Andries Bezuidenhout. Kom maak ʼn draai in Pretoriabaai

Ek vra by die Kolonnade.
Nee, s
ê die mense, ons weet nie,
ons kyk “Liefling” vandag.

Ek vra by die Uitkyk Vleismark.
Nee, s
ê die mense, ons weet nie,
ons luister Radio Pretoria vandag.

Ek vra by die Grove.
Nee, s
ê die mense, ons weet nie,
ons shop vir lounge suites vandag.

Ek vra by Woodhill se mall.
Nee, s
ê die mense, ons weet nie,
ons eet sushi vandag.

Nou waar is dit dan,
hierdie Pretoriabaai?

Blykbaar is dit iewers,
iewers net om die draai.

So leer ons weer al die dele van Pretoria ken. Deur winkelsentrums. Dis nie een stad nie. En die ding van die baai? Wel, dis ‘n ander storie. En ‘n ontdekking.

Verlede naweek saam met ʼn nuwe band ʼn gig gedoen. Hul naam is Die See. Vreemde naam vir ʼn band van Pretoria. Op hul CD se omslag is een van daardie skulpe wat mense vir asbakkies gebruik. Dis ʼn besonders mooi CD-omslag.

Die musiek is ook mooi en die live show is amper beter as die CD (ʼn mens kan dit van min bands sê). Soms is die musiek sussend. Maar meestal is daar onder die gesus ʼn duister ondertoon. Soos as die see praat oor die perlemoen wat verdwyn het en ʼn gat op die spyskaart van ʼn nooiensvaart laat. Iewers is daar ook ʼn heks, met ʼn aandrok op ʼn besemstok, wat jou “laat dinge goedsmoeds belowe”. Die band bestaan uit vier lede.

Heel links of die foto is Justin Smit. Hy speel baskitaar. Hy’t ook die band se album opgeneem.

Op tromme sit Dean Basson. Hy speel soms saam met die manne van Diff-olie. Hy’s een van daardie rare tromspelers wat weet dat ʼn mens soms moet terughou en nie moker nie. Maar hy kan moker ook.

In die middel, op stem en akoestiese kitaar, is Henry Ferreira. Hy kan sing. Hoe beskryf ek sy stem? ʼn Bietjie soos die dude van The National, maar hy kan meer met sy stem doen, soos ʼn weird falsetto. Soms laat hy ʼn mens aan Koos du Plessis dink, maar meer oor diepte en intonasie.

Heel regs op die foto staan Dylan Graham. Sy volle name is Dylan Thomas Graham. Hy is uitstekend op lead kitaar en het my al ʼn slag uitgehelp met ʼn gig om eenuur die oggend in die Snowflake in Potchefstroom. Hy’t die gig gered. Een van die snitte op Die See se CD is net Dylan op kitaar – ʼn hoogtepunt, maar sonder die virtuose fieterjasies waaraan spelers van elektriese kitare hulself soms skuldig maak.

Dis lekker as daar weer iets vars in die Afrikaanse musiekbedryf gebeur, waar te veel van die bands soos mekaar klink. Ook in tye waar woede en ʼn benouende benoudheid die botoon voer. Al vier die lede van die band hou terug. Hulle onderspeel. Die mooi melodieë en woorde is op die voorgrond:

skop jou skoene van jou voete af
trek jou swembroek aan
tussen die berge tussen die son en die maan
lê ʼn plek waar jy heen kan gaan

maak ʼn draai in pretoriabaai
lê net om die draai

sluip die son stil deur donker gange
is die pad na buite opdraande
en ʼn lange is die lewe ʼn gestig
verlang jy terug na gister na m
ôre

maak ʼn draai in pretoriabaai
lê net om die draai

rooi wolke blou lug
is daar iemand wie jy lief het
maar jou gewete is vuil
vang die wind in jou seil

maak ʼn draai in pretoriabaai

Lees hier meer oor die Die See. Die foto’s kom van hul Facebook site af.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •