
Twee weke gelede gaan kyk ek met groot afwagting die honneursproduksie Nog ’n Hamlet met Christiaan Olwagen as regisseur. Na die sukses van sy stuk Woza Andries, ’n herskrywing van die politieke satire Woza Albert, het ek hoë verwagtinge gehad. Nog ’n Hamlet is as ’n “histories-komies-pastoraal-musiekblyspel-fisieke-spraakprogram-kinder-klug” geadverteer.
Vier ure later het ek uitgeput en geïrriteerd uit die H.B. Thom teater gestap. En nie net omdat dit so lank was nie. Ophelia het vir twintig minute lank ’n heartbreak-medley gesing voor sy dank-die-vader haarself uiteindelik verdrink het. Rosencrantz en Guildenstern (twee prille prostitute in Olwagen se weergawe) het ’n sjokoladekoek en ’n gepaardgaande video, getiteld “Cake Farts”, vir Hamlet geskenk gegee. (As jy al “2 girls 1 cup” gesien het, sal jy kan aflei waaroor die video gaan. As jy dit nog nie gesien het nie, moenie.*)
Maar die laaste kwartier was die vreemdste van als. Na 225 minute se middelmatige middelvingerwys vir een van die grootste teaterstukke in die Westerse kanon, betreur Hamlet die kwynende populariteit van die teater. Die befaamde “To be or not to be”-alleenspraak word op die voortbestaan van die teater van toepassing gemaak: “Ek is Hamlet,” sê Hamlet, met ’n ernstige frons op sy gesig en ’n T-hemp wat lees: EK IS HAMLET. Met ’n swierige handgebaar wys hy na die res van die akteurs: “Ons is almal Hamlet.”
Ek het van uitputting en ongeloof begin lag.
Kyk, ek voel vere vir die heiligheid van die Oorspronklike Teks, maar as jy vir Wikkelspies wil opneuk moet jy dit ordentlik doen – jy moet by hom kan kers vashou. En dan moet jy nie na die tyd probeer kompenseer vir jou onvermoë deur die lot van jou kunsvorm te betreur nie.
Olwagen kan gerus gaan kers opsteek by die berugte Oos-Duitse dramaturg Heiner Müller. Sy bekende The Hamletmachine het sekerlik vir Shakespeare in sy graf laat omdraai. En Müller draai nie doekies om oor sy agenda nie:
“My main interest when I write plays is to destroy things. For thirty years Hamlet was for me an obsession, so I wrote a short text, Hamletmachine, with which I tried to destroy Hamlet. […] I think my strongest impulse is to reduce things down to their skeleton, to tear off their skin and their flesh. Then I’m finished with them.”
Hier volg enkele voorbeelde uit The Hamletmachine, soos vertaal deur Marc von Henning in die versamelbundel Theatremachine (Faber and Faber, 1995):
HAMLET: Here comes the ghost that begot me, the axe still in his skull. You can keep your hat on, I know you’ve got one hole too many. I wish my mother had had one less when you were still dressed in flesh; it would have spared me myself. Women should be stitched up, a world without mothers. We could get on with butchering each other in peace and quiet, and with some chance of success, when life gets to be too long, or our throats too tight for our screaming.
#
OPHELIA: I am Ophelia. The one the river didn’t keep. The woman dangling from the rope. The woman with slit arteries. The woman with the overdose SNOW ON HER LIPS. The woman with the head in the gas oven. Yesterday I stopped killing myself. I am alone with my breasts my thighs my womb. […] With my bleeding hands I rip up the photographs of the men whom I was used by on the bed on the table on the chair on the floor. I set fire to my prison. I throw my clothes into the fire. I dig the clock that was my heart from out of my chest. I go out on to the streets, dressed in blood.
#
En dan spesifiek as toegif vir die einde van Nog ’n Hamlet:
HAMLETPERFORMER: I am not Hamlet. I have no more role to play. My words have nothing more to say to me. My thoughts drain the images of their blood. My drama does not take place any more. Behind me a set is being erected. By people who aren’t interested in my drama, for people whom it doesn’t concern. I’m not interested any more either. I’m not playing any more.
#
Ek het iewers ’n voëltjie hoor fluit dat UCT dalk volgende jaar The Hamletmachine gaan opvoer. Kom ons hoop die voëltjie is reg.
*Die skrywer aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige fisiese of emosionele trauma wat as gevolg van die kyk van “2 girls 1 cup” ervaar mag word nie.
Ek verstaan die punt, maar verskoon my dat ek vra – jy sê daar moet nuwe paaie verken word? Ek moet sê, ek het nog nooit iets soortgelyk aan ‘nog ‘n hamlet’ in Afrikaanse teater gesien nie – maar soos ek sê, ek sien nie myself as ‘n teaterkenner nie, bloot ‘n teaterganger.
Wat ek probeer sê deur die “punt” van die teks uit te lig: Dit is nie myns insiens sinvol om Muller in hierdie opsig met Olwagen te vergelyk nie, want Muller probeer iets heeltemal verskillend bereik.
Natuurlik is dit verstaanbaar dat “klassieke” teatergangers dalk nie die stuk “goed” sou vind nie… maar hier probeer hul nie om “klassieke” teatergangers te interesseer nie. Hulle probeer dalk eksperimenteer met ‘n ander tipe gehoor – die gehoor wat belang stel in “Bakgat” en “Superbad”… en hul vra die vraag af: “Julle stel nie belang in die klassieke Hamlet nie: Is dit dalk waarin julle sal belang stel?”
Die vraag hoef nie ‘n positiewe antwoord te hê nie, maar met goeie toneelspel en baie talent, voel ek dat daar wel ‘n suksesvolle en interessante vraag afgevra is.
Pieter, my bloginskrywing was nie ‘n poging om die “punt” van die stuk uit te lig nie, maar eerder om die tekortkominge van die verwerkte Hamlet-teks aan te toon. As ek werklik ‘n resensie wou skryf, sou ek onder andere Ludwig Binge (Hamlet) en Mariechen Vosloo (Gertrude) se uitsonderlike toneelspel uitgesonder het. En Olwagen is ‘n interessante en belangrike jong regisseur. My argument was bloot dat ‘n mens nie met ‘n teks soos Hamlet rondneuk as jy nie Shakespeare kan out-Shakespeare nie. Olwagen kry dit na my mening nie reg nie. Muller doen.
Verder is dit bietjie moeilik gewees om die metafoor van die stuk mis te kyk, met die dat die projektor telkens die volgende genre aangekondig het. Postmoderne metateater is myns insiens so ‘n bietjie uitgedien. Ons het nou genoeg in die teater oor die teater gewroeg. Dis tyd om aan te beweeg en nuwe paaie te verken.
‘n Laaste opmerking: Die gedeeltes van die teks wat die Afrikaanse Hamlet verbatim aangehaal het, was die beste dele in die stuk gewees. No frills, no fuss: net goeie, plain-old Shakespeare.
Jy erken self dat die stuk ‘n “eksperiment [was] om te kyk wat die gehoor nou eintlik sal waardeer”. Die eksperiment het na my mening in sy geheel nie geslaag nie.
Ek is ‘n student in regte. Ek het minimale ervaring van teater en dit is volgens my duidelik dat die resensent nie die metafoor in die stuk verstaan het nie.
Ja, daar is ‘n middelvingerwys na Wikkelspies, maar die punt van die stuk is hier totaal misgekyk.
Hier is my interpretasie:
Die stuk was “play within a play within a play”. Al die genres van toneel word deurgespeel en daar is gepoog om met die immoraliteit van hedendaagse tv mee te ding. Daar word inderwaarheid gesê: Is DIT wat ons moet doen om julle te kry om die teater te besoek. (want die oorspronklike teaterstukke is lykmy nie goed genoeg nie) Dit is dus ‘n eksperiment om te kyk wat die gehoor nou eintlik sal waardeer.
Vir 4 ure probeer die akteurs in die “play within a play” die gehoor vermaak en wys myns insiens die wonderbaarlike talent wat al die akteurs op die verhoog het deur soveel genres te betree.
Die feit dat die resensent eers aan die einde gesnap het dat die stuk ‘n metafoor is en nie enigsins gesnap het dat die stuk ‘n soeke na die terugkeer van teater is nie, is ‘n teleurstelling om die minste te sê.