Andries Bezuidenhout. Die argitektuur van dorpsbanke

Argitektuur verklap baie van ʼn samelewing se geskiedenis. Benewens kerkgeboue, kan die geboue wat deur banke in dorpe opgerig is werklik insiggewend wees. As ek deur landelike Suid-Afrika ry, stop ek gewoonlik by die kerk, maar ry ook in die hoofstraat af om te sien hoe die banke lyk. ʼn Onlangse verslag oor die verval van klein dorpies toon aan dat die finale nekslag toegedien word as banke besluit om hul deure op ʼn dorp te sluit. Boere besoek dan eerder ʼn ander, nabygeleë dorp waar daar wel ʼn bank is. Kort daarna sluit die winkels se deure. Die einde van ʼn formele ekonomiese sektor op ʼn dorp beteken ook die einde van ʼn belastingsbasis en die moontlikheid van plaaslike dienste. Die skole verval en heel laaste kom die kerk ook tot ʼn einde. As die bank eers gesluit het, volg die kerk dus – die einde van die instellings van koloniale moderniteit.

So gepraat van koloniale moderniteit en argitektuur. In Seepunt in Kaapstad is daar twee geboue wat twee van die hoofstrome van modernistiese argitektuur baie mooi illustreer. Die een is die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se hoofkantoor in Kaapstad en die ander is die woonstelblok op linkerhand hier onder:

Art Deco en Corbusier in Seepunt

Die SAUK-gebou is ʼn pragtige voorbeeld van die ontwerpbeginsels van Le Corbusier. Die gebou staan op pilare (om stedelike ruimte te bespaar), simmetriese vorms bepaal die gebou se vloei, funksionele dele is in afsonderlike kompartemente (soos die trappe agter die vertikale suil wat deur glasstene verlig word, in hierdie geval beïnvloed deur Corbusier se Pavillon Suisse in Parys) en buitelewe vind op die dak plaas (die solarium met die golwende dak regs bo). Lees gerus meer hieroor in ʼn vorige blog. Afrikanernasionalistiese argitektuur is sterk deur hierdie Franse modernistiese skool beïnvloed, dalk ook weens die Franse republikeinse reaksie teen die tierlantyntjies van bourgeois argitektuur.

Die woonstelblok aan die linkerkant is ʼn tipiese art deco gebou. Teenoor Corbusier se strakker modernisme, is art deco, soos die naam sê, nogal dekoratief. Die styl kom uit die laat-1920s, maar het veral in die dertigs en veertigs ʼn hoogty in Suid-Afrika (en elders) beleef. Wat styl betref, het die onstaan van groot passasierskepe ʼn invloed gehad. Baie art deco-geboue het ronde patryspoorte, vlagmaste, en ronde lyne soos groot skepe. ʼn Ander invloed is die ontdekking van piramides in beide Egipte en suid- en sentraal-Amerika. Baie art deco-geboue het palmbome, maar ook dekorasies wat aan Egiptiese en Asteekse piramides herinner. Die styl het natuurlik ook ʼn invloed gehad op die argitektuur van Afrikanernasionalisme, met die Voortrekkermonument as een van die beste voorbeelde van die sogenaamde Aztec deco uit die veertigs. Old Mutual se gebou in Kaapstad is ʼn ander goeie voorbeeld van Aztec deco, met reliëfwerk wat verskillende stamme uit Afrika uitbeeld.

Hierdie is egter voorbeelde uit Kaapstad. Wat kleiner dorpe betref, waar ekonomiese groei en bouwerk eers later gekom het, het Suid-Afrika se bankgroepe verskillende argitektoniese style. Histories was daar twee uiterstes: Barclays en Volkskas. Vele dorpe se argitektoniese styl is deur hierdie twee banke se voorkeure bepaal. Die ouer Barclays Bank, ʼn Britse familiebesigheid, het tradisioneel koloniale, neo-klassieke geboue verkies. Die gebou moes getuig van betroubaarheid en Europese tradisie. Volkskas, wat veel later kantoorruimte gesoek het, was by uitstek ʼn Afrikanerbank. Hul geboue moes in die gees van hul leuse “arbeidsaamheid” moderniteit na die land bring. Barclays se koloniale geboue was die Britse verlede, terwyl Volkskas se modernistiese geboue die Afrikaners se toekoms moes simboliseer.

ʼn Probleem met baie modernistiese geboue is natuurlik dat hulle so sleg oudword. ʼn Gebou wat onbeskaamd na die verlede teruggryp, behou ʼn mate van nostalgie. ʼn Gebou wat egter na die toekoms verwys, lyk nogal heel absurd as daardie toekoms iets uit die verlede word. Tog is daar sekere modernistiese bankgeboue wat vir my mooi bly, soos die ou Volkskasbebou op Piketberg. (Dis deesdae natuurlik deel van ABSA, wat weens die geskiedenis se sin vir ironie ʼn paar jaar gelede deur Barclays gekoop is, nadat die Britse groep lank gelede uit Suid-Afrika onttrek het weens sanksies teen apartheid.)

Ek kon die hele gebou nie op een foto inpas nie, so hier is die vooraansig in twee dele:

Bankgebou in Piketberg, regterkant van vooraansig

Bankgebou in Piketberg, linkerkant van vooraansig

Ek het ook ʼn foto van die stoep geneem, nadat ek die plaaslike polisie moes oortuig dat ek nie ʼn voornemende bankrower is nie, maar “ʼn amateurentoesias van landelike modernistiese argitektuur”:

Bankgebou in Piketberg, stoep

Ek sukkel om aan myself te verduidelik hoekom ek so van hierdie gebou hou. Dalk is dit omdat die argitek die uitdaging van die afwaartse helling gebruik het om mooi lyne te trek – die trappe byvoorbeeld. Ek hou ook baie van die pilare en die stoepteëls se patrone.

Die Volkskasgebou op Piketberg is vir my ʼn voorbeeld van modernistiese argitektuur wat mooi verouder. Op Kimberley is daar egter ʼn ander geval wat werklik skrikwekkend is. Dis egter ook baie interessant, veral omdat die gebou in gesprek tree met die Kimberley Club. Dalk tree dit nie in gesprek nie, dit poog om die klub se koloniale gebou te oordonder. Hierdie is die klub se vooraansig:

Kimberley Club, vooraansig

Die meeste van die klub se slaapkamers loop op die voorste balkon uit:

Kimberley Club, balkon

Kimberley se klub is deur Cecil John Rhodes gestig en die gebou is ʼn voorbeeld van die neo-klassieke styl waarvan die Randlords in Johannesburg so gehou het. Daar is gekleurde loodglasvensters wat die houttrappe belig en fyn hout- en steenwerk in die tradisie van die arts and crafts-beweging. Slegs klublede is daarin toegelaat en drie geslagte Oppenheimers dien die afgelope paar dekades as president van die klub. Met die verskuiwing van Suid-Afrika se ekonomiese pols na Johannesburg, het die klub meer simboliese waarde as werklike mag, in so ʼn mate dat hulle onlangs besluit het om die akkommodasie en eetsaal as boetiekhotel aan die publiek oop te stel nadat die gebou met geldelike steun van De Beers gerestoureer is. Die gevolg is dat mense uit die petite bourgeois soos ek en vroue soos Irma daar kan oorbly, alhoewel sekere dele van die klub steeds slegs vir lede gereserveer word.

Maar in vorige dekades was toegang tot die klub uitsluitlik vir manlike lede. Die een ding wat ʼn mens van die klub opval is hoe Engels dit is; koloniaal Engels, imperiaal Engels. ʼn Bladsy uit die gasteboek waarin Prins Philip (die eggenoot van die Britte se tradisionele leier, Elizabeth II) heel onlangs sy naam geteken het, is geraam teen ʼn muur. Daar word steeds met ontsag verwys na die feit dat Cecil John Rhodes sy eie kwartiere hier had. Benewens ʼn staking op die diamantmyne in die laat-1800s, speel die “Siege of Kimberley” tydens die Anglo-Boereoorlog ʼn groot rol in foto’s en skilderye teen die mure. Die enigste Afrikaner wat in sig is, is Jan Smuts. Dan is daar ook ʼn foto van die Franse militaris De Villebois-Mareuil (volle naam: George Henri Anne-Marie Victor de Villebois-Mareuil), wat deur die foto se onderskrif beskryf word as “military advisor to the Boers”. Hoekom sou die Engelse ʼn foto van hul vyand se raadgewer ophang? Die enigste verklaring wat ek kan vind is die feit dat die Fransman ʼn sekere respektabelheid aan hul vyand gee – die Britte se nederlae word verklaar deur die beskaafde Fransman se teenwoordigheid, nie die ungentlemanly, vuil, onderduimse Boere se vaardigheid as guerrillastryders nie.

Dis waarskynlik hierdie verkleinering deur Britse imperiale pretensie waarteen Volkskasbank, die Afrikaners se bank, reageer het toe hulle die gebou oorkant die klub laat oprig het. Die ander ding wat ʼn mens dus van die klub opval is die bank oorkant die pad:

Kimberley, bankgebou

As jy in die klub se eetsaal of op die stoep sit, takseer die bankgebou se twee rye vensters jou soos oë wat op skrefies getrek is, met ʼn donker, panoptiese staar:

Bankgebou vanaf die Kimberley Club se stoep

Die vertikale blindings voor die vensters maak dat jy nie kan sien wat in die bank aangaan nie. Jy weet nie of iemand daar binne besig is om jou dop te hou nie. Die woord “monolities” word baie gebruik om modernistiese argitektuur te beskryf en ek skat die woord is in hierdie geval toepaslik.

Deesdae is hierdie kopstampe tussen Afrikanernasionaliste en Britse imperialiste iets van die verlede. Albei geboue is so half pateties. Die klub word minder eksklusief, net om aan die gang te kan bly, en ek verneem by een van die kelners daar dat die bank ook nou hul gebou wil verlaat. Ek sou ook wou. Dis seker een van die lelikste geboue in Suid-Afrika. Dis ʼn monument vir die kinderagtigheid en minderwaardigheid wat nasionalisme onderlê.

Aan die ander kant; dis maklik vir my, ʼn produk van Volkskasbank, my pa se bank, se arbeidsaamheid om met afgryse na die bankgebou in Kimberley te kyk. Die bankgebou in Piketberg is tog ook ʼn produk van daardie strewe na moderniteit. Hoekom is die een vir my mooi en die ander een so lelik? Ek sukkel om ʼn antwoord te vind.

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die argitektuur van dorpsbanke”

  1. Desmond Painter :

    @Andries: Ek weet Goldblatt het kerke afgeneem; het hy ook banke afgeneem in Suid-Afrikaanse dorpe? Ek vermoed so, maar kan ook nie so lekker onthou nie. Miskien in South Africa: The structure of things then.

    Ken jy die filosoof Elizabeth Grosz se essaybundel, Architecture from the outside: Essays on virtual and real space (MIT Press, 2001)? Hier’s die blurb wat hulle op Loot het (hulle verkoop dit vir R183 — kleingeld uit jou navorsingsrekening :-)):

    “To be outside allows one a fresh perspective on the inside. In these essays, philosopher Elizabeth Grosz explores the ways in which two disciplines that are fundamentally outside each another–architecture and philosophy–can meet in a third space to interact free of their internal constraints. “Outside” also refers to those whose voices are not usually heard in architectural discourse but who inhabit its space–the destitute, the homeless, the sick, and the dying, as well as women and minorities. Grosz asks how we can understand space differently in order to structure and inhabit our living arrangements accordingly. Two themes run throughout the book: temporal flow and sexual specificity. Grosz argues that time, change, and emergence, traditionally viewed as outside the concerns of space, must become more integral to the processes of design and construction. She also argues against architecture’s historical indifference to sexual specificity, asking what the existence of (at least) two sexes has to do with how we understand and experience space. Drawing on the work of such philosophers as Henri Bergson, Roger Caillois, Gilles Deleuze, Jacques Derrida, Luce Irigaray, and Jacques Lacan, Grosz raises abstract but nonformalistic questions about space, inhabitation, and building. All of the essays propose philosophical experiments to render space and building more mobile and dynamic.”

  2. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Desmond. Ek hou van David Harvey ook oor argitektuur en ruimte. So terloops, ek het “High Violet” by Kalahari bestel, maar hulle het my bestelling sommer gekanselleer omdat dit kwansuis uit voorraad is. Dis maar swaar hier in die provinsies!

  3. Desmond :

    Andries, ja, ek hou ook van Harvey; ook sy goed oor ruimte en kapitaal/kapitalisme. Jy moet maar by die naaste Look & Listen inloer vir The National!

  4. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, hulle het dit ook nie, maar ek het hulle gevra om dit te bestel. Ek sien die CD in krat op ‘n skip wat iewers op die Altantiese Oseaan dobber, rigting Kaapstad. Van geloof en liefde bly net hoop oor. Ek hoop die CD kom hier uit. Dat ek nou op sulke ouw^reldse logistiek moet staatmaak!

  5. Andries, dis waarskynlik goedkoper en vinniger om amazon.co.uk eerder as Look & Listen te vertrou met ‘n bestelling… Mens kan dit seker ook download, maar al weet ek (of dalk juis omrede ek weet) all that is solid melts into air, begeer ek nog steeds regte objekte: boksies met discs en boekies waardeur mens kan blaai terwyl jy luister… goed wat ruik na plastiek en karton, waaraan mens ingedagte kan streel, waarop jy koffie kan mors, en wat jy op ‘n rak kan sit, ‘n klein monumentjie, ‘n bietjie clutter wat mens se algehele verdwyning van die aardbol af darem met ‘n dag of twee sal uitstel! Ek wil darem meer as net twee of drie swart sakke se nuttelose rommel nalaat, ek wil darem h^e my carbon footprint moet ‘n duidelike merk laat, nie sommer uitgevee word soos ‘n voetspoor langs die see nie!

  6. Andries Bezuidenhout :

    Ditto. Well said.

  7. Wysneus :

    Persoonlik hou ek nogal van die brutale Volkskaste. So gepas.

    My advies aan diegene met argitektuele sensitiewiteite is om Amerika, buite die stadsentrums, soos die pes te vermy.

    Maar ek kan verkeer wees.

  8. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Wysneus. Niks mooier as ‘n strip mall wat selfs vir Ed Hopper sou ontstel nie. Ek speel juis m^re saam met my band in een, maar in Lyttelton. Die kroeg het lank gelede ‘n dranklisensie van Paul Kruger ontvang. Maar ek neem aan die gebou waarin dit toe gehuisves is, het gesneuwel vir die strip mall met sy swop shop, winkel met tweedehandse klere, haarkapper – alles netjies langs ‘n treinspoor.

  9. Wysneus :

    Andries, dis nie net die wesenlike stripmall-heid nie, dis nie net die ongoddelik verbeeldinglose argitektuur nie, dis nie net die bogrondse drade nie, en dis nie net dat dit reglangs die hoofweg is nie. Dis dat dit altyd dieselfde winkels is. Net die orde is geskommel.

    En ek hou van Amerika. Ek kan net dink hoe dit moet wees vir ‘n yankofoob.

  10. Andries Bezuidenhout :

    Wysneus, dis dalk omdat ek ver daarvan af is en na die musiek luister dat ek ietwat van ‘n Yankofiel is. Ek moet egter bieg dat ek ‘n gevoel gekry het dat ek in die 3de W^reld is toe ek deur NY se buitewyke gery het. Dis dalk hoekom ek so daarvan gehou het. Dis bekend. Hierdie een van Josh Ritter is een van my gunstelinge, dalk ook omdat dit oor die argitektuur van die plek praat (Die “malls and the mega church stadiums”). Hy verwys nogal na daardie buitewyke waarvan jy praat, nostalgies en desperaat in een asem:

    Picture they took of you in your cowboy hat
    Makes you look like you are one of the boys
    Out on a Saturday night, meanwhile on the outskirts of the dance hall
    I’m a joke that you’d probably enjoy
    On the outside of Memphis all the buildings look big
    And the white picket fences all dare to charge around the lawn
    And hold their heads up high when my headlights find them out
    They’ll be the first to put their hands in the air with my radio on
    Singing a country song soft and low…

    Living on the edge of the city limit line
    This is where the boundary finally ends
    And I swear that we’re the last living souls in a populated ghost town
    All the billboards are our best friends
    Which way did our last chance go and can we
    Get out if we go right now?
    It seems that with the malls and the mega-church stadiums
    We would get out if we knew just how with the radio on

    Standing in line to get my self-help book signed off
    On by the reverend who shouts to the converted
    Have mercy on this boy he did it all by the book
    But still kind of has his doubts
    Oh you look pretty good in that jonquil dress
    But your smile is a wooden nickel’s pride
    and I know that it ain’t worth much but I feels good to touch
    And I think that I could dance if I tried with your radio on

    Oh when I’ve got a worried mind I know
    I hear the ghost of Patsy Cline
    On the Grand Old Opry Show

  11. Wysneus :

    Andries, ek hou daarvan.

    Amerika maak vir my net sin as mens verbeel hoe die wêreld sou lyk as dit geërf word deur die Europese middel- en laerklasse, gesif vir hiper-energie, entoesiasme, en kansvatterigheid. Daar’s vele voordele maar, magtig, ek wens hulle wou beter aantrek en mooier geboue bou.

    Terloops, in my ervaring is musiek in Amerika wat sport in Suid-Afrika is.

  12. Desmond Painter :

    Wysneus, musiek is dan darem ook een ding wat die Amerikaners uitstekend doen…

  13. Wysneus :

    Desmond, ja, dis wat ek bedoel. As jy in Suid-Afrika jou kinders by die skool aflaai, is daar ‘n rugbyveldvol kaalvoet seuns en dogters wat bal-jaar. In Amerika wonder mens of die skool vandag oop is, want daar’s g’n kind buite die skoolgebou nie (wat terloops lyk soos ‘n vensterlose 1970s munisipale gebou in sowjet-era tjeggo-slowakye). Maar almal is in ‘n garageband en die kerkorkes het ‘n trompet, ‘n franse horing, ‘n mandoline, ‘n banjo, ‘n klom kitare (bluegrass, sien), viole, tjellos, ‘n klarinet, en vier pianiste op rotasie. Net nie ‘n orrel nie.

  •