Die Langste Woorde in Suid Afrika
gelykheid trippetrappetrone soos
die ballerina op ʼn speeldoos:
voornemens pragtig, maar goedkoop
en sentimenteel –
eentonige klaagliedere is vir saamsing,
dit wentel om die waarheid, vasgehaak
in een groef van kwaad en kleur,
en al wat ons ken
is die dryfveer maar weer opwen –
soos Haydn se “Sewe Laaste Woorde aan die Kruis” –
sewe woorde wat langer vat as sewe sekondes,
sewe jaar, sewentien jaar, om gesê te word:
“ons is arm, help ons, doen iets …”
in handgebare, lyftaal en groot oë: val op dooie
oor; die politici se gepeins op elke woord
langdurig uitgerek sodat die woorde dun,
deursigtig raak, en sonder ʼn verlossende afklowing
knak en vou die stemme in die middel en met ʼn laaste
gekinkelkonkel word die woorde ʼn ewigheid
van rondtollende beloftes en wanhoop.
© Sara P. Dias. Okt. 2010. Durbanville