
Eugène N. Marais het sy werk in ‘n verskeidenheid koerante en tydskrifte gepubliseer, naamlik Die Boerevrou, Die Huisgenoot, Die Brandwag, Ons/Die Vaderland, Die Volkstem, Die Burger en The Star. Sy verbintenis met Ons Vaderland het veral verstewig nadat hy uit Heidelberg teruggekeer en hom in Pretoria gevestig het. Gustav S. Preller, wat die hoofredakteur van die koerant was en ‘n hoë dunk van Marais gehad het, het hom oor sy vriend ontferm en Marais in Februarie 1928 as subredakteur by Ons Vaderland aangestel. ‘n Jaar later het die koerant ‘n dagblad geword. Benewens die skryf van verhale en artikels (soos die reeks “Burgers van die berge”, wat tussen 26 Maart en 4 Junie 1932 in die koerant geplaas is en in 1938 onder dieselfde titel in boekvorm verskyn het), was dit Marais se taak om nuusberigte van die Duitse nuusdiens Transozean te vertaal en te verwerk. Marais se betrokkenheid by Die Vaderland onder Preller se redakteurskap het ten einde geloop toe sy verhaal “Spore in die sand” omstreeks Maart 1935 deur die assistentredakteur, Willem van Heerden, vir publikasie geweier is.
As gevolg van Marais se morfienverslawing en swak gesondheidstoestand het sy skryfwerk dikwels in uiters ongunstige omstandighede ontstaan. A.M. van Schoor het die volgende vertel:
“So gereeld soos klokslag het dit gebeur dat ons die hele koerant, die hoofnuusblad inkluis, klaar gegiet het en dat die vervolgverhaalblad op die steen lê en wag terwyl ons oom Eugène na die werklikheid probeer terugroep. Male sonder tal het hy dan op die steen die hoofstuk klaar geskryf. Dit is dan feitlik sin vir sin van die skryfblok afgeskeur en in aller yl geset.”

In Die Huisgenoot publiseer Marais in 1925, 1926 en 1931 sy reeks artikels wat later as Die siel van die mier in boekvorm uitgegee is. Op die hakke van dié sukses publiseer hy ook ‘n reeks artikels oor bobbejane, getiteld “Die siel van die aap” (later opgeneem in ‘n Paradys van weleer en ander geskrifte). In dié jare het Die Huisgenoot onder redakteurskap van slegs twee redakteurs, naamlik H.G. Viljoen (1923-1931) en J.M.H. (Markus) Viljoen (1931-1949), gestaan. Volgens C.F.J. Muller het Die Huisgenoot in die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu die Afrikaner só gehelp om te lees “dat hy sy kulturele en intellektuele horison aansienlik verruim het”. Die publikasie van talle artikels met ‘n leersame en/of opvoedkundige strekking het grootliks hiertoe bygedra. Die hedendaagse navorser merk benewens die groot aantal geskiedkundige artikels ook ‘n beduidende aantal bydraes van ‘n natuurwetenskaplike aard op. Benewens die artikels van Marais verskyn daar ook bydraes soos dié van die entomoloë A.J. Hesse en S.H. Skaife en die herpetoloog F.W. FitzSimons. Marais se werk word saam met ander wetenskaplikes s’n gepubliseer en nie as kuriositeite of “rubrieke” oor allerlei wetenswaardighede soos dié wat later meermale in die Afrikaanse pers sou verskyn nie.
‘n Groot deel van Marais se werk het ontstaan toe die vestiging en standaardisering van Afrikaans hoë voorkeur geniet het.