Pieter Odendaal. Wat ek tydens my B.A. geleer het

Verlede week het ek saam met duisende ander Stellenbosch-studente graadgevang. Na ‘n paar glasies vonkel-, wit- en rooiwyn begin ek wonder oor die belangrikste goed wat ek die afgelope drie jaar op universiteit geleer het. Of ek enige werklike vaardighede aangeleer het, weet ek nie. Ek lees en tik miskien ‘n bietjie vinniger en beter, maar verder kan ek nie juis sê dat ek ‘n gekwalifiseerde enigiets is nie. Ek wou mos tale en filosofie swot.

Ek en my gesin by my gradeplegtigheid

Ek en my gesin by my gradeplegtigheid

Wat ek wel geleer het, is dat dit gevaarlik is om Protea Boeke te besoek, want die hoeveelheid besoeke aan dié plek is omgekeerd eweredig aan die hoeveelheid orige geld om ander noodsaaklikhede soos kos en sigarette aan te skaf. Ek het geleer hoe om woorde soos différance, Dazein, Dionusos en disseminasie te spel en in ‘n sin op te som. Ek het ook geleer om nie almal se idees té ernstig op te vat nie. (Gaan kyk ‘n bietjie na die webblad http://www.elsewhere.org/pomo/, ‘n satire van die kontemporêre klimaat in die geesteswetenskappe.) Ek moes tot vervelens toe na die konstruksies van ras, gender en die werklikheid luister. Kyk, ek sê nie dat hierdie goed bloot ‘n laaste, desperate poging deur die kwynende geesteswetenskappe is om hul bestaan te regverdig nie, ek wil net regtig nie meer na enige post-koloniale, post-strukturalistiese, post-moderne, post-Marxistiese of post-toastiese argumente oor die bogenoemde konstruksies luister nie.

Verder het ek geleer dat ‘n mens nie meer as twee alkoholiese verversings binne een uur met mekaar moet meng nie, dat Jonkershoek fantasties lyk op ‘n vroeë Sondagoggend, dat die maksimum tyd wat my haredos sonder ‘n besoek aan die haarkapper kan klaarkom vier en ‘n half maande is, dat ‘n rib-pie by BP om twee-uur in die oggend die beste ding since popcorn is, dat Shofarians nie regtig almal shofars besit nie, maar dat hulle wél glo dat die wêreld 6000 jaar oud is, dat baie BA-studente nie juis geïnteresseerd is in hulle studies nie, dat Stellenbosch nog baie wit is, dat ek nie van rugby-spelende, mullet-groeiende, BComm-studerende souties uit die Oos-Kaap hou nie en dat filosowe meestal maar bedonnerde ou omies is.

Ek het egter ook drie ongelooflike leermeesters gehad vir wie ek wil dankie sê: Marlene van Niekerk, Lize van Robbroeck en Daniel Roux. Van Niekerk het Nederlandse letterkunde in my tweede jaar gedoseer en was een van die min dosente wat my laat wens het dat die lesings sommer baie langer was. Die entoesiasme waarmee sy ons poësie gevoer het, het my mond en oë vir nog kopkos laat water. Van Robbroeck het twintigste-eeuse kunsgeskiedenis vir my gegee en ek het haar verafgod terwyl sy ons op ‘n kragtoer deur die -ismes van die 1900s gelei het. Roux het weer Shakespeare vir my oopgemaak en die kognitiewe sielkundige Stephen Pinker se The Language Instinct as basisteks gebruik in sy tutoriale die afgelope semester – hy het my laat onthou waarom ek so lief vir die natuurwetenskappe is.

Buiten vir die bogenoemde dosente dink ek dat ek eintlik meer waardevolle goed geleer het uit boeke wat nie voorgeskryf was vir my kursus nie. Die volgende vyf boeke het in die afgelope paar jaar die meeste vir my beteken. Ek dink dat enige student geforseer moet word om hierdie boeke te lees voor hy/sy ‘n universiteit mag betree:

1. The Selfish Gene deur Richard Dawkins

Hierdie boek het die manier waarop ek na alle lewende organisms kyk, radikaal verander. Ek is nie ‘n Dawkins-fan­ as hy goed oor godsdiens begin kwytraak nie (omdat hy, myns insiens, die kompleksiteit en selfs die belangrikheid van godsiens lelik onderskat), maar hierdie boek slaag daarin om die onderliggende genetiese meganismes op grond waarvan ons vandag hier is, helder en duidelik uiteen te sit.

2. Sophie’s World deur Jostein Gaarder

Hierdie boek is van onskatbare waarde vir enige eerstejaarsfilosofie-student omdat dit die geskiedenis van filosofie in ‘n toeganklike en vermaaklike vorm aanbied. Dit het my ook gehelp om te verstaan waarom filosofie nie net vir filosowe van belang is nie.

3. Country of my skull deur Antjie Krog

Elke Suid-Afrikaner móét Krog se verslag rondom die Waarheids- en Versoeningskomissie lees as hulle wil verstaan hoekom Suid-Afrika vandag die land is wat sy is. Ek dink dat daar heeltemal te veel Suid-Afrikaners is wat nie weet hoeveel skade ons mekaar berokken het tydens Apartheid nie.

4. A terrible beauty deur Peter Watson

Ek’s eintlik nog nie klaar met die een nie, maar ek wens dat iemand destyds aan die begin van my eerstejaar ‘n kopie in my hand gestop het. Eerder as om ‘n politieke of sosiale oorsig van die bloeddorstigste eeu in menseheugenis te bied, beskryf Watson die intellektuele landskappe van die twintigste eeu: alles van fisika tot biologie tot visuele kuns tot letterkunde tot antropologie tot ekonomie kom aan bod. Die beskrywings van die mense agter die idees is boeiend en die manier waarop Watson dit regkry om skynbare disparate elemente met mekaar te verbind, is indrukwekkend.

5. Agaat deur Marlene van Niekerk

Ek wou ‘n roman op die lys sit, en ek weet nie of daar ‘n beter kontemporêre Suid-Afrikaanse roman as Agaat is nie. Van Niekerk speel nie net meesterlik met taal nie, maar kry dit ook reg om ‘n ensiklopediese roman aanmekaar te weef.

Bookmark and Share

33 Kommentare op “Pieter Odendaal. Wat ek tydens my B.A. geleer het”

  1. beatrice russo :

    Nou maar waar is nommer 4 en 5 Pietermangog?

  2. Beatrickster, my laptop is so twee weke gelede gesteel – ‘n ervaring wat nog té emosioneel traumaties is vir my om verder daaroor uit te wei. Ek moes noodgedwonge maar die blog op my foontjie tik. Hy’t egter ‘n limiet van 4999 karakters – die dat my inskrywing so abrup geëindig het. ‘n Besoek aan ‘n internet kafee het egter my dilemma sommer vroegoggend uitgesorteer.

  3. Leon Retief :

    Pieter ek dink ek “beat” jou so bietjie wat besoeke aan ‘n haarkapper betref – ek was in Augustus 2006 laas by een. Interessant dat jy twee boeke noem, Sophie’s World, ek onthou hoeveel ons jingste dogter daarvan gehou het toe ek dit vir haar gegee het toe sy in matriek was. Selfish Gene – ek dink dis ‘n boek wat baie opslae gemaak het, maar die begrip van die selfsugtige geen (en van meme) is fel gekritiseer, dikwels met goeie rede. Kyk of jy Susan Blackmore se “Meme Machine” in die hande kan kry. Sal graag wil hoor wat jy daarvan dink.

  4. Wysneus :

    Net ras en gender? Wat het van klas geword?

  5. Desmond Painter :

    @Wysneus, ek haal altyd vir John Lennon aan –dit gee my sommer vrypas om in die lesingsaal te vloek ook: ‘You think you’re so clever and classless and free/ but you’re still fucking peasants as far as I can see.’

  6. Desmond Painter :

    @Pieter: jou opmerking oor ras en gender is interessant. Ek het elke jaar die probleem dat studente kla (ja, sommiges kry selfs hulle ouers om te bel!) oor ons ras bespreek. (In weerwil het ek hierdie jaar NET ras in my honeursmodule bespreek, maar dit darem opgespice met seminare oor wit hiphop, Disgrace en ander popkulturele goed.)

    Ras, reken hulle, is glo iets van die verlede — ten spyte van wat mens in die koerante lees. Tog is dit altyd wit studente wat kla wanneer mens ras of kolonialisme bespreek; en mans wanneer jy gender bespreek.

    Dink jy hierdie weerstand het iets te make met die “kwynende geesteswetenskappe” (jou uitdrukking) of eerder met die kwynende vanselfsprekendheid van wit mans se sosiale en maatskaplike posisies? Behoort mens nie te verwag dat mense wie se definisies en ervarings van die werklikheid histories dominant was, negatief ingestel sou wees oor die idee dat die (sosiale) werkliheid sosiaal gekonstrueerd is nie? (Straight student is dikwels ewe honend wanneer mens oor heteronormatiwiteit praat — gay studente minder so.)

    Dit is altyd vir my fassinerend hoe swart studente op Stellenbosch reageer op lesings waaroor wit studente na die tyd kom kla (lesings oor ras of rasisme): eerlike, moeilike gesprekke oor ras, oor hoe ras en rassisme steeds op kampus werk, en oor mense soos Biko en Fanon, word dikwels opgeslurp deur sulke studente. Dikwels kom selfs swart tweedejaars, jong studente dus, na lesings en vra of hulle boeke deur Biko en Fanon kan leen.

    Juis omdat hierdie studente nog so in die minderheid op ‘n kampus soos ons s’n is, en omdat rassisme so ontsettend lewendig is in julle koshuise en in julle klubs, weier ek gewoonlik om wit studente se ‘get over it’ kritiek op goed soos die postkoloniale teorie en so aan te aanvaar. Solank goed soos die Annelie Botes en Steve Hofmeyr debakel gebeur kan die geesteswetenskappe in elk geval nie anders as om voort te gaan om ras en rassisme te bestudeer nie.

    In my honeursmodule oor ‘ras’ hierdie jaar het dit nogal gou duidelik geword dat, ten spyte van die alomteenwoordgheid van die konsep, geen van die studente enige historiese en teoretiese begrip gehad het van wat ons bedoel wanneer ons na ‘ras’ verwys nie; van hoe diskoerse oor ‘ras’ histories ontwikkel het nie; en hoe konstruksies (ja!) van ‘ras’ oorvleuel en verstrengel is met goed soos etnisiteit, kultuur, nasionalisme, en ‘n hele spul ander historiese idees of konsepte wat ons vandag as amper vanselfsprekend aanvaar wanneer ons oor onsself praat.

  7. Wysneus :

    Daar is meer aan die lewe as ras, klas en geslag. Geesteswetenskaplikes (‘n oksimoron, besef ek nou) wat net op een toon slaan is eentonig.

    Hulle is soos die John Goodman karakter in The Big Lebowski. Behalwe, dis nie snaaks nie.

  8. Leon Retief :

    Wysneus, hierdie ding van ras is vir my interessant. Jy is ongetwyfeld bewus daarvan dat bioloe soos Richard Lewontin ea vir ons vertel dat daar meer genetiese verskille binne sg rasse is as tussen rasse (alhoewel ek nogal graag die genome van afgesonderde rasse soos bv pigmies sou wou sien). As mens kyk na ‘n hoer takson soos spesies dan is dit ook duidelik dat selfs daar nie altyd ooreenstemming is oor wat ‘n spesie nou eintlik is nie, so dit maak die biologiese definisie van ras nog meer ingewikkeld – dws nou as mens voel dat daar biologiese gronde vir “ras” bestaan, wat ek sterk betwyfel. Die biologiese natuur (as ek nou so ‘n term mag gebruik), waarvan die mens as biologiese entiteit deel is, is nie netjies en afgebaken nie want die natuur steur hom nie aan mensgemaakte definisies en beskrywings nie, dit gaan maar voort en doen sy eie ding op sy eie manier. As mens dus van ras wil praat is dit noodwendig dat dinge soos etnisiteit, kultuur en so meer ter sprake moet kom, en ek dink dis juis waar die verskille soms onoorbrugbaar word.

  9. Wysneus :

    Leon, ek is nou nie ‘n bioloog nie, maar… (lees: nou gaan ek nonsens praat).

    Daar is sekerlik genetiese verskille tussen mense met verskillende etniese oorspronge. Sommige genetiese verskille tussen etniese Swazis en Swede is ooglopend. Die probleem, soos ek jou verstaan, met ‘ras’ is dat Zoeloes en Sothos ook sigbaar verskil, maar die genetiese gaping tussen die twee groepe is nie noodwendig groter as die gaping tussen mense in ander twee ‘rasse’ nie. Mens sou vermoed dat etnisiteite op ‘n spektrum lê, met ‘ras’ as meta-groepering, maar dit is blykbaar biologies nie die geval nie. Soms word inheemse Australiërs bv geag swart te wees.

    Soveel soos ek die term haat, dink ek dus ‘ras’ is ‘n sosiale konstuksie. Maar nie etnisiteit nie.

  10. Pieter Odendaal :

    @Desmond

    Ek stem saam met amper alles wat jy sê en moes dit entlik duideliker gestel het dat my kritiek meer op die bestudering van letterkunde as die geesteswetenskappe as sulks gerig was. Ek is moeg vir dosente wat my liefde vir die letterkunde doodteem met hulle halfgebakte argumente oor die post-koloniale kritiek op die representasie van die vrou in dié roman of die falliese simboliek in daardie gedig.

    My grootste probleem is dat baie van die idees wat in die geesteswetenskappe (en spesifiek in letterkunde-departemente) sirkuleer, geskoei is op die skryfsels van denkers wat, myns insiens, dikwels hulle inkoherente argumente met duistere taalgebruik verdoesel. Ek dink hier veral aan mense soos Lacan, Butler, sommige dele van Derrida en Spivak. Hulle lyk dikwels vir my al te veel na kultusfigure omring deur ‘n groep kloekende dissipels wat hulle ten alle koste sal verdedig. Kan dit wees dat hierdie mense as plaasvervangende Messiasse in ‘n post-religieuse samelewing dien?

    Ek is dit eens met jou oor die onwilligheid van wit, jong, heteroseksuele mans om oor goed soos ras, gender en seksualiteit te gesels en hoe dit dikwels simptomaties van onderliggende vooroordele teenoor swartmense, vrouens en gays is. Maar dis ook belangrik om te onthou dat slegs 3 of 4 persent van S.A. se bevolking tersiêre opleiding ontvang en dat die lesinglokaal om hierdie rede nie die beste plek is om verskeie vorme van diskriminasie teen te werk nie. Dikwels is dit ook ‘n geval van “preaching to the converted”. Ek glo werklik dat ‘n uurlange klas of ‘n joernaalartikel oor die blywende vooroordele van die post-Apartheid Afrikaner nie gaan help om Suid-Afrika ‘n meer verdraagsame samelewing te maak nie. As jy werklik iets wil verander, moet jy strate toe gaan, Steve se gesig op A1-posters aanbring en al sy CD’s buite sy huis verbrand. Jy moet jou Facebook-vriende delete as hulle rassistiese groepe “like”. Jy moet Botes se uitgewers boikot as hulle aanhou om haar boeke uit te gee. Jy moet ‘n groep van jou swart vriende saam Tollies toe vat (die plek het deesdae ‘n nuwe naam, wat my op die oomblik ontglip). Jy moet toi-toi vir verdraagsaamheid.

  11. Desmond Painter :

    @Pieter: ek stem saam, wat mens in ‘n lesinglokaal kan doen, en in ‘n akademiese joernaal, is beperk. En lesings is ook nie gemaak daarvoor om ‘sosiale aktivisme’ te pleeg nie. Ek hou van jou alternatiewe opsies!

    My eie omgeweing is anders: in die sielkunde is meer geesteswetenskaplke idees onderverteenwoordig, eerder as oorverteenwoordig, soos jy in die konteks van letterkunde-departemente beskryf. Ek stem ook saam dat daar meer aan ‘n literere teks is as die soort sosiale diskoerse en goed wat daarin sirkuleer.

    Ja, mense soos Derrida en Butler word kultusfigure, maar dit is onregverdig om hulle daarvoor te blameer! Derrida is glad nie so inkoherent en duister nie! Butler is ‘n nuttige deel van mens se konseptuele toolbox. maar dis ‘n ander gesprek.

    Geluk met die graad!

  12. Leon Retief :

    @Wysneus: Dalk verstaan ek jou nie mooi nie, verskoon dus as ek herhaal: Die genetiese verskille TUSSEN rasse is nie so groot as die genetiese verskille wat BINNE een rasgroep aangetref word nie. Die kwessie is dus nie of Sothos en Zoeloes minder van mekaar verskil as bv Zoeloes en Egiptenare nie, maar dat Kaukasiers onderling groter genetiese verskille toon as wat die verskille tussen Kaukasiers en Zoeloes is.

  13. Leon Retief :

    Geluk ook van my kant met jou BA Pieter. Wat gaan jy volgende jaar doen?

  14. Desmond Painter :

    @Leon. Die wetenskaplike bevindinge oor ‘ras’ waarna jy verwys is inderdaad baie belangrik. Dit is ook waarom dit juis in spesifiek die sosiale wetenskappe so belangrik bly om ‘ras’ as historiese, maatskaplike fenomeen te bestudeer, myns insiens.

    Hierdie ding (‘ras’) wat mense dink so vanselfsprekend, so self-evident is, is eintlik ‘n vae, selfs nuttelose begrip — en tog weet ons almal watter houvas die idee van ‘ras’ histories (en steeds) op mense het; en hoe mense daarin ‘investeer’. In ‘n land soos SA bly dit ‘n rigtinggewende idee, ‘n soort meesternarratief oor mense; en ‘n problematiese een ook, boonop.

    Dit is juis hier waar die natuurwetenskappe en die sosiale wetenskappe myns insiens nie in koflik is nie, maar veskillende aspekte van die werklikheid sistematies (behoort te) probeer ondersoek. Die natuurwetenskaplike kyk of ‘ras’ biologies, geneties, wat ook al, betekenis het; die sosiale wetenskaplike kyk hoe die idee ontstaan het, ontwikkel het, polities gemobiliseer is, en vandag nog in ons maniere van sin maak van onsself en andere werksaam is. Die feit dat ‘ras’ tot ‘n groot mate ‘n lee begrip is (en ek dink beslis dit is) beteken nie dit is leeg as ‘n idee, of ‘n ideologie, nie; en dat die sosiale wetenskaplike hom dus besig hou met nonsens nie. Ten spyte wat wetenskaplikes oor en oor bewys het, glo miljoene mense steeds dit is ‘onnatuurlik’ om ‘rasse’ te meng… En gaan kyk maar konseptueel verward die gesprekke oor ‘ras’ en ‘rasissme’ nav Annelie Botes en Steve Hofmeyr is, selfs die akademiese bydraes. Almal praat oor ‘n ander ding.

    Dit is maklik om gewoon te s^e hulle is VERKEERD; maar waar kom die verkeerde idee vandaan, watter doel dien dit, hoe oorleef dit, hoe word dit polities gemobiliseer. Vir my is die manier waarop ons ‘gevange’ gehou word deur idees by uitstek iets waarmee die sosiale wetenskappe moet besig bly, en dit is ook juis waar sommige van die sg. ‘obskure’ Franse, soos Barthes, Foucault en Derrida
    tog nuttige analitiese strategiee bied.

    Maar in elk geval, in ‘n plek soos Suid-Afrika bly ‘ras’ ‘n magtige idee, ‘n ding wat mense alle rasionaliteit oorboord laat gooi en bereid maak om te beledig, te veg en te moor! Soos die idee van ‘die nasie’ ook… As jy mense vra wat ‘ras’ is, sal min vir jou die wetenskaplike antwoord kan gee. Selfs my nagraadse studente huldig nog deur die bank totaal ongefundeerde, onwetenskaplike, skynbaar vanselfprekende idees oor wat ‘ras’ is — selfs al is hulle dan ook teen ‘rassisme’.

    Dit is myns insiens dus baie voortydig om aan te voer sosiale wetenskplike wat navorsing doen oor ‘ras’ in SA en elders is gewoon agter die klip, of uit daarop om studente met irrelevanthede te treiter. Dat die lewe oor meer gaan as ras, soos Wysneus skryf, is irrelevant. Natuurlik gaan die lewe oor meer as ras. Dit gaan ook oor meer as bye en vulkane, maar beide daai dinge is legitieme ondersoekareas — en vir diegene wat met bye boer of onder ‘n vulkaan leef, selfs BELANGRIKE ondersoekareas. Gaan vra die minderheid van swart studente op Stellenbosch of ‘ras’ ‘n oorbodige akademiese onderwerp is, en jy kry dikwels ‘n radikale ander antwoord.

    En wat die ‘oksimoron’ geesteswetenskappe betref (Wysneus): ek wil nie in ‘n debat daaroor betrokke raak nie, nie so laat in die jaar nie, maar iets soos geskiedenis is dalk nie ‘n ‘wetenskap’ nie, maar dit is tog duidelik dat mens beter en slegter geskiedskrywing kry; en dat dit sistematies, empiries gefundeerd en gebalanseerd kan en behoort te wees.

  15. Desmond Painter :

    @Pieter: maar gaan lees op LitNet Akademies iets soos Irma du Plessis se artikel oor nasionalisme en gender in Agaat, om te sien hoe dit wat jou (met reg, soms) irriteer goed gedoen word, en hoe nuttig dit soms is om ‘n literere teks polities te lees. Eerder as om ‘n teks te verminder of te vermink, maak dit dit oop. Jy sien iets wat jy reeds gelees het in ‘n heel ander lig.

    Derrida se lees van tekste doen dieselfde: dit maak daai tekste meer as wat mens ooit kon droom hulle kon wees. Dekonstruksie is nie die ‘punitive’ strategie wat dit soms in ‘complit’ departmente in die VSA geword het nie. Dis ‘n strategie wat die uitbundigheid van betekenisse verlos van die tirannie van Die Betekenis. Kritiek op dit wat soms minder direk verstaanbaar is in Derrida en Lacan kom dikwels van vervelige analitiese filosowe wat stiksinnig vasklou aan ‘n beperkte, onpo”etiese, instrumentalistiese idee van taal. Asof ‘n filosofiese teks nie ook mag sing nie, nie ook retories verleidelik mag wees nie, nie ook mag speel met woorde nie.

    Ek is nie ‘n Lacaniaan nie, maar meeste van die meer histeriese reaksies op sy werk rus op verkeerde aannames en onwilligheid om te probeer verstaan. Daar’s nog heelwat van nut in Lacan, en net so ook in Freud!

  16. Pieter Odendaal :

    @Leon.
    Ek begin volgende jaar heeltemal van voor af met ‘n B.Sc in menslike lewenswetenskappe. Ek gaan maar daagliks besoeke aan Versindaba en Protea moet aflê om my pohetiese sy gevoed te kry. 😉

  17. Pieter Odendaal :

    @Desmond.
    Ek het spesifiek nie vir Foucault op my lys van ‘berugte’, obskure denkers ingesluit nie, omdat ek dink dat hy fantasties is. Hy’t my nuut na die geskiedenis laat kyk. Wat my meer van hom as van Lacan of Derrida laat hou, is die feit dat hy so nougeset na geskiedkundige gebeurtenisse gaan kyk en van daardie vertrekpunt af begin abstraheer. Kan jy nie dalk vir my ‘n soort Foucauldiaanse analise van ras voorstel nie?

    Verder dink ek dat ‘n boek soos Jared Diamond se Guns, Germs and Steel nog ‘n voorbeeld is van waar die geestes- en natuurwetenskappe om dieselfde vuur sit en probeer om die wanverstaan en -gebruik van die term ‘ras’ te dissekteer. Die groot vraag wat hy aanspreek, is waarom verskillende samelewings teen verskillende tempo’s ‘ontwikkel’ het, soos byvoorbeeld waarom die Khoisan steeds hunter-gatherers was teen die tyd dat Wes-Europeërs die oseane deurkruis het, lank reeds skryfstelsels ontwikkel het en stede van derduisende inwoners gehad het. Ek moes eintlik ook dié boek op my bostaande lysie gesit het.

  18. Pieter Odendaal :

    @Leon
    Rakende jou opmerking oor The Selfish Gene – ek dink dat baie mense sy titelmetafoor verkeerd verstaan. Hy’t self ook iewers gesê dat ‘n beter titel vir sy boek dalk The Immortal Gene sou wees. Maar ek glo vas dat sy basiese tesis reg is, naamlik dat gene (en nie organismes of spesies nie) die basiese eenheid van natuurlike seleksie is.

    Sy bespiegelings oor meme is ‘n ander saak. Ek dink dat dit wel nuttig is om dit as ‘n metafoor vir die verspreiding en evolusie van idees te gebruik, maar of daar ‘n neurologiese teenhanger vir meme is, sal net die tyd kan leer. Ek het iewers ‘n artikel oor die ‘dood van memetics’ gelees en hoe dit verband hou met die onvermoë om ‘n wetenskaplike, empiriese begronding vir die bestaan van meme te bied.

    By the way, Susan Blackmore is mos die tannie met die veelkleurige haredos? Ek het al van haar boek gehoor en sal dit op my leeslysie plaas.

  19. Leon Retief :

    @Pieter: Watter vakke gaan jy loop? Ja, Blackmore is die antie met die veelkleurige hare. Ek het so ‘n paar jaar gelede met haar gekorrespondeer, interessante persoon. Ek stem met jou saam oor die grondliggende belang van gene in evolusie maar mens moet nie vergeet van die groeiende aandag wat deesdae aan epigenetika gegee word nie. EO Wilson het ook onlangs met interessante idees oor groepseleksie vorendag gekom. Of hierdie begrippe die toets van die tyd sal oorleef sal ons nog moet sien. En ja, baie mense het Dawkins se selfsugtige geen verkeerd verstaan maar die titel van sy boek verander nie aan sy basiese tesis nie.
    @Desmond: Ek is nie bevoeg om ‘n oordeel te gee oor die persone wat jy genoem het se uitsprake oor dinge in die geesteswetenskappe nie, maar ek weet wel wat ten minste sommige van hulle, en hul maters, oor die natuurwetenskappe kwytgeraak het en ek dink ek weet darem iets van daardie vakgebied af. Byna sonder uitsondering het hulle louter, ongebreidelde twak gepraat wat my laat wonder het of mens enige waarde moet heg aan hul ander skryfsels. Dis ironies (dalk selfs Freudiaans) dat mens net een letter in Freud se van moet verander dan lees dit : Fraud. Want dis presies wat die ou siel was.

  20. Wysneus :

    Desmond, geesteswetenskap is ‘n oksimoron nie oor die wetenskap nie, maar oor die gees. Hoeveel sielkundiges glo bv ‘n mens het ‘n siel? Psigologie is beter.

    Om saam met my ma televisie of ‘n fliek te kyk was pynlik. Want sy kon immoraliteit en die subtiele ondermyning van tradisionele waardes enige plek uitsnuffel. En dan daaroor preek. Só is dit om blootgestel te word aan die ras-, geslag-, en klas-fetishis.

    Leon, wat is ‘geneties verskille?’ Verskillende dele van die genoom hou mos verband met verskillende eienskappe. Daardie uiterlike eienskappe waardeur etnisiteite gekenmerk word moet tog geneties oorgedra word, anders is almal van Mendel af verkeerd. ‘n Fin en ‘n Swahili wat gelyk is in fisiese en psigiese (mental) vermoëns, predisponering vir siekes, ens, behoort tog seker nader te wees aan hul groepsgenote as aan mekaar, wat betref die gene gekoppel aan velkleur en haarkleur, al is die “genetiese veskil” tussen hulle en sommige van hulle groepsgenote groter as die “genetiese verskil” tussen die twee van hulle. As dit so is, dan akkordeer dit mos met die voordiehandliggende: dat ‘ras,’ of etnisiteit of oorsprong nie bepalend is vir sekere eienskappe nie, maar wel vir andere.

    Biologie is regtig nie my ding nie.

  21. Pieter Odendaal :

    @Leon

    Ek het vroeër die jaar die eerste keer van epigenetika gehoor. Kan jy nie dalk ‘n internetbron/artikel/boek aanbeveel wat ons huidige kennis rakende epigenetiese merkers uiteensit nie?

    Op hierdie stadium lyk dit of my hoofvakke Biochemie, Genetika, Fisiologie en Menslike Anatomie gaan wees, maar ek sal nog sien wat my die meeste interesseer.

  22. Desmond Painter :

    @Wysneus: ja, ek stem saam oor psigologie.

    @Pieter: ek is mal oor Foucault. Sy lesings veral is wonderlik; jy sien daarin ‘n denker aan die werk wat bereid is om homself verkeerd te bewys. Daar is fantastiese goed oor Foucault en ras; as ek nou net toegang tot my kantoor kan kry, stuur ek vir jou die verwysings!

    @Leon: ek verskil! Ek is glad nie ‘n psigoanalis nie, maar Freud was glad nie bloot ‘n fraud nie. En dis nie net die humanoria en kunste wat hom nog gebruik nie. Selfs die neurolo”e is nog nie klaar met Freud nie. Maar later meer!

  23. leon Retief :

    @Pieter: Pieter ek stel voor ons vra Marlise of ek via haar ‘n paar artikels aan jou kan stuur. OK Marlise?

  24. leon Retief :

    Wysneus, ek onthou nou nie die presiese persentasie nie maar minder as 1% van ons genoom kodeer vir velkleur, haartekstuur en sulke dinge wat dit maklik maak om te sien of iemand van Afrika of Swede is. Dis net makliker om te sien of iemand ‘n swart vel en kroes hare het as dat hy laktose-tolerant is en aan bloedgroep B behoort. Gesien die groot aantal proteïne waarvoor gene kodeer (en onthou dat ‘n enkele geen vir meer as een proteïn kan kodeer, in sommige gevalle sommer vir baie) is daar ‘n geweldige groot spektrum van proteïne waarin mense – dus sg rassegroepe – kan varieer.

    Jy sal miskien Luigi Luca Cavalli-Sforza se werk baie interessant vind – sy navorsing handel weliswaar oor die verspreiding van mense vanuit die oertyd tot vandag, maar hy maak gebruik van genetiese merkers om hierdie migrasie te karteer. En soos jy teen hierdie tyd seker al gelees het besit mense van Noord-Europese afkoms ‘n klein hoeveelheid Neandertal-gene in hul genoom, wat die hele saak nog moeiliker maak vir diegene wat aandring daarop om mense in rasboksies te sit. Dis dalk selfs moontlik dat Homo neandertalensis as ‘n aparte takson gaan verdwyn en H sapiens gaan word. Hoop dit beantwoord jou vraag.

  25. leon Retief :

    @Desmond: Giegiegie… Ek was opsetlik bietjie moedswillig Desmond, mens is net ‘n “fraud” as jy doelbewus so is, en Freud was nie altyd so nie – hy het uitstekend daarin geslaag om homself en baie ander om die bos te lei, maar dit wil my tog voorkom dat hy wel by tye doelbewus sy rekords vervals het. Ek is nie seker wat jy bedoel met “neuroloë” nie – bedoel jy neuroloë, neurobioloë, psigiaters of al drie? Neuroloë, in die konteks waarin ek die woord ken en gebruik, het niks met Freud te doen nie.

    Freudiaanse psigoanalise is ‘n pseudowetenskap geskoei op ‘n interne verwysingsraamwerk wat geheel en al onfalsifiseerbaar is, dit berus op geen empiriese of eksperimentele gronde nie en het, in die woorde van Crewes, “more converts than cures” tot gevolg gehad. Moderne neurobiologie en neuropatologie het getoon dat daar bitter min plek, indien enige, vir Freudiaanse psigoanalise is en selfs Eric Kandel, ‘n neurobioloog wat minder onsimpatiek staan teenoor psigoanalise as meeste ander het geskryf dat die onderbewuste wat neurobiologiese navorsing aan ons toon hemelsbreed verskil van wat Freud aan ons vertel het. Net om enige misverstand te voorkom: ek beskou CBT nie as psigoanalise nie (ek skat jy waarskynlik ook nie.

  26. Desmond Painter :

    @Leon, later meer, maar wat ek altyd van Freud so fassinerend vind, is dat dit die moeite werd bly om hom te lees selfs wanneer hy met sy feite en interpretasies verkeerd is…

    Dis asof die groter problematiek wat hy aan die orde stel, die ‘antropologiese’ vrae wat hy gestel het, oor die menslike kondisie, steeds dwingend is. Goed soos CBT is wat dit betref skaars insiggewend om te lees wanneer dit REG is, wat nog wanneer dit verkeerd is! 🙂

    Maar ernstig, selfs al is CBT meer suksesvol met die behandeling van goed soos fobies en angsstoornisse, is die mensbeeld onderliggend daaraan nogal simplisties — en dit is seker deels waarom mense soos Albert Ellis en Aaron Beck nie in die filosofie beduidende figure is nie, en nooit al wees nie, terwyl Freud wel is.

    Ek het onlangs die bladsyproewe van ‘n boek oor Freud deur ‘n Nederlandse filosoof, Philippe van Haute, gelees (De Kunst van Een Onmogelijk Geluk, of so iets) en daar is geen manier waarop Van Haute se hantering van seksualiteit, godsdiens en kreatiwiteit in daardie boek sommer so afgemaak kan word as die produk van iemand wat deur ‘n kwak om die bos gelei is nie. En weereens: ek is nie ‘n psigoanalis nie, en ek is nie in beginsel teen die meer eksperimentele benaderings tot die sielkunde nie.

    Wat die neurlo”e betref: ja, ek vat ‘n kans! Ek verwys eintlik na die sg. “neuropsigoanalise” van mense soos Mark Solms, wat wel op die “natuurwetenskaplike” Freud fokus en glad nie so afwysend is oor sy wetenskaplike pretensies is nie — veral nie wat drome, repressie en die sg. verdedigingsmeganismes betref nie.

    PS. Die meerderheid (veral akademiese) sielkundiges vandag sal natuurlik heeltemal met jou saamstem oor Freud.

  27. Desmond Painter :

    @Leon. Dankie vir die verhelderende kommentaar oor “ras”. Die betekenisse wat “ras” en “rasse” in ons alledaagse taal het wyk beslis heeltemal af van die werklikheid in hierdie geval. Dit bly dus fassinerend om na te gaan hoe ons eie, gedeelde konseptuele sisteme tot stand hom, hoe hulle teen bewyse gefortiseer word, en hoe hulle polities aangewend word om mense in en uit te sluit, of dade te regverdig.

  28. Beatrice Russo :

    Boeiende gesprek, here. Heerlike leesstof laat op ‘n Vrydagagtermiddag.

  29. Leon Retief :

    Freud lees inderdaad lekker, maar hy was ‘n meester van retoriek – geen wonder hy is genomineer vir die Nobelprys vir letterkunde nie, sy geskrifte is meesterstukke van fiksie J. Hy het uitstekend daarin geslaag om homself voor te doen as ‘n vreeslose, objektiewe soeker na kennis, iemand wie se enigste doelwit die uitbreiding van kennis is terwyl hy inderdaad sy bevindings verdraai het, sy pasiënte woorde in die mond gelê het, hulle geforseer het om hul sogenaamde onderdrukte herhinneringe by sy teorie te laat pas en elke moontlike truuk aangewend het om te verseker dat sy gevallestudies pas by die thumbsuck wat hy aan die wêreld voorgehou het. Verder het hy baie taamlik ou begrippe as sy eie oorspronklike denke voorgehou en hy was daarmee so suksesvol dat baie mense vandag steeds dink dat dit sy eie diep, oorspronklike en radikale insigte was.

    CBT – ja, ek stem saam, dit het geen besondere insigte tot gevolg gehad nie – net soos penisillien, maar beide werk. Waarmee ek nie probeer sê dat dit die aller antwoord is nie. Mens kan nie dieselfde sê van psigoanalise nie wat met al die woordeslaai wat dit omgewe geen besondere terapeutiese voordele meebring nie. Mens moet wonder: as Freudiaanse psigoanalise sulke betekenisvolle insigte het, waarom het dit geen beduidende terapeutiese gevolge nie? Freud self het geen enkele pasiënt van sy probleme verlos nie en aan ‘n hele paar aansienlike skade berokken. Daar is goeie studies wat toon dat daar vir die “walking wounded” van psigiatrie geen verskil is tussen ‘n diep geselsie (as ek dit so mag stel) met jou goeie vriend en ‘n psigoanalis nie – beide help ewe veel en jou vriend gaan jou nie ‘n rekening stuur nie (jy mag dalk ‘n bottel wyn of twee moet koop vir die geselsie). Verder moet mens kyk na hoe neurologie besig is om psigoanalise in te haal – Parkinsonisme wat soos ons nou weet te wyte is aan ‘n dopamiengebrek is beskou as ‘n onderdrukte begeerte vir masturbasie en outisme is deur Bruno Bettelheim (‘n Freudiaan as daar ooit een was) voor die deur gelê van sogenaamde yskasmoeders, en dan praat ek nie eers van die katastrofes wat die sogenaamde “repressed memory” beweging in die VSA tot gevolg gehad het nie, en hierdie beweging is ‘n direkte gevolg van Freudiaanse psigoanalise.

    Ek is goed bekend met Solms se werk – vir hom, ‘n gekwalifiseerde psigoanalis, lei alle paaie na Freud, ongelukkig het hy die gewoonte om sy en ander bevindings te “retrofit” om by Freudiaanse teorie te pas. Net een voorbeeld: Solms skryf van ‘n basiese instinktiewe soogdier neuronale netwerk wat volgens hom ooreenstem met Freud se konsep van libido. As ondersteuning vir hierdie standpunt haal hy Panksepp se werk aan. Panksepp het die ventrotegmentale deel van muisbreine gestimuleer en die muise het dan rondgeloop en in die lug gesnuif asof hulle besig was om iets te soek. Panksepp self het geskryf “What I was seeing was the urge to do stuff.” En Solms? Vir hom is dit die libido. Oftewel, ‘n neurobioloog ontdek ‘n area in die brein wat muise na iets nuuts laat soek, ‘n doodgewone gedragspatroon om hul omgewing te verken op soek na iets nuuts wat mens vind by alle organismes met breinselle, maar vir Solms is dit sommer dadelik die neurale ekwivalent van die libido! Flippit….

    Peter Medawar, een van die mees veelsydige wetenskaplikes van die vorige eeu en iemand vir wie ek oneindige respek het, het oor psigoanalise die volgende gesê, en ek kan nie daarop verbeter nie:

    “Considered in its entirety, psychoanalysis won’t do. It is an end product, like a dinosaur or a zeppelin; no better theory can ever be erected on its ruins, which will remain for ever one of the saddest and strangest landmarks in the history of twentieth-century thought”, en

    “(Psycoanalysis is) a lava flow of ad hoc explanation (which) pours over and around all difficulties, leaving only a few smoothly rounded prominences to mark where they might have lain”.

    Sela. Ek dink nie hierdie is die forum om sulke dinge in diepte te bespreek nie, hierdie is dus my swanesang oor die onderwerp. En bowendien lê my literatuur in die verband in bokse in Kaapstad. Dankie vir jou insette, ek het dit waardeer.

  30. Desmond Painter :

    Leon, ja, kom ons roep eers halt! Dankie vir bogenoemde — baie interessant. Ek is veel meer in die psigoanalise as ‘n historiese fenomeen en as ‘n ‘hermeneutiese benadering’ geinteresseerd as om te probeer bewys dat dit ‘n wetenskap is; dus, ek stem saam met jou oor Solms. Foucault skryf iewers dat as ons ‘n klassieke teks oor die meganika herlees dit dalk ons begrip van die geskiedenis van die meganika kan hersien, maar nie die wette van die meganika self aantas nie. As ons egter Freud herlees verander dit nie net ons begrip van die geskiedenis van die psigoanalise nie, dit verander die psigoanalise self. Met ander woorde, dit is nie ‘n diskoers wat bloot OOR iets handel nie, maar ‘n diskoers wat dit wat dit bestudeer op ‘n manier tot stand bring. Dit beteken dit is nie ‘n ‘wetenskap’ nie, maar dit beteken dalk ook dat ons die psigoanalise wel as ‘n hermeneutiese benadering kan gebruik om iets te s^e oor hoe ‘individualiteit’ histories tot stand gekom het (in die Weste) en hoe ons daarvan sin maak/gemaak het/kan maak. Of die psigoanalise die beste storie is wat ons oor onsself kan vertel? Waarskynlik nie!

    Kan ek dalk net die Medawar-verwysing by jou kry? Sal dit graag lees.

  31. Leon Retief :

    Desmond ek moet erken dat ek die aanhalings op die internet gaan opsoek het want ek het nie Medawar se boeke hier nie. So ver ek onthou kom dit uit een van die essays in “The Art of the Soluble” – werklik ‘n boekie wat dubbel en dwars die moeite werd is.

  32. Desmond Painter :

    Dankie Leon, sal daarvoor uitkyk. Maar nou wil ek eers bietjie vakansie hou en speurverhale lees!

  33. sebra :

    Ek het hierdie hele gesprek uiters interessant en ook leersaam gevind. Dis vir my egter vreemd dat mense wat so die harnas ingejaag is oor die voorgestelde mediawetgewing nou sommer summier Annelie Botes, wie sy ook al is, se boeke wil verbrand om van ou Stevie se CD’s nie te praat nie. Ek dog ons gun elke diertjie sy plesiertjie in terme van die grondwet, vryheid van spraak ens. As iemand haatspraak of aanstootlikhede iewers skryf, kan ons beswaar maak. Ek dink ook Botes se uitgewer het deel van die verantwoordelikheid. Iewers het ek gelees sy het geskryf sy is bang vir swart mense.En daar leef ek jare al in die waan dat die swart gevaar net ‘n nare droom was. Daar is baie swartes wat bang is vir wittes. Sielkundiges leer ‘n mens jou angste besweer deur jou as jy, bv, bang is vir die donker, vir ‘n telling in die donker te laat staan. Dan twee tellings ens. Miskien moet Botes een swart mens wat sy nie ken nie, uitnooi en later twee en dalk nog later drie. Sy sal vind dat hulle mense is met dieselfde angste, hoop, ideale en verlangens as sy net steeds met minder moontlikhede om hul drome te vervul as sy.
    Wat ras betref haal ek aan uit ‘n boek wat deur die oupa van antropologie, Johann Blumenbach in 1865 gepubliseer het.
    Although there seems to be so great a difference between widely separate nations, that you might easily take the inhabitants of the Cape of Good Hope, the Greenlanders and the Circassians for so many different species of man, yet when the matter is thoroughly considered, you see that all do so run into one another, and that one variety of mankind does so sensibly pass into another, that you cannot mark out the limits between them.
    Ras is onder andere ‘n politieke konstruksie soos ons almal weet. Jy kan ewe min mense volgens hul kleintoontjiegrootte as hul velkleur klassifiseer. Maar hoekom sou jy in elk geval wou?

  •