate.

Beleef die estetika van armoede!

Ek sal die oneweredige aantreklikheid daarvan mis wanneer

al die armes opgevaar het na die hemelhoë suburbs.

Jy lag kras vir my dagdroom .

Jou strome verswyg die laaste woorde van kinderlyke.

Ek sou in elk geval nie hul taal verstaan nie, sou ek?

Maar die dood skuil tog onder ons almal se tonge.

Ek reken die roadkill is jou skuld.

My geel Golf is gesteel, jy ontken weer alles.

Dis dieselfde ou storie, al saaier as ‘n Sondagbraai.

Jy dink verniet ek is daai tipe meisie: ek eet nie vleis nie.

Wellustige taxi’s snuif om die beurt aan my Tazz se ass,

bronstige bulle, en kwaai is hulle.

Daar breek die son nou met kinderbybel-strale agter

die grys wolke deur – ‘n silwer randjie, I kid you not.

Suid-Afrika, kan jy meer pateties wees?

My vriend Fred het al iemand op hierdie highway doodgery.

Daar was baie bloed op die vooruit en ‘n bietjie op sy rekenaar

wat langs hom op die sitplek was.

Suid-Afrika, what would Jesus do?

Swaai mens uit of ontmoet jy jou slagoffers sonder skroom?

Alles is ongeluk.

Goeie môre Suid-Afrika, ons moet opstaan en aangaan.

Lig jou gat, ek is klaar met jou stories oor inwendige bloeding.

Ek volg jou voorbeeld, volg jy nou myne.

Suid-Afrika, ek sit my spanner in die wiel.

 

 

[© Bibi Slippers. Voorlesing by die US Kollokwium in die SASOL Kunsmuseum, Stellenbosch, op 17 September 2010]

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

7e gedagtes oor “Bibi Slippers. Suid-Afrika”

  1. Desmond says:
    26 June 2012 at 06:04

    Of Bob Dylan:

    “I said goodbye unnoticed
    Pushed forward into my own games
    Drifting in and out of lifetimes
    Unmentionable by name
    After searching for my double, looking for
    Complete evaporation to the core
    Though I tried and failed at finding any door
    I must have thought that there was nothing more absurd
    Than that love is just a four-letter word”

    Reply
  2. Bibi says:
    25 June 2012 at 17:24

    Daniel, miskien is hierdie woorde van Johann de Lange (oor die liefde) ook van toepassing op die poe”sie:

    Want die liefde eis groot waagmoed
    & nie soseer vaardigheid:
    moet as ‘t ware toe-
    oog begaan word, of goedsmoeds.

    Tjeers, op amateurs!

    Reply
  3. Daniel Hugo says:
    24 June 2012 at 09:24

    Bibi, in die liefde en die po”esie bly ons almal lewenslank amateurs! Maar ek stem heelhartig saam met wat jy hierbo oor ‘n digter se ontdekking van sy eie stem s^e.

    Reply
  4. Bibi says:
    23 June 2012 at 06:46

    Hallo Lettie, en baie dankie vir die kommentaar en kompliment.

    Die artikel op LitNet (http://litnet.co.za/Article/onder-die-invloed)is eintlik maar net kommentaar op die feit dat mense baie graag skryf maar nie heeltemal so ywerig lees nie. Die sin wat jy aanhaal lees: “Jy sal dalk verbaas wees oor hoe vinnig jy jou eie stem begin hoor wanneer jy jou ore blootstel aan die stemme van ander.”

    Ek dink hoe meer jy lees en hoe meer jy bewus raak van wat reeds gedoen en gesê is, hoe meer kans is daar dat jy in jou eie pogings olie gaan raakboor itv jou eie stem en manier van segging. Jy sal dinge lees waarby jy sterk aanklank vind en ander dinge wat nie met jou rym nie … beide voorbeelde vertel jou in elk geval iets van wie jy as skrywer is, en gee ‘n aanduiding van jou stemtoon.

    In terme van jou eie stempel/stem in die gedig: een oulike manier om daarna te kyk, is om jouself te sien as ‘n lewende lens. Jy kyk na ‘n objek of ‘n situasie en filter wat jy sien deur jou eie ervarings en emosionele toestand. Die uitdaging is om hierdie unieke perspektief in ewe unieke taal weer te gee, taal wat perfek pas by hoe die dinge lyk wat deur jou lens en filters sigbaar is. Wat ek gereeld sien, is dat mense gedigte skryf wat probeer om hulle unieke ervaring weer te gee, maar dat hulle in die proses net ander mense se pogings oorskryf – in die meeste gevalle is dit omdat hulle nie bewus is dat daar ander (dikwels beter!) maniere is om met taal te werk nie. Die enigste ding wat dit kan beter maak is lees en lees en nog lees.

    (Lees maar al die bg met ‘n knippie sout. Ek is self ‘n beginner en verkwansel nie my opinies as die van ‘n expert nie.)

    Groete
    Bibi

    Reply
  5. Lettie Murray says:
    22 June 2012 at 22:25

    Het vandag op Litnet iets gelees waar jy raad gee by die Poësie-kompetisie dinge..
    oa sê jy ‘jy sal verbaas wees hoe vinnig jy jou stem hoor, en jou ore blootstel aan stemme van ander..’
    Is dit so dat mens soortvan jou eie idee-stempel-stem moet voel/hoor agter die storie-gedig wat mens wil dig/probeer.. ?
    NB: Na aanleiding van jou naam, soek ek toe netnou op internet iets op, en whalla.. hier lees ek iets fantasties [van jou?] en is dit so EIE aan mens se ervaring!
    Veels geluk!! Groete, Lettie [Aletta]

    Reply
  6. Colette says:
    6 October 2010 at 16:25

    Pragtig bibi! Ek het skoon gevoel asof ek saam op die pad was. What a ride!

    Reply
  7. Sara says:
    2 October 2010 at 09:48

    Stunning vers Bibi! Ek hou van die vroulike perspektief in hierdie vers, die beeldspraak & suggestie.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Resensie: “Krap – oop toe om rond uitkrap” (Koos de Wet)
  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d