Versindaba 2010

Versindaba 2010. Bloemlesing saamgestel deur US Woordfees. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-291-4. Prys: R140. 78 bladsye. Sagteband.

“‘n Mens kan tans sonder enige vrees vir teëspraak sê dat dit besonder goed gaan met die Afrikaanse digkuns.”

Dít is die bevinding van Louis Esterhuizen in sy “Inleiding” tot Versindaba 2010. Daarin skets hy eers die heropbloei in die publikasie van Afrikaanse digbundels sedert “die droë jare” rondom 2000, voordat hy die redes gee vir die inisiatief deur hom en Marlise Joubert om ‘n jaarlikse Versindaba op Stellenbosch te organiseer en ‘n jaarlikse bloemlesing na aanleiding daarvan saam te stel. Hulle wou naamlik publieke en media-“blootstelling” aan Afrikaanse digters en digbundels help gee, en ‘n “waarmerk” verskaf van die stand en gehalte van die Afrikaanse poësie.

‘n Literêr-histories oorsigtelike bloemlesing soos Groot verseboek verskyn met dikwels groterige tussenposes. Daarom speel geleentheidsbundels soos die jaarlikse Versindaba tussendeur ‘n nuttige ‘boekhoudingsrol’ met betrekking tot ontwikkelinge in die Afrikaanse digkuns.

Ómdat Esterhuizen en Joubert op hierdie wyse kon meedoen om die huidige gelukkige stand van sake te help bewerkstellig en bestendig, het hulle verlede jaar, met die totstandbrenging van die Versindaba­-webtuiste, die internet-perd opgesaal om ‘n volgende bestemming vir die Afrikaanse digkuns te probeer bereik: groter internasionale blootstelling en verkeer.

Vandaar dat hulle die organisering van die Versindaba-byeenkoms aan die US Woordfees oorgegee het, wat derhalwe ook die samestelling van vanjaar se bloemlesing waargeneem het.

Nicol Stassen van Protea Boekhuis, wat vanuit die staanspoor een van die belangrikste borge van die Versindaba-onderneming was, lewer ook sy gebruiklike voorwoord tot die bloemlesing. Soos voorheen is dit ‘n interessante relaas. Hy wys byvoorbeeld op die (oënskynlike) teenstrydigheid dat digkuns tans wêreldwyd “heterogener” en “regionaler” word terwýl die digterlike gesprekvoering oor grense heen toeneem. Ook hý kom dus tot die gevolgtrekking dat internasionalisering, byvoorbeeld via vertaling uit en in Afrikaans, ‘n toekomsroete vir ons digkuns inhou.

Nóg uitlatings deur hom in dier voege:

            Ek vermoed dat […] die tyd waarin Afrikaanse digters gepubliseer is sonder dat hulle in die “wêreldpoësie” belese is, verby is. Ek vermoed ook dat ons die laaste Afrikaanse literatuurgeskiedenis gesien het waarin dit geïsoleer van die wêreldliteratuur beskou word.

Ongeveer ‘n derde van die Versindaba-webblad se intekenare (wat uit meer as 120 lande kom) is uit die Lae Lande, soos ook in die geval van Protea Boekhuis se facebook-vriende, toon hy aan.

Myns insiens bewys sulke syfers dat Afrikaans-departemente aan ons universiteite wys was om Nederlands in hul kurrikula te behou, terwyl Nederlandse voorgeskrewe boeke op jammerlike wyse byna totaal uit Suid-Afrikaanse skoolleerplanne verdwyn het.

Stassen bring verder tydige hulde aan die uitgewer-redakteurs van Afrikaanse digbundels. Hy noem Martjie Bosman van Protea, Riana Barnard van Tafelberg, Etienne Bloemhof en Alida Burger van Human & Rousseau en Dineke Volschenk van Lapa by die naam.

Korttermyn finansiële voordele kan nie juis ‘n oorweging wees waarom uitgewers soveel sorg aan die publikasie van digbundels bestee nie. Die feit dat, volgens Stassen, “nie eers vier boekwinkels in die land […] ‘n gesaghebbende aantal Afrikaanse digbundels aanhou nie”, bewys iets in hierdie verband.

‘n Mens neem dus met ‘n vleugie trots en ‘n skeutjie dankbaarheid ‘n publikasie soos Versindaba 2010 ter hand. Agtien digters, wat almal by vanjaar se indaba op Stellenbosch opgetree het, is met een of twee gedigte daarin verteenwoordig. Dit beteken dat meer as ‘n honderd digters nou in die ses jaar van die bestaan van dié poësiefees daaraan deelgeneem het, ongeveer almal wat tans as digters aktief is in die Afrikaanse literêre veld.

Die eerste deel van Versindaba 2010 bevat (dikwels voorheen ongepubliseerde) werke van tien “gevestigde” digters (Floris A. Brown, Louis Esterhuizen, Tom Gouws, Joan Hambidge, Kobus Lombard, Johann Lodewyk Marais, Melt Myburgh, Marlene van Niekerk, M.M. Walters en Koos Oosthuysen – laasgenoemde as vertaler).

Onder alles in hierdie afdeling wat geniet kan word, haal ek ter illustrasie slegs die volgende van Marlene van Niekerk aan:

ek berei ‘n slaai voor die oë van my vader

 

ek berei ‘n slaai voor die oë van my vader watse blare

vra hy watse gras watse klein groen kiewiete

krakeel daar onder in die vlei van lig en van genade

hy blaai deur die jare ‘n wit servet om sy nek en tree met adel kuite

deur die toppe van wilde mosterd waarin die blou kieriekoppe

van tarentale roer en die someravond bruin en soet

op die stellasie sit en die horlosiegras afdraai in die stof

in hierdie kuil van skadu sê my pa en hef die skaal op in sy hande

sit die klein goue blaarvouer in die geul van die palmiet

te pierewiet vou my ook so o heer in u alsontsiende kroes,

maak my soet en hoor my lied laat hierdie groen kos

geseënd wees aan ons gees

my pa eet blare my pa eet gras en praat in tale[.]

Anders as sommige vorige jare, is daar hierdie keer weer ‘n afdeling met “nuwe digters”. Drie van die agt het M.A.’s in kreatiewe skryfwerk onder Joan Hambidge aan die Universiteit van Kaapstad voltooi.

Hoewel dit moeilik is om digterskappe op grond van slegs twee gedigte elk te beoordeel, meen ek dat daar rede tot optimisme is dat minstens party van hierdie nuwelinge, soos ook gebeur het met Versindaba-opkomelinge in die verlede, uiteindelik met eie bundels vorendag sal kom. Verse soos Aniel Botha se “krismis” en Pieter Odendaal se “noord-namibië” sal ek byvoorbeeld lank onthou.

Die Versindaba-fees en -bloemlesing speel tesame kennelik ‘n stimulerende rol in die bedrywighede binne die Afrikaanse poësiesisteem. Waardevol is egter ook die genoemde besondere argivale en literêr-historiese waarde wat die bloemlesingreeks algaande aan die opbou is.

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Versindaba 2010”

  1. Joan Hambidge :

    Bernard, vier, nie drie nie, van die agt nuwelinge het onder my studeer: Fourie Botha, Aniel Botha, Lou-Ann Stone en Karen Kuhn.
    Met Martina Klopper wat haar eie solo-bundel Nadoodse ondersoek by H&R gepubliseer het.
    Beide die Bothas gaan ook binnekort solo-vlieg.

  2. Joan Hambidge :

    En Pieter Odendaal, beslis ‘n digter om dop te hou, het ek ontmoet by een van my werkswinkels aan die UP. Hy het ook die prys gewen vir die mees belowende digter.

  3. Louis :

    Joan, uiteraard deel ons jou entoesiasme jeens die jonge heer Odendaal. Gaan loer solank by: https://versindaba.co.za/2010/11/02/pieter-odendaal-sal-binnekort-begin-blog/
    Ons is sommer baie opgewonde oor dié toetrede.

  4. Bernard Odendaal :

    Dankie, Joan.

  •