Toe Louis en Marlise my destyds gevra het om op hierdie webblad te blog, het ek dit sommer gou duidelik gemaak dat ek nie ‘n digter is nie. Nie. Nee. Glad nie. Ek ontken dit! Gaan weg! Die eerste sin wat ek in my eerste blog geskryf het, was dan ook: Ek is nie ‘n digter nie.
Eintlik is die waarheid natuurlik eerder dat ek, sedert kindsdae al, wel nou en dan gediggies skryf, maar dat ek gewoon nie genoeg talent en wilskrag het om dit regtig goed te doen nie. Let’s face it, ek gaan nooit ‘n bundel publiseer nie; en dis orraait: daar’s al klaar meer digters as lesers in Afrikaans! En daar is ander dinge wat ek graag wil skryf, en wat ek dink ek kan skryf.
Maar die blog as persoonlike sowel as openbare ruimte was natuurlik ook erg verleidelik: elke nou en dan moes ek eenvoudig een van my skryfseltjies plaas… Chris Coolsma het my verder ‘n soort alibi gegee: ek sou my kreatiewe vergrype ‘droedels’ noem, eerder as ‘gedigte’.
Ek was gisteraand skielik lus om weer ‘n slag te droedel (seker maar die herfs…), en besluit toe om eers te gaan kyk hoeveel droedels ek in die verlede al hier geplaas het. Nogal ‘n hele paar! En skielik voel ek toe sommer jammer vir my maakseltjies: elkeen iewers vergete in die kuberruim… So hier verskyn hulle almal weer ‘n keer, as ‘n soort Versamelde Droedels, Deel 1.
***
MISS JESUS (20/09/09)
(vir Hennie Aucamp)
Miss Jesus is die messias
die redder in die salon
wat sy noem ‘Die Dias’
oor sy van ver plekke kom
van Amsterdam aan wal
of op ‘n skip van Lissabon
Miss Jesus, wanneer die donker val
vanaand in die salon
soms sing sy kabaret
soos ‘n madame uit Berlyn
in haar visnetkouse en rooi korset
maak sy water van ons wyn
ja en soms dra sy gedigte voor
van Breyten en ene Breton
jou glas bly vol, jou hart loop oor
vanaand in die salon
en altyd preek sy redding
liefde, reise, die middernagson
Miss Jesus lei ons kring
vanaand in die salon
so glase omhoog: ‘Miss Jesus!’
en dan die koue ent na die peron
alles was tog so goddêm obvious
eenmaal in die salon
JY HET GRIEKELAND GEHAAT (28/09/09)
(na aanleiding van Ted Hughes se You hated Spain)
Jy het Griekeland gehaat
die son was vir jou te warm
die rondloperhonde het aan jou gekou
hulle het dag en nag en sonder ophou
gekerm en byt om ons bed se enkels.
Later het ons nog net in jou slaap gepraat.
Jy het Griekeland gehaat
elke onverbiddelike heuwel met sy kerk
ver van alles swygend en die verploeterende hitte
alewig in die middag en die eentonig afgewitte
ure met hulle stowwerige donkies en ooms
en swartgeklade tannies op straat.
Jy het Griekeland gehaat
die gekibbel en gelatenheid van die mense
die gefnuikte gasvryheid van elke gebaar:
Jy sou eensaam bly eerder as om jou te skaar
by die té intussen menswees van hierdie land
van eilande klip en baie water.
Jy het Griekeland gehaat.
Daagliks gedoog die bouer die argeoloog
want die lewe hier is altyd wat dit was en dan ook meer.
Jy het weggegaan in die wete dat niks wat teer
is tog oorbly waar soveel ten spyt oorleef. Liefde is ‘n ruïne hier
en elke dag ‘n duisend jaar te laat.
VOOR IN DIE WAPAD (28/09/10)
Die lewe is nie solied nie dis
aanhoudend in beweging en aan die geraas
maak. Die lewe maak ‘n aardige geluid:
Bome wat brand, bande op nat teer.
Jy soek verniet staanplek of stilte.
Die lewe bly in vloed, neem sy loop,
by wyse van spreke, in eie mond.
Die lewe bou onwyse huise op sand.
Die lewe is ‘n gedagte, woorde
wat nooit standpunt word
of sin. Die lewe is wat staan vergaan,
wat loop gaan dood. Die lewe is nie ‘n gedig
nie dis ‘n cliché in wording.
Want voor in die wapad brand daar
‘n voortvlugtige vlam, knetterend
en selfvernietigend op reis.
Natuurlik is dit kosbaar, die lewe.
Die lewe is die vet
is in die vuur.
LIEFS NIE OP STRAAT NIE (30/08/10)
Hy’s glo getref deur ‘n dwaalkoeël –
maar wie weet uit watter geweer?
Eenkant op die sypaadjie in ‘n poel
bloed lê hy: die flâneur.
BY DIE REüNIE (22/07/2010)
Jy sê simpel goed soos:
Die maan is ‘n semenvlek
op die swart onderbroek
van die aand, en ek
lag, want dít is hoe ons was
soveel jare terug
vol dooswyn en gedigte.
By die bicycle shed ‘n laaste sigaret.
Jy sê: Kyk, ek suig die aand
deur ‘n strooitjie op
tot die laaste droesem leeg;
en ek sê: Nee, soos ‘n Kreepy
Krauly wat laatnag lug sluk
in ‘n voorstedelike swembad –
onthou jy daardie geluid?
AANVAARDING (02/07/10)
(baie vry na ‘n gedig van Ziya Osman Saba)
Ek aanvaar die lewe waarin ek gebore is.
Ek aanvaar my gesig, die kleur van my vel.
Ek aanvaar hier en daar, ek aanvaar
Brackenfell, ek aanvaar die tong wat toeval
vir my uitgesteek het, al die kwynende klanke.
Ek’s ‘n man en ek aanvaar dit. Getroud, kinderloos
nog aanvaar ek, soos dat ek bogronds dwaal
maar ondergronds dood sal wees.
Ek aanvaar die bitterals van die lewe:
die fronsende gesig, die tewerige tong.
Ek aanvaar die bedelaar en die honger kind.
Daar’s ‘n oorlog, ek aanvaar dit; die bittereinder,
die vredesduif, die koerantverkoper,
en elke slaaf van God aanvaar ek.
Kontinente en valleie, koepelsvol son.
Ek aanvaar ek aanvaar ek aanvaar.
SONDAG (02/05/10)
(baie vry na ‘n gedig van Necati Cumali)
Vir drie dae lank sien ek al uit na Sondag –
want Sondag is die dag waarop sy my sal laat weet!
Glo my, vir drie dae al eet ek skaars my kos,
sukkel ek tot slaap, begeer ek dáárdie dag bo alle ander.
“Tot Sondag!” – so het ek dit beaam, en so begin te wag…
Maar ag, o aarde! Hoe skielik is dit dan weer
Sondag! My onbedaarde hart kom sit koggel in my keel:
Wat as sy nie die een is vir wie ek lief is nie?
Wat as sy nie is wat ek begeer?!
BY DIE DOOD VAN ‘N KIND (02/05/10)
(baie vry na ‘n gedig van Oktay Rifat)
Hy het gesterf, maar van sy dood is hy helaas
onbewus. Hulle plaas hom in ‘n kis, ry met hom weg –
hy kan nie eers meer protesteer: ‘Nee, ek sál nie gaan nie!’
Sy legkaart het onvoltooid gebly, en van melk
en koekies is daar met sy aanland
ook geen sprake.
Hy het gesterf. Hy sal sy ooms nooit kan bedank
vir die dra van die kis, sy tannies vir die gerf aronskelke
op sy graf. Ag, die dood van ‘n kind…
Tog so anders as dié van ek en jy!
‘N NOTA LANGS JOU KUSSING (29/04/10)
(baie vry na ‘n gedig van Roberto Fernández Retamar)
–vir Claire
Te veel herinneringe en té veel hoop
is daar al tussen ons gekonkel. Te veel lewe
by nabetragting gelewe vir ons reis om ooit te skei:
nie die jare wat ons in die gesig vat nie;
nie die jare wat ons net by benadering geleef het
nie die somer se aftog nie, kan ons meer skei
nie. Tyd, daardie veerboot van soveel vlugte, spoor
van soveel verlore liefdes, van Stellenbosch na Grahamstad,
van Bellville na Havana, na weemoed, na ontsetting
selfs, na meer illusies as in drome kon – soveel so dat niks,
behalwe dít wat alle dinge skei, ons meer kan skei nie.
Meisie van gister en môre, vrou van my lewe.
(nóg ‘n kleindorpse lament) (11/03/10)
ek wou verder gaan
ek het geweet jy wag agter die plantasie
en jou fyn ondergoed het by my gespook
en hoe jy jou bene sprei, o jirre, met die grasie
van ‘n gaap… en na die tyd het ons gerook
en gelê en kyk na die maan
maar nee, ek wou verder gaan
ek moes weet wat wag verby die stasie
ek het gebrand om uit hierdie dorp te loop
maar ek droom, jy weet mos, vraatsig soos
‘n vlam… en na die tyd het ons gerook
en gelê en kyk na die maan
(07/05/10)
Hoe dun is ons dae. Jy kan hier net so min
by die tyd bedel as wat jy na die dood kan vra
in ‘n gedig. Jy kan aanhou soek, ja, aanhou op hoop
of jou verloor in háár arms – om die winste
van die wêreld weer te vind as sonlig
deur die oggend stroop. Maar ‘n digter
dag is jou nie beskore
nie.
Dankie, Marlise en Breyten, vir die komplimente! Komende van 12-boor, dubbelloop digterlike gewere (met pompaksie!) soos die twee van julle, beteken dit sommer baie. (Ja, ja, dit was natuurlik my plan van die begin af: plaas my droedeltjies met geveinsde nederigheid, totdat ek komplimente kry; en dan kan ek rondloop en spog: lees bietjie hier wat skryf hulle oor my GEDIGTE!!)
Breyten, is ‘n ‘wordle’ daardie woordwolkies wat die rekenaar vir mens kan optower wanneer jy vir hom teks voer? Ek het eenkeer ‘n hele oggend lank al wat teks is op my hardeskyf vir so ‘n program gevoer. Die resultate was esteties bevredigend en analities nogal insiggewend… Ek moet ‘wordles’ maak van Malema toesprake. TOEsprake.
mits dese wil ek jou dit op die hart lê
hoe diep jou lig-lig droedels sê
(Ken jy die begrip ‘wordle’?
Dankie vir die lees van jou gedigte, Desmond. Ek het dit enorm geniet! Droedel asseblief voort, jy het sommer een van die dae ‘n hele bundel vol. 🙂 Terloops ek lees nou rond in ‘ i tulips’ van Mario Petrucci en wat ‘n heerlike ontdekking is hierdie gedigte nou nie!
Hier is die skakel na die stuk wat Pieter Odendaal oor Petrucci geskryf het: https://versindaba.co.za/2011/01/14/mario-petrucci-homo-universalis/