Op die pas afgelope Saterdagoggend het die natuurlike en mensgemaakte wêreld saamgesweer om my ongehoord vroeg uit die bed te kry: drie blaffende worshonde wat ontbyt soek, ’n onnodige foonoproep en ’n uitgeslaapte, verveelde elfjarige. Dit was dus met ’n redelik grimmige gemoedstemming dat ek die koerant nadergetrek het met die verwagting om niks beter as die Steve-Bono-geding as inspirasie vir my dag te vind nie. Groot was my plesier egter toe ek Johannes de Villiers se artikel in By begin lees het – sowaar die panasee vir ’n omgeklitste ma. Ek het omtrent van die kombuisstoel afgeval soos ek my verkneukel het in sy heerlike vertelling oor die hondefluisteraar wat hom terstond tot reïnkarnasie van ’n amper verdrinkte oerang-oetang uit die 1870’s verklaar het. En dan nog die aanhaling uit “Ruiter van die Skimmelperdpan” – met my liefde vir die ouer literatuur en al, het ek het nie gedink A.G. Visser kan só pittig toepaslik aangehaal word nie!
Toe ek dus na my lagbui ordentlik wakker voel, het ek besef dat hierdie storie oor die hondefluisteraar en haar waarskynlik lonende bedryf iets onderstreep wat my deesdae al hoe meer opval. Dit is die eietydse belangstelling in en selfs beheptheid met die bonatuurlike, maar paradoksaal daarmee saam, ’n diepgaande aversie of agterdog teenoor die insigte van die moderne wetenskap. Dikwels is daar ook die wantrouige vrees vir vermeende bose magte wat in en agter alledaagse dinge skuil. Aan die een kant is daar diegene vir wie mitiese kreature soos feetjies en aardmannetjies ’n werklikheid is en wat hulle lewens bevolk as alomteenwoordige bewaarders of gidse. Alhoewel ek reken dat die kans maar skraal is dat daar ’n hele beskawing van feetjies op die marge van die sigbare wêreld woon, volledig met hulle eie sisteme van feetjie-couture en -cuisine (gaan google “faerie”), is hierdie lugkastele – soos Facebook- fortune cookies – waarskynlik nie juis skadelik nie. As dit tot literatuur verwerk word, kan kinders en grootmense hulle in die wonderlike fantasiewêrelde van Narnia en Middle-earth verloor. ’n Fortune cookie soos “Your home is the centre of great love” kan jou stellig help om jou blaffende brakke deur ’n rooskleurige bril te bekyk. No harm done.
Aan die meer kriewelrige kant is die ouers wat hulle kinders leer dat hulle deur die wetenskap op ’n dwaalspoor gelei word met bogstories oor aapmense, fossiele en die ouderdom van die aarde. My twee spruite het maats wat wéét dat die lees van Harry Potter en die res van die towerskool-klone die breë pad na die verdoemenis is. (Vra ek hóé die maats dit dan weet, is die antwoord voorspelbaar dat “hulle ouers so sê”.)
Ons leef immers tans in ’n tyd van verbysterende tegnologiese en wetenskaplike vordering, soos ons al in vorige gesprekke gesê het. Die menslike genoom is gekarteer en die aanskyn van die vroeë heelal kan al selfs beskryf word. Desondanks dit alles sien ’n mens hoe mense wegskram van hierdie asembenemende verhale wat die wetenskap ons vertel. Eerder as om hulle te verwonder aan die diversiteit en kompleksiteit van die spesies wat reeds beskryf is, is daar diegene wat kies om liewer in eenhorings en sentours se bestaan te glo. Eerder as om te probeer verstaan waaroor swart gate gaan, uit te vind wat die verskil tussen sterk en swak kernkragte is, of die estetiese kwaliteite van die wêreld op sellulêre vlak te waardeer (dankie ook Pieter, vir jou blog van 13 Februarie waarin jy vir ons wys hoe om so oor dinge te dink), dink mense bangmaakstories uit en besweringsrituele kry hulle beslag rondom die gewoonste, selfs kitscherige dinge. Dink hier byvoorbeeld aan die dominee wat onlangs in die nuus was met sy duiweluitdrywingsvoornemens en sy wantroue in Afrika-maskers en Boeddhabeeldjies (beide maar bra onoorspronklik, al moet ek self skuldig pleit aan twee massaproduksie-tuinsentrum-Boeddhas voor ’n erg voorstedelike Koidam). Nodeloos om te vertel wat die bure van die twee afgode en die resident afgodedienaars dink. (En net gister lees ek in Rapport dat ’n arme Spiderman-plakker nou ’n verdagte voorwerp is, as ons die betrokke dominee moet glo. ) My vraag is dus: Hoe op aarde gebeur dit dat daar in ’n tyd van oorvloedige wetenskaplike kennis so ’n naarstigtelike gryp is na dinge wat niks anders as voorwetenskaplike denke is nie?
Ek onthou nog hoe mooi een van my opvoedkundedosente aan ons die verskil tussen wetenskaplike en voorwetenskaplike denke verduidelik het: As ’n vlieënde piering net buite ’n spulletjie voorwetenskaplike mense se nedersetting te lande kom, sal die affêre hoogs waarskynlik met vrees en agterdog bejeën word. Afhangende van die stand van die sterre mag hulle besluit om dit tot ’n heiligdom te verklaar; anders mag hulle besluit om die ding se vermeende boosheid met allerlei pasgemaakte rituele te besweer. Die wetenskaplike mens, daarenteen, kan op verskeie maniere reageer. Die Renaissance-mens sal waarskynlik die detail daarvan opteken in die gees van Da Vinci se sketse van sy prakseersels, en die eietydse homo faber sal die piering dissekteer, die tegnologie daarvan ontrafel en probeer om sy eie werkende tuig te bou. Op hierdie stadium wil dit vir my lyk asof ons oorwegend besig is om enersyds kitsklaar heiligdomme op te rig en andersyds besweringsrituele te bedink vir dinge wat toevallig in ons pad kom land.
Toe Sandra Troskie onlangs ’n pleidooi gelewer het vir ’n godsbeskouing wat verandering kan akkommodeer, was dit duidelik uit die enkele kommentare op Beeld se Facebook-blad dat die lesers nie in hierdie soort gesprek belangstel nie. Daarteenoor was daar oorvloedige kommentare op Facebook en elders ter ondersteuning van ds. Fourie. Nietemin, as ’n mens afleidings mag maak uit die gehalte van al hierdie kommentare (bedoelende nou die hele spektrum, van spelling tot by ’n bereidheid tot ’n op gesprek), lyk dit nie asof daar veel hoop is vir sinvolle debat tussen ons goeie burgers nie.
Wat dit alles met die literatuur uit te waai het? Ek sou reken die volgende: Literatuur – as produksie en as besprekingsonderwerp – is ondenkbaar sonder die aksioom van die oop gesprek. Literatuur is daar om die groot vrae van menswees te stel; dit moet die vryheid hê om alle dinge onder die son te bedink en onder woorde te bring, sonder dat ’n nuwe Inkwisisie hom in die kuberrruim kom inwurm. (Ek haal die betrokke dominee graag aan betreffende sy bereidheid tot die oop gesprek: “
Die gesprek wat ek wel dink nodig is, is een waarin ons nie debat voer oor of Afrikamaskers onheilig is al dan nie. Dit is ook nie een waarin ons vra of beriggewing oor die skil van appeltjies op Facebook nuuswaardig is nie. Dit is veel eerder een waarin ons moet vra waarom rasionele en wetenskaplike denke oënskynlik nie dieselfde aanhang in die breë samelewing geniet as voorwetenskaplike nosies nie; waarom emosioneel gelade inhoude soveel makliker versprei en ’n veel groter aanhang het? Dit is ook een waarin ons moet vra of hierdie skynbare oorwig gevare inhou vir die literatuur se verbintenis tot deurdringende en oop gesprek? Dit is ’n gesprek waarin ons na ’n teoretiese basis moet soek aan die hand waarvan hierdie soort patrone in die samelewing ondersoek kan word. Laastens is dit ’n gesprek oor hoe alle liefhebbers van literatuur kan sorg dat ons oopgestel bly vir nuwe wetes wat ons sogenaamde vaste waarhede dalk mag ontwrig.
Die teorie van meme as kulturele teenhangers van gene is redelik goed bekend, sedert Richard Dawkins dit in 1976 in The selfish gene en later in Unweaving the rainbow beskryf het. Sy gedagtes in hierdie verband is uitgebou deur o.a. die bekende Susan Blackmore (The meme machine), Daniel Dennet (Consciousness explained) en Harold Bloom (The Lucifer principle – a scientifc expedition into the forces of history).[1] (Daar is weliswaar al baie kritiek teen die teorie van meme en die wetenskap van memetics uitgespreek, maar ek kies tog om dit hier in my gesprek te gebruik, by gebrek aan ‘n beter alternatief.)
Susan Blackmore gaan van die standpunt uit dat menslike oortuigings en kultuur “ontwerp” word deur natuurlike seleksie ten opsigte van meme, net soos organismes deur natuurlike seleksie ten opsigte van gene bepaal word. Meme word volgens Blackmore gerepliseer deur nabootsing – byvoorbeeld wanneer ons ’n idee, ’n aanwysing of gedrag van iemand anders oorneem (soos kinders die Harry Potter-alert klakkeloos van hulle ouers oorneem), of ook by wyse van kommunikasie (“Ideas [‘memes’] living in the one actor’s brain can by means of communication be replicated to other brains” – De Jong 1999). Blackmore reken dan ook in The meme machine (1999) dat sommige meme by uitstek goeie repliseerders is, omdat hulle die regte “toertjies” inspan om hulle oorlewing en verspreiding te bevorder. Daar is naamlik die “toertjies” van waarheid, skoonheid en altruïsme. Ek sou reken dat die waarheid- en altruïsme-toertjies inderdaad ingespan word om potensiaal skadelike meme te versprei: Dit is die waarheid dat Harry Potter kinders negatief gaan beïnvloed, omdat bron X so sê en ons weet X is ’n bron van waarheid /Ek wil mense net help wat deur duiwels besete is. Of dit egter die kragdadigheid van hulle verspreiding en die grootte van hulle aanhang verklaar, is ek nie heeltemal van oortuig nie.
Dit mag dalk eerder wees dat hierdie soort meme maklike oplossings bied vir probleme wat via die wetenskaplike roete meer inspanning en moeite gaan verg. Vir steurnisse soos paniekaanvalle of depressie bied die moderne medisyne nie kitsoplossings nie – soms kan dit (soos met diabetes) lewenslange aanpassings en behandeling verg. Daarby is die wetenskaplike roete ook soms besaai met klippe soos newe-effekte en die feit dat die pasiënt verantwoordelikheid vir sy/haar behandeling moet neem. Resultate is merendeels nie skouspelagtig nie en medikasie werk ook nie oornag nie. Op ’n manier is meme soos duiweluitdrywing dus handig, wat waarskynlik hulle verspreiding waarborg (alhoewel dit sekerlik nie is wat Blackmore [2006] bedoel met haar woorde “memes survive because of their value to us” nie). Aan die ander kant kan die implikasies van wetenskaplike kennis dalk soms ontstemmend wees – soos die wete dat ons son maar ’n doodgemiddelde sterretjie in ’n sy-arm van ’n onindrukwekkende spiraalgalaksie is, of dat aktiwiteit in die temporale breinlobbe klaarblyklik met mistieke ervarings verband hou.
Ons het klaarblyklik dus hier te make met ’n verskynsel wat dalk beskryf kan word aan die hand van De Jong (1999) se konsepte van die sogenaamde dominante institusionele kompleks en die resessiewe kompleks. Argumente wat volgens die reëls van die dominante kompleks gevoer word, is gewoonlik die suksesvolles. Vir De Jong is die dominante kompleks die een wat in stand gehou word deur besluitnemers wat die heersende beleidsinstrumente in die hand hou, waaronder geld en eiendomme. Argumente wat nie suksesvol na die oppervlak kom nie, wat latent bly of geïgnoreer (of afgeskiet) word al word hulle na die oppervlak gevoer, behoort tot die resessiewe kompleks. Die probleem met hierdie teoretiese perspektief vir ons doeleindes is dat die dominante kompleks (naamlik voorwetenskaplike denke) oënskynlik nie soseer in stand gehou word deur byvoorbeeld ekonomiese mag nie. Of onderskat ek die geldmag agter dinge soos kwaksalwery en hondefluistery?
Nog ’n interessante konstruk is Daniel Dennet (in De Jong 1999) se idee van ’n informasiefilter. Dit beteken dat in ’n omgewing wat deur inligting oorspoel word, daar gewoonlik “filters” tot stand kom wat mense help om keuses tussen mededingende brokke informasie te maak. Dennet gebruik dan heel toevallig die voorbeeld van ’n filter wat gebruik kan word om goeie poësie te eien, ten einde te demonstreer hoe ’n informasie- of meemfilter werk.
John McCarthy, one of the founders of Artificial Intelligence (…) once suggested to a humanist audience that electronic-mail networks could revolutionize the ecology of the poet. Only a handful of poets can make their living by selling poems, McCarthy noted, because poetry books are slender, expensive volumes purchased by very few individuals and libraries. But imagine what would happen if poets could put their poems on an international network, where anybody could read them or copy them for a penny, electronically transferred to the poet’s royalty account. This could provide a steady source of income for many poets, he surmised. Quite independently of any aesthetic objections poets and poetry-lovers might have to poems embodied in electronic media, the obvious counter hypothesis arises from population memetics. If such a network were established, no poetry-lover would be willing to wade through thousands of electronic files filled with doggerel, looking for the good poems; there would be a niche created for various memes for poetry filters. One could subscribe, for a few pennies, to an editorial service that scanned the infosphere for good poems. Different services, with different critical standards, would flourish, as would services that screened, collected, formatted and presented the works of the best poets in slender electronic volumes which only a few would purchase. In other words, the memes for editing and criticism will find niches in any environment in the infosphere; they flourish because of the short supply and limited capacity of minds, whatever the transmission media between minds. […] The structure of filters is complex and quick to respond to new challenges, but of course it doesn’t always `work’. The competition among memes to break through the filters leads to an `arms race’ of ploy and counterploy, with ever more elaborate `advertising’ raised against ever more layers of selective filters (Dennet 1993 in De Jong 1999).
Prakties gesproke sal hierdie meemfilter seleksiereëls daarstel wat op hulle beurt bepaal sal word deur ’n stel algemeen aanvaarde kenmerke van goeie poësie of sekere kanonaanduiders, soos Dennet (in De Jong 1999) aandui:
Poems meeting certain standards in terms of poet’s name and reputation, employed vocabulary, length, subject, rhyme or melody and conformity to style characteristics will flow through, while lousy amateur near-sonnets or unconventional absurdist products by unknown artists won’t find their way out of the electronic maze. In the end, the brain of the actor using the search device will only copy the ideas contained in the selected poems: the filter did its work.
Op hierdie stadium bly die vraag dus: Wat is die aard van die seleksiereëls in ons eietydse samelewing se meemfilter betreffende die verwerking van inligting wat direk of indirek met die “bonatuurlike” verband hou? Watter beginsels is operasioneel om sekere meme deur te laat en te laat floreer, terwyl ander aan die agterspeen bly suig? Gaan dit dalk bloot daaroor dat mense na maklik prosesseerbare meme soek – inhoude wat gerusstel of maklike oplossings bied? Maar wáárom sou ons juis na die maklike uitweg wou soek? Wat is dit in ons samelewing of samestelling wat veroorsaak dat ons so kopsku is om ons te laat uitdaag, om daardie ongelooflike 1011 neurone regtig te gebruik? En wat voorspel dit alles vir die toekoms van die letterkunde en die mensdom?
Bronne
Blackmore,S.J. 1998 Imitation and the definition of a meme. Journal of Memetics – Evolutionary Models of Information Transmission 2 [internet]. Beskikbaar: http://www.cpm.mmu.ac.uk/jom-emit/1998/vol2/blackmore_s.html. [2011, 14 Februarie].
Blackmore, S. 1999. The meme machine. Google Books [internet]. Beskikbaar: http://books.google.co.za/books?id=jBdFR_70qFYC&pg=PA189&dq=Blackmore+truth+beauty+altruism&hl=af&ei=41teTc-fNIbMuAPz4-mJDg&sa=X&oi=book_result&ct=result&resnum=1&ved=0CCUQ6AEwAA#v=onepage&q&f=false. [2011, 4 Februarie].
Blackmore, S. 2006. About memes [internet]. Beskikbaar: http://www.susanblackmore.co.uk/memetics/about%20memes.htm. [2011, 4 Februarie].
Claassen, G. 2007. Geloof, bygeloof en ander wensdenkery – perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite. Protea.
De Jong, M. 1999. Survival of the institutionally fittest concepts. Journal of Memetics – Evolutionary Models of Information Transmission 3(1) [internet]. Beskikbaar: http://cfpm.org/jom-emit/1999/vol3/de_jong_m.html. [2011, 24 Januarie].
[1] Sien ook Claassen 2007 oor hierdie werke.
Dankie Louis, dis ‘n boeiende artikel. Dit is veral hierdie paragraaf wat die gesprek vir my verder voer: “Wij [die Nederlanders] beroemen ons op iets wat we kwijt zijn. En hoe minder houvast, des te vatbaarder blijken wij voor slogans – ziedaar het succes van de Partij voor de Vrijheid. In Wilders’ handen lijkt vrijheid weer tastbaar en concreet: hij geeft ons een vijand. Daarom ook is zijn rechtszaak, aldus de beklaagde zelf, geen proces tegen hem maar tegen het hele Nederlandse volk. Met andere woorden: ook wij bestaan weer. Hoezee.”
Aanvullend hiertoe kan ‘n mens gerus ook kennis neem van Ramsey Nasr se stuk in De Standaard waar hy skryf oor die onlangse gebeure in Egipte en die reaksie daarop in Nederland; ‘het meest vrije land ter wereld,’ soos hy dit stel.
As leesprikkel, die volgende aanhaling: “Wat betekent vrijheid nog voor ons, afgezien van vakantievieren in een dictatuur? Het begrip op zich is leeg geworden. Dat dit woord de laatste jaren voortdurend wordt gebruikt in Nederlandse discussies, vormt juist een symptoom van die leegte. Als een mantra wordt het herhaald: onze vrijheid wordt bedreigd, we komen op voor onze vrijheid, ze hebben het gemunt op onze vrijheid. Onze vrijheid bestaat enkel nog wanneer we haar kunnen afzetten tegen een vijand. Het is een schild geworden. Een zwaktebod.”
Die volledige rubriek kan by die volgende skakel gelees word: http://www.standaard.be/artikel/detail.aspx?artikelid=P736BULD
Dankie Leon, vir jou reaksie. Ek stem volkome met jou saam wat betref die implikasies van die moderne wetenskap – dit bied sekerlik die soort kosmiese beeld wat ons nie altyd verwelkom nie. Die letterkunde doen dit waarskynlik ewe min. Russell was beslis reg, maar dit ontstem my om mense se wil-nie-dink-nie te sien (ek bly maar sentimenteel). Van my universiteitspelle het in rasegte fundamentaliste ontaard en ek wil huil as ek na hulle luister. Terug by die letterkunde dink ek weer aan Johann se Lange se kommentaar vroeer vandeesmaand by die artikel oor Peter Blum, waar hy aanhaal:”Kleine volken hebben sterke geestelijke nadelen: voor mijn brein bieden ze te min ‘zuurstof’ (’geestelijk’ verstaan!)”, en waar De Lange dit interpreteer as dat “die Afrikaanse letterkunde te klein en te benouend was vir [Blum] om sy volle potensiaal te bereik”. (Alhoewel ‘n grote volk soos die Amerikaners, soos jy mooi uitwys, nou ook nie juis ‘n nasie van vrydenkers is nie.)
‘n Werklik uitstekende inskrywing Amanda! Die oorsake van die situasie wat jy skets is inderdaad baie kompleks en jy het dit goed opgesom, maar as ek ook ‘n ietwat simplistiese stuiwer in die armbeurs mag gooi: die wetenskap toon ons ‘n kosmos wat min of meer opgesom kan word deur (ek dink) Kurt Vonnegut se Church of God the Utterly Indifferent – ‘n heelal met oënskynlik niemand in beheer nie. Trouens, die wetenskap (net soos die letterkunde dink ek) leer slegs onsekerhede terwyl meeste mense, veral in die labiele tye waarin ons leef, op soek is na ‘n vaste sekerheid wat slegs deur fundamentalisme gebied word.
Op ‘n meer prosaïese vlak is die sukses van fundamentalistiese kerke in veral die VSA tot ‘n groot mate toe te skyf aan die feit dat kerke aldaar, anders as in baie lande in Europa, nie staatsonderseuning geniet nie. Gevolglik moes kerke self die mas opkom in wat mens seker ‘n soort van vrye godsdiensmark kan noem. Gegewe die Amerikaners se vermoë om feitlik enigiets suksesvol te bemark is dit dus nie verbasend dat hulle soveel ondersteuning het nie, voorts is dit altyd makliker om vaste sekerhede te verkoop as om ‘n dogma te verkonding wat, as die bevindings van die wetenskappe in ag geneem word, noodwendig vol ja maars moet wees.
Laastens, dit was Bertrand Russell wat gesê het “Most people would rather die than think; in fact they do so.” Hy was reg.