noord-namibië
duisende klippe lê rondom ons
soos nuuskierige oë
kafferbrak sê pa deur sy baard
as ons verby ’n padstal ry
die geribde dier vreet aan ’n droë akkedis
ovambo’s kyk grootoog na ons bakkie
’n seuntjie draf angstig nader om ons uit te nooi
pa kyk stip voor hom
pa vra ek
ja
die stal verdwyn agter ons
en die klippe lê tot teen die lug
eendag sal als woestyn wees
en die bakkie die brak die ovambo’s ons
sal toegewaai onder die sand lê
het pa ooit iemand op die grens
nee
sy vingers trek styf om die stuur
hy kyk stip voor hom
en ons bakkie skuurpapier die landskap vol stof
die stilte groei tussen ons soos ’n gedig
(Uit: Versindaba 2010, Protea Boekhuis, 2010)
© Pieter Odendaal
So mooi!
Inderdaad ‘n pragtige gedig. Mal daaroor.
Dankie vir die kommentare. Dit doen mens goed as jy hoor dat die swoegsessies nie verniet was nie.
Hou van; duim op
Ek stem, Marlise!
‘n Fantastiese gedig Pieter, wat ‘n hele geskiedenis in ‘n handvol woorde vasvat. Veel meer laat resoneer as wat daar staan. Die laaste twee reëls se beeldspraak eenvoudig hartrukkend. Ek sou meer oor hierdie vers wou sê, maar helaas, ek is nie goed met literêre disseksies nie. Al wat ek wil oordra aan jou is dat die vers my getref het as iets besonders.