Dit was met ’n warm gevoel van samehorigheid dat ek gelees het van die ander bloggers wat al hier in April net so vuisvoos en vaal om die kiewe as ek voel. Dus geniet ek die paar rustige dae met oorgawe, en het my selfs deur my kinders laat oorreed om vir die eerste keer in meer as twintig jaar my geluk op ’n ysskaatsbaan te beproef. Sjoe. Voetseer. (Miskien kan Philip inspirasie vind vir ’n lekker limerick oor die penarie van ’n skaatsende ma wat desperaat haar waardigheid probeer behou?)
Helaas besef ek maar te goed dat hierdie rustiger dae letterlik getel is. Alle ouers van laerskoolkinders weet immers dat Mei een van die mees gevreesde maande in die skooljaar is. Dit is die maand waarin elke moontlike eisteddfod en musiek- of balleteksamen plaasvind. Ek bevind my tans in die aanloop tot hierdie vreesaanjaende maand, en viooleisteddfod is die eerste verskrikking op die pad. “Oefen” is egter die gehate woord wat haas globale konsternasie in ’n andersins redelik funksionele voorstedelike gesin kan veroorsaak. Ander ouers sal weet wat ek bedoel – jy het hare (en baie daarvan) op jou tande nodig om ’n halsstarrige elfjarige sover te kry om elke liedjie so min as vier keer te speel. Vyf dalk as jy die dag regtig besluit om vas te skop. Maar op sy beste, maak vier of vyf keer nie juis ’n duik in spruit se minder-as-aanvaarbare tegniek nie. Teen daardie tyd is jy ook al so lam gestry dat jy die krom note en skewe stryke maar in jou brein regtoor en laat begaan.
Toe ek en die viooljuffrou dus Saterdag oor hierdie einste oefenkwessie gesels, kom Amy Chua se Battle Hymn of the Tiger Mother (2011) ter sprake. Sommer so tong in die kies – nadat ek Philip se kostelike blog gelees het – is dit stellig die boek wat my lewe as ouer van ’n vioolspelende spruit verander het. Aan die een kant het my selfbeeld as ma ’n redelike knou gekry (waar op aarde kry jy die koerasie vandaan om ’n laerskoolkind vyf uur lank te laat oefen?) en aan die ander kant het ek gereken dat my kinders darem nou sal moet toegee dat ek allermins ’n tier van ’n ma is. Eerder die makste van lammers.
Amy Chua, tans die John M. Duff Professor in Regte aan Yale, is die outeur van World on Fire: How Exporting Free Market Democracy Breeds Ethnic Hatred and Global Instability (2004) en Day of Empire: How Hyperpowers Rise to Global Dominance – and Why They Fall (2007), maar in haar jongste boek skryf sy oor kwessies in haar eie gesin.
Battle Hymn of the Tiger Mother handel hoofsaaklik oor die outeur se verhouding met haar dogters en haar enorme betrokkenheid by hulle musiekonderrig, naas ’n eie loopbaan as akademikus. Beide dogters het groot sukses as jong uitvoerende kunstenaars behaal – haar oudste, Sophia, as pianis en haar jongste, Louisa (Lulu), as violis.
Chua bied ’n beskrywing van ’n ouerskapstyl wat oorslaappartytjies en skoolkonserte verbied, omdat die Chinese ma dit as ’n mors van kosbare tyd beskou. Vir die meeste Westerlinge kom dit drakonies voor – soveel so dat Chua glo selfs doodsdreigemente ontvang het. Die boek was egter wêreldwyd ’n blitsverkoper en haar oudste dogter het selfs al ’n blog begin waarin sy skryf dat sy eintlik dankbaar is vir die manier waarop sy grootgemaak is. Dit laat ’n lammetjie-ma nogal dink oor haar eie toegeeflike praktyke.
Om enkele van Chua se uitgangspunte op te som: Sy beklemtoon wat sy as die fundamentele verskille tussen Chinese en Westerse ouerskapstyle beskou. Westerse ouerskap, met die klem op die kind se individualiteit en vryheid, tesame met ’n huiwering om te veel druk op kinders te plaas, is volgens haar bloot die swakkeling-ouer se inskiklikheid en die kortpad na die kind se ondergang. Chinese ouerskap, daarteenoor, glo daarin om druk op kinders te plaas om te presteer, omdat die ouer daardeur erkenning gee aan die kind se vermoë om te kán presteer.
Chua beskryf dan haar siening van die siklus van immigrantegesinne, aan die hand van haar eie gesinsagtergrond, ten einde haar eie keuses te motiveer. Die eerste generasie is die immigrantegenerasie – diegene wat hulle deur harde werk uit armoede opgehef het en tot die professionele domein toegetree het. Hulle leef egter beskeie en spaarsamig en probeer hulle kinders die bes moontlike opvoeding gee, maar stel streng perke. Hulle kinders – die eerste generasie wat in die aangenome land gebore is (soos Chua self) – is tipies die presteerders wat toelating tot Ivy League-universiteite kry. Hierdie groep se kinders is dié wat deur die toewyding van hulle ouers en grootouers ’n gerieflike hoërmiddelklaslewe geniet en wat grootword met die beste wat die nuwe kultuur hulle kan bied. Chua beskou hulle egter as die generasie wat gevaar loop om te verval, vanweë die aangenome kultuur se klem op individuele vryheid en regte, wat op sy beurt tot ’n gevoel van beregtiging lei. Vir Chua is dit die kiem van ondergang.
Chua het dus besluit om in haar gesin haar eie “antivervalveldtog” van stapel te stuur. So het sy haar kinders verplig om Mandaryns aan te leer en akademiese toppresteerders te wees, maar ook huishoudelike take te verrig (waarvoor haar Joods-Amerikaanse man haar soms verkwalik het). Maar veral het sy klassieke musiek beklemtoon – nie omdat sy haar kinders professionele musici wou laat word nie – maar eerder om die geleenthede wat die Amerikaanse kultuur bied, ten volle te benut en te sorg dat haar kinders ’n betekenisvolle stokperdjie beoefen. Hier kon ek tog nie help om te wonder nie: Is dit sowaar nodig om elke dag vyf uur aan ’n stokperdjie te bestee? Dus het ek die boek ’n tweede keer gelees, want ek was op soek na die wáárom agter Chua se gedrewenheid.
Uiteindelik staan drie dinge vir my uit, wat nie noodwendig verband hou met klavier- of vioolspeel nie. En dit is miskien hoekom hierdie boek my lewe tog op ’n manier verander het(al is dit nou nie Hawking se nuutste nie, wat besig is om deel te raak van my stapel moet-eendag- klaarlees-titels).
In die eerste plek fassineer die Oosterse beskouing jeens kinderopvoeding my, al gaan ek dit dalk nie in my leeftyd toepas of eens wil toepas nie. Ek was verras om te lees dat die kind in die Chinese denkwêreld gesien word as die een wat die ouers letterlik sy/haar lewe skuld. Die ouer se gesag is onbevraagtekenbaar en ongeag die ouer se opvoedingsmetode word dit aanvaar dat die ouer doen wat ook al nodig is om die “beste” uitkoms vir die kind te verseker. Die moderne Westerse siening – selfs in ons tradisioneel streng Afrikaanse ruimte – verskil hemelsbreed hiervan. My eerste voorsmaak hiervan was byna tien jaar gelede by die aanhoor van ’n supermarkassistent se kommentaar nadat ek voet neergesit het oor ’n chips-etery kort voor middagete: “Jo, maar jou ma is darem té streng.” En afkeurend in my rigting: “Sy mag tog maar eet – haar liggaampie het dit dan seker nodig?” En daar staan jy: die drakoniese ma wat haar bloedjie kos weier. Daar het ek die eerste keer die nare gevoel gekry dat ons samelewing iewers die idee gekry het dat goeie ouerskap beteken om na ’n kleuter (lees ook later tiener) se pype te dans. Iets het drasties verander sedert volwassenes in my kinderdae ’n verenigde front teen alle kinders se giere en geite gevorm het – geen kans tóé om ’n kwaai juffrou by ’n ouer te verkla of andersom nie. Maar stadigaan het ek as jong en dom ma begin agterkom hoe dinge skynbaar deesdae werk: Die kind se wens is toenemend die ouer se opdrag. Jy is die smeker, die omkoper en dikwels ook nog agter-die-skerms-toespraakskrywer en -plakkaatmaker. Om my sien ek hoe ouers wat dit nie breed het nie, hulle eie behoeftes negeer om brand names vir veeleisende kinders te koop. (’n Blackberry is glo nou die in-ding onder laerskoolkinders, bid jou aan.)
Ek is geen sosiale wetenskaplike nie, maar hierdie verskynsel van gepamperlangde kinders fassineer my. (Bedorwe Dudley in Harry Potter is stellig die verpersoonliking van hierdie geslag.) Dit laat my wonder of die waarheid nie dalk iewers in die middel lê nie? Is daar dalk aanpassings nodig sodat kinders weer kan leer onderskei tussen regte en voorregte? Moet ons dalk gaan kers opsteek by Chinese tier-ma’s? Sodat ek nie hoef te verduidelik waarom ’n elfjarige met Blackberry absurd is nie? (Of beteken sulke vrae dat ek in ’n tier ontaard?)
Tweedens het ek gewonder of Chua in haar byna obsessiewe gemoeidheid met die viool nie bloot besig is om op ’n meer gesofistikeerde vlak besig is met die najaag van Westerse simbole as die “toppunt” van beskawing is nie. (Die “straatweergawe” hiervan het ek ’n paar jaar gelede in Japan opgelet – daar het die “regte” Westerse etikette haas kultusstatus bereik, omtrent in die sin van “ek is omdat ek ’n Louis Vuitton-handsak besit”). Tog blyk dit uit Chua se vertelling dat sy die viool sien as ’n simbool van die beste van twee kulture: die hoogtepunt van Westerse kunsbeoefening gekombineer met Oosterse toewyding. Daarmee saam sien sy dit as simbool van die moontlikhede wat daar vir immigrantekinders is; dat enige droom in die nuwe kultuur moontlik is en dat “inkommers” ook die hoogste sport in ’n vrye samelewing kan bereik. Self het ek gewonder of klassieke musiek nie juis vir die immigrant (dalk veral die ouer in sulke gevalle) ’n simbool raak van sy/haar deelword en beheersing van die nuwe kultuur nie? (Chua se jongste dogter het later wel gerebelleer, en uiteindelik besluit om ook tennis te speel en haar vioolspel af te skaal.)
Wat die wins van hierdie gedagtes wel vir my is, is dat dit my insig gee in die rol wat kuns kan speel om aan diegene wat voorheen nie kanse gehad het nie, hoop te gee en oor ’n vrye wêreld en moontlikhede te kan droom. (Onthou nog vir Snaartjie in In stede van die liefde?) Ek is immers die een met die skuldgevoelens oor ’n gemaklike lewe waarin CD’s en boeke koop bykans ’n weekliks uitstappie is. Om so hieroor te dink, help my heelwat om my skuldgevoel-demone op hok te hou.
Derdens het dit my opgeval hoe Chua skynbaar moeiteloos twee identiteite handhaaf – as Chinees, maar ook as Amerikaner. Die behoud van die Chinese kultuur is vir haar belangrik, soos om haar kinders Mandaryns te laat leer. Terselfdertyd het die gesin besluit om die kinders Joods groot te maak. Vir ’n oomblik het ek gewonder of dit nie ’n gruwelike deurmekaarspul afgee nie, maar dit lyk asof Chua se gesin dit nie as problematies ervaar nie. Tog kom dit voor asof die kinders ’n volledig Amerikaanse identiteit verwerf het, waar Chua self nog soms soos ’n buitestander voel.
Hierdie idees het my solank laat snuffel in Chua se tweede boek, Day of Empire: How Hyperpowers Rise to Global Dominance – and Why They Fall (bieg, die voorskou-internetweergawe) omdat sy daarin oor multikulturaliteit – ook histories – skryf. Hierdie boek ondersoek die eienskappe wat die groot ryke van die wêreld oor tyd heen met mekaar in gemeen het, en wat uiteindelik tot hulle ondergang gelei het. Haar basiese tese is dat alle supermoondhede (hyperpowers) (wat dus ’n posisie van globale hegemonie bereik het) volgens die standaarde van die bepaalde era besonder tolerant en pluralisties was. Sodra hierdie toleransie vir die “ander” verdwyn het, het die ryke begin verkrummel. Nie ek of Chua is ’n historikus nie, maar nogtans het haar idees in die voorskou ’n indruk op my gemaak en laat besluit dat ek graag verder daaroor wil lees. Miskien help dit ons in Suid-Afrika wat tans met kwessies soos xenofobie en geluide oor rasse-eksklusiwiteit worstel. Ek skud dus nou eers my sak op die eerlike manier (na die gratis weergawe op die internet nie wou aflaai nie) en sal kom vertel wat ek van die boek dink.
Amanda ek sien daardie verskynsel hier in Canuckistan – die immigrantekinders, veral uit die Ooste, leer hul gatte af en stof “inheemse” Kanadese kinders ver uit. Gevolglik is daar disproporsioneel baie van hulle op universiteit, as studente en dosente. Baie bekende Kanadese navorsers op die gebiede van medisyne en die natuurwetenskappe is van die Ooste. Hoe goed hulle in die sakewereld verteenwoordig is kan ek ongelukkig nie se nie.