Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
1 May 201120 July 2024

Pieter Odendaal.Tussen al die êrense, en nêrens

Ek en my pa het die afgelope Familiedag weer sy ouers se grafte besoek. Dit was reënerig en modderig – regte begrafnisweer. Bainsvlei het oop voor ons gelê. “Op helder dae kon ek die Krugersdrifdam van daardie koppie af sien blink,” wys my pa. Hy het hier tussen die koppies en die doringbome buite Bloemfontein grootgeword. Ek steek nog ‘n sigaret aan. “Oupa was mos al ‘n hoenderboer gewees op 16,” sê-vra ek. Ek vergeet altyd die stories, maar Pa gee nie om om hulle weer te vertel nie. “13. Toe jou oupagrootjie dood is, moes oupa Piet die plaaswerk oorneem. Hy’t skool gelos en ‘n hoenderboer in die Oos-Vrystaat geword. Jare later het hy sy matriek klaargeskryf, universiteit toe gegaan en jou ouma ontmoet.”

My oupa was later senator gewees en hy’t selfs sy lyf skrywer gehou. Ek het Fietsie, sy roman oor ‘n mossie, begin lees toe ek 13 was, maar nooit klaargemaak nie. Hy het van blokkiesraaisels gehou en te veel gerook. Hy’t die plot, waar my pa en sy vier broers grootgeword het, verkoop nadat hy gehoor het die longkanker is terminaal sodat my ouma vir haar ‘n plek in die stad kon koop. My oupa is dood toe my pa 22 jaar oud was – so oud soos ek vandag is. “Was dit nie sleg om die plot te verloor nie?” Dit vat ‘n rukkie voor my pa antwoord: “Nie een van die seuns wou boer nie en dit was veiliger vir Ma in die stad. Sy kon nie so alleen hier buite bly nie.”

As ek terugdink aan my ouma se huis in die stad dink ek altyd aan die reuk van houtskaafsels – Oupa Louis, haar tweede man, was ‘n skrynwerker. Hulle huis in Parfittlaan is vandag ‘n B&B. Ek onthou hoe Ouma Tina ons kinders eenkeer een sent belowe het vir elke tuinslak wat ons met sout kon doodmaak. “Die goed is ‘n plaag,” het sy hand voor die oë vanaf die rooi stoep gesê waar sy op ‘n riempiestoel gesit het. Ek onthou die vreemde mengsel van meegevoel en fassinasie terwyl ek die sterwende slakke dopgehou het. Die sout het al die vog uit hulle liggame getrek en hulle doppe het heen en weer gewieg soos hulle vir die dood probeer wegkruip het.

Ons staan voor die dubbele graf: Petrus Johannes Loock Odendaal (dis vreemd om jou eie volle name so geskryf te sien) en Christina Theron (née De Kock, voorheen Odendaal). Daar is onkruid in die blommegat aan my oupa se kant en die letters se verf is besig om af te dop. My pa sê ek moet die plantjie uittrek. Terwyl ek die klonte van die wortels afskud, wonder ek of van die molekules in die plantjie eens deel van my oupa was, of dieselfde stikstof in die plant eens gehelp het om my oupa aan die lewe te hou. Kilometers vêr maak wolke landerye nat. Ek vee die rooi grond aan my broekspype af terwyl my pa aanstap.

Hy gaan wys vir my die heldeakker: “Hulle het hierdie gebied met boompies afgesper sodat soldate wat op die grens geveg het apart begrawe kon word.” Maar daar is vars grafte tussen die enkele generaals en luitenante wat met die boompies vereer is: Katlehong, Mbuwa, Rasile – almal met handgeskrewe Psalm 23’s in Sesotho saam met blomme in plastiek toegedraai bo-op die heuweltjies. Een van die grafte staan nog oop – die begrafnis is seker môreoggend. Ek merk sardonies op dat daar te min mense in die oorlog dood is en te veel vandag doodgaan – dis seker hoekom hulle maar hier begin begrawe het.

Na die tyd gaan ry ons by die plot verby waar my pa grootgeword het – Harmonie. Die huis is omring met bome. Ek kan nie veel sien nie. “Toe dit destyds so gereën het, was daar altyd brulpaddas so groot soos rugbyballe hier in die pad.” My pa wys na waar bloekombome stil aan weerskante van die weggespoelde grondpad staan. Die son steek vir ‘n laaste keer sy kop tussen die wolke en die horison uit, voor ons saam met die aarde nag se kant toe draai. In die skemer sien ek hoe my pa se sigaretkooltjie in sy droewige brillense weerkaats.

*

Harmonie, distrik Bloemfontein

Die herkontoerde pad
trek ‘n snelstreep deur die ou kontrei.

Destyds is daar liefderyk omslagtig ingeloer
by hoewes onder denne en karee
(windpompe briek-briek teen ‘n nukkerige wind);
BAIE
STADIG
DEAD
SLOW
aangedoen by skool, kerk, kerkhof;
‘n slag ge-es, gebokspring oor Sopieshoogte
en ‘n laaste myl op die bordjie afgepyl:
HARMONIE
HOENDERBOERDERY.

Oftewel: ook blomboerdery, groente- en koelteboerdery …
Pa was ‘n man van dade:
Vier Sotho-gesinne moes hom dit help verrig.
Die buitekamers het hy lewenslustig bevolk met vyf
(helaas droomverlore)
seuns.

Langsaan was die mooi plaas Elim,
kompleet met blonde meisiemens.
En verder af: Stillewoning, Uitkyk, Vergesog …
adresse op die einders,
onder die woesteny van sterre en stiltes –
plasies op die rand van die niet.

Intussen is Pa tot daardie aarde bestel,
Harmonie tot drie maal toe verkoop,
die Sotho’s vort na plakkerstatte.

Ek en my broers
op soek na so ‘n droomadres
tussen al die êrense, en nêrens.

© Bernard Odendaal, 2007. Onbedoelde land.

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Toevallige tekens
Bernard Odendaal en Hennie van Coller. Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989) →

1e kommentaar op “Pieter Odendaal.Tussen al die êrense, en nêrens”

  1. Willem Adriaan Odendaal says:
    7 May 2011 at 08:36

    Piet Odendaal was ‘n kampioen!

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: "Miniatuur". (Johann de Lange)
  • Boekbespreking: “Taboek” (Riku Lätti)
  • Resensie: “Stil gesprek” (Jan Pretorius)
  • Resensie: Vlindervreter ( Melanie Grobler en Christiaan Diedericks)

Nuutste bydraes

  • 100 Duitse Bestes: Gottfried Benn (1886-1956) (II)
  • Jakes Moller. Peter Place straat, Bryanston
  • “Stil gesprek” (Jan Pretorius) nou in Duits beskikbaar
  • Digtersprofiel: Andries de Beer
  • Digtersprofiel: Anita van der Walt

Nuutste kommentaar

  1. Eugene Vorster on RIV Christiaan Diedericks7 July 2025

    “Live your Truth” vir Chris skielik is dit stil/ byna subliem/ (jy sal verstaan)/ net nou en dan ‘n nat…

  2. Charl-Pierre Naude on Resensie: “Merang” (Neil Cochrane & Alwyn Roux Reds.)7 July 2025

    Hierdie is 'n teleurstellende en ongeinspireerde resensie deur 'n resensent van wie mens veel meer verwag. Dit lyk meer na…

  3. Bernardus Johannes Odendaal on Ingeborg Bachmann – vertaling in Afrikaans5 July 2025

    Ek stem met Daniel saam!

  4. Bernardus Johannes Odendaal on 100 Duitse Bestes: Gottfried Benn (1886-1956) (I)3 July 2025

    Baie dankie, Joan!

  5. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Gottfried Benn (1886-1956) (I)3 July 2025

    Skitterende digter! Puik vertaal.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d