Sutherland bly een van my gunstelingdorpe in die Karoo. ʼn Belangrike rede hiervoor is seker Karel Schoeman se boek Hierdie lewe, ʼn hartroerende roman wat dokumenteer hoe Afrikanerboere in die omgewing hul grond bekom het, hoe hulle hulself uit armoede uit opgewerk het en hoe hulle die landskap begin domineer het. Dit is seker een van die mees sensitiewe studies van koloniale, landelike patriargie. Die boek is ʼn belangrike verwysingspunt in Marlene van Niekerk se Agaat.
In Sutherland bly ons gewoonlik op Nicol en Marina van der Merwe se plaas Blesfontein. Die plaas is op die Roggeveld se eskarp. As jy op die eskarpkant staan kan jy die Cederberge sien en onder jou die Tankwa-Karoo, of die Ceres-Karoo soos sommige mense dit hier noem.
Vir meer as drie eeue jaag die boere hier hul skape elke winter met die Oubergpas af na onder toe, sodat die skape nie van winterkoue en sneeu omkom nie. Soos meeste van die ander boere, het Nicol en Marina ook ʼn plaas onder in die Tankwa-Karoo. Dis al hoe jy hier kan boer.
Karel Schoeman se bemoeienis met Sutherland se geskiedenis kom natuurlik van sy belangstelling in die wêreld van NP van Wyk Louw. Ons hou in Sutherland stil, sodat ek foto’s kan neem van hoe die huis waar NP van Wyk Louw en WEG Louw grootgeword het vandag lyk.
Daniel, as ek geweet het, het ek ‘n fles saamgeneem en dalk meer van die gruis en minder van die wolke in die agterplaas afgeneem! Toe ek daar was het die son die agterplaas meer laat bulder as flikker.
Toe ek baie jare gelede by die Louw-huis was, het ek ‘n Consul-inlêflessie vol gemaak met die fyn blou gruis uit die agterplaas, waaroor Van Wyk Louw in “Beeld van ‘n jeug: duif en perd” skryf:
Ons agterplaas die flikker van die son
…
Die helderte is oor my boek en in
my oë; die gruis is warm aan my skeen.
Met ‘n verhuising het die botteltjie en sy inhoud spoorloos verdwyn. Gelukkig sal Louw se manjifieke gedig standhou solank Afrikaans bestaan.