
Soos jy na alle waarskynlikheid weet, is Ramsey Nasr twee jaar gelede aangestel as Nederland se Dichter des Vaderlands. Halfpad deur sy ampstermyn wil dit egter voorkom asof nie almal gelukkig is met sy vertoning as Vaderlandsdigter nie.
So het Chrètien Breukers, redakteur van De Contrabas, in ‘n ietwat ongewone stap ‘n ope brief op hul webblad tot Nasr gerig. By wyse van inleiding haal hy ‘n uitspraak wat Nasr tydens sy verkiesingsveldtog gemaak het, aan: “Ik wil niemand buitensluiten. Daarom kies ik principieel thema’s die iedereen kunnen aanspreken: ik schrijf over de Zoo, de opening van de nieuwe stadsbibliotheek, over Wannes van de Velde en over huisjesmelkers. Maar, dat wil niet zeggen dat ik een knieval wil doen. Ik zal mijn schrijfstijl niet aanpassen opdat meer mensen zouden kunnen volgen. Ik schrijf zoals ik schrijf.”
Dit wil egter nou blyk dat Nasr sy rol in die breë as instandhouer van die digkuns – in sowel Nederland as Vlaandere – eenkant toe geskuif het ten gunste van ‘n posisie as “opinievormer”. Vandaar dat hy hom merendeels toespits op politieke aangeleenthede binnenslands, sowel as buitenlands (die Midde-Oosterse konflik, byvoorbeeld). By geleentheid het hy hom selfs met die godsdiens bemoei en onder andere ‘n direkte aanval op die Rooms Katolieke kerk geloods.
In wese kom Chrètien Breukers se beswaar op die volgende neer: “De vraag die echter altijd onbeantwoord blijft, is deze: heeft de Dichter des Vaderlands de eh … taak om dit soort onderwerpen, politieke onderwerpen, aan te snijden, of is deze Dichter des Vaderlands bezig met het najagen van zijn eigen obsessies? […] Mij maakt het allemaal niets uit, dat U zich gedraagt als een ‘opiniemaker’, ook al vind ik U als ‘opniemaker’ eerder een stokebrand dan een opiniërend schrijver. Mij gaat het om iets anders. Mij gaat het om Uw manier van opereren. […] Ik zie de twee resterende jaren van Uw termijn liever een dichter aan het werk, dan de wat pruilende & stampvoetende puber die bij neef Pauw en oom Witteman mag komen.”
Nou ja, toe. Of Nasr egter op Breukers se brief – en die uitdaging wat hy ten slotte tot hom rig – sal reageer, is ernstig te betwyfel. Selfs ‘n Dichter des Vaderlands het sy (voorlopige) trots … Of wat praat ek nou?!
Vir jou leesplesier plaas ek die gedig wat Nasr vir die Nasionale Dodendagvieringe op 4 Mei verlede jaar geskryf het. Die Afrikaanse vertaling daarvan is deur Carina van der Walt gedoen.
***
Vaoggend is daar twee nuwe tekste in Cas Vos se gedigte kamer om te lees: die een is ‘n nuwe gedig, “Doodsmagtiging“, en die ander is ‘n teksverwerking van Karl Jenkins se “Stella Natalis“. Laasgenoemde is op kersdag verlede jaar deur RSG uitgesaai.
En daarmee eers weer groet. Geniet die naweek wat op hande is; Nuuswekker hervat weer Maandag.
Mooi bly.
LE
‘n Mooi dag om stilte te verskeur
‘n Mooi dag om stilte te verskeur.
Oudrebelle staan en bewe langs die kant
die blikke op swartwit – en dit gebeur.
Sommerso, omdat dit kán gebeur. Omdat één man.
Dit is die wet van Nederland. By ons
moet alles een of ander tyd gebeur,
dan maar dít ook. Elkeen soek na die lig
soos hamsters in ‘n hok met oop deure.
Ek het vandag my oorlogsland herdenk
en struikel vorentoe sonder enige terugstaan
in so ‘n mate bevry dat ek ‘n kind vertrap.
Vlak voor my voete val ‘n hoogsbejaarde
in sy kostuum. Hy huil. Ek kyk.
Waar alles mag, is elkeen voëlvry.
(c) Ramsey Nasr (vertaal deur: Carina van der Walt)
Inderdaad, Carina. Lees gerus ook Danie Marais se essay oor die skrywer en moraliteit, hoor. Dit sluit nogal op ‘n manier aan by wat jy hierbo sê.
Louis, die ope brief aan Ramsey Nasr by De Contrabas het ek gelees. Ek bly ‘n Nasr-bewonderaar. Genoemde tydskrif is bekend daarvoor dat hulle maar altyd bietjie ‘n suur geluid laat hoor. Wee die digter wat hom laat terugroep deur Jan Alleman of ‘n redakteur om hom net besig te hou “als dichter aan het werk”! Dit klink soos ‘n oproep vir oppervlakkige Sinter Klaas-rympies; vir ‘n selfgesentreerde speletjie – die digter veilig verstop in sy klein hoekie en die leser in syne! Maar die argument teen Nasr as “opiniemaker” is waarskynlik heeltemal in aansluiting by die algemene vervlakking van samelewings wêreldwyd waarna soms in die media verwys word. Wie lees nog regtig ‘n digbundel smaaklik en met oorgawe soos mens ‘n mielie eet, hmm? Selfs hier in Nederland nie! “Multi tasking” laat die moderne leser met ‘n “scatterded mind” hier pik-pik daar pik-pik deur ‘n nuwe bundel. Die doel? Vinnige bevrediging vir die nimmereindigende soektog na ‘n ander woord of geluid: nuut, eksoties… En verder, om maar net twee te noem: is ons eie Krog en Breytenbach nie ook behalwe digters, “opiniemakers” nie?